Vertrou op Jehovah—Die God wat werklik bestaan
Vertrou op Jehovah—Die God wat werklik bestaan
Het jy al op ’n wolklose nag na die hemel gekyk en honderde sterre gesien? Hoe het hulle daar gekom?
IN DIE stilte van die nag het die sterre tot koning Dawid van eertydse Israel gespreek en hom laat skryf: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2). Ja, die Skepper eerder as die skepping is waardig “om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang”.—Openbaring 4:11; Romeine 1:25.
“Hy wat alles gebou het, is God”, sê die Bybel (Hebreërs 3:4). Ja, die ware God, ‘wie se naam Jehovah is, is die Allerhoogste oor die hele aarde’ (Psalm 83:18, NW). En hy is nie ’n illusie—’n lugspieëling—nie. Jesus Christus het aangaande sy hemelse Vader, Jehovah, gesê: “Hy wat my gestuur het, bestaan werklik.”—Johannes 7:28.
Jehovah—die Vervuller van sy voornemens
God se unieke naam, Jehovah, kom bykans 7 000 keer in die Hebreeuse Geskrifte alleen voor. Daardie naam op sigself wys op die feit dat hy werklik bestaan. God se naam beteken letterlik “Hy laat word”. Hierdeur identifiseer Jehovah God homself as die Vervuller van sy voornemens. Toe Moses God gevra het wat sy naam is, het Jehovah soos volg op die betekenis daarvan uitgewei: “Ek sal word wat ek sal word” (Exodus 3:14, NW). Rotherham se vertaling sê heel gepas: “Ek sal word wat ek ook al wil.” Jehovah word, of verkies om te word, wat ook al nodig is om sy regverdige voornemens en beloftes te vervul. Daarom besit hy ’n indrukwekkende verskeidenheid titels, soos Skepper, Vader, Soewereine Heer, Herder, Jehovah van die leërs, Hoorder van die gebed, Regter, Grootse Onderrigter, Terugkoper.—Rigters 11:27; Psalm 23:1; 65:3; 73:28, NW; 89:27; Jesaja 8:13, NW; 30:20, NW; 40:28; 41:14, NW.
Net die ware God kan tereg die naam Jehovah dra, want mense kan nooit daarvan seker wees dat hulle planne sal slaag nie (Jakobus 4:13, 14). Jehovah alleen kan sê: “Soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jesaja 55:10, 11.
Jehovah voer sy voorneme met sulke sekerheid uit dat selfs die dinge wat vir mense onwerklik lyk, vir hom werklik is. Lank nadat Abraham, Isak en Jakob gesterf het, het Jesus na hulle verwys en gesê: “Hy [Jehovah] is ’n God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal” Lukas 20:37, 38). Die drie getroue aartsvaders was dood, maar God se voorneme om hulle op te wek, sou so seker vervul word dat hulle vir hom so goed as lewend was. Om hierdie getroue knegte van ouds weer lewend te maak, is vir Jehovah geensins moeiliker as wat dit was om die eerste mens uit die stof van die aarde te skep nie.—Genesis 2:7.
(Die apostel Paulus gee nog ’n voorbeeld van die feit dat God sy voornemens uitvoer. In die Skrif word Abraham “’n vader van baie nasies” genoem (Romeine 4:16, 17). Toe Abram nog kinderloos was, het Jehovah sy naam na Abraham verander, wat “Vader van ’n menigte” beteken. Jehovah het die betekenis van daardie naam ’n werklikheid laat word deur die voortplantingsvermoë van die bejaarde Abraham en sy bejaarde vrou Sara wonderdadig te herstel.—Hebreërs 11:11, 12.
Jesus Christus, wat groot krag en mag gehad het, het van werklikhede gepraat uit ’n oogpunt wat hoër was as dié van mense. Hoewel sy intieme vriend Lasarus gesterf het, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak” (Johannes 11:11). Waarom het Jesus van ’n dooie man gepraat asof hy bloot slaap?
