Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Oogsalf om in jou oë te smeer”

“Oogsalf om in jou oë te smeer”

“Oogsalf om in jou oë te smeer”

HIERDIE voorskrif is deur Jesus Christus aan die eerste-eeuse Christengemeente in Laodisea, Klein-Asië, gegee.

Jesus het gesê: “Koop . . . oogsalf om in jou oë te smeer, sodat jy kan sien.” Dit was nie ’n letterlike oogsiekte nie, maar geestelike blindheid wat behandel moes word. Christene in Laodisea is beïnvloed deur die gees van die materieel welvarende stad waarin hulle gewoon het en het ongeërg geraak oor hulle ware geestelike behoeftes.

Jesus het gemeld dat dít die oorsaak van hulle aangetaste sig is en gesê: “Jy sê: ‘Ek is ryk en het rykdom verwerf en het hoegenaamd niks nodig nie’, maar jy . . . weet [nie] dat jy ellendig en bejammerenswaardig en arm en blind en naak is nie.” Hoewel hulle nie daarvan bewus was nie, het lede van die gemeente helende “oogsalf” nodig gehad wat slegs verkry kon word deur hulle aan die onderrigting en dissipline van Jesus Christus te onderwerp. ‘Koop by my’, het Jesus gesê.—Openbaring 3:17, 18.

Soos met diegene in Laodisea die geval was, moet opregte Christene van vandag daarteen waak om nie uitermate beïnvloed te word, dalk onbewustelik, deur die materialistiese en plesiergeoriënteerde milieu waarin hulle lewe nie. Die voorskrif vir die handhawing van ’n gesonde geestelike lewensbeskouing word in die vermaning aangegee: “Koop [by Jesus] . . . oogsalf om in jou oë te smeer, sodat jy kan sien.”

Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie “oogsalf” gekoop moet word. Daar is ’n prys aan verbonde. Tyd moet daaraan bestee word om die Woord van God te bestudeer en daaroor te peins. Hierdie Woord, verseker die psalmis ons, “is rein; dit laat die [geestelike] oë straal”.—Psalm 19:8NW.