Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy onder diegene vir wie God lief is?

Is jy onder diegene vir wie God lief is?

Is jy onder diegene vir wie God lief is?

“Hy wat my gebooie het en hulle bewaar, dit is hy wat my liefhet. En hy wat my liefhet, hóm sal my Vader liefhê.”—JOHANNES 14:21.

1, 2. (a) Hoe het Jehovah sy liefde vir die mensdom getoon? (b) Wat het Jesus op die aand van 14 Nisan 33 G.J. ingestel?

 JEHOVAH is lief vir sy menseskepping. Trouens, hy is so lief vir die mensewêreld “dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Namate die tyd vir die herdenking van Christus se dood nader kom, moet ware Christene meer as ooit bewus wees van die feit dat Jehovah “ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenoffer vir ons sondes”.—1 Johannes 4:10.

2 Op die aand van 14 Nisan 33 G.J. het Jesus en sy 12 apostels in ’n bovertrek in Jerusalem vergader om die Pasga te vier, wat die Israeliete se verlossing uit Egipte herdenk het (Matteus 26:17-20). Nadat hulle hierdie Joodse fees gevier het, het Jesus Judas Iskariot uitgestuur en ’n gedenkmaal ingestel wat die Christelike herdenking van Christus se dood geword het. a Jesus het ongesuurde brood en rooi wyn as embleme, of simbole, van sy fisiese liggaam en bloed gebruik en die 11 oorblywende apostels aan hierdie gemeenskaplike maal laat deelneem. Besonderhede oor wat hy verder gedoen het, word verskaf deur die Sinoptiese Evangelieskrywers Matteus, Markus en Lukas, asook deur die apostel Paulus, wat dit “die Here se aandmaal” genoem het.—1 Korintiërs 11:20; Matteus 26:26-28; Markus 14:22-25; Lukas 22:19, 20.

3. In watter belangrike opsigte verskil die apostel Johannes se verslag van Jesus se laaste ure saam met sy dissipels in die bovertrek van ander?

3 Die apostel Johannes maak, interessant genoeg, geen melding daarvan dat die brood en wyn omgestuur is nie, moontlik omdat dit teen die tyd dat hy sy Evangelieverslag geskryf het (omstreeks 98 G.J.), reeds ’n vaste gewoonte onder die vroeë Christene was (1 Korintiërs 11:23-26). Maar onder inspirasie het net Johannes sekere noodsaaklike inligting voorsien oor wat Jesus gesê en gedoen het net voordat en net nadat Hy die herdenking van Sy dood ingestel het. Hierdie aangrypende besonderhede vul ’n hele vyf hoofstukke van Johannes se Evangelie. Dit laat geen twyfel oor die soort persone vir wie God lief is nie. Kom ons kyk na Johannes hoofstukke 13 tot 17.

Leer uit Jesus se voorbeeld van liefde

4. (a) Hoe het Johannes die oorheersende tema beklemtoon van Jesus se vergadering met sy dissipels toe hy die Gedenkmaal ingestel het? (b) Wat is een belangrike rede waarom Jehovah Jesus liefhet?

4 Liefde is die tema wat uitstaan in al hierdie hoofstukke wat handel oor Jesus se afskeidsraad aan sy volgelinge. Trouens, verskillende vorme van die woord “liefde” kom 31 keer daarin voor. Jesus se innige liefde vir sy Vader, Jehovah, en vir sy dissipels kom nêrens anders duideliker na vore as in hierdie hoofstukke nie. Hoewel Jesus se liefde vir Jehovah uit al die Evangelieverslae oor sy lewe afgelei kan word, het net Johannes opgeteken dat Jesus uitdruklik gesê het: ‘Ek het die Vader lief’ (Johannes 14:31). Jesus het ook gesê dat Jehovah hom liefhet en het verduidelik waarom. Hy het gesê: “Net soos die Vader my liefgehad en ek julle liefgehad het, moet julle in my liefde bly. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos ek die gebooie van die Vader bewaar het en in sy liefde bly” (Johannes 15:9, 10). Ja, Jehovah het sy Seun lief weens sy stipte gehoorsaamheid. Wat ’n goeie les is dit tog vir alle volgelinge van Jesus Christus!

