Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Leer by my”

“Leer by my”

“Leer by my”

“Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.”—MATTEUS 11:29.

1. Waarom kan dit aangenaam en verrykend wees om by Jesus te leer?

 JESUS CHRISTUS se denke, onderrigting en optrede was altyd gepas. Sy tyd op die aarde was kort, maar hy het ’n lonende en bevredigende loopbaan gehad en gelukkig gebly. Hy het dissipels gemaak en hulle geleer hoe om God te aanbid, mense lief te hê en die wêreld te oorwin (Johannes 16:33). Hy het hulle harte met hoop vervul en “lig op lewe en onverderflikheid gewerp . . . deur die goeie nuus” (2 Timoteus 1:10). As jy jouself as een van sy dissipels beskou, wat dink jy beteken dit om ’n dissipel te wees? Deur te kyk wat Jesus oor dissipelskap sê, kan ons leer hoe ons ons lewe kan verryk. Dit behels dat ons sy beskouing ons eie maak en sekere basiese beginsels toepas.—Matteus 10:24, 25; Lukas 14:26, 27; Johannes 8:31, 32; 13:35; 15:8.

2, 3. (a) Wat is ’n dissipel van Jesus? (b) Waarom is dit belangrik om ons af te vra: ‘Wie se dissipel het ek geword?’

2 In die Christelike Griekse Geskrifte beteken die woord wat met “dissipel” vertaal word, iemand wat sy verstand op iets rig of iemand wat iets leer. ’n Verwante woord kom in ons temateks, Matteus 11:29, voor: “Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.” Ja, ’n dissipel is ’n leerling. Die Evangelies gebruik gewoonlik die woord “dissipel” met verwysing na Jesus se intieme volgelinge, dié wat saam met hom gereis het terwyl hy gepreek het en wat deur hom onderrig is. Party mense het dalk eenvoudig Jesus se leringe aangeneem, en dit soms in die geheim (Lukas 6:17; Johannes 19:38). Die Evangelieskrywers het ook verwys na “die dissipels van Johannes [die Doper] en die dissipels van die Fariseërs” (Markus 2:18). Aangesien Jesus sy volgelinge gewaarsku het om ‘op hulle hoede te wees vir die leer van die Fariseërs’, kan ons ons afvra: ‘Wie se dissipel het ek geword?’—Matteus 16:12.

3 As ons Jesus se dissipels is, as ons by hom geleer het, dan behoort ander geestelik verkwik te voel in ons teenwoordigheid. Hulle behoort te kan sien dat ons meer saggeaard en nederig van hart geword het. As ons bestuursverantwoordelikhede by die werk het, as ons ouers of herders in die Christengemeente is, kan ons vra: Voel diegene onder my sorg dat ek hulle behandel soos Jesus mense onder sy sorg behandel het?

Hoe Jesus mense behandel het

4, 5. (a) Waarom is dit nie moeilik om uit te vind hoe Jesus mense met probleme behandel het nie? (b) Watter ondervinding het Jesus gehad toe hy in die huis van ’n Fariseër geëet het?

4 Dit is vir ons belangrik om te weet hoe Jesus mense behandel het, veral dié met ernstige probleme. Dit behoort nie moeilik te wees om uit te vind nie; die Bybel bevat baie verslae van Jesus se handelinge met ander, waarvan party probleme gehad het. Ons kan ook let op die manier waarop die godsdiensleiers, veral die Fariseërs, mense met soortgelyke probleme behandel het. Die verskil sal insiggewend wees.

5 In die jaar 31 G.J., terwyl Jesus op ’n predikingsreis in Galilea was, het “een van die Fariseërs [Jesus] bly vra om by hom te kom eet”. Jesus het die uitnodiging geredelik aanvaar. “Gevolglik het hy in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel gaan lê. En kyk! ’n vrou wat in die stad as ’n sondares bekend gestaan het, het verneem dat hy in die huis van die Fariseër vir ’n maaltyd aan tafel lê, en sy het ’n albaste fles welriekende olie gebring en ’n plek agter by sy voete ingeneem, en sy het gehuil en sy voete met haar trane begin natmaak en hulle met die hare van haar kop afgedroog. Ook het sy sy voete teer gesoen en hulle met die welriekende olie gesalf.”—Lukas 7:36-38.

