Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onderrigters van God se woord word aangespoor om hulle opdrag uit te voer

Onderrigters van God se woord word aangespoor om hulle opdrag uit te voer

Onderrigters van God se woord word aangespoor om hulle opdrag uit te voer

HONDERDDUISENDE onderrigters het in onlangse maande bymekaargekom om onderrig te word. Vanaf Mei verlede jaar het hulle regoor die wêreld by honderde “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies byeengekom. Die byeenkomsgangers is aangespoor om hulleself te onderrig, om selfs bekwamer te word en om hulle opdrag as onderrigters uit te voer.

Het jy een van hierdie byeenkomste bygewoon? Indien wel, het jy ongetwyfeld die uitstekende geestelike voedsel waardeer wat by hierdie vergaderinge vir die aanbidding van die ware God, Jehovah, aangebied is. Kom hersien nou die leersame byeenkomsprogram saam met ons.

Die eerste dag—Die geïnspireerde Skrif is nuttig om te onderrig

Die byeenkomsvoorsitter het die byeenkomsgangers hartlik verwelkom met die toespraak “Word onderrig, julle wat onderrigters van God se woord is”. Jesus Christus het by die “Grootse Onderrigter”, Jehovah, geleer en die Groot Leermeester geword (Jesaja 30:20, NW; Matteus 19:16). As ons vooruitgang wil maak as onderrigters van God se Woord, moet ons ook deur Jehovah onderrig word.

Volgende was die deel “Koninkryksonderrigting dra goeie vrugte”. Die vreugdes en seëninge van die dissipelmaakwerk is deur onderhoude met bekwame onderrigters van God se Woord beklemtoon.

’n Motiverende toespraak met die tema “Aangespoor deur ‘die luisterryke dinge van God’” het hierop gevolg. In die eerste eeu het “luisterryke dinge” in verband met God se Koninkryk mense tot optrede beweeg (Handelinge 2:11). Ons kan ook mense tot optrede beweeg deur “luisterryke dinge” soos skriftuurlike leringe oor die losprys, die opstanding en die nuwe verbond bekend te maak.

Die volgende toespraak se aanmoediging aan almal was “Skep behae in Jehovah se regverdigheid” (Psalm 35:27, NW). Ons word gehelp om regverdigheid na te streef deur te leer om wat regverdig is, lief te hê en wat sleg is, te haat, die Bybel te bestudeer, invloede wat geestelik skadelik is daadwerklik teë te staan en nederigheid aan te kweek. Sulke stappe sal help om ons te beskerm teen slegte assosiasie, teen die wêreld se materialistiese waardes en teen onsedelike en gewelddadige vermaak.

Die programrede, met die tema “Ten volle toegerus as onderrigters van God se woord”, het ons daaraan herinner dat Jehovah ons sy bekwame bedienaars maak deur middel van sy Woord, sy heilige gees en sy aardse organisasie. Wat die gebruik van God se Woord betref, het die spreker ons vermaan: “Ons doel is om die Bybelboodskap verder as die gedrukte bladsy te laat strek en dit in die harte van ons luisteraars te laat insink.”

Die tema van die eerste simposium van die byeenkoms was “Ons moet onsself onderrig terwyl ons ander onderrig”. Die eerste deel het beklemtoon dat ons dieselfde hoë standaard van Christelike sedelikheid moet handhaaf wat ons aan ander leer. Die volgende deel het ons vermaan om “die woord van die waarheid reg [te] hanteer” (2 Timoteus 2:15). As ons onsself wil onderrig, is gereelde en ywerige persoonlike studie van die Bybel noodsaaklik, ongeag hoe lank ons God al dien. Die laaste deel van die simposium het getoon dat die Duiwel op die uitkyk is na gesindhede in ons soos trots, ’n onafhanklike gees, ’n hoë dunk van onsself, jaloesie, afguns, bitterheid, gegriefdheid en foutvindery. Maar as ons die Duiwel kragtig teëstaan, sal hy van ons af wegvlug. As ons hom wil teëstaan, moet ons nader aan God kom.—Jakobus 4:7, 8.

