Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verligting van spanning—Praktiese hulp

Verligting van spanning—Praktiese hulp

Verligting van spanning—Praktiese hulp

“Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.”—MATTEUS 11:28.

1, 2. (a) Wat bevat die Bybel wat help om oormatige spanning te verlig? (b) Hoe doeltreffend was Jesus se leringe?

 JY SAL waarskynlik saamstem dat te veel spanning skadelik is; dit kan ’n mens oorweldig. Die Bybel wys daarop dat die hele menseskepping so swaar gebuk gaan onder sorge dat baie na verlossing van vandag se spanningsvolle lewe smag (Romeine 8:20-22). Maar die Skrif toon ook hoe ons nou alreeds groot verligting van spanning kan verkry. Dit is moontlik as ons die raad en voorbeeld volg van ’n jong man wat 20 eeue gelede gelewe het. Hy was ’n timmerman, maar mense was sy grootste liefde. Hy het tot mense se harte gespreek, in hulle behoeftes voorsien, die swakkes gehelp en die terneergedruktes vertroos. Wat meer is, hy het baie gehelp om hulle geestelike potensiaal te bereik. Hulle het sodoende verligting van oormatige spanning verkry, en jy kan ook.—Lukas 4:16-21; 19:47, 48; Johannes 7:46.

2 Hierdie man, Jesus van Nasaret, is nie gelei deur die wêreldse geleerdheid wat party in eertydse Rome, Atene of Aleksandrië nagestreef het nie. En tog is sy leringe welbekend. Dit het ’n tema gehad: die regering waardeur God ons aarde met welslae sal regeer. Jesus het ook basiese lewensbeginsels uiteengesit—beginsels wat vandag baie waardevol is. Diegene wat Jesus se leringe hulle eie maak en toepas, geniet onmiddellike voordele, waaronder verligting van oormatige spanning. Sou jy nie daarvan hou nie?

3. Watter wonderlike uitnodiging het Jesus aan mense gerig?

3 Jy het dalk bedenkinge. ‘Kan iemand wat so lank gelede gelewe het, nou ’n betekenisvolle invloed op my lewe hê?’ Wel, luister na Jesus se uitnodiging: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:28-30). Wat het hy bedoel? Kom ons ondersoek hierdie woorde van naderby en sien hoe dit kan help om drukkende spanning te verlig.

4. Met wie het Jesus gepraat, en waarom het sy luisteraars dit waarskynlik moeilik gevind om te doen wat van hulle verwag is?

4 Jesus het met baie mense gepraat wat hard probeer het om te doen wat reg was volgens die wet, maar wat “swaar belaai” was omdat die Joodse leiers godsdiens ’n las gemaak het (Matteus 23:4). Hulle het die aandag toegespits op eindelose reëls vir feitlik alle aspekte van die lewe. Sal dit nie vir jou spanning veroorsaak as jy gedurig moet hoor “jy mag nie” dit of dat doen nie? In teenstelling hiermee het Jesus mense genooi na waarheid, na regverdigheid, na ’n beter lewe deur na hom te luister. Ja, die manier om die ware God te leer ken, sluit in om te let op Jesus Christus, want in hom kon—en kan—mense sien watter soort persoon Jehovah is. Jesus het gesê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.”—Johannes 14:9.

Is daar te veel spanning in jou lewe?

5, 6. Hoe vergelyk werksomstandighede en lone in Jesus se dag met ons s’n vandag?

5 Dit is dalk vir jou ’n belangrike kwessie omdat jou werk of gesinsituasie moontlik groot druk op jou plaas. Of ander verantwoordelikhede lyk dalk oorweldigend. Indien wel, is jy soos die opregte mense wat Jesus teëgekom en gehelp het. Dink byvoorbeeld aan die probleem om ’n bestaan te maak. Baie sukkel vandag daarmee, en dit was ook die geval met baie in Jesus se tyd.

