Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die probleme wat klasseverskille meebring

Die probleme wat klasseverskille meebring

Die probleme wat klasseverskille meebring

“GELYKHEID IS DALK ’N REG, MAAR GEEN MAG OP AARDE KAN DIT OOIT IN ’N FEIT VERANDER NIE.”

Dit was die woorde van Honoré de Balzac, ’n Franse romanskrywer uit die 19de eeu. Stem jy saam met hom? Baie mense voel instinktief aan dat klasseverskille verkeerd is. Maar selfs in hierdie 21ste eeu word die mensegemeenskap nog steeds in talle maatskaplike klasse verdeel.

CALVIN COOLIDGE, president van die Verenigde State van 1923 tot 1929, was gemoeid met die probleem van maatskaplike klasseverskille en het van “die algehele uitwissing van alle bevoorregte klasse” gepraat. Maar ongeveer 40 jaar ná Coolidge se presidentskap het die Kerner-kommissie, wat aangestel was om rasseverhoudinge te ondersoek, die vrees uitgespreek dat dit onvermydelik is dat die Verenigde State twee gemeenskappe sou word: “een swart, een wit—geskei en ongelyk”. Party meen dat hierdie voorspelling alreeds bewaarheid is en dat “die kloof op ekonomiese en rassegebied al hoe groter word” in daardie land.

Waarom is dit so moeilik om die idee van gelykheid onder mense in ’n werklikheid te omskep? ’n Groot faktor is die menslike natuur. Die voormalige Amerikaanse parlementslid William Randolph Hearst het eenkeer gesê: “Alle mense is in ten minste een opsig as gelykes geskep, en dit is hulle begeerte om nie gelyk te wees nie.” Wat het hy bedoel? Dalk het die Franse dramaturg van die 19de eeu, Henry Becque, dit duideliker gestel: “Wat gelykheid so ’n ingewikkelde saak maak, is die feit dat ons dit net met ons meerderes wil verkry.” Met ander woorde, mense wil gelyk wees aan diegene wat hoër as hulle op die maatskaplike leer is; maar nie baie sal gewillig wees om hulle voorregte en voordele te beperk deur gelykheid toe te staan aan diegene wat hulle as benede hulle beskou nie.

In die verlede is mense as burgers, as deel van ’n aristokrasie of selfs as lede van ’n koninklike familie gebore. Op ’n paar plekke is dit nog steeds die geval. In die meeste lande vandag is dit egter geld—of ’n gebrek daaraan—wat bepaal of iemand tot die laer, middel- of hoër klas behoort. Maar daar is ook ander dinge wat klasse bepaal, soos ras, opvoeding en geletterdheid. En in sommige plekke is geslag ’n belangrike grondslag vir diskriminasie en word vroue as ’n ondergeskikte klas beskou.

Enige ligpunte?

Wetgewing wat op menseregte betrekking het, het gehelp om sommige klasseskeidslyne uit te wis. Wette teen segregasie is in die Verenigde State aangeneem. In Suid-Afrika is apartheid afgeskaf. Slawerny, hoewel dit nog bestaan, is onwettig in ’n groot deel van die wêreld. Wetlike beslissings het die erkenning van sekere inheemse volke se grondreg afgedwing, en wette teen diskriminasie het ’n mate van verligting vir ’n paar minderbevoorregte klasse gebring.

Dui dit die einde van maatskaplike klasseverskille aan? Nie werklik nie. Hoewel sommige maatskaplike klasseverskille dalk vervaag het, het nuwe skeidings hulle verskyning begin maak. Die boek Class Warfare in the Information Age sê: “Dit lyk nie of dit vandag nog gepas is om mense te klassifiseer as óf kapitaliste óf werkers nie, maar dit is net omdat hierdie groot klasse in kleiner groepies woedende mense versplinter het.”

Sal maatskaplike klasse mense vir ewig verdeel? Wel, soos die volgende artikel sal toon, is die situasie nie hopeloos nie.