5. Hoe het Jesus sy liefde vir sy dissipels getoon?

5 Jesus se innige liefde vir sy volgelinge word reg aan die begin van Johannes se verslag van Jesus se laaste vergadering met die apostels beklemtoon. Johannes het vertel: “Omdat Jesus voor die fees van die pasga geweet het dat sy uur gekom het om uit hierdie wêreld na die Vader toe te gaan, het hy, wat dié liefgehad het wat syne was en wat in die wêreld was, hulle tot die einde toe liefgehad” (Johannes 13:1). Op daardie gedenkwaardige aand het hy hulle ’n onvergeetlike les geleer oor wat dit beteken om ander liefdevol te dien. Hy het hulle voete gewas. Dit is iets wat elkeen van hulle gewillig moes gewees het om vir Jesus en vir hulle broers te doen, maar hulle het dit nie gedoen nie. Jesus het hierdie nederige taak verrig en toe vir sy dissipels gesê: “As ek dan, hoewel Here en Leermeester, julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Want ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen” (Johannes 13:14, 15). Ware Christene moet gewillig en bly wees om hulle broers te dien.—Matteus 20:26, 27, voetnoot in NW; Johannes 13:17.

Volg die nuwe gebod

6, 7. (a) Watter belangrike besonderheid verskaf Johannes aangaande die instelling van die Gedenkmaal? (b) Watter nuwe gebod het Jesus sy dissipels gegee, en wat was nuut daaromtrent?

6 Johannes se verslag van wat op die aand van 14 Nisan in die bovertrek gebeur het, is die enigste wat spesifiek noem dat Judas Iskariot die vertrek verlaat het (Johannes 13:21-30). Wanneer ’n mens die Evangelieverslae met mekaar vergelyk, is dit duidelik dat Jesus eers die herdenking van sy dood ingestel het nadat hierdie verraaier uitgegaan het. Hy het toe ’n uitvoerige bespreking met sy getroue apostels gehad en aan hulle afskeidsraad en -voorskrifte gegee. Terwyl ons ons voorberei om die Gedenkmaal by te woon, behoort ons opreg belang te stel in wat Jesus by daardie geleentheid gesê het, veral omdat ons beslis onder diegene wil wees vir wie God lief is.

7 Die heel eerste voorskrif wat Jesus sy dissipels gegee het nadat hy die herdenking van sy dood ingestel het, was iets nuuts. Hy het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Wat was nuut omtrent hierdie gebod? ’n Bietjie later daardie aand het Jesus dit duidelik gemaak deur te sê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het. Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Johannes 15:12, 13). Die Mosaïese Wet het die Israeliete beveel om ‘hulle naaste lief te hê soos hulleself’ (Levitikus 19:18). Maar Jesus se gebod het verder gegaan. Christene moes mekaar liefhê soos Christus hulle liefgehad het, deur bereid te wees om selfs hulle lewe vir hulle broers op te offer.

8. (a) Wat behels selfopofferende liefde? (b) Hoe toon Jehovah se Getuies vandag selfopofferende liefde?

8 Die Gedenkmaalseisoen is ’n gepaste tyd om onsself te ondersoek, as individue en as ’n gemeente, om te sien of ons werklik hierdie kenmerk van die ware Christelike geloof het—naamlik Christelike liefde. Sulke selfopofferende liefde kan, en het soms, beteken dat ’n Christen eerder sy lewe in gevaar sal stel as om sy broers te verraai. Maar dit behels meer dikwels die bereidwilligheid om ons persoonlike belange op te offer om ons broers en ander te help en te dien. Die apostel Paulus was ’n goeie voorbeeld in dié verband (2 Korintiërs 12:15; Filippense 2:17). Jehovah se Getuies is regoor die wêreld bekend vir hulle selfopofferende gees, want hulle help hulle broers en hulle medemens en doen alles in hulle vermoë om Bybelwaarheid aan hulle naaste mee te deel. bGalasiërs 6:10.