Die tydige toespraak “Verafsku die wêreldse plaag van pornografie” het vir ons gewys hoe om hierdie plaag wat ons geestelikheid kan verderf, die hoof te bied. Die profeet Habakuk het van Jehovah gesê: “U is te suiwer van oë om die kwaad te sien; en moeite kan u nie aanskou nie” (Habakuk 1:13, NW). Ons moet “verafsku wat goddeloos is” (Romeine 12:9). Ouers is vermaan om hulle kinders se gebruik van die Internet en hulle TV-kykery te kontroleer. Die spreker het getoon dat diegene wat deur pornografie aangetrek word, ’n geestelik volwasse vriend om hulp moet vra. Dit sal ook help om oor tekste soos die volgende te peins en hulle te memoriseer: Psalm 97:10; Matteus 5:28; 1 Korintiërs 9:27; Efesiërs 5:3, 12; Kolossense 3:5 en 1 Tessalonisense 4:4, 5.

Die volgende toespraak, “Laat die vrede van God jou bewaak”, het ons vertroos met die versekering dat ons ons las op Jehovah kan werp wanneer ons onder bekommernis gebuk gaan (Psalm 55:22, NW). As ons in gebed ons hart uitstort, sal Jehovah ons “die vrede van God” gee, die kalmte en innerlike gerustheid wat uit ons kosbare verhouding met hom voortspruit.—Filippense 4:6, 7.

Die eerste dag het op ’n besonder gelukkige noot geëindig met die toespraak “Jehovah versier sy volk met lig”, wat die vervulling van Jesaja hoofstuk 60 verduidelik het. Te midde van die duisternis wat tans in die wêreld heers, geniet “vreemdelinge”—die groot skare skaapgeaardes wat te voorskyn kom—Jehovah se lig saam met die gesalfde Christene. Die spreker het na verse 19 en 20 verwys en gesê: “Jehovah sal nooit soos die son ‘ondergaan’ of soos die maan ‘afneem’ nie. Hy sal aanhou om sy volk te versier deur lig op hulle te laat skyn. Wat ’n wonderlike versekering is dit tog vir ons wat gedurende die laaste dae van hierdie donker wêreld lewe!” Aan die einde van die toespraak het die spreker die vrystelling aangekondig van die boek Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom, Deel Twee. Het jy hierdie nuwe publikasie al deurgelees?

Die tweede dag—Voldoende bekwaam om ander te leer

Ná die bespreking van die dagteks op die tweede dag, het ons met groot belangstelling geluister na die byeenkoms se tweede simposium, “Bedienaars deur wie ander gelowiges word”. Die sprekers van hierdie driedelige simposium het die drie verskillende fases van ons werk beklemtoon wat mense help om gelowiges te word—om die Koninkryksboodskap bekend te maak, om belangstelling te ontwikkel en om belangstellendes te leer om te onderhou wat Christus beveel het. Met behulp van onderhoude en demonstrasies kon ons spesifiek sien hoe ons ander kan leer om dissipels te word.

Die volgende deel se tema was: “Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding”. Die spreker het getoon dat wat op die ou end tel, is dat ons “tot die einde toe volhard” (Matteus 24:13). Ons moet van al God se voorsienings gebruik maak—gebed, persoonlike studie, vergaderinge en die bediening—om godvrugtige toegewydheid op te bou. Ons moet keer dat wêreldse begeertes en bedrywighede op ons godvrugtige toegewydheid inbreuk maak of dit vernietig.

Hoe kan mense wat “swoeg en swaar belaai is” vandag verkwik word? Die toespraak “Vind verkwikking onder Christus se juk” het hierdie vraag beantwoord. Jesus het sy volgelinge vriendelik genooi om onder sy juk te kom en by hom te leer (Matteus 11:28-30). Ons kan onder Jesus se juk kom deur nougeset sy voorbeeld te volg en ’n eenvoudige, gebalanseerde lewe te lei. Die hoofpunte van hierdie aanbieding is na vore gebring deur onderhoude met diegene wat hulle lewe vereenvoudig het.

Een van die hoogtepunte by groot samekomste van Jehovah se Getuies is die doop van pas toegewyde knegte van God. Die broer wat die toespraak “Doop lei tot groter onderrigtingsvoorregte” gehou het, het die doopkandidate hartlik verwelkom en hulle genooi om hulle groter voorregte in die bediening te benut. Pas gedoopte onderrigters van God se Woord wat aan skriftuurlike vereistes voldoen, kan na verskeie verantwoordelikhede in die gemeente streef.

“Volg die Groot Leermeester na” was die tema van die eerste toespraak daardie middag. Jesus het sy Vader eeue lank in die hemel noukeurig waargeneem en nagevolg, en sodoende die Groot Leermeester geword. Toe hy op aarde was, het hy doeltreffende onderrigmetodes gebruik soos deurdringende vrae en eenvoudige, duidelike illustrasies. Jesus het sy onderrigting op God se Woord gegrond en het geesdriftig, hartlik en met gesag gepraat. Is ons nie beweeg om die Groot Leermeester na te volg nie?

