Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy “die gees van die waarheid” ontvang?

Het jy “die gees van die waarheid” ontvang?

Het jy “die gees van die waarheid” ontvang?

“Die Vader . . . sal julle ’n ander helper gee om vir ewig by julle te wees, die gees van die waarheid.”—JOHANNES 14:16, 17.

1. Watter belangrike inligting het Jesus sy dissipels gedurende sy laaste paar uur saam met hulle in die bovertrek gegee?

 “HERE, waarheen gaan u?” Dit was een van die vrae wat Jesus se apostels hom gevra het gedurende die laaste paar uur wat hy saam met hulle in ’n bovertrek in Jerusalem deurgebring het (Johannes 13:36). In die loop van die vergadering het Jesus hulle ingelig dat hy hulle nou sou verlaat om na sy Vader terug te keer (Johannes 14:28; 16:28). Hy sou nie meer in vlees by hulle wees om hulle te onderrig en hulle vrae te beantwoord nie. Maar hy het hulle hierdie versekering gegee: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander helper [oftewel trooster] gee om vir ewig by julle te wees.”—Johannes 14:16, voetnoot in NW.

2. Wat het Jesus belowe om ná sy vertrek na sy dissipels toe te stuur?

2 Jesus het daardie helper geïdentifiseer en verduidelik hoe dit sy dissipels sou help. Hy het vir hulle gesê: “Ek het aanvanklik nie hierdie dinge vir julle gesê nie, omdat ek by julle was. Maar nou gaan ek na hom toe wat my gestuur het . . . Dit is tot julle voordeel dat ek weggaan. Want as ek nie weggaan nie, sal die helper hoegenaamd nie na julle toe kom nie; maar as ek gaan, sal ek hom na julle toe stuur. Wanneer hy, die gees van die waarheid, egter kom, sal hy julle in die hele waarheid inlei.”—Johannes 16:4, 5, 7, 13.

3. (a) Wanneer is “die gees van die waarheid” na die vroeë Christene toe gestuur? (b) Wat is een belangrike manier waarop die gees vir hulle ’n “helper” was?

3 Hierdie belofte is op Pinkster 33 G.J. vervul, soos die apostel Petrus getuig het: “Hierdie Jesus het God opgewek, ’n feit waarvan ons almal getuies is. Omdat hy dan tot die regterhand van God verhef is en die beloofde heilige gees van die Vader ontvang het, het hy dít uitgestort wat julle sien en hoor” (Handelinge 2:32, 33). Soos ons later sal sien, het die heilige gees wat op Pinkster uitgestort is, baie dinge vir die vroeë Christene gedoen. Maar Jesus het belowe dat “die gees van die waarheid” hulle sou ‘herinner aan alles wat hy hulle vertel het’ (Johannes 14:26). Dit sou hulle in staat stel om Jesus se bediening en leringe, selfs sy woorde, te onthou en dit op te teken. Dit sou veral die bejaarde apostel Johannes aan die einde van die eerste eeu G.J. help wanneer hy begin om sy Evangelie op te teken. Daardie verslag sluit die waardevolle raad in wat Jesus gegee het toe hy die herdenking van sy dood ingestel het.—Johannes, hoofstukke 13-17.

4. Hoe het “die gees van die waarheid” die vroeë gesalfde Christene gehelp?

4 Jesus het daardie vroeë dissipels ook belowe dat die gees ‘hulle alles sou leer’ en ‘hulle in die hele waarheid sou inlei’. Die gees sou hulle help om die dieper dinge van die Skrif te verstaan en hulle eenheid van denke, begrip en voorneme te bewaar (1 Korintiërs 2:10; Efesiërs 4:3). Die heilige gees het daardie vroeë Christene dus in staat gestel om as ’n saamgestelde “getroue en verstandige slaaf” op te tree en aan individuele gesalfde Christene geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien.—Matteus 24:45.

Die gees getuig

5. (a) Watter nuwe vooruitsig het Jesus die aand van 14 Nisan 33 G.J. aan sy dissipels geopenbaar? (b) Watter rol sou die heilige gees in die vervulling van Jesus se belofte speel?