Toe Jesus by Lasarus se tuisdorp Betanië aangekom het, het hy na die graf gegaan en gesê dat die klip wat die ingang versper, weggeneem moet word. Nadat hy hardop gebid het, het hy beveel: “Lasarus, kom uit!” En terwyl die omstanders na die graf gestaar het, het “die man wat dood was, . . . uitgekom met sy voete en hande met grafdoeke gebind, en sy gesig was met ’n doek toegedraai”. Jesus het toe gesê: “Maak hom los en laat hom gaan” (Johannes 11:43, 44). Jesus het Lasarus opgewek—hy het ’n man wat vier dae dood was, weer lewend gemaak! Christus het nie die waarheid verdraai toe hy gesê het dat sy vriend slaap nie. Uit Jehovah en Jesus se standpunt was dit asof die dooie Lasarus maar net geslaap het. Ja, Jesus en sy hemelse Vader is gemoeid met werklikhede.
Jehovah kan ons verwagtinge ’n werklikheid laat word
Wat ’n teenstelling is daar tog nie tussen bedrieglike afgode en die God wat werklik bestaan nie! Afgodedienaars skryf verkeerdelik bomenslike kragte toe aan die voorwerpe wat hulle vereer. Maar ongeag hoeveel verering hierdie afgode ontvang, dit kan nie wonderdadige vermoëns aan hulle verleen nie. Daarenteen kan Jehovah God tereg van sy knegte wat lank reeds dood is, praat asof hulle lewe, want hy kan hulle weer lewe gee. “Jehovah is waarlik God”, en hy bedrieg nooit sy volk nie.—Jeremia 10:10, NW.
Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat die dooies wat in Jehovah se geheue is, op sy bestemde tyd ’n opstanding sal kry—weer sal lewe! (Handelinge 24:15). Ja, die opstanding behels dat die lewenspatroon van die individu herstel word. Dit is nie vir die Skepper, wat oneindige wysheid en krag besit, moeilik om die lewenspatrone van die dooies te onthou en hulle op te wek nie (Job 12:13; Jesaja 40:26). Aangesien Jehovah oorvloedig in liefde is, sal hy sy volmaakte geheue gebruik om die dooies op ’n paradysaarde op te wek met die persoonlikheid wat hulle gehad het voordat hulle gesterf het.—1 Johannes 4:8.
Namate Satan se wêreld sy einde nader, is die toekoms beslis rooskleurig vir dié wat op die ware God vertrou (Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44; 1 Johannes 5:19). Die psalmis verseker ons: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie. . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:10, 11). Misdaad en geweld sal tot die verlede behoort. Geregtigheid sal seëvier en ekonomiese ontberinge sal nie meer bestaan nie (Psalm 37:6; 72:12, 13; Jesaja 65:21-23). Alle spore van maatskaplike, rasse-, stam- en etniese diskriminasie sal uitgewis wees (Handelinge 10:34, 35). Daar sal nie meer oorloë en oorlogswapens wees nie (Psalm 46:10). Dan sal ‘geen inwoner sê: Ek is siek nie’ (Jesaja 33:24). Almal sal volmaakte en blakende gesondheid geniet (Openbaring 21:3, 4). Die Paradys op aarde sal binnekort ’n werklikheid word. Dit is Jehovah se voorneme!
Ja, alle Bybelse verwagtinge sal binnekort verwesenlik word. Waarom sal ons ons laat bedrieg deur die dinge wat in hierdie wêreld verafgod word as ons ons volle vertroue op Jehovah kan vestig? Dit is sy wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:3, 4). Laat ons eerder meer kennis inneem van die God wat werklik bestaan en met ons hele hart op hom vertrou, as om ons tyd en middele aan die illusies, of lugspieëlings, van hierdie stelsel van dinge en sy gode te bestee.—Spreuke 3:1-6; Johannes 17:3.
[Prent op bladsy 6]
Uit Jehovah en Jesus se standpunt het Lasarus net geslaap
[Prente op bladsy 7]
Die Paradys op aarde sal binnekort ’n werklikheid wees