Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah het “krag wat bo die normale is”, voorsien

Jehovah het “krag wat bo die normale is”, voorsien

Lewensverhaal

Jehovah het “krag wat bo die normale is”, voorsien

SOOS VERTEL DEUR HELEN MARKS

Dit was ’n bedompige somerdag in 1986. Ek was al een wat in die doeanepakhuis van een van Europa se stilste lughawens gewag het. Dit was Tirana, die hoofstad van Albanië, wat beweer het dat dit “die eerste ateïstiese staat in die wêreld” is.

MET gemengde gevoelens van onsekerheid en angs het ek toegekyk terwyl ’n gewapende beampte my bagasie begin deursoek het. As ek enigiets gedoen of gesê het wat hom agterdogtig gemaak het, kon dit tot gevolg gehad het dat ek uit die land gesit word en dat die mense wat buite vir my gewag het, in die tronk of in ’n strafkamp gegooi word. Gelukkig kon ek die beampte aanspoor om vriendeliker te wees deur vir hom kougom en koekies aan te bied. Maar hoe het ek, ’n vrou in haar middelsestigerjare, in hierdie situasie beland? Waarom het ek ’n gemaklike lewe opgegee en dit gewaag om Koninkryksbelange in een van die laaste vestings van Marxisme-Leninisme te probeer bevorder?

’n Sieklike meisie met baie vrae

Twee jaar ná my geboorte in 1920 in Ierapetra, Kreta, is my pa aan longontsteking dood. My ma was arm en ongeletterd. Ek was die jongste van vier kinders, en aangesien ek aan geelsug gely het, was ek bleek en sieklik. Die bure het voorgestel dat my ma haar aandag en beperkte middele aan die drie gesonder kinders bestee en my laat sterf. Ek is bly dat sy nie daardie raad gevolg het nie.

Omdat my ma wou seker maak dat my pa se siel in die hemel rus, het sy dikwels die begraafplaas besoek en gewoonlik van die dienste van ’n Ortodokse priester gebruik gemaak. Maar daardie dienste was nie goedkoop nie. Ek onthou nog ’n bitter koue Kersdag toe sy van die begraafplaas af teruggekeer het huis toe terwyl ek sleepvoetend langs haar geloop het. Ons het pas ons laaste geld vir die priester gegee. Nadat my ma vir ons kinders groente gekook het, het sy na ’n ander kamer toe gegaan, met ’n leë maag en trane van wanhoop wat oor haar wange gerol het. ’n Ruk later het ek die moed bymekaargeskraap om na die priester toe te gaan en te vra waarom my pa gesterf het en waarom my arme ma die priester moes betaal. Hy het verleë met ’n fluisterstem geantwoord: “God het hom geneem. Dis nou maar eenmaal so. Jy sal daaroor kom.”

Ek het gesukkel om sy antwoord te versoen met die Onse Vader, wat ek op skool geleer het. Ek onthou nog die pragtige en betekenisvolle openingswoorde: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Waarom moes ons so ly as God wou hê dat sy wil op die aarde moet geskied?

Ek het amper die antwoord op daardie vraag gekry toe Emmanuel Lionoudakis, ’n voltydse prediker van Jehovah se Getuies, in 1929 ons huis besoek het. a Toe my ma Emmanuel vra wat hy wil hê, het hy nie ’n woord gesê nie, maar vir haar ’n getuieniskaart gegee. Sy het die kaart vir my gegee om te lees. Aangesien ek net nege jaar oud was, het ek maar min verstaan. My ma het gedink die besoekende prediker is stom en het gesê: “Arme ding! Jy kan nie praat nie, en ek kan nie lees nie.” Toe het sy hom vriendelik die deur gewys.

’n Paar jaar later het ek wel die antwoord gekry. My broer, Emmanuel Paterakis, het die boekie Waar is die dode?, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is, by dieselfde voltydse bedienaar gekry. b Toe ek dit lees, was ek verlig om te leer dat God nie my pa geneem het nie. Ek het besef dat die dood die gevolg van die mens se onvolmaaktheid is en dat my pa vir ’n opstanding tot lewe op ’n paradysaarde wag.

“Hierdie boek het jou verderf!”

Bybelwaarheid het ons oë oopgemaak. Ons het ’n ou Bybel gevind wat aan my pa behoort het en het dit begin studeer, dikwels by kerslig voor die kaggel. Aangesien ek die enigste jong vrou in die omgewing was wat in die Bybel belanggestel het, is ek nie in die bedrywighede van die plaaslike groepie Getuies ingesluit nie. Ek het ’n ruk lank in alle opregtheid—maar verkeerdelik—geglo dat hierdie godsdiens net vir mans was.

