Die seëninge van die goeie nuus
Die seëninge van die goeie nuus
“Jehovah [het] my gesalf . . . om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig. Hy het my gestuur om die gebrokenes van hart te verbind, . . . om al die treurendes te vertroos.”—JESAJA 61:1, 2, NW.
1, 2. (a) Wat het Jesus omtrent homself geopenbaar, en hoe? (b) Tot watter seëninge het die goeie nuus wat Jesus verkondig het, gelei?
EEN Sabbatdag vroeg in Jesus se bediening was hy in die sinagoge in Nasaret. Volgens die verslag “is die boekrol van die profeet Jesaja vir hom aangegee, en hy het die boekrol oopgemaak en die plek gevind waar geskrywe staan: ‘Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus . . . bekend te maak.’” Jesus het toe verder uit die profetiese gedeelte gelees. Daarna het hy gaan sit en gesê: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte wat julle so pas gehoor het, vervul.”—Lukas 4:16-21.
2 Só het Jesus hom as die voorspelde evangeliedienaar geïdentifiseer, die een wat goeie nuus bekend maak en vertroosting gee (Matteus 4:23). En watter wonderlike goeie nuus het Jesus tog gehad om bekend te maak! Hy het sy hoorders meegedeel: “Ek is die lig van die wêreld. Hy wat my volg, sal hoegenaamd nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe besit” (Johannes 8:12). Hy het ook gesê: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31, 32). Ja, Jesus het “woorde van die ewige lewe” gehad (Johannes 6:68, 69). Lig, lewe, vryheid—dit is beslis seëninge wat hoog op prys gestel moet word!
3. Watter goeie nuus het Jesus se dissipels verkondig?
3 Ná Pinkster 33 G.J. het die dissipels Jesus se evangelisasiewerk voortgesit. Hulle het die “goeie nuus van die koninkryk” aan Israeliete sowel as mense van die nasies verkondig (Matteus 24:14; Handelinge 15:7; Romeine 1:16). Dié wat gunstig gereageer het, het Jehovah God leer ken. Hulle is uit godsdiensslawerny bevry en het deel geword van die nuwe geestelike nasie, “die Israel van God”, waarvan die lede die vooruitsig het om vir ewig in die hemel saam met hulle Here, Jesus Christus, te regeer (Galasiërs 5:1; 6:16; Efesiërs 3:5-7; Kolossense 1:4, 5; Openbaring 22:5). Dit was inderdaad ryk seëninge!
Evangelisasie vandag
4. Hoe word die opdrag om die goeie nuus te verkondig, vandag vervul?
4 Gesalfde Christene, wat ondersteun word deur ’n toenemende “groot skare” “ander skape”, gaan vandag voort om die profetiese opdrag uit te voer wat oorspronklik aan Jesus gegee is (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Gevolglik word die goeie nuus op ’n ongeëwenaarde skaal verkondig. In 235 lande en gebiede het Jehovah se Getuies uitgegaan “om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig . . . , om die gebrokenes van hart te verbind, om uit te roep dat dié wat gevange geneem is, vrygelaat sal word en dat die oë van die gevangenes wyd oopgemaak sal word; om die jaar van die welwillendheid van Jehovah en die dag van die wraak van ons God uit te roep; om al die treurendes te vertroos” (Jesaja 61:1, 2, NW). Die Christelike evangelisasiewerk bring dus steeds seëninge vir baie mense mee en ware vertroosting vir “dié wat in enigerlei verdrukking is”.—2 Korintiërs 1:3, 4.
5. Hoe is Jehovah se Getuies anders as die kerke van die Christendom wanneer dit by die verkondiging van die goeie nuus kom?
5 Dit is waar dat die kerke van die Christendom sekere vorme van evangelisasie steun. Baie stuur sendelinge uit om bekeerlinge in ander lande te maak. The Orthodox Christian Mission Center Magazine doen byvoorbeeld verslag oor die bedrywighede van Ortodokse sendelinge in Madagaskar, Suider-Afrika, Tanzanië en Zimbabwe. Maar in die Ortodokse Kerk, soos in die ander kerke van die Christendom, het die meeste lidmate geen aandeel aan hierdie werk nie. In teenstelling hiermee probeer alle toegewyde Getuies van Jehovah aan die evangelisasiewerk deelneem. Hulle besef dat die verkondiging van die goeie nuus ’n bewys van die egtheid van hulle geloof is. Paulus het gesê: “Met die hart beoefen ’n mens geloof tot regverdigheid, maar met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding.” Geloof wat iemand nie tot dade beweeg nie, is in werklikheid dood.—Romeine 10:10; Jakobus 2:17.