5 Op die aand van 14 Nisan 33 G.J. het Jesus aan sy dissipels te kenne gegee dat hy hulle later in die hemel sou ontvang waar hulle saam met hom en sy Vader sou woon. Hy het vir hulle gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings. Anders sou ek vir julle gesê het, want ek gaan om vir julle ’n plek te berei. En as ek gaan en vir julle ’n plek berei, kom ek weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is” (Johannes 13:36; 14:2, 3). Hulle sou saam met hom in sy Koninkryk regeer (Lukas 22:28-30). Om hierdie hemelse hoop te verwesenlik, sou hulle “uit die gees gebore” word as geestelike seuns van God en gesalf word om as konings en priesters saam met Christus in die hemel te dien.—Johannes 3:5-8; 2 Korintiërs 1:21, 22; Titus 3:5-7; 1 Petrus 1:3, 4; Openbaring 20:6.

6. (a) Wanneer het die hemelse roeping begin, en hoeveel ontvang hierdie roeping? (b) Waarin is dié wat geroep is, gedoop?

6 Hierdie “hemelse roeping” het op Pinkster 33 G.J. begin, en dit wil voorkom of dit grotendeels teen die middel-1930’s voltooi is (Hebreërs 3:1). Die getal van dié wat deur die heilige gees verseël is om deel van geestelike Israel uit te maak, is 144 000, “wat van die aarde gekoop is” (Openbaring 7:4; 14:1-4). Hulle is in die geestelike liggaam van Christus, in sy gemeente en in sy dood gedoop (Romeine 6:3; 1 Korintiërs 12:12, 13, 27; Efesiërs 1:22, 23). Ná hulle waterdoop en salwing met heilige gees het hulle ’n weg van selfopoffering betree, ’n lewe van onkreukbaarheid tot hulle dood.—Romeine 6:4, 5.

7. Waarom gebruik net gesalfde Christene met reg die embleme by die Gedenkmaal?

7 As geestelike Israeliete was hierdie gesalfde Christene in die nuwe verbond wat tussen Jehovah en “die Israel van God” gesluit is (Galasiërs 6:16; Jeremia 31:31-34). Die nuwe verbond is deur Christus se vergote bloed bekragtig. Jesus het hiervan gepraat toe hy die herdenking van sy dood ingestel het. Lukas se verslag lui: “Hy [het] ’n brood geneem, gedank, dit gebreek en dit vir hulle gegee en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle gegee sal word. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.’ Ook die beker op dieselfde wyse nadat hulle die aandmaal geëet het, terwyl hy gesê het: ‘Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle uitgestort sal word’” (Lukas 22:19, 20). Dit is die oorblyfsel, of oorblywende lede van die 144 000 wat nog op aarde is, wat met reg die embleme, die brood en wyn, by die herdenking van Christus se dood gebruik.

8. Hoe weet die gesalfdes dat hulle die hemelse roeping ontvang het?

8 Hoe weet die gesalfdes dat hulle die hemelse roeping ontvang het? Hulle ontvang onmiskenbare getuienis van die heilige gees. Die apostel Paulus het aan hierdie persone geskryf: “Almal wat deur God se gees gelei word, dié is God se kinders. . . . Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is. As ons dan kinders is, is ons ook erfgename: ja, erfgename van God, maar mede-erfgename met Christus, mits ons saam ly, sodat ons ook saam verheerlik kan word” (Romeine 8:14-17). Hierdie getuienis van die gees is so kragtig dat diegene wat enigsins twyfel of hulle die hemelse roeping ontvang het, redelikerwys kan aanneem dat hulle dit nie ontvang het nie, en hulle sal gevolglik nie van die embleme by die Gedenkmaal gebruik nie.

Die gees en die ander skape

9. Watter twee onderskeie groepe word in die Evangelies en in die boek Openbaring genoem?

9 Met die oog op die beperkte getal Christene wat geroep is om geestelike Israel uit te maak, het Jesus na hulle verwys as die “klein kuddetjie”. Hulle word in die “kraal” van die nuwe verbond ingeneem, in teenstelling met die onbeperkte aantal “ander skape”, wat Jesus gesê het hy ook moet insamel (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Dié van die ander skape wat in die tyd van die einde ingesamel word, sal die “groot menigte” uitmaak wat bestem is om “die groot verdrukking” te oorleef, met die vooruitsig op ewige lewe op ’n paradysaarde. Dit is interessant dat die visioen wat Johannes aan die einde van die eerste eeu G.J. ontvang het, ’n onderskeid maak tussen hierdie groot menigte en die 144 000 lede van geestelike Israel (Openbaring 7:4, 9, 14). Ontvang die ander skape ook die heilige gees, en indien wel, watter invloed het dit op hulle lewe?