6 Destyds het ’n arbeider 12 uur per dag, 6 dae per week, geswoeg, gewoonlik vir ’n skamele denarius vir ’n hele dag se werk (Matteus 20:2-10). Hoe vergelyk dit met jou verdienste of dié van jou vriende? Dit is dalk moeilik om lone van die ou tyd met dié van ons tyd te vergelyk. Een manier is deur na die koopkrag van die geld te kyk. Volgens een geleerde het ’n brood wat van vier koppies koringmeel gemaak is, in Jesus se dag min of meer een uur se loon gekos. ’n Ander geleerde sê dat ’n koppie goeie wyn omtrent twee uur se loon gekos het. Jy kan uit hierdie besonderhede aflei dat mense in daardie tyd lang ure en hard gewerk het om ’n bestaan te maak. Hulle het verligting en verkwikking nodig gehad, net soos ons. As jy ’n werk het, voel jy dalk gedwonge om produktiewer te wees. Ons vind dikwels nie die tyd om weldeurdagte besluite te maak nie. Jy erken miskien dat jy na verligting smag.

7. Wat was die reaksie op Jesus se boodskap?

7 Dit is duidelik dat Jesus se uitnodiging aan almal wat ‘geswoeg het en swaar belaai was’, beslis uiters aanloklik vir baie luisteraars van daardie tyd sou gewees het (Matteus 4:25; Markus 3:7, 8). En onthou dat Jesus die belofte bygevoeg het: “Ek sal julle verkwik.” Dieselfde belofte geld vandag. Dit kan vir ons geld as ons “swoeg en swaar belaai is”. En dit kan vir ons geliefdes geld, wie se situasie waarskynlik dieselfde is.

8. Hoe dra die grootmaak van kinders en bejaardheid by tot spanning?

8 Daar is ander dinge wat groot druk op mense plaas. Om kinders groot te maak, is ’n moeilike taak. Selfs om ’n kind te wees, kan moeilik wees. Al hoe meer mense van alle ouderdomme ondervind geestes- en fisiese gesondheidsprobleme. En hoewel mense dalk langer lewe, het bejaardes met unieke probleme te kampe, ten spyte van mediese vooruitgang.—Prediker 12:1.

Onder die juk

9, 10. Waarvan was die juk in die ou tyd ’n simbool, en waarom het Jesus mense genooi om sy juk op hulle te neem?

9 Het jy opgemerk dat Jesus in die woorde wat uit Matteus 11:28, 29 aangehaal word, gesê het: “Neem my juk op julle en leer by my.” Destyds het die gewone mens dalk gevoel asof hy onder ’n juk werk. Die juk is van ouds af as ’n simbool van slawerny of knegskap beskou (Genesis 27:40; Levitikus 26:13; Deuteronomium 28:48). Baie van die dagwerkers wat Jesus teëgekom het, het met ’n letterlike juk op hulle skouers gewerk en swaar laste gedra. Na gelang van hoe ’n juk gemaak is, het dit of gemaklik op die nek en skouers gepas of dit het die persoon geskaaf. As ’n timmerman het Jesus moontlik jukke gemaak, en hy sou geweet het hoe om een te maak wat “sag” is. Dalk het hy die dele wat aan die nek en skouers raak, met leer of materiaal beklee om die juk so gemaklik as moontlik te maak.

10 Toe Jesus gesê het: “Neem my juk op julle”, het hy hom dalk vergelyk met iemand wat gemaklike jukke gemaak het wat “sag” op die werker se nek en skouers sou rus. Daarom het Jesus bygevoeg: “My vrag is lig.” Dit het aangedui dat die jukstok nie onaangenaam was om te gebruik nie, en die werk was ook nie slawearbeid nie. Deur sy luisteraars te nooi om sy juk te aanvaar, het Jesus weliswaar nie onmiddellike verligting belowe van alle verdrukkende toestande wat destyds geheers het nie. Tog sou die verandering in sienswyse wat hy gebied het, groot verkwikking meebring. Veranderinge in hulle lewens- en handelswyse sou ook verligting bring. Nog belangriker, ’n duidelike en vaste hoop sou hulle help om die spanning in hulle lewe beter te verwerk.