Goeie nuus wat ewige seëninge meebring
6. Watter goeie nuus word vandag verkondig?
6 Jehovah se Getuies verkondig die beste nuus wat daar kan wees. Hulle maak hulle Bybels oop en wys vir dié wat wil luister, dat Jesus sy lewe opgeoffer het om dit vir die mensdom moontlik te maak om God te nader, om vergifnis van sondes te ontvang en om die hoop op ewige lewe te hê (Johannes 3:16; 2 Korintiërs 5:18, 19). Hulle kondig aan dat God se Koninkryk in die hande van die gesalfde Koning, Jesus Christus, in die hemel opgerig is en dat dit binnekort goddeloosheid van die aarde af sal wegneem en sal toesien dat die Paradys herstel word (Openbaring 11:15; 21:3, 4). Ter vervulling van Jesaja se profesie lig hulle hulle medemens in dat dit nou “die jaar van die welwillendheid van Jehovah” is wanneer die mensdom nog aan die goeie nuus gehoor kan gee. Hulle waarsku ook dat “die dag van die wraak van ons God” op hande is wanneer Jehovah onberouvolle oortreders tot niet sal maak.—Psalm 37:9-11.
7. Watter ondervinding toon die eenheid van Jehovah se Getuies, en waarom geniet hulle hierdie eenheid?
7 In ’n wêreld vol tragedies en rampe is dit die enigste goeie nuus wat ewige voordele inhou. Diegene wat dit aanneem, word deel van ’n verenigde, wêreldwye broederskap van Christene wat nie toelaat dat nasionale, stam- of ekonomiese verskille hulle verdeel nie. Hulle het hulle ‘beklee met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid’ (Kolossense 3:14; Johannes 15:12). Dit is verlede jaar in ’n sekere land in Afrika gesien. Een oggend is die hoofstad deur geweervuur wakker geskud. ’n Poging is aangewend om die regering omver te werp. Toe dit ’n etniese geskil geword het, is ’n Getuiegesin gekritiseer omdat hulle aan mede-Getuies van ’n ander etniese groep skuiling gegee het. Die gesin het gesê: “Daar is net Jehovah se Getuies in ons huis.” Vir hulle was etniese verskille nie belangrik nie, maar wel Christelike liefde—om dié wat in nood verkeer, te help. ’n Familielid wat nie ’n Getuie is nie, het gesê: “Lidmate van alle godsdienste het hulle medeaanbidders verraai. Net Jehovah se Getuies het nie.” Verslae van talle soortgelyke ondervindinge uit lande wat deur burgerlike konflik verdeel word, toon dat Jehovah se Getuies waarlik “lief [is] vir die hele gemeenskap van broers”.—1 Petrus 2:17.
Die goeie nuus verander mense
8, 9. (a) Watter veranderinge maak persone wat die goeie nuus aanneem? (b) Watter ondervindinge lig die krag van die goeie nuus toe?
8 Die goeie nuus het te doen met wat Paulus “die teenswoordige en die toekomstige lewe” genoem het (1 Timoteus 4:8). Dit bied nie net ’n wonderlike, vaste hoop vir die toekoms nie, maar verbeter ook ‘die teenswoordige lewe’. As individue word Jehovah se Getuies deur God se Woord, die Bybel, gelei om hulle lewe in ooreenstemming met God se wil te bring (Psalm 119:101). Selfs hulle persoonlikhede word vernuwe namate hulle eienskappe soos regverdigheid en lojaliteit aankweek.—Efesiërs 4:24.