6. Waarom was die vrou wat “’n sondares” was, moontlik by die huis van ’n Fariseër?

6 Kan jy jou dit voorstel? Een naslaanwerk sê: “Die vrou (v.37) het die maatskaplike gebruike benut waarvolgens behoeftiges na so ’n feesmaal kon kom om van die oorskietkos te kry.” Dit verklaar dalk hoe iemand ongenooid kon inkom. Daar was moontlik ander wat gehoop het om aan die einde van die maaltyd van die oorskietkos te kry. Maar hierdie vrou se gedrag was ongewoon. Sy het nie van die kant af toegekyk en gewag vir die ete om te eindig nie. Sy het ’n slegte reputasie gehad en was algemeen bekend as “’n sondares”, sodat Jesus gesê het dat hy geweet het van “haar sondes, hoewel hulle baie [was]”.—Lukas 7:47.

7, 8. (a) Hoe sou ons gereageer het onder omstandighede soos dié wat in Lukas 7:36-38 opgeteken staan? (b) Hoe het Simon gereageer?

7 Stel jou voor dat jy destyds gelewe het en in Jesus se plek was. Hoe sou jy gereageer het? Sou jy ongemaklik gevoel het as hierdie vrou jou genader het? Hoe sou so ’n situasie jou geraak het? (Lukas 7:45). Sou jy ontsteld, geskok, gewees het?

8 Sou jy, as jy een van die ander gaste was, in ’n mate soos Simon die Fariseër geredeneer het? “Toe die Fariseër wat [Jesus] genooi het dit sien, het hy by homself gesê: ‘As hierdie man ’n profeet was, sou hy geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondares is’” (Lukas 7:39). Jesus was daarenteen ’n man van innige medelye. Hy het die vrou se netelige situasie verstaan en haar foltering aangevoel. Daar word nie vir ons gesê hoe sy in ’n sondige lewenswyse verval het nie. As sy werklik ’n prostituut was, het die manne van die stad, toegewyde Jode, haar blykbaar nie gehelp nie.

9. Hoe het Jesus gereageer, en wat was moontlik die gevolg?

9 Maar Jesus wou haar help. Hy het vir haar gesê: “Jou sondes is vergewe.” Toe het hy bygevoeg: “Jou geloof het jou gered; gaan heen in vrede” (Lukas 7:48-50). Die verslag eindig hier. Iemand maak dalk beswaar en sê dat Jesus nie veel vir haar gedoen het nie. Hy het haar basies met sy seën weggestuur. Dink jy dat sy waarskynlik na haar betreurenswaardige lewenswyse teruggekeer het? Hoewel ons nie met sekerheid kan sê nie, kan ons let op wat Lukas hierna gesê het. Hy het vertel dat Jesus ‘van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis het en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk bekend gemaak’ het. Lukas het ook berig dat “sekere vroue” saam met Jesus en sy dissipels was, “wat hulle met [die vroue se] besittings bedien het”. Die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat hierdie berouvolle en dankbare vrou onder hulle was nie; dat sy ’n godvrugtige lewenswyse begin lei het met ’n skoon gewete, hernieude doelgerigtheid en baie groter liefde vir God.—Lukas 8:1-3.

Die verskil tussen Jesus en die Fariseërs

10. Waarom is dit nuttig om die verslag van Jesus en die vrou by Simon se huis te bespreek?

10 Wat kan ons uit hierdie treffende verslag leer? Dit ontroer ons, nie waar nie? Stel jou voor jy was in Simon se huis. Hoe sou jy gevoel het? Sou jy soos Jesus gereageer het, of sou jy in ’n mate soos sy gasheer, die Fariseër, gevoel het? Jesus was die Seun van God, en daarom kan ons nie presies soos hy voel en optree nie. Daarenteen sal ons dalk nie graag wil dink dat ons soos Simon, die Fariseër, is nie. Min mense sou trots daarop wees om soos ’n Fariseër te wees.

