Voortreflike werke verheerlik God
Voortreflike werke verheerlik God
WARE Christene verheerlik God deur hulle voortreflike gedrag en voorbeeldige werke (1 Petrus 2:12). Dit kan gesien word in wat in onlangse jare in Italië gebeur het.
In September 1997 het ’n geweldige aardbewing verskeie dele van die Marke- en Umbrië-streke getref en byna 90 000 huise beskadig. Groepe Getuies van Jehovah het onmiddellik aangebied om medegelowiges en ander te help. Woonwaens, slaapsakke, stowe, kragopwekkers en ander nodige items is voorsien. Hierdie noodlenigingspogings het nie ongemerk gebly nie.
Die koerant Il Centro het berig: “Die eerstes wat met noodlenigingsvoorrade opgedaag het in die dele wat getref is, was die Jehovah se Getuies van Roseto [in die Teramo-provinsie] . . . Buiten dat hulle van tyd tot tyd bymekaarkom om te bid, gaan diegene wat aan Jehovah getrou is, op ’n praktiese manier te werk deur ’n helpende hand uit te reik na diegene wat ly, sonder om eers uit te vind aan watter godsdiens hulle behoort.”
Die burgemeester van Nocera Umbra, een van die dorpe wat die swaarste getref is, het aan die Getuies geskryf: “Ek wil julle hartlik en persoonlik bedank vir julle hulp aan die mense van Nocera. Ek is seker dat ek namens al die inwoners praat.” Daarbenewens het die Departement van Binnelandse Sake aan die Congregazione Cristiana dei Testimoni di Geova (Christengemeente van Jehovah se Getuies) ’n sertifikaat van verdienstelikheid en ’n medalje toegeken “ter erkenning van die werk in verband met die noodsituasie wat in die Umbrië- en Marke-streke ontstaan het en die ywer waarmee dit gedoen is”.
In Oktober 2000 het ’n swaar vloed die Piedmont-streek in Noord-Italië getref. Weer het die Getuies dadelik aan die werk gespring om hulp te verleen. Hierdie voortreflike werke het ook nie ongemerk gebly nie. Die Piedmont-streek het aan hulle ’n muurplaat geskenk vir hulle “waardevolle vrywillige werk ter ondersteuning van die Piedmontese bevolking wat deur die vloed geraak is”.
Jesus Christus het sy dissipels beveel: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle voortreflike werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:16). Jehovah se Getuies is bly om God, en nie hulleself nie, te verheerlik deur “voortreflike werke” te verrig wat hulle naaste in geestelike sin en op ander maniere help.