Nog ’n treffende toespraak, “Is jy bereid om ander te dien?” het ons aangespoor om Jesus se voorbeeld te volg en ander mense te dien (Johannes 13:12-15). Die spreker het bekwame manne regstreeks aangespoor om soos Timoteus te wees deur geleenthede om ander te help, aan te gryp (Filippense 2:20, 21). Ouers is aangemoedig om Elkana en Hanna se voorbeeld te volg deur hulle kinders te help om die voltydse bediening na te streef. En jongmense is aangeraai om die voorbeelde van Jesus Christus en jong Timoteus na te volg deur hulle gewillig aan te bied (1 Petrus 2:21). Ons is ook beweeg deur die woorde van diegene wat gebruik gemaak het van geleenthede om ander te dien.

Die tema van die derde simposium was “Vind groter baat by teokratiese onderrigting”. Die eerste spreker het beklemtoon hoe belangrik dit is om ons konsentrasietyd te verleng. Om daardie doelwit te bereik, kan ons met kort persoonlike studiesessies begin en dit probeer verleng. Hy het ook die gehoor aangemoedig om tekste na te slaan en gedurende die vergaderinge aantekeninge te maak. Die tweede spreker het onder ons aandag gebring hoe belangrik dit is om vas te hou aan “die patroon van gesonde woorde” (2 Timoteus 1:13, 14). As ons ons teen onsedelike media-aanbiedings, menslike filosofieë, hoër kritiek en afvallige leringe wil beskerm, moet ons die tyd vir persoonlike studie en vergaderingbywoning uitkoop (Efesiërs 5:15, 16). Die laaste spreker van die simposium het beklemtoon hoe belangrik dit is om die dinge wat ons leer, te beoefen sodat ons ten volle by teokratiese onderrigting baat kan vind.—Filippense 4:9.

Hoe opwindend was dit tog om te luister na die toespraak “Nuwe voorsienings vir ons geestelike vooruitgang”! Ons was verheug om te hoor dat ’n nuwe boek met die titel Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool binnekort uitgegee gaan word. Groot afwagting is geskep namate die spreker die inhoud daarvan uiteengesit het. Aangaande die deel in die boek wat ’n aantal spraakraadgewingspunte bevat, het hy gesê: “Hierdie nuwe handboek benader nie hierdie 53 aspekte van goeie voorlesing, spraak en onderrigting uit ’n sekulêre hoek nie. Die benadering is op skriftuurlike beginsels gegrond.” Die boek sal toon hoe die profete, Jesus en sy dissipels goeie onderrigvermoëns aan die dag gelê het. Ja, hierdie handboek en nuwe aspekte van die Teokratiese Bedieningskool sal ons sekerlik help om beter onderrigters van God se Woord te wees.

Die derde dag—Wees onderrigters vanweë die tyd

Ná ’n bespreking van die dagteks op die laaste dag, het almal aandagtig geluister na die byeenkoms se laaste simposium, “Maleagi se profesie berei ons voor vir Jehovah se dag”. Maleagi het ongeveer honderd jaar ná die Jode se terugkeer uit Babilon geprofeteer. Hulle het weer in afvalligheid en goddeloosheid verval en het Jehovah se naam verag deur sy regverdige wette te ignoreer en blinde, kreupel en siek diere te offer. Daarbenewens het hulle van die vrouens van hulle jeug geskei, moontlik om met heidense vroue te trou.

Die eerste hoofstuk van Maleagi se profesie verseker ons van Jehovah se liefde vir sy volk. Dit beklemtoon hoe belangrik dit is om ’n eerbiedige vrees vir God te hê en waardering vir heilige dinge te toon. Jehovah verwag van ons om ons beste aan hom te gee en hom uit onselfsugtige liefde te aanbid. Ons heilige diens moet nie net ’n formaliteit wees nie, en ons moet aan God rekenskap gee.

Die tweede simposiumspreker het die tweede hoofstuk van Maleagi op ons dag toegepas en gevra: “Is elkeen van ons op ons hoede sodat ‘geen onregverdigheid op ons lippe gevind word nie’?” (Maleagi 2:6). Diegene wat die leiding in onderrigting neem, moet seker maak dat wat hulle sê, stewig op God se Woord gegrond is. Ons moet verraderlikheid haat, soos om ’n ongegronde egskeiding te verkry.—Maleagi 2:14-16.