11. Waarom wil ons nie soos die Fariseërs wees nie?

11 Uit ’n studie van Bybelse en sekulêre getuienis kan ons aflei dat die Fariseërs ’n hoë dunk van hulleself gehad het as bewakers van die volkswelsyn. Hulle was nie tevrede met die feit dat God se Wet in wese duidelik en maklik verstaanbaar was nie. Waar dit ook al vir hulle gelyk het of die Wet nie spesifiek is nie, het hulle die skynbare leemtes met definitiewe toepassings probeer vul sodat ’n gewete glad nie nodig sou wees nie. Hierdie godsdiensleiers het ’n grondreël probeer ontwerp om gedrag in alle situasies te beheer, selfs in nietighede. a

12. Hoe het die Fariseërs hulleself beskou?

12 Die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josefus toon duidelik dat die Fariseërs hulleself as goedhartig, saggeaard, regverdig en heeltemal bevoeg vir hulle taak beskou het. Party van hulle het ongetwyfeld baie van hierdie eienskappe gehad. Jy dink dalk aan Nikodemus (Johannes 3:1, 2; 7:50, 51). Sommige van hulle het mettertyd die Christelike weg aangeneem (Handelinge 15:5). Die Christenapostel Paulus het oor sekere Jode, soos die Fariseërs, geskryf: “Hulle [het] ’n ywer vir God . . . ; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Romeine 10:2). Maar in die Evangelies word hulle uitgebeeld soos die gewone mense hulle beskou het—hoogmoedig, verwaand, eiegeregtig, krities, veroordelend en vol minagting.

Jesus se beskouing

13. Wat het Jesus oor die Fariseërs gesê?

13 Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs as huigelaars bestraf. “Hulle bind swaar vragte saam en sit dit op die skouers van die mense, maar self is hulle nie bereid om dit met hulle vinger te verroer nie.” Ja, die vrag was swaar, en die juk wat op die volk geplaas is, was onderdrukkend. Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs verder “dwase” genoem. ’n Dwaas is ’n gevaar vir die gemeenskap. Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs ook “blinde gidse” genoem en gesê dat hulle “die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam [het], naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid”. Wie sal wil hê dat Jesus hom as ’n Fariseër moet beskou?—Matteus 23:1-4, 16, 17, 23.

14, 15. (a) Wat toon Jesus se handelinge met Matteus Levi omtrent die houding van die Fariseërs? (b) Watter belangrike lesse kan ons uit hierdie verslag leer?

14 Feitlik enige leser van die Evangelieverslae kan sien dat die meeste Fariseërs ’n kritiese gesindheid gehad het. Nadat Jesus Matteus Levi, die belastinggaarder, genooi het om ’n dissipel te word, het Levi ’n groot onthaal vir hom gegee. Die verslag sê: “Hierop het die Fariseërs en hulle skrifgeleerdes by sy dissipels begin murmureer en gesê: ‘Waarom eet en drink julle saam met belastinggaarders en sondaars?’ Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: ‘ . . . Ek het nie gekom om regverdiges tot berou te roep nie, maar sondaars.’”—Lukas 5:27-32.

15 Levi het ook iets anders verstaan wat Jesus by daardie geleentheid gesê het: “Gaan dan en leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie’” (Matteus 9:13). Hoewel die Fariseërs beweer het dat hulle in die geskrifte van die Hebreeuse profete glo, het hulle nie hierdie woorde van Hosea 6:6 aanvaar nie. As hulle ’n fout sou begaan, het hulle seker gemaak dat dit ten gunste van gehoorsaamheid aan oorlewering sou wees. Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Het ek die reputasie dat ek erg gesteld is op sekere reëls, soos dié wat persoonlike opvattings of die algemene siening van sake weerspieël? Of beskou ander my eerstens as barmhartig en goed?’