9 Beskou die voorbeeld van Franco. Hy het gesukkel om sy humeur te beheers. Wanneer sake verkeerd geloop het, het hy woedend geraak en dinge gebreek. Sy vrou het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, en hulle Christelike voorbeeld het Franco geleidelik gehelp om te sien dat hy moes verander. Hy het die Bybel saam met hulle gestudeer en kon uiteindelik vrede en selfbeheersing, vrugte van die heilige gees, aan die dag lê (Galasiërs 5:22, 23). Hy was een van die 492 wat gedurende die 2001-diensjaar in België gedoop is. Kyk ook na die voorbeeld van Alejandro. Hierdie jong man het so verslaaf geraak aan dwelms dat hy uiteindelik op ’n vullishoop gebly het en alles wat hy in die hande kon kry, verkoop het om sy dwelmgewoonte te onderhou. Toe hy 22 jaar oud was, het Jehovah se Getuies Alejandro genooi om die Bybel te bestudeer, en hy het ingestem. Hy het die Bybel elke dag gelees en Christelike vergaderinge bygewoon. Hy het sy lewe so vinnig in orde gebring dat hy in minder as ses maande aan die evangelisasiewerk kon deelneem—een van die 10 115 wat dit verlede jaar in Panama gedoen het.
Die goeie nuus—’n seën vir die sagmoediges
10. Wie reageer op die goeie nuus, en hoe verander hulle beskouing?
10 Jesaja het voorspel dat die goeie nuus aan die sagmoediges verkondig sou word. Wie is hierdie sagmoediges? Hulle word in die boek Handelinge beskryf as dié wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het (Handelinge 13:48). Hulle is nederige mense uit alle kringe van die samelewing wat ontvanklik is vir die boodskap van waarheid. Hierdie persone leer dat die uitvoering van God se wil seëninge meebring wat baie groter is as enigiets wat die sekulêre wêreld aanbied (1 Johannes 2:15-17). Maar hoe bereik Jehovah se Getuies die harte van mense in hulle evangelisasiewerk?
11. Hoe moet die goeie nuus volgens Paulus verkondig word?
11 Wel, dink aan die voorbeeld van die apostel Paulus, wat aan die Korintiërs geskryf het: “Toe ek na julle toe gekom het, broers, [het ek] die heilige geheim van God nie met oordrewe woorde of wysheid aan julle bekend kom maak nie. Want ek het besluit om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en hom as iemand wat aan die paal gehang is” (1 Korintiërs 2:1, 2). Paulus het nie sy hoorders met sy geleerdheid probeer beïndruk nie. Hy het hulle niks anders geleer nie as feite wat deur God bevestig is, feite wat vandag in die Bybel opgeteken staan. Let ook op Paulus se aansporing aan sy mede-evangeliedienaar Timoteus: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig” (2 Timoteus 4:2). Timoteus moes “die woord”, God se boodskap, verkondig. Paulus het ook aan Timoteus geskryf: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.”—2 Timoteus 2:15.
12. Hoe slaan Jehovah se Getuies vandag ag op Paulus se woorde en voorbeeld?
12 Jehovah se Getuies slaan ag op Paulus se voorbeeld, sowel as op sy woorde aan Timoteus. Hulle erken die krag van God se Woord en maak goed daarvan gebruik in hulle strewe om gepaste woorde van hoop en vertroosting aan hulle medemens oor te dra (Psalm 119:52, NW; 2 Timoteus 3:16, 17; Hebreërs 4:12). Hulle gebruik wel Bybellektuur sodat belangstellendes meer Bybelkennis in hulle eie tyd kan opdoen. Maar hulle probeer mense altyd wys wat die Skrif sê. Hulle weet dat God se geïnspireerde Woord die harte van nederiges sal motiveer. En deur dit so te gebruik, versterk hulle ook hulle eie geloof.
‘Vertroos al die treurendes’
13. Watter gebeure in die jaar 2001 het ’n groot behoefte aan vertroosting vir die treurendes laat ontstaan?
13 Daar was baie rampe in die jaar 2001, en daarom het baie mense vertroosting nodig gehad. Dit was veral die geval verlede September in die Verenigde State met die terreuraanvalle op die Wêreldhandelsentrum in New York en die Pentagon naby Washington, DC. Wat ’n skok was daardie aanvalle tog vir die hele land! Tydens sulke gebeure probeer Jehovah se Getuies hulle opdrag vervul om “al die treurendes te vertroos”. ’n Paar ondervindinge sal toelig hoe hulle dit doen.