My broer se ywer vir die predikingswerk het my aangevuur. Kort voor lank het die polisie in ons gesin begin belangstel en ons gereeld vroeg en laat besoek om na Emmanuel en na lektuur te soek. Ek onthou nog goed toe ’n priester gekom het om ons te oorreed om terug te gaan kerk toe. Toe Emmanuel hom uit die Bybel wys dat God se naam Jehovah is, het die priester die Bybel gegryp, dit dreigend voor my broer se gesig geswaai en geskreeu: “Hierdie boek het jou verderf!”

Toe Emmanuel in 1940 geweier het om in die leër te dien, is hy in hegtenis geneem en na die Albanese front toe gestuur. Ons het voeling met hom verloor en gedink dat hy dood is. Maar twee jaar later het ons onverwags ’n brief van hom af gekry wat uit die tronk gestuur is. Hy het gelewe! Een van die tekste wat hy in daardie brief aangehaal het, is sedertdien onuitwisbaar in my verstand geprent: “Die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9). Hoe nodig het ons hierdie aanmoediging tog gehad!

Vanuit die tronk kon Emmanuel ’n paar broers vra om my te besoek. Daar is onmiddellik gereël dat geheime Christelike vergaderinge in ’n plaashuis buite die dorp gehou word. Min het ons geweet dat ons dopgehou word! Een Sondag het gewapende polisiemanne ons omsingel. Hulle het ons in ’n oop vragmotor laat klim en stadig met ons deur die dorp gery. Ek kan nog hoor hoe mense ons uitgelag en bespot het, maar Jehovah het ons deur sy gees innerlike vrede gegee.

Ons is na ’n ander dorp toe geneem, waar hulle ons in baie donker en vuil selle gegooi het. Die toilet van my sel was ’n oop emmer wat een keer per dag leeggemaak is. Ek is tot agt maande tronkstraf gevonnis omdat ek as die “onderrigter” van die groep beskou is. Maar ’n broer wat daar in die tronk was, het gereël dat sy prokureur ons saak behartig, en hy kon ons vrylating bewerkstellig.

’n Nuwe lewe

Toe Emmanuel uit die tronk vrygelaat is, het hy gemeentes in Atene as ’n reisende opsiener begin besoek. Ek het in 1947 daarheen getrek. Eindelik het ek ’n groot groep Getuies ontmoet—nie net mans nie, maar ook vroue en kinders. In Julie 1947 kon ek uiteindelik my toewyding aan Jehovah deur waterdoop simboliseer. Ek het dikwels daarvan gedroom om ’n sendeling te word en het aandklasse begin bywoon om Engels te leer. In 1950 het ek ’n pionier geword. My ma het by my kom bly, en sy het ook Bybelwaarheid aangeneem. Sy het tot haar dood 34 jaar later ’n Getuie van Jehovah gebly.

In daardie selfde jaar het ek John Marks (Markopoulos), ’n gerespekteerde, geestelike man uit die Verenigde State, ontmoet. John is in die suide van Albanië gebore, en nadat hy na die Verenigde State geïmmigreer het, het hy een van Jehovah se Getuies geword. In 1950 was hy in Griekeland om ’n visum te probeer kry vir Albanië—wat teen daardie tyd ’n afgeslote land onder die strengste vorm van Kommunisme was. Hoewel John sy familie in 1936 laas gesien het, is hy nie toegelaat om Albanië binne te gaan nie. Ek is getref deur sy vurige ywer vir Jehovah se diens en sy innige liefde vir die broederskap. Ons is op 3 April 1953 getroud. Toe het ek saam met hom na ons nuwe tuiste in New Jersey, VSA, verhuis.

Ek en John het ons in die voltydse predikingswerk onderhou met ’n eetplekkie aan die kus van New Jersey, waar ons vir vissers ontbyt berei het. Ons het net gedurende die somermaande gewerk, van dagbreek tot 9:00 vm. Omdat ons ons lewe eenvoudig gehou het en aan geestelike bedrywighede voorkeur gegee het, kon ons die meeste van ons tyd aan die predikingswerk bestee. Deur die jare heen is ons gevra om na verskeie dorpe te trek waar daar ’n groot behoefte aan predikers was. Daar het ons, met Jehovah se hulp, belangstellendes gehelp, gemeentes gestig en Koninkryksale help bou.

Hulp aan ons broers wat dit nodig het

Kort voor lank het ons egter ’n opwindende geleentheid gehad. Verantwoordelike broers wou in verbinding kom met mede-Christene wat in Balkanlande gewoon het waar ons bedrywighede verbied is. Jehovah se Getuies in daardie lande was jare lank van die internasionale broederskap afgesny en het min of geen geestelike voedsel gekry nie, en hulle het met wrede teenstand te kampe gehad. Die meeste van hulle is voortdurend dopgehou, en baie was in die tronk of in strafkampe. Hulle het Bybelpublikasies, riglyne en aanmoediging dringend nodig gehad. Een kodeboodskap wat ons uit Albanië ontvang het, het byvoorbeeld gesê: “Bid tot die Here vir ons. Daar word van huis tot huis op lektuur beslag gelê. Hulle laat ons nie toe om te studeer nie. Drie is in die tronk.”