16. Wat het die Fariseërs gedoen, en hoe kan ons dit vermy om soos hulle te wees?

16 Pik, pik, pik. Dit is wat die Fariseërs gedoen het. Die Fariseërs het gesoek na die kleinste ou foutjie—hetsy werklik of denkbeeldig. Hulle het mense altyd verdedigend laat optree en hulle aan hulle tekortkominge herinner. Die Fariseërs het daarop geroem dat hulle tiendes gee van die kleinste kruiesoorte, soos kruisement, dille en komyn. Hulle het hulle vroomheid vertoon deur hulle kleredrag en het die volk probeer lei. As ons wil hê dat ons dade in ooreenstemming met Jesus se voorbeeld moet wees, moet ons sekerlik die neiging vermy om altyd na ander se foute te soek en die aandag daarop te vestig.

Hoe het Jesus probleme hanteer?

17-19. (a) Verduidelik hoe Jesus ’n situasie hanteer het wat baie ernstige gevolge kon gehad het. (b) Wat het die situasie gespanne en onaangenaam gemaak? (c) Hoe sou jy gereageer het as jy daar was toe die vrou Jesus genader het?

17 Die manier waarop Jesus probleme hanteer het, was heeltemal anders as dié van die Fariseërs. Kyk hoe Jesus ’n situasie hanteer het wat baie ernstig kon gewees het. Dit het te doen gehad met ’n vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Jy kan die verslag in Lukas 8:42-48 lees.

18 Markus se verslag sê dat die vrou “bang en bewend” was (Markus 5:33). Waarom? Ongetwyfeld omdat sy geweet het dat sy God se Wet oortree het. Volgens Levitikus 15:25-28 was ’n vrou met ’n onnatuurlike bloedvloeiing onrein solank sy dit gehad het, en nog ’n week daarna. Alles waaraan sy geraak het en enigiemand met wie sy in aanraking gekom het, het onrein geword. Om by Jesus uit te kom, moes hierdie vrou tussen die skare deur beweeg. Wanneer ons nou 2 000 jaar later na die verslag kyk, gaan ons hart uit na daardie vrou in haar moeilike situasie.

19 Hoe sou jy die situasie beskou het as jy daardie dag daar was? Wat sou jy gesê het? Let op dat Jesus hierdie vrou op ’n goedhartige, liefdevolle en bedagsame manier behandel het en nie eers verwys het na enige probleme wat sy kon veroorsaak het nie.—Markus 5:34.

20. Voor watter uitdaging sou ons te staan gekom het as Levitikus 15:25-28 vandag ’n vereiste was?

20 Kan ons iets uit hierdie voorval leer? Gestel jy is vandag ’n ouer man in ’n Christengemeente. En gestel dan ook dat Levitikus 15:25-28 vandag ’n Christelike vereiste is en dat ’n Christenvrou daardie wet verbreek het en nou angstig en hulpeloos voel. Hoe sou jy reageer? Sou jy haar in die openbaar verneder met kritiese raad? “O nee”, sê jy, “ek sal nooit so iets doen nie! Ek sal Jesus se voorbeeld navolg en alles in my vermoë doen om goedhartig, liefdevol en bedagsaam op te tree.” Baie goed! Maar die uitdaging is om dit te doen, om Jesus se voorbeeld na te volg.

21. Wat het Jesus mense aangaande die Wet geleer?

21 Mense is oor die algemeen deur Jesus verkwik, versterk en aangemoedig. Waar God se Wet spesifiek was, het dit bedoel wat dit gesê het. As dit gelyk het of dit nie spesifiek was nie, kon hulle hulle gewete in groter mate gebruik en deur hulle besluite hulle liefde vir God toon. Die Wet was buigsaam (Markus 2:27, 28). God het sy volk liefgehad, hy het voortdurend dinge vir hulle beswil gedoen en hy was bereid om barmhartig te wees wanneer hulle verkeerd gedoen het. Jesus was dieselfde.—Johannes 14:9.