10. Hoe word die ander skape “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop?

10 Die heilige gees speel inderdaad ’n belangrike rol in die lewe van die ander skape. Hulle simboliseer hulle toewyding aan Jehovah deur gedoop te word “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” (Matteus 28:19). Hulle erken Jehovah se soewereiniteit, onderwerp hulle aan Christus as hulle Koning en Loskoper en laat toe dat hulle lewe gerig word deur die werking van God se gees, of werkende krag. Dag na dag probeer hulle “die vrugte van die gees”, naamlik “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”, in hulle lewe openbaar.—Galasiërs 5:22, 23.

11, 12. (a) Hoe is die gesalfdes op ’n baie spesiale manier geheilig? (b) Hoe word die ander skape geheilig?

11 Die ander skape moet ook toelaat dat God se Woord en sy heilige gees hulle reinig, of heilig. Die gesalfdes is reeds op ’n baie spesiale manier geheilig, deurdat hulle as Christus se bruid regverdig en heilig verklaar is (Johannes 17:17; 1 Korintiërs 6:11; Efesiërs 5:23-27). Die profeet Daniël praat van hulle as “die heiliges van die Opperwese”, wat die Koninkryk in die hande van die “seun van die mens”, Christus Jesus, ontvang (Daniël 7:13, 14, 18, 27). Vroeër het Jehovah deur middel van Moses en Aäron aan die nasie Israel gesê: “Ek is Jehovah julle God; en julle moet julle heilig en julle moet heilig wees, want ek is heilig.”—Levitikus 11:44.

12 Die woord “heiliging” beteken basies “die daad of proses van heilig te maak, af te skei of af te sonder vir die diens of gebruik van Jehovah God; die toestand van heilig, geheilig of rein te wees”. Reeds in 1938 het Die Wagtoring gesê dat die Jonadabs, of ander skape, “moet leer dat toewyding en heiliging vereis word van elkeen wat ’n lid van die groot menigte sal word en op die aarde sal lewe”. In die visioen van die groot menigte, wat in die boek Openbaring opgeteken is, word daar van hulle gesê dat hulle “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam” en dat hulle “dag en nag heilige diens aan [Jehovah] in sy tempel” verrig (Openbaring 7:9, 14, 15). Met die hulp van die heilige gees doen die ander skape hulle uiterste bes om aan Jehovah se vereistes vir heiligheid te voldoen.—2 Korintiërs 7:1.

Doen goed aan Christus se broers

13, 14. (a) Waarvan hang die redding van die skape af volgens Jesus se gelykenis van die skape en die bokke? (b) Hoe het die ander skape in hierdie tyd van die einde goed gedoen aan Christus se broers?

13 Jesus het die aandag gevestig op die hegte band tussen die ander skape en die klein kuddetjie in sy gelykenis van die skape en die bokke, wat deel uitmaak van sy profesie oor “die voleinding van die stelsel van dinge”. In hierdie gelykenis toon Christus duidelik dat die redding van die ander skape ten nouste verband hou met hulle gedrag teenoor die gesalfdes, wat hy “broers van my” noem. Hy het gesê: “Die koning [sal] vir dié aan sy regterhand sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is. . . . Voorwaar, ek sê vir julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.’”—Matteus 24:3; 25:31-34, 40.

14 Die uitdrukking ‘vir sover julle dit gedoen het’, verwys na dade van liefdevolle ondersteuning aan Christus se geesverwekte broers, wat deur Satan se wêreld soos vreemdelinge behandel is en waarvan party selfs in die tronk gegooi is. Hulle het voedsel, geskikte klere en gesondheidsorg nodig gehad (Matteus 25:35, 36, voetnoot in NW). In hierdie tyd van die einde, sedert 1914, het baie van die gesalfdes hulle in sulke situasies bevind. Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies getuig daarvan dat hulle ondersteun is deur hulle lojale metgeselle, die ander skape, soos die gees hulle beweeg het.

15, 16. (a) Met watter werk het die ander skape Christus se gesalfde broers op aarde in die besonder gehelp? (b) Hoe het die gesalfdes hulle waardering teenoor die ander skape uitgespreek?

15 Christus se gesalfde broers op aarde in hierdie tyd van die einde het die daadwerklike ondersteuning van die ander skape in die besonder ontvang in die uitvoering van die godgegewe opdrag om ‘hierdie goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig as ’n getuienis vir al die nasies’ (Matteus 24:14; Johannes 14:12). Hoewel die getal van die gesalfdes op aarde oor die jare afgeneem het, het dié van die ander skape tot letterlik miljoene toegeneem. Duisende van hulle dien as voltydse evangeliedienaars—pioniers en sendelinge—wat die goeie nuus van die Koninkryk “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” verkondig (Handelinge 1:8). Ander doen soveel as wat hulle kan in die getuieniswerk en ondersteun met blydskap hierdie belangrike werk geldelik.