14, 15. Hoe kon Getuies by twee verskillende geleenthede tekste doeltreffend gebruik om treurendes te vertroos?
14 ’n Getuie wat ’n voltydse evangeliedienaar is, het ’n vrou op die sypaadjie genader en gevra wat sy van die onlangse terreuraanvalle dink. Die vrou het begin huil. Sy het gesê dat sy hartseer voel en wens sy kon op die een of ander manier help. Die Getuie het vir haar vertel dat God opreg belangstel in ons almal, en sy het Jesaja 61:1, 2 gelees. Hierdie Goddelik geïnspireerde woorde was sinvol vir die vrou, wat gesê het dat almal besig was om te treur. Sy het ’n traktaat geneem en die Getuie gevra om haar by haar huis te besoek.
15 Twee Getuies wat aan die evangelisasiewerk deelgeneem het, het ’n man ontmoet wat in sy skuur gewerk het. Hulle het aangebied om woorde van vertroosting uit die Skrif vir hom te lees met die oog op die onlangse tragedie by die Wêreldhandelsentrum. Hy het ingestem en hulle het 2 Korintiërs 1:3-7 gelees, wat onder meer sê: “Vertroosting [is] . . . oorvloedig deur middel van die Christus.” Die man het dit waardeer dat sy Getuie-bure iets vertroostends aan ander meedeel en het gesê: “Mag God die wonderlike werk wat julle doen, seën.”
16, 17. Watter twee ondervindinge toon die krag van die Bybel om persone te help wat deur tragedies bedroef of ontstel is?
16 ’n Getuie wat teruggegaan het na belangstellendes, het die seun ontmoet van ’n vrou wat vantevore belangstelling getoon het en het verduidelik dat hy besorg is oor hoe dit ná die onlangse tragedie met die bure gaan. Die man was verbaas dat die Getuie sy vrye tyd gebruik het om mense te besoek en na hulle welstand te verneem. Hy het gesê dat hy tydens die aanval naby die Wêreldhandelsentrum gewerk het en dat hy alles gesien het. Toe hy vra waarom God lyding toelaat, het die Getuie verse uit die Bybel gelees, onder andere Psalm 37:39 (NW) wat sê: “Die redding van die regverdiges kom van Jehovah; hy is hulle vesting in die tyd van benoudheid.” Die man het vriendelik na die Getuie en sy gesin se welstand verneem, hom genooi om terug te kom en opregte waardering vir die besoek uitgespreek.
17 Ook onder die duisende treurendes wat in die dae ná die terreuraanvalle deur Jehovah se Getuies vertroos is, was ’n vrou wat die Getuies ontmoet het terwyl hulle hulle bure besoek het. Sy was baie ontsteld oor wat gebeur het en het geluister terwyl hulle Psalm 72:12-14 (NW) gelees het: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.” Hoe betekenisvol was daardie woorde tog! Die vrou het die Getuies gevra om weer die verse te lees en het hulle in haar huis ingenooi om die bespreking voort te sit. Teen die einde van die gesprek is ’n Bybelstudie begin.
18. Hoe het ’n Getuie sy medemense gehelp toe hy gevra is om ’n gebed namens hulle te doen?
18 Een Getuie werk in ’n restaurant in ’n baie gegoede buurt waar mense voorheen nie veel belangstelling in die goeie nuus van die Koninkryk getoon het nie. Ná die terreuraanvalle was die gemeenskap in ’n geskokte toestand. Die Vrydagaand ná die aanvalle het die bestuurderes van die restaurant almal genooi om buitentoe te gaan en kerse vas te hou vir ’n oomblik van stilte ter gedagtenis aan die slagoffers. Die Getuie het hulle gevoelens gerespekteer en uitgegaan en stil op die sypaadjie gaan staan. Die bestuurderes het geweet dat hy ’n bedienaar van Jehovah se Getuies is; daarom het sy ná die oomblik van stilte gevra dat hy namens almal ’n gebed doen. Die Getuie het ingestem. In sy gebed het hy genoem dat baie mense treur, maar dat die treurendes nie sonder hoop hoef te treur nie. Hy het gepraat van die tyd wanneer sulke verskriklike gebeure iets van die verlede sal wees en het gesê dat almal nader aan die God van vertroosting kan kom deur juiste kennis van die Bybel in te neem. Nadat hulle “Amen” gesê het, het die bestuurderes—en daarna die meer as 60 mense wat buite die restaurant was—na die Getuie toe gekom, hom bedank en hom omhels en gesê dat dit die mooiste gebed was wat sy nog gehoor het.
