Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Gewillige gees laat mense Gilead toe gaan

’n Gewillige gees laat mense Gilead toe gaan

’n Gewillige gees laat mense Gilead toe gaan

DIE Wagtoring-Bybelskool Gilead is daar om toegewyde mans en vroue vir sendingdiens in ander lande op te lei. Wie kom Gilead toe? Persone met ’n gewillige gees (Psalm 110:3). Dit was beslis duidelik op 8 September 2001 toe die 111de klas gegradueer het.

Party studente van daardie klas het reeds gewillig hulle familie, vriende en geboorteland agtergelaat om te dien waar hulp nodig is. Sodoende het hulle hulleself op die proef gestel om te sien of hulle aanpassings kon maak om in ’n ietwat ander soort omgewing te woon. Richer en Nathalie het byvoorbeeld hulle sake so gereël dat hulle na Bolivia kon verhuis, Todd en Michelle na die Dominikaanse Republiek en David en Monique na ’n land in Asië om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Ander studente het reeds in Nicaragua, Ecuador en Albanië gedien.

Christy is aangespoor om Spaans op hoërskool te leer, wat haar gehelp het om twee jaar in Ecuador te dien voordat sy getroud is. Ander het in anderstalige gemeentes in hulle eie land gaan dien. Saul en Priscilla het ’n gewillige gees aan die dag gelê om ’n ander uitdaging die hoof te bied—hulle het hulle daarop toegelê om hulle Engels te verbeter voordat hulle na die skool toe gekom het.

Die 20 weke van opleiding as sendelinge het verbygevlieg. Gradueringsdag het aangebreek, en die studente het saam met hulle vriende en familie na wyse raad en ’n paar laaste woorde van aanmoediging geluister.

Die voorsitter van die program was Theodore Jaracz, ’n gegradueerde van die sewende klas van Gileadskool, wat tans as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dien. Sy openingskommentare het die feit beklemtoon dat ons as ’n organisasie nooit die doel uit die oog verloor het waarom studente aan Gilead opgelei word nie, naamlik om die goeie nuus van die Koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig (Markus 13:10). Gilead rus bekwame studente toe om hierdie predikingswerk op ’n baie groter skaal uit te voer as wat hulle in die verlede gedoen het en in gebiede van die wêreld waar opgeleide sendelinge veral nodig is. Broer Jaracz het die studente aangespoor om hulle Gileadopleiding deeglik te benut wanneer hulle by die sendelinge aansluit wat op die oomblik in die 19 lande dien waarheen die gegradueerdes gestuur word.

Tydige raad vir die gegradueerdes

’n Reeks toesprake het gevolg. William van de Wall, ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee, het die onderwerp “Sendingywer—’n kenmerk van ware Christene” bespreek. Hy het die aandag gevestig op die opdrag om ‘dissipels te maak’, wat in Matteus 28:19, 20 opgeteken staan, en hy het die studente gemaan: “Volg Jesus na, wat sy sendingtoewysing met ywer en geesdrif uitgevoer het.” Om die toekomstige sendelinge te help om hulle ywer vir sendingwerk te behou, het hy hulle aangespoor: “Volg ’n praktiese rooster; behou goeie persoonlike studiegewoontes en bly op hoogte van teokratiese sake; en hou altyd die redes waarom julle in julle toewysing is, duidelik voor oë.”

Volgende op die program was Guy Pierce, ’n lid van die Bestuursliggaam. Hy het die tema ontwikkel: “Hou aan om julle ‘denkvermoë’ te ontwikkel” (Romeine 12:1). Hy het praktiese raad aan die graduerende klas gegee en hulle aangemoedig om hulle godgegewe denk- en redeneervermoë te gebruik. “Hou aan om diep na te dink oor wat Jehovah deur middel van sy Woord vir julle sê. Dit sal julle beveilig”, het hy gesê (Spreuke 2:11, NW). Broer Pierce het die klas ook aangespoor om nie dogmaties in hulle beskouings te wees nie, sodat hulle nie hulle “denkvermoë” belemmer nie. Hierdie tydige herinneringe sal beslis nuttig wees wanneer die gegradueerdes as sendelinge dien.

Die voorsitter het hierna een van die Gileadinstrukteurs, Lawrence Bowen, aan die woord gestel, wat die tema “Besluit om niks te weet nie”, bespreek het. Hy het daarop gewys dat die apostel Paulus, met betrekking tot sy sendingwerk in Korinte, ‘besluit het om niks anders te weet nie as Jesus Christus, en hom as iemand wat aan die paal gehang is’ (1 Korintiërs 2:2). Paulus het geweet dat die grootste krag in die heelal, die heilige gees, die boodskap steun wat dwarsdeur die Bybel voorkom: die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit deur middel van die beloofde Saad (Genesis 3:15). Die 48 studente is aangespoor om soos Paulus en Timoteus te wees en om suksesvolle sendelinge te wees deur aan “die patroon van gesonde woorde” vas te hou.—2 Timoteus 1:13.