16 Hoe waardeer Christus se gesalfde broers tog hierdie lojale ondersteuning van hulle metgeselle, die ander skape! Hulle gevoelens is goed opgesom in die boek Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”, wat in 1986 deur die slaafklas voorsien is. Dit sê: “Sedert die Tweede Wêreldoorlog kan die vervulling van Jesus se profesie oor ‘die voleinding van die wêreld’ grootliks toegeskryf word aan die rol wat die ‘groot menigte’ ‘ander skape’ speel. . . . Hartlike dank dus aan die internasionale, veeltalige ‘groot menigte’ vir hulle oorweldigende aandeel in die vervulling van [Jesus] se profesie in Mattheüs 24:14!”

‘Nie sonder ons tot volmaaktheid gebring nie’

17. In watter sin sal getroues van die ou tyd wat op aarde opgewek sal word, ‘nie tot volmaaktheid gebring word sonder’ die gesalfdes nie?

17 As een van die gesalfdes en met verwysing na getroue manne en vroue wat voor Christus gelewe het, het die apostel Paulus geskryf: “Hulle almal [het], hoewel hulle deur hulle geloof getuienis aangaande hulleself ontvang het, nie die vervulling van die belofte verkry nie, aangesien God iets beters vir ons [die gesalfdes] vooruitgesien het, sodat hulle nie sonder ons tot volmaaktheid gebring sou word nie” (Hebreërs 11:35, 39, 40). Gedurende die Millennium sal Christus en sy 144 000 gesalfde broers in die hemel as konings en priesters dien en die voordele van Christus se losprysoffer op die aarde aanwend. Die ander skape sal sodoende liggaamlik en verstandelik ‘tot volmaaktheid gebring word’.—Openbaring 22:1, 2.

18. (a) Wat moet die Bybelse feite die ander skape help besef? (b) Met watter hoop sien die ander skape uit na “die openbaring van die seuns van God”?

18 Dit alles behoort die ander skape te laat besef waarom die Christelike Griekse Geskrifte soveel aandag vestig op Christus en sy gesalfde broers, asook op hulle vername rol in die vervulling van Jehovah se voornemens. Die ander skape beskou dit dus as ’n voorreg om die gesalfde slaafklas op enige moontlike manier te ondersteun terwyl hulle wag op “die openbaring van die seuns van God” by Armageddon en gedurende die Millennium. Hulle kan daarna uitsien om ‘van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak te word en die glorieryke vryheid van die kinders van God te hê’.—Romeine 8:19-21.

Verenig in die gees by die Gedenkmaal

19. Wat het “die gees van die waarheid” vir die gesalfdes en hulle metgeselle gedoen, en hoe sal hulle op die aand van 28 Maart op ’n besondere manier verenig wees?

19 In sy slotgebed die aand van 14 Nisan 33 G.J. het Jesus gesê: “Ek doen [versoek] . . . sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat u my uitgestuur het” (Johannes 17:20, 21). God het sy Seun uit liefde gestuur om sy lewe vir die redding van die gesalfdes en die wêreld van gehoorsame mense af te lê (1 Johannes 2:2). “Die gees van die waarheid” het Christus se broers en hulle metgeselle verenig. Op die aand van 28 Maart, ná sononder, sal albei klasse vergader om Christus se dood te herdenk en aan alles te dink wat Jehovah vir hulle gedoen het deur middel van die offerande van sy geliefde Seun, Christus Jesus. Mag hulle teenwoordigheid by hierdie belangrike geleentheid hulle eenheid versterk en hulle opnuut vasbeslote maak om voortdurend God se wil te doen en sodoende bewys lewer dat hulle hulle verheug om onder diegene te wees vir wie Jehovah lief is.

Ter hersiening

• Wanneer is “die gees van die waarheid” na die vroeë Christene toe gestuur, en hoe was dit ’n “helper”?

• Hoe weet die gesalfdes dat hulle die hemelse roeping ontvang het?

• Op watter maniere is God se gees werksaam op die ander skape?

• Hoe doen die ander skape goed aan Christus se broers, en waarom sal hulle ‘nie tot volmaaktheid gebring word sonder’ die gesalfdes nie?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

“Die gees van die waarheid” is op Pinkster 33 G.J. op die dissipels uitgestort

[Prente op bladsy 23]

Die ander skape doen goed aan Christus se broers deur hulle te ondersteun in die uitvoering van die Goddelike opdrag om te preek