Jy kan verkwikking geniet

11. Waarom impliseer Jesus se woorde nie bloot ’n verruiling van jukke nie?

11 Let asseblief op dat Jesus nie gesê het dat mense een juk vir ’n ander een sou verruil nie. Rome sou nog steeds oor die land regeer, net soos hedendaagse regerings in die lande regeer waar Christene woon. Eerste-eeuse Romeinse belasting sou nie weggedoen word nie. Gesondheids- en ekonomiese probleme sou nog daar wees. Onvolmaaktheid en sonde sou steeds ’n uitwerking op mense hê. Nogtans kon hulle verkwikking geniet deur Jesus se leringe te aanvaar, net soos vandag met ons die geval kan wees.

12, 13. Waarop het Jesus die klem gelê wat verkwikking sou meebring, en hoe het party gereageer?

12 ’n Belangrike toepassing van Jesus se illustrasie van die juk het duidelik geword in verband met die dissipelmaakwerk. Dit ly geen twyfel nie dat onderrigting Jesus se vernaamste werk was, met die klem op God se Koninkryk (Matteus 4:23). Toe hy dus gesê het: “Neem my juk op julle”, sou dit beslis ingesluit het dat hy in daardie selfde werk nagevolg moet word. Die Evangelieverslag toon dat Jesus opregte mense beweeg het om van beroep te verander, iets wat belangrik in die lewe van baie was. Onthou hoe hy Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes genooi het: “Kom agter my aan, en ek sal maak dat julle vissers van mense word” (Markus 1:16-20). Hy het aan daardie vissermanne getoon hoe bevredigend dit sou wees as hulle die werk doen wat hy eerste in sy lewe gestel het en as hulle dit onder sy leiding en met sy hulp sou doen.

13 Party van sy Joodse luisteraars het die punt gesnap en dit toegepas. Stel jou die strandtoneel voor waarvan ons in Lukas 5:1-11 lees. Vier vissermanne het die hele nag deur geswoeg, maar niks gevang nie. Skielik was hulle nette vol! Dit was nie per toeval nie; dit was deur Jesus se toedoen. Toe hulle in die rigting van die strand kyk, het hulle ’n menigte mense gesien wat opreg in Jesus se leringe belanggestel het. Dit het gehelp om te verklaar wat Jesus vir daardie vier gesê het: “Van nou af sal [julle] mense lewend vang.” Wat was hulle reaksie? “Hulle het dus die bote teruggebring land toe en alles laat staan en hom gevolg.”

14. (a) Hoe kan ons vandag verkwikking vind? (b) Watter verkwikkende goeie nuus het Jesus verkondig?

14 Jy kan op soortgelyke wyse reageer. Die werk om mense Bybelwaarheid te leer, word nog steeds gedoen. Regoor die wêreld het ongeveer sesmiljoen Getuies van Jehovah Jesus se uitnodiging aanvaar om ‘sy juk op hulle te neem’; hulle het “vissers van mense” geword (Matteus 4:19). Party doen dit voltyds; ander doen soveel as wat hulle kan deeltyds. Almal vind dit verkwikkend, en daarom verwerk hulle die spanning in die lewe beter. Dit beteken dat hulle doen wat hulle geniet, naamlik om ander van die goeie nuus te vertel—“die goeie nuus van die koninkryk” (Matteus 4:23). Dit is altyd aangenaam om oor goeie nuus te praat, maar veral hierdie goeie nuus. Die Bybel bevat al die inligting wat ons nodig het om baie mense daarvan te oortuig dat hulle ’n minder spanningsvolle lewe kan lei.—2 Timoteus 3:16, 17.

15. Hoe kan ons by Jesus se leringe oor die lewe baat vind?

15 In sekere mate het selfs mense wat maar onlangs van God se Koninkryk begin leer het, baat gevind by Jesus se leringe oor hoe om te lewe. Baie kan in alle eerlikheid sê dat Jesus se leringe hulle verkwik het en hulle gehelp het om hulle lewe te verander. Jy kan jou hiervan vergewis deur te kyk na party van die lewensbeginsels wat in die verslae aangaande Jesus se lewe en bediening uiteengesit word, veral die Evangelieverslae wat deur Matteus, Markus en Lukas geskryf is.

’n Manier om verkwikking te vind

16, 17. (a) Waar kan jy party van Jesus se vernaamste leringe vind? (b) Wat is nodig om verkwikking te vind deur die toepassing van Jesus se leringe?