“Waardeer julle voorreg—’n gawe van God”, was die tema van die laaste van die reeks inleidende toesprake. Wallace Liverance, Gileadskoolregistrateur, het die gegradueerdes help besef dat diensvoorregte blyke van God se onverdiende goedhartigheid is, nie iets waarop hulle geregtig is of wat hulle verdien het nie. Broer Liverance het die voorbeeld van die apostel Paulus gebruik en gesê: “Jehovah se keuse van Paulus as sy apostel vir die nasies was nie gegrond op werke nie, sodat dit nie sou lyk asof Paulus die reg op daardie toewysing verdien het of dat dit aan hom verskuldig was nie. Dit het nie afgehang van lang diensjare of ondervinding nie. Uit ’n menslike oogpunt gesien, het Barnabas dalk na die logiese keuse gelyk. Dit was nie gegrond op persoonlike vermoëns nie; Apollos was klaarblyklik ’n beter spreker as Paulus. Dit was ’n blyk van God se onverdiende goedhartigheid” (Efesiërs 3:7, 8). Broer Liverance het die gegradueerdes aangemoedig om hulle gawe, of diensvoorreg, te gebruik om ander te help om vriende van God te word, asook ontvangers van “die gawe wat God gee, . . . die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here”.—Romeine 6:23.

Hierna het Mark Noumair, ’n ander Gileadinstrukteur, ’n lewendige bespreking met ’n aantal studente gevoer oor die tema: “Voorbereiding lewer goeie resultate” (Spreuke 21:5). Die ondervindinge het toegelig dat ’n bedienaar, as hy goed voorberei vir die bediening, veral as hy sy hart voorberei, opregte belangstelling in mense sal toon. Hy sal nooit wonder wat om te sê nie. Inteendeel, hy sal dinge sê en doen wat hulle geestelik sal help. “Dit is die sleutel om ’n suksesvolle sendeling te wees”, het broer Noumair gesê en sy eie ondervinding as ’n sendeling in Afrika as voorbeeld gebruik.

Sendingdiens—’n bevredigende loopbaan

Ralph Walls en Charles Woody het onderhoude met ’n paar ervare sendelinge gevoer, wat ook by die Onderrigsentrum in Patterson was vir spesiale opleiding. Die onderhoude het beklemtoon dat dit liefde vir mense is wat vreugde in die sendingwerk meebring. Dit was gerusstellend vir die studente en vir hulle familie en vriende in die gehoor om na hierdie ervare sendelinge te luister terwyl hulle uit eie ondervinding verduidelik het waarom sendingdiens ’n bevredigende loopbaan is.

John E. Barr, wat op die Bestuursliggaam dien, het die hooftoespraak van die dag gehou, met die titel “Sing tot Jehovah ’n nuwe lied” (Jesaja 42:10, NW). Broer Barr het daarop gewys dat die uitdrukking “’n nuwe lied” nege keer in die Bybel voorkom. Hy het die vraag gestel: “Waaroor gaan hierdie nuwe lied?” Toe het hy geantwoord: “Die konteks toon dat ’n nuwe lied gesing word weens nuwe verwikkelinge in die uitoefening van Jehovah se soewereiniteit.” Hy het die studente aangespoor om voort te gaan om almal saam die lof van God se seëvierende Koninkryk in die hande van die Messiaanse Koning, Christus Jesus, te besing. Broer Barr het gemeld dat die opleiding wat hulle aan Gilead ontvang het, hulle gehelp het om ’n beter begrip as ooit tevore van die verskillende aspekte van hierdie “nuwe lied” te hê. “Die skool het beklemtoon hoe belangrik dit vir julle is om Jehovah se lof in harmonie met julle broers en susters te ‘sing’ waar julle ook al gaan; bou altyd eenheid op met ander in julle toewysings.”

Nadat die studente hulle diplomas ontvang het, het ’n woordvoerder vir die klas ’n brief voorgelees van opregte waardering vir die opleiding wat hulle aan Gilead ontvang het.

Kan jy jou diens aan God uitbrei en dit meer produktief maak? Indien wel, moet jy jou daarop toelê soos hierdie studente gedoen het. Dit het gehelp om hulle vir die sendingveld te bekwaam. Wanneer ’n mens jou met blymoedigheid gewillig aanbied in God se diens, lei dit tot groot vreugde.—Jesaja 6:8.

[Venster op bladsy 25]

KLASSTATISTIEK

Aantal lande verteenwoordig: 10

Aantal lande waarheen gestuur: 19

Aantal studente: 48

Gemiddelde ouderdom: 33,2

Gemiddelde jare in die waarheid: 16,8

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 12,6

[Prent op bladsy 26]

111de Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Yeomans, C.; Toukkari, A.; Nuñez, S.; Phillips, J.; Dawkin, M.; Silvestri, P. (2) Morin, N.; Biney, J.; López, M.; Van Hout, M.; Cantú, A.; Szilvassy, F. (3) Williams, M.; Itoh, M.; Van Coillie, S.; Levering, D.; Fuzel,  F.; Geissler, S. (4) Yeomans, J.; Moss, M.; Hodgins, M.; Dudding, S.; Briseño, J.; Phillips, M. (5) López, J.; Itoh, T.; Sommerud, S.; Kozza, C.; Fuzel, G.; Moss, D. (6) Williams, D.; Dudding, R.; Geissler, M.; Morin, R.; Biney, S.; Cantú, L. (7) Dawkin, M.; Hodgins, T.; Levering, M.; Silvestri, S.; Van Hout, D.; Briseño, A. (8) Van Coillie, M.; Nuñez, A.; Kozza, B.; Sommerud, J.; Toukkari, S.; Szilvassy, P.