’n Seën vir die gemeenskap
19. Watter ondervinding toon dat party die hoë standaarde van Jehovah se Getuies erken?
19 Veral in hierdie tyd vind gemeenskappe waar Jehovah se Getuies bedrywig is, baat by hulle teenwoordigheid—soos baie al gesê het. Hoe kan ’n groep mense wat vrede, eerlikheid en rein sedes bevorder, nie ’n krag ten goede wees nie? In een land in Sentraal-Asië het Getuies ’n afgetrede amptenaar van die voormalige agentskap vir staatsveiligheid ontmoet. Hy het gesê dat hy eenkeer verskillende godsdiensorganisasies moes ondersoek. Toe hy Jehovah se Getuies ondersoek het, was hy beïndruk deur hulle eerlikheid en goeie gedrag. Hy het hulle onwankelbare geloof bewonder, asook die feit dat hulle leringe op die Skrif gebaseer is. Hierdie man het ’n Bybelstudie aanvaar.
20. (a) Wat toon die bedrywighede wat Jehovah se Getuies verlede jaar gerapporteer het? (b) Wat toon dat daar nog baie werk is om te doen, en hoe beskou ons ons voorreg om die evangelisasiewerk te doen?
20 Uit die paar ondervindinge wat in hierdie artikel vertel is, van die duisende wat vertel kan word, is dit duidelik dat Jehovah se Getuies gedurende die 2001-diensjaar baie besig was. a Hulle het met miljoene mense gepraat, hulle het baie vertroos wat getreur het en hulle evangelisasiewerk is geseën. Daar was 263 431 wat hulle toewyding aan God deur doop gesimboliseer het. Regoor die wêreld het die aantal evangeliedienaars met 1,7 persent toegeneem. En die feit dat 15 374 986 die jaarlikse herdenking van Jesus se dood bygewoon het, toon dat daar nog baie werk is om te doen (1 Korintiërs 11:23-26). Laat ons voortgaan om na sagmoediges te soek wat aan die goeie nuus gehoor gee. En laat ons, solank Jehovah se jaar van welwillendheid voortduur, aanhou om “die gebrokenes van hart” te vertroos. Wat ’n geseënde voorreg het ons tog! Ons almal sê ongetwyfeld soos Jesaja: “Ek sal my vir seker in Jehovah verheug. My siel sal bly wees in my God” (Jesaja 61:10, NW). Mag God voortgaan om ons te gebruik terwyl hy hierdie profetiese woorde vervul: “Die Soewereine Heer Jehovah [sal] regverdigheid en lof voor al die nasies laat uitspruit.”—Jesaja 61:11, NW.
[Voetnoot]
a Die tabel op bladsye 19 tot 22 gee die verslag van die werk van Jehovah se Getuies gedurende die 2001-diensjaar.
Onthou jy?
• Hoe het die goeie nuus wat Jesus verkondig het, vir die sagmoediges seëninge meegebring?
• Watter seëninge het diegene ontvang wat gunstig gereageer het op die evangelisasiewerk van Jesus se eerste-eeuse dissipels?
• Hoe bring die goeie nuus vandag seëninge mee vir persone wat ontvanklik is?
• Hoe beskou ons ons voorreg om evangeliedienaars te wees?
[Studievrae]
[Tabel op bladsy 19-22]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 2001-DIENSJAAR
(See bound volume)
[Prente op bladsy 15]
Jehovah se Getuies is altyd bewus van hulle verantwoordelik- heid om die evangelisasiewerk te doen
[Prente op bladsy 17]
Diegene wat aan die goeie nuus gehoor gee, word deel van ’n verenigde, wêreldwye broederskap