16 In die lente van 31 G.J. het Jesus ’n toespraak gehou wat tot vandag toe wêreldbekend is. Dit word gewoonlik die Bergpredikasie genoem. Dit staan opgeteken in Matteus hoofstukke 5 tot 7 en in Lukas hoofstuk 6, en dit som baie van sy leringe op. Jy kan nog leringe van Jesus in die res van die Evangelies vind. Baie van wat hy gesê het, is duidelik en verstaanbaar, hoewel dit moeilik kan wees om dit toe te pas. Lees gerus daardie hoofstukke sorgvuldig en peinsend deur. Laat die krag van sy gedagtes jou denke en gesindheid beïnvloed.

17 Jesus se leringe kan natuurlik op verskillende maniere gerangskik word. Kom ons groepeer die vernaamste leringe sodat daar een vir elke dag van die maand is, met die doel om dit in jou lewe toe te pas. Hoe? Wel, moenie dit te vinnig lees nie. Onthou die ryk heerser wat vir Jesus Christus gevra het: “Deur wat te doen, sal ek die ewige lewe beërf?” Toe Jesus noodsaaklike vereistes van God se Wet opgenoem het, het die man gesê dat hy dit alreeds nakom. Hy het nietemin besef dat hy meer moes doen. Jesus het hom aangespoor om hom in groter mate in te span om godvrugtige beginsels op praktiese maniere toe te pas, om ’n aktiewe dissipel te wees. Die man was klaarblyklik nie bereid om so ver te gaan nie (Lukas 18:18-23). Iemand wat vandag Jesus se leringe wil leer, moet derhalwe in gedagte hou dat dit een ding is om met daardie leringe saam te stem en iets heeltemal anders is om dit daadwerklik aan te neem, wat dan spanning verlig.

18. Lig toe hoe jy die bygaande venster nuttig kan gebruik.

18 As ’n eerste stap in ’n studie van Jesus se leringe en die toepassing daarvan kan ons na punt 1 in die bygaande venster kyk. Dit verwys na Matteus 5:3-9. Om die waarheid te sê, enigeen van ons kan ’n hele ruk lank oor die wonderlike raad in hierdie verse peins. Maar wat leer jy aangaande gesindhede as jy na al die verse kyk? Wat sal jou help as jy werklik die uitwerking van te veel spanning in jou lewe wil oorkom? Hoe kan dit ’n goeie uitwerking op jou hê as jy meer aandag aan geestelike sake gee en jy meer daaraan dink? Is daar iets in jou lewe waaraan jy minder waarde moet heg sodat jy meer aandag aan geestelike sake kan wy? As jy dít doen, sal dit nou reeds tot jou geluk bydra.

19. Wat kan jy doen om groter insig en begrip te verkry?

19 Neem die saak nou ’n stap verder. Waarom bespreek jy nie hierdie verse met ’n ander kneg van God nie, dalk jou huweliksmaat, ’n familielid of ’n vriend? (Spreuke 18:24; 20:5). Hou in gedagte dat die ryk heerser iemand anders—Jesus—oor ’n verwante saak gevra het. Die antwoord daarop kon sy vooruitsig op geluk en ewige lewe verbeter het. Die medeaanbidder met wie jy hierdie verse bespreek, sal nie gelyk aan Jesus wees nie; tog sal die bespreking oor Jesus se leringe julle albei baat. Probeer dit so gou moontlik doen.

20, 21. Watter program kan jy volg om Jesus se leringe te leer, en hoe kan jy jou vooruitgang bepaal?

