Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe belangrik is reinheid?

Hoe belangrik is reinheid?

Hoe belangrik is reinheid?

REINHEID beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Wanneer ’n seuntjie se ma byvoorbeeld vir hom sê om sy hande en gesig te gaan was, dink hy miskien dat dit genoeg is om die water oor sy vingers te laat loop en sy lippe nat te maak. Maar sy ma weet beter. Sy vat hom terug badkamer toe en skrop sy hande en gesig met baie seep en water—al protesteer hy ook hoe!

Standaarde vir reinheid is natuurlik nie dieselfde regoor die wêreld nie, en mense word groot met verskillende idees oor wat reinheid behels. In die verlede het ’n skoon, netjiese skoolmilieu in baie lande leerlinge gehelp om goeie gewoontes in verband met reinheid aan te kweek. Vandag is party skoolterreine so vol vullis en rommel dat dit eerder soos ’n vuilgoedhoop lyk as ’n plek om te speel of te oefen. En wat van die klaskamers? Darren, ’n skoonmaker by ’n Australiese hoërskool, het gesê: “Nou sien ons ook vullis in die klaskamers.” Sommige leerlinge dink dat hulle gestraf word as daar vir hulle gesê word “Tel dit op” of “Maak skoon”. Ongelukkig gebruik party onderwysers wel skoonmaakwerk om kinders te straf.

Aan die ander kant stel volwassenes nie altyd ’n goeie voorbeeld wanneer dit by reinheid kom nie—nie in hulle daaglikse lewe of in die sakewêreld nie. Baie openbare plekke word byvoorbeeld in ’n vuil en onooglike toestand gelaat. Party industrieë besoedel die omgewing. Dit is egter nie industrieë en sakeondernemings self wat vir besoedeling verantwoordelik is nie, maar mense. Hoewel gierigheid waarskynlik die hoofoorsaak van die wêreldwye besoedelingsprobleem en al sy slegte gevolge is, dra onrein persoonlike gewoontes gedeeltelik tot die probleem by. ’n Voormalige direkteur-generaal van die Statebond van Australië het met hierdie gevolgtrekking saamgestem toe hy gesê het: “Alle kwessies van openbare gesondheid kom neer op wat die een man, die een vrou, die een kind daaromtrent doen.”

Nogtans voel sommige mense dat reinheid ’n persoonlike saak is en niks met enigiemand anders te doen het nie. Is dit werklik so?

Die belangrikheid van reinheid kan nie oorbeklemtoon word wanneer dit by ons kos kom nie—hetsy ons dit by ’n mark koop, in ’n restaurant eet of ’n ete by ’n vriend se huis geniet. ’n Hoë standaard van reinheid word verwag van diegene wat met ons kos werk of dit bedien. Vuil hande—hulle s’n of ons s’n—kan die oorsaak van baie siektes wees. Wat van hospitale—juis die plek wat ons verwag skoon moet wees? The New England Journal of Medicine het berig dat ongewaste hande onder dokters en verpleegsters kan help verklaar waarom hospitaalpasiënte infeksies kry wat tot 90 miljard rand per jaar kos om te genees. Ons verwag tereg dat niemand ons gesondheid deur sy onrein gewoontes in gevaar sal stel nie.

Dit is ook ’n baie ernstige saak wanneer iemand—doelbewus of per ongeluk—ons watervoorraad besoedel. En hoe veilig is dit om kaalvoet op ’n strand te stap waar ’n mens dalk dwelmverslaafdes en ander se gebruikte spuitnaalde sien rondlê? Die vraag wat ons moontlik persoonlik nog meer raak, is: Word reinheid in ons eie huis gehandhaaf?

Suellen Hoy vra in haar boek Chasing Dirt: “Is ons so skoon soos ons altyd was?” Sy antwoord: “Waarskynlik nie.” Volgens haar is die verandering in sosiale waardes die hoofrede hiervoor. Namate mense al hoe minder tyd tuis deurbring, betaal hulle eenvoudig iemand anders om die skoonmaakwerk vir hulle te doen. Gevolglik is dit nie meer ’n saak van persoonlike belang om ’n skoon omgewing te handhaaf nie. “Ek was nie die stort nie—ek was my”, het een man gesê. “As my huis vuil is, is ek ten minste skoon.”

Reinheid strek egter baie verder as ’n mens se uiterlike. Dit is ’n allesomvattende etiek van ’n heilsame lewenswyse. Dit is ook ’n toestand van die verstand en hart wat ons sedes en aanbidding raak. Kom ons kyk hoe dit die geval is.