Die laaste spreker van die simposium het met die toespraak “Wie sal die dag van Jehovah oorleef?” ons gehelp om vir Jehovah se dag gereed te maak. “Hoe bemoedigend is dit tog vir Jehovah se knegte om te weet dat Maleagi hoofstuk 3, vers 17, sy grotere vervulling op hulle het!” het die spreker gesê. “Dit sê: ‘“Hulle sal beslis myne word”, het Jehovah van die leërs gesê, “op die dag dat ek ’n spesiale eiendom voortbring. En ek sal medelye met hulle betoon, soos ’n man medelye met sy seun betoon wat hom dien.”’”

Nog ’n hoogtepunt van die byeenkoms was die gekostumeerde drama “Respekteer Jehovah se gesag”, wat oor die seuns van Korag gehandel het. Ten spyte van hulle vader se opstandige gesindheid teenoor Moses en Aäron, het hulle lojaal aan Jehovah en sy verteenwoordigers gebly. Hoewel Korag en sy volgelinge gesterf het, het Korag se seuns bly lewe. Die volgende toespraak “Onderwerp jou lojaal aan God se gesag” het die inhoud van die drama op elkeen van ons toegepas. Die spreker het gewaarsku teen ses gebiede waarop Korag en sy volgelinge gefaal het: hulle het nie Jehovah se gesag lojaal ondersteun nie; hulle het toegelaat dat trots, ambisie en jaloesie hulle oormeester; hulle het gekonsentreer op die onvolmaakthede van diegene wat deur Jehovah aangestel is; hulle het ’n klaende gees ontwikkel; hulle het ontevrede geraak met hulle diensvoorregte en hulle het vriendskaps- of gesinsbande belangriker as lojaliteit aan Jehovah geag.

“Wie leer al die nasies die waarheid?” was die tema van die openbare toespraak. Die waarheid wat bespreek is, was nie waarheid in die algemeen nie, maar die waarheid oor Jehovah se voorneme waarvan Jesus Christus getuig het. Die spreker het die waarheid bespreek aangaande opvattings, die waarheid in verband met die manier van aanbidding en die waarheid met betrekking tot persoonlike gedrag. Die vergelyking tussen die eerste-eeuse Christene en Jehovah se Getuies van vandag het ons oortuiging dat ‘God werklik onder ons is’, inderdaad versterk.—1 Korintiërs 14:25.

Ná ’n opsomming van die Wagtoring-studieartikel vir die week, is alle onderrigters van God se woord wat teenwoordig was, tot optrede beweeg deur die slottoespraak “Ons moet ons onderrigtingsopdrag met dringendheid uitvoer”. ’n Kort oorsig van die program het beklemtoon hoe belangrik dit is om die Skrif te gebruik wanneer ons onderrig, op watter maniere ons bekwame onderrigters kan word en dat ons vertroue moet hê in die waarheid wat ons aan ander leer. Die spreker het ons vermaan dat ‘ons vooruitgang duidelik moet wees’ en dat ‘ons voortdurend op onsself en op ons onderrigting moet let’.—1 Timoteus 4:15, 16.

Wat ’n geestelike fees het ons tog geniet by die “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkoms! Mag ons ons Grootse Onderrigter, Jehovah, en ons Groot Leermeester, Jesus Christus, navolg deur ander die woord van God te leer.

[Venster/Prente op bladsy 28]

Nuwe Publikasies Om In Spesiale Behoeftes Te Voorsien

Byeenkomsgangers by die “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkoms was verheug om twee publikasies te ontvang wat baie nuttig sal wees om skriftuurlike waarheid aan mense in sekere wêrelddele te leer. Die traktaat met die titel Het jy ’n gees wat ná die dood voortleef? sal ’n nuttige instrument wees om gesprekke aan te knoop met mense wat in lande woon waar plaaslike tale geen onderskeid maak tussen “siel” en “gees” nie. Die nuwe traktaat toon duidelik dat ’n mens se gees van ’n geesskepsel verskil en dat mense nie geesskepsele word wanneer hulle sterf nie.

Die brosjure A Satisfying Life—How to Attain It is aan die einde van die tweede dag van die byeenkoms vrygestel. Hierdie brosjure is voorberei met die doel om Bybelstudies te begin met mense wat geen begrip het van ’n Skepper met ’n persoonlikheid en van ’n boek wat deur God geïnspireer is nie. Kon jy hierdie nuwe publikasies al in jou bediening gebruik?

[Prente op bladsy 26]

In Milaan, Italië, en by streekbyeenkomste regoor die wêreld is honderde gedoop

[Prent op bladsy 29]

Gehore is geraak deur die drama “Respekteer Jehovah se gesag”