Ons het dus in November 1960 ’n ses maande lange reis onderneem om party van daardie lande te besoek. Ons sou ongetwyfeld “krag wat bo die normale is”, godgegewe moed, vrymoedigheid en vindingrykheid nodig hê om ons taak uit te voer (2 Korintiërs 4:7). Ons eerste bestemming was Albanië. Ons het in Parys ’n motor gekoop en vertrek. Nadat ons in Rome aangekom het, kon net John ’n visum vir Albanië kry. Ek moes verder gaan na Atene, Griekeland, en daar vir hom wag.

John het Albanië aan die einde van Februarie 1961 binnegegaan en tot die einde van Maart daar gebly. In Tirana het hy persoonlik met 30 broers vergader. Hoe verheug was hulle tog om broodnodige lektuur en aanmoediging te ontvang! Hulle het 24 jaar lank nie ’n besoek uit die buiteland gekry nie.

John is getref deur die onkreukbaarheid en volharding van daardie broers. Hy het uitgevind dat baie hulle werk verloor het en in die tronk gesit is omdat hulle nie aan die bedrywighede van die Kommunistiese staat deelgeneem het nie. Dit het hom diep geraak toe twee broers in hulle tagtigerjare hom ’n bydrae van ongeveer R1 700 vir die predikingswerk gegee het. Hulle het jare lank iets van hulle klein staatspensioene gespaar.

Die laaste dag van John se verblyf in Albanië was 30 Maart 1961—die dag van die herdenking van Jesus se dood. John het die Gedenkmaaltoespraak voor ’n gehoor van 37 gehou. Aan die einde van die toespraak het die broers John haastig by die agterdeur uitgeneem en hom per motor na die hawe van Durres geneem, waar hy op ’n Turkse handelskip geklim het wat na Piraeus, Griekeland, op pad was.

Ek was bly dat hy veilig teruggekom het. Ons kon toe die res van ons gevaarlike reis aanpak. Ons het deur drie ander Balkanlande gereis wat ons werk verbied het—’n waagstuk, aangesien ons Bybellektuur, tikmasjiene en ander benodigdhede by ons gehad het. Ons het die voorreg gehad om ’n paar baie lojale broers en susters te ontmoet wat bereid was om hulle werk, hulle vryheid en selfs hulle lewe vir Jehovah op die spel te plaas. Hulle ywer en opregte liefde het ons aangevuur. Ons het ook besef dat Jehovah “die krag wat bo die normale is”, voorsien het.

Nadat ons ons reis suksesvol voltooi het, het ons na die Verenigde State teruggekeer. In die daaropvolgende jare het ons nog steeds op verskeie maniere probeer om lektuur na Albanië te stuur en om verslae van ons broers se bedrywighede te kry.

Dikwels op reis, in gevare

Die jare het verbygegaan, en John se dood in 1981, toe hy 76 was, het my alleen agtergelaat. My niggie, Evangelia, en haar man, George Orphanides, het my goedhartig ingeneem, en hulle het sedertdien waardevolle emosionele en praktiese ondersteuning voorsien. Hulle het self Jehovah se ondersteuning ondervind toe hulle in Soedan gedien het terwyl daar ’n verbod op die werk was. c

Uiteindelik sou ’n nuwe poging aangewend word om met ons broers in Albanië in aanraking te kom. Aangesien my man se familielede daar gewoon het, is ek gevra of ek bereid sou wees om ’n reis na daardie land te onderneem. Natuurlik sou ek!

Ná maande se volgehoue pogings kon ek in Mei 1986 ’n visum van die Albanese ambassade in Atene kry. Diplomatieke personeellede het my ernstig gewaarsku dat ek geen hulp van die buitewêreld kon verwag as enigiets sou verkeerd loop nie. Toe ek na ’n reisagent toe gaan om ’n vliegtuigkaartjie na Albanië te koop, was hy verstom. Ek het nie toegelaat dat vrees my keer nie en was kort voor lank op die enigste weeklikse vliegtuig van Atene na Tirana. Net drie bejaarde Albanese was op dieselfde vliegtuig; hulle was vir mediese behandeling in Griekeland.

Die vliegtuig het skaars geland of ek is na ’n leë pakhuis geneem wat as ’n doeanekantoor gedien het. Hoewel my man se broer en suster nie Jehovah se Getuies was nie, was hulle bereid om my te help om met die paar plaaslike broers in aanraking te kom. Volgens die wet moes hulle die hoof van die gemeenskap van my aankoms in kennis stel. Gevolglik het die polisie my baie fyn dopgehou. My familielede het dus voorgestel dat ek in hulle huis bly terwyl hulle na twee van die broers wat in Tirana gewoon het, soek en hulle na my toe bring.

