Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Wie sê die mense is ek?”

“Wie sê die mense is ek?”

“Wie sê die mense is ek?”

DIT is al weer Kerstyd. Mense oor die hele aarde gaan ’n verjaarsdag vier. Wie se verjaarsdag? Is dit dié van God se Seun of van bloot ’n ywerige Jood in die eerste eeu wat hom daarop toegespits het om die godsdiens in sy omgewing te hervorm? Is dit die verjaarsdag van ’n kampvegter vir die armes, ’n rebel wat so ’n bedreiging vir die Romeinse Ryk ingehou het dat hy tereggestel is of dalk ’n wysgeer wat selfkennis en ’n innerlike sfeer van wysheid beklemtoon het? Jy het rede om te wonder: ‘Wie was Jesus Christus nou eintlik?’

Jesus self was geïnteresseerd in hoe mense op hierdie vraag sou antwoord. “Wie sê die mense is ek?” het hy op ’n keer vir sy dissipels gevra (Markus 8:27). Waarom die vraag? Baie mense het reeds opgehou om hom te volg. Ander was klaarblyklik verward en teleurgesteld nadat hy hulle pogings om hom koning te maak, teëgestaan het. Wat meer is, toe Jesus se vyande hom uitgedaag het, het hy nie ’n teken uit die hemel voorsien om te bewys wie hy is nie. Wat het sy apostels dus in antwoord op daardie vraag oor sy identiteit gesê? Hulle het ’n paar van die sienings genoem wat algemeen onder die volk was: “Party sê Johannes die Doper, ander Elia, nog ander Jeremia of een van die profete” (Matteus 16:13, 14). Hulle het nie melding gemaak van die talle kritiese aanmerkings oor Jesus wat destyds in Palestina gehoor is nie—lasteraar, kwaksalwer, valse profeet, selfs kranksinnige.

Die talle beskouings oor Jesus

Vandag sou Jesus die bewoording van hierdie selfde vraag effens kon wysig en vra: “Wie sê die geleerdes is ek?” Weer eens sou die antwoorde waarskynlik hierop neerkom: Daar is baie verskillende menings. Volgens David Tracy van die Universiteit van Chicago het verskillende mense heelwat verskillende opinies en interpretasies van Jesus en wat hy gesê en gedoen het. Gedurende die afgelope eeu het geleerdes ’n ingewikkelde reeks sosiologiese, antropologiese en literêre metodes gebruik om antwoorde te probeer formuleer op die vraag oor wie Jesus werklik was. Watter beskouing het hulle derhalwe van Jesus?

Sommige geleerdes hou vol dat die geskiedkundige Jesus ’n eskatologiese Joodse profeet was wat mense tot inkeer wou bring. Hulle gaan egter nie heeltemal so ver as om hom die Seun van God, die Messias en die Loskoper te noem nie. Die meeste trek die Bybel se verslag oor sy hemelse oorsprong en sy opstanding in twyfel. Vir ander was Jesus net ’n man wat deur sy voorbeeldige lewe en onderrigting verskeie godsdienste laat ontstaan het wat uiteindelik in die Christendom opgeneem is. En soos geskryf is in Theology Today sien ander Jesus weer as “’n sinikus, ’n swerwende wysgeer of ’n mistikus uit ’n eenvoudige agtergrond; ’n organiseerder van die gemeenskap, ’n hippie-digter wat die gevestigde orde aanval of ’n slim opstoker wat hom vryelik uitspreek terwyl hy deur die dorpies in die agterlike dele van Palestina gaan waar onrus, armoedige en ’n sosiaal plofbare situasie geheers het”.

Daar is selfs ongewoner beskouings. Die beeld van ’n swart Jesus duik oral op in rapmusiek, stadskuns, selfs in dansvorme. a Ander bespiegel dat Jesus in werklikheid ’n vrou was. In die somer van 1993 het besoekers aan die Orange-distrik se skou, in Kalifornië, ’n standbeeld gesien van “Christie”, ’n naakte, vroulike “Christus” aan die kruis. Ongeveer dieselfde tyd is “Christa”—’n gekruisigde vroulike “Jesus”—in New York ten toon gestel. Albei standbeelde het heelwat reaksie uitgelok. En vroeg in 1999 was daar ’n boek te koop “oor die liefde [wat] die Seuntjie Jesus en sy hond, Engel, vir mekaar gehad het”. Hulle verhouding is beskryf as een wat ’n mens “geestelik raak, en dit toon hoe seun en hond bereid is om hulle lewe vir mekaar op te offer”.

Maak dit werklik saak?

Waarom moet jy belangstel in wie Jesus was en is? Om maar een ding te noem, omdat—soos Napoleon gesê het—“Jesus Christus Sy onderdane beïnvloed en aangevoer het sonder dat Hy sigbaar, fisies teenwoordig was”. Deur sy dinamiese onderrigting en deur die manier waarop hy gelewe het, het Jesus die lewens van miljarde mense al byna tweeduisend jaar op kragtige wyse beïnvloed. Een skrywer het gepas gesê: “Al die leërs wat ooit uitgetrek het, al die vlote wat ooit gebou is, al die parlemente wat ooit gesit het en al die konings wat ooit geheers het, het saam nie so ’n kragtige uitwerking op die lewe van die mensdom op aarde gehad nie.”

Daarbenewens is dit belangrik dat jy weet wie Jesus was en is omdat hy ’n direkte invloed op jou toekoms gaan hê. Jy het die geleentheid om ’n onderdaan van ’n gevestigde hemelse regering te word—die Koninkryk van God in die hande van Jesus. Ons veelbewoë planeet se pragtige biodiversiteit en ekologiese ewewig sal onder Jesus se leiding herstel word. Bybelprofesieë verseker ons dat Jesus se Koninkryk dié wat honger is, sal voed, vir die armes sal sorg, die siekes sal genees en die dooies sal opwek.

Jy wil ongetwyfeld weet watter soort persoon aan die hoof staan van ’n regering wat so uiters nodig is. Die volgende artikel sal jou help om insig te verkry in die ware Jesus.

[Voetnoot]

a Wat die fisiese voorkoms van Jesus betref, sien die artikel “Hoe het Jesus gelyk?” in die Ontwaak! van 8 Desember 1998.