20 Kyk weer na die bygaande venster “Leringe wat jou sal help”. Hierdie leringe word so gegroepeer dat jy na ten minste een lering per dag kan kyk. Jy kan eers lees wat Jesus gesê het in die verse wat aangegee word. Dink dan na oor sy woorde. Peins oor hoe jy dit in jou lewe kan toepas. As jy meen dat jy dit alreeds doen, kan jy peins oor wat jy nog kan doen om volgens dié Goddelike onderrigting te lewe. Probeer dit gedurende daardie dag toepas. As jy sukkel om dit te verstaan of om te sien hoe jy dit kan toepas, kan jy nog ’n dag daaraan afstaan. Maar hou in gedagte dat jy dit nie hoef te bemeester voordat jy aangaan na die volgende punt nie. Die volgende dag kan jy na ’n ander lering kyk. Aan die einde van ’n week kan jy terugkyk om te sien hoe goed jy daarin geslaag het om vier of vyf van Jesus se leringe jou eie te maak. Die tweede week kan jy elke dag nog een byvoeg. As jy vind dat jy nie heeltemal daarin geslaag het om ’n sekere lering toe te pas nie, moet jy nie mismoedig raak nie. Elke Christen sal dit ondervind (2 Kronieke 6:36; Psalm 130:3; Prediker 7:20; Jakobus 3:8). Gaan voort met die program tydens die derde en die vierde week.

21 Ná ’n maand of wat sal jy moontlik al 31 punte gedek het. Wat ook al die geval is, hoe sal jy daarna voel? Sal jy nie ietwat gelukkiger, dalk meer ontspanne, wees nie? Al was daar net ’n geringe verbetering, sal jy waarskynlik minder spanning ervaar, of jy sal jou spanning ten minste beter kan verwerk, en jy sal ’n metode hê om mee voort te gaan. Moenie vergeet dat daar baie ander goeie punte in Jesus se leringe is wat nie op die lys verskyn nie. Kyk gerus wat party van hulle is en probeer dit toepas.—Filippense 3:16.

22. Wat kan die gevolg wees as ons Jesus se leringe volg, maar watter bykomende aspek verdien ons ondersoek?

22 Jy kan sien dat Jesus se juk, hoewel dit nie gewigloos is nie, waarlik sag is. Die vrag van sy leringe en van dissipelskap is lig. Ná meer as 60 jaar van persoonlike ondervinding het die apostel Johannes, Jesus se geliefde vriend, hiermee saamgestem: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Johannes 5:3). Jy kan dieselfde vertroue hê. Hoe langer jy Jesus se leringe toepas, hoe meer sal jy vind dat dinge wat vir baie mense vandag groot spanning in die lewe veroorsaak, nie vir jou so erg sal wees nie. Jy sal sien dat jy groot verligting gevind het (Psalm 34:8, NW). Maar daar is nog ’n aspek van Jesus se sagte juk wat jy moet ondersoek. Jesus het ook gemeld dat hy “saggeaard en nederig van hart” is. Hoe pas dit in by die feit dat ons by Jesus moet leer en hom moet navolg? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.—Matteus 11:29.

Wat is jou antwoord?

• Waarom moet ons op Jesus vertrou wanneer ons verligting van oormatige spanning wil hê?

• Waarvan was ’n juk ’n simbool, en waarom?

• Waarom het Jesus mense genooi om sy juk op hulle te neem?

• Hoe kan jy geestelike verkwikking geniet?

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 14]

Die jaarteks vir Jehovah se Getuies gedurende 2002 sal wees: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik.”—Matteus 11:28.

[Venster/Prent op bladsy 12, 13]

Leringe wat jou sal help

Watter goeie punte kan jy in Matteus hoofstukke 5 tot 7 vind? Hierdie hoofstukke bevat leringe wat op ’n heuwel in Galilea deur die Meesteronderrigter, Jesus, bekend gemaak is. Lees asseblief die verse wat hieronder aangegee word in jou eie Bybel, en vra jou die verwante vrae af.

1. 5:3-9 Wat sê dit vir my omtrent my gesindheid oor die algemeen? Wat kan ek doen om gelukkiger te wees? Hoe kan ek meer aandag aan my geestelike behoeftes gee?

2. 5:25, 26 Wat is beter as om die twisgierige gees van baie na te volg?—Lukas 12:58, 59.

3. 5:27-30 Wat beklemtoon Jesus se woorde aangaande romantiese fantasieë? Hoe sal dit tot my geluk en gemoedsrus bydra as ek dit vermy?

4. 5:38-42 Waarom moet ek die gesindheid van die hedendaagse samelewing probeer vermy wat beklemtoon dat ’n mens jou moet laat geld?