Destyds het ons van nege toegewyde broers in die hele Albanië geweet. Omdat die werk jare lank verbied was en hulle vervolg en fyn dopgehou is, was hulle baie versigtig. Daar was diep plooie in hulle gesigte. Nadat ek die twee broers se vertroue gewen het, was hulle eerste vraag: “Waar is Die Wagtorings?” Hulle het jare lank net twee eksemplare van ouer boeke gehad—nie eers ’n Bybel nie.

Hulle het uitvoerig vertel van die wrede maatreëls wat die regering teen hulle ingestel het. Hulle het die geval genoem van ’n dierbare broer wat vasbeslote was om in ’n komende verkiesing polities neutraal te bly. Aangesien die Staat alles beheer het, het dit beteken dat sy gesin geen kosrantsoene sou kry nie. Sy getroude kinders en hulle gesinne sou almal tronk toe gestuur word, al het hulle niks met sy godsdiensoortuigings te doen gehad nie. Volgens berig het van hierdie broer se familie hom die nag voor die verkiesing uit vrees doodgemaak, sy lyk in ’n put gegooi en later beweer dat hy bang geword en selfmoord gepleeg het.

Die armoede van daardie mede-Christene was hartverskeurend. Maar toe ek vir hulle elkeen ’n 20-dollarnoot wou gee, het hulle dit van die hand gewys en gesê: “Ons wil net geestelike voedsel hê.” Hierdie dierbare broers het dekades lank onder ’n totalitêre bewind gelewe wat die meerderheid van die bevolking met welslae geïndoktrineer het om ateïste te word. Maar hulle geloof en vasberadenheid was net so sterk soos dié van Getuies op ander plekke. Teen die tyd dat ek Albanië twee weke later verlaat het, het ek werklik besef dat Jehovah, selfs onder die moeilikste omstandighede, “krag wat bo die normale is”, kan voorsien.

Ek het ook die voorreg gehad om Albanië in 1989 en weer in 1991 te besoek. Terwyl vryheid van spraak en godsdiensvryheid stadigaan in daardie land tot stand gekom het, het die aantal aanbidders van Jehovah vinnig vermeerder. Die handjie vol toegewyde Christene wat in 1986 daar was, het nou tot meer as 2 200 bedrywige verkondigers toegeneem. Onder hulle was Melpo, my man se suster. Kan daar enige twyfel bestaan dat daardie getroue groep Jehovah se seën geniet het?

’n Vol lewe danksy Jehovah se krag

Wanneer ek terugkyk, is ek seker dat ons werk—John s’n en myne—nie tevergeefs was nie. Ons het ons jeugdige krag op die nuttigste manier gebruik. Ons loopbaan in die voltydse bediening was sinvoller as enige ander wat ons kon gevolg het. Ek verheug my oor al die dierbares wat ons gehelp het om Bybelwaarheid te leer. Noudat ek bejaard is, kan ek jongeres heelhartig aanspoor om te ‘dink aan hulle Skepper in die dae van hulle jonkheid’.—Prediker 12:1.

Al is ek 81 jaar oud, is ek nog in staat om as ’n voltydse verkondiger van die goeie nuus te dien. Ek staan vroeg op en getuig vir mense by bushaltes, in parkeerterreine, op straat, in winkels of in parke. Die probleme wat met die ouderdom gepaardgaan, maak die lewe nou moeilik, maar my liefdevolle geestelike broers en susters—my groot geestelike gesin—sowel as my niggie se gesin, is werklik ’n groot hulp. Bowenal het ek geleer dat “die krag wat bo die normale is God s’n [is] en nie dié uit onsself nie”.—2 Korintiërs 4:7.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 1 September 1999, bladsye 25-9, vir die lewensverhaal van Emmanuel Lionoudakis.

b Sien Die Wagtoring van 1 November 1996, bladsye 22-7, vir die lewensverhaal van Emmanuel Paterakis.

c Sien 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 91-2, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 25]

Bo: John (heel links), ek (middel), saam met my broer Emmanuel aan my linkerkant en ons ma aan sy linkerkant, saam met ’n groep Betheliete, Atene, 1950

[Prent op bladsy 25]

Links: Saam met John by ons eetplekkie aan die kus van New Jersey, 1956

[Prent op bladsy 26]

Streekbyeenkoms in Tirana, Albanië, 1995

[Prent op bladsy 26]

Bethelkompleks, Tirana, Albanië. Voltooi in 1996

[Prent op bladsy 26]

Saam met my niggie, Evangelia Orphanides (regs), en haar man, George

[Prent op bladsy 26]

Bo: Artikel uit ’n “Wagtoring” van 1940 wat in die geheim in Albanees vertaal is