Resultate van Jesus se leringe

22. In watter gemoedstoestand was Jesus se dissipels nadat hulle by hom geleer het?

22 Diegene wat na Jesus geluister en sy dissipels geword het, het die waarheid van sy verklaring besef: “My juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:30). Hulle het nooit gevoel dat hy hulle belas, aftakel of skerp berispe nie. Hulle het vryer, gelukkiger en veiliger in hulle verhouding met God en met mekaar gevoel (Matteus 7:1-5; Lukas 9:49, 50). Hulle het by hom geleer dat ’n geestelike herder iemand is wat ander verkwik en ootmoed sowel as nederigheid van hart aan die dag lê.—1 Korintiërs 16:17, 18; Filippense 2:3.

23. Watter belangrike les het die dissipels geleer deur saam met Jesus te wees, en tot watter gevolgtrekking het dit hulle help kom?

23 Daarbenewens is baie van hulle die belangrikheid op die hart gedruk om in eenheid met Christus te bly en die gees aan te neem wat hy geopenbaar het. Hy het vir sy dissipels gesê: “Net soos die Vader my liefgehad en ek julle liefgehad het, moet julle in my liefde bly. As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly, net soos ek die gebooie van die Vader onderhou het en in sy liefde bly” (Johannes 15:9, 10). Hulle sou sukses behaal as bedienaars en knegte van God as hulle ywerig toepas wat hulle by Jesus geleer het, in die openbare predikings- en onderrigtingswerk in verband met God se wonderlike goeie nuus sowel as in hulle handelinge met hulle gesin en vriende. Namate die broederskap gegroei en gemeentes geword het, sou hulle hulle herhaaldelik daaraan moes herinner dat sy manier die regte manier is. Wat hy hulle geleer het, was die waarheid, en die lewe wat hy gelei het, was waarlik die lewe wat hulle moes nastreef.—Johannes 14:6; Efesiërs 4:20, 21.

24. Watter dinge omtrent Jesus se voorbeeld moet ons ter harte neem?

24 Kan jy, terwyl jy nou peins oor party van die dinge wat ons bespreek het, sien waar jy kan verbeter? Sal jy daarmee saamstem dat Jesus se denke, onderrigting en optrede altyd gepas was? Skep dan moed. Sy bemoedigende woorde aan ons is: “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen.”—Johannes 13:17.

[Voetnoot]

a “Die verskil [tussen Jesus en die Fariseërs] is slegs duidelik in die lig van die twee teenstellende sienswyses van God. Vir die Fariseërs is God hoofsaaklik iemand wat eise stel; vir Jesus is hy genadig en medelydend. Die Fariseër ontken natuurlik nie God se goedheid en liefde nie, maar vir hom word dit weerspieël in die gawe van die Tora [Wet] en in die moontlikheid dat daar aan die vereistes daarin voldoen kan word. . . . Die nakoming van die mondelinge oorleweringe, met die gepaardgaande reëls om die wet te vertolk, is deur die Fariseërs beskou as die manier om die Tora te onderhou. . . . Die feit dat Jesus die dubbele gebod van liefde (Matt. 22:34-40) verhef het tot die vlak van ’n standaard van uitlegging en dat hy die geldigheid van die mondelinge oorleweringe verwerp het, . . . het hom in konflik met Fariseïese haarklowery laat kom.”—The New International Dictionary of New Testament Theology.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat beteken dit vir jou om ’n dissipel van Jesus te wees?

• Hoe het Jesus mense behandel?

• Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesus mense onderrig het?

• Hoe het die Fariseërs van Jesus verskil?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 18, 19]

Hoe anders was Jesus se gesindheid teenoor mense tog as dié van die Fariseërs!