5. 5:43-48 Hoe sal ek daarby baat vind as ek persone beter leer ken wat ek dalk voorheen as vyande beskou het? Hoe sal dit heel waarskynlik spanning verlig of uit die weg ruim?

6. 6:14, 15 As ek soms geneig is om nie te vergewe nie, is die basiese oorsaak dalk jaloesie of gegriefdheid? Hoe kan ek dit verander?

7. 6:16-18 Is ek geneig om meer besorg te wees oor wat ander van my dink as oor die soort persoon wat ek van binne is? Waarvan moet ek meer bewus wees?

8. 6:19-32 Wat kan die gevolg wees as ek te besorg raak oor geld en besittings? Waaroor moet ek dink as ek gebalanseerd in hierdie opsig wil wees?

9. 7:1-5 Hoe voel ek wanneer ek tussen mense is wat veroordelend en krities is en wat altyd foutvind? Waarom is dit belangrik dat ek nie so moet wees nie?

10. 7:7-11 As volharding nodig is wanneer ek God om iets vra, hoe belangrik is dit dan in ander fasette van die lewe?—Lukas 11:5-13.

11. 7:12 Al ken ek die Gulde Reël, hoe dikwels pas ek hierdie raad toe in my handelinge met ander?

12. 7:24-27 Aangesien ek verantwoordelik is vir die manier waarop ek my lewe rig, hoe kan ek beter voorbereid wees op die storms van ontberinge en die stortvloede van probleme? Waarom moet ek nou hieraan dink?—Lukas 6:46-49.

Ander leringe waarna ek kan kyk:

13. 8:2, 3 Hoe kan ek medelye vir die minderbevoorregtes toon, soos Jesus so dikwels gedoen het?

14. 9:9-38 Watter rol speel barmhartigheid in my lewe, en hoe kan ek dit in groter mate aan die dag lê?

15. 12:19 Het ek uit die profesie oor Jesus geleer om twiste te probeer vermy?

16. 12:20, 21 Watter voordeel hou dit in as ek ander nie deur my woorde of my dade verbrysel nie?

17. 12:34-37 Waaroor praat ek die meeste van die tyd? Ek weet dat ek lemoensap kry as ek ’n lemoen uitdruk. Waarom moet ek dan let op wat binne-in my, in my hart, is?—Markus 7:20-23.

18. 15:4-6 Wat leer ek uit Jesus se kommentare oor liefdevolle versorging van bejaardes?

19. 19:13-15 Waarvoor moet ek tyd inruim?

20. 20:25-28 Waarom hou dit geen voordeel in om oor ander te probeer baasspeel nie? Hoe kan ek Jesus in hierdie opsig navolg?

Ander punte, deur Markus opgeteken:

21. 4:24, 25 Hoe belangrik is die manier waarop ek ander behandel?

22. 9:50 Watter goeie resultate sal dit waarskynlik hê as my woorde en dade van goeie smaak getuig?

Laastens, ’n paar leringe wat Lukas opgeteken het:

23. 8:11, 14 Wat kan die gevolg wees as ek toelaat dat bekommernisse, rykdom en vermaak my lewe oorheers?

24. 9:1-6 Wat het Jesus eerste gestel, hoewel hy die mag gehad het om siekes te genees?

25. 9:52-56 Neem ek maklik aanstoot? Vermy ek ’n wraaksugtige gees?

26. 9:62 Hoe moet ek my verantwoordelikheid beskou om oor God se Koninkryk te praat?

27. 10:29-37 Hoe kan ek naasteliefde betoon en nie soos ’n vreemdeling optree nie?

28. 11:33-36 Watter veranderinge kan ek aanbring sodat my lewe eenvoudiger kan word?

29. 12:15 Wat is die verwantskap tussen lewe en besittings?

30. 14:28-30 Wat kan ek vermy as ek tyd neem om my besluite sorgvuldig te oorweeg, en watter voordeel hou dit in?

31. 16:10-12 Watter voordele kan ’n lewe van onkreukbaarheid vir my inhou?

[Prente op bladsy 10]

Die lewensreddende werk onder Jesus se juk is verkwikkend