Verhoudings wat waardeer moet word

9. Wat doen ons met vreugde sodat ons ons kosbare verhouding met God en sy Seun kan behou?

9 Niks kan vir ons kosbaarder wees as die liefde wat Jehovah en sy Seun, Christus Jesus, vir ons het nie. Maar as ons hierdie liefde wil ontvang en ondervind, moet ons iets doen. Jesus het op daardie laaste aand saam met sy dissipels gesê: “Hy wat my gebooie het en hulle bewaar, dit is hy wat my liefhet. En hy wat my liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en ek sal hom liefhê en my duidelik aan hom toon” (Johannes 14:21). Aangesien ons verhouding met God en met sy Seun vir ons kosbaar is, gehoorsaam ons hulle gebooie vreugdevol. Dit sluit die nuwe gebod in om selfopofferende liefde aan die dag te lê en ook die bevel wat Christus ná sy opstanding gegee het “om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee”, terwyl ons probeer om ‘dissipels te maak’ van diegene wat die goeie nuus aanneem.—Handelinge 10:42; Matteus 28:19, 20.

10. Watter kosbare verhoudings kan die gesalfdes en die “ander skape” geniet?

10 Later daardie aand het Jesus, in antwoord op ’n vraag wat die getroue apostel Judas (Taddeus) hom gevra het, gesê: “As iemand my liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en ons sal na hom toe kom en ons woning by hom maak” (Johannes 14:22, 23). Selfs terwyl hulle nog op die aarde is, het gesalfde Christene, wat geroep word om saam met Christus in die hemel te regeer, ’n besonder hegte verhouding met Jehovah en met sy Seun (Johannes 15:15; 16:27; 17:22; Hebreërs 3:1; 1 Johannes 3:2, 24). Maar ook hulle metgeselle, die “ander skape”, wat die hoop het om vir ewig op aarde te lewe, het ’n kosbare verhouding met hulle “een herder”, Jesus Christus, en met hulle God, Jehovah, mits hulle gehoorsaam is.—Johannes 10:16; Psalm 15:1-5; 25:14.

‘Julle is geen deel van die wêreld nie’

11. Watter ernstige waarskuwing het Jesus sy dissipels gegee?

11 Gedurende hierdie laaste vergadering met sy getroue dissipels voor sy dood het Jesus ’n ernstige waarskuwing gegee: As God iemand liefhet, sal die wêreld hom haat. Hy het gesê: “As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voor dit julle gehaat het. As julle ’n deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. En omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. Hou die woord wat ek tot julle gespreek het in gedagte: ’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg; as hulle my woord bewaar het, sal hulle julle s’n ook bewaar.”—Johannes 15:18-20.

12. (a) Waarom het Jesus sy dissipels gewaarsku dat die wêreld hulle sou haat? (b) Waaroor sal dit vir ons almal goed wees om na te dink namate die Gedenkmaal nader kom?

12 Jesus het dié waarskuwing gegee sodat hierdie 11 apostels en alle ware Christene ná hulle nie ontmoedig sou word en sou tou opgooi omdat die wêreld hulle haat nie. Hy het bygevoeg: “Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle nie sal struikel nie. Die mense sal julle uit die sinagoge ban. Trouens, die uur kom wanneer elkeen wat julle doodmaak, sal dink dat hy ’n heilige diens aan God bewys het. Maar hulle sal hierdie dinge doen omdat hulle nie die Vader of vir my leer ken het nie” (Johannes 16:1-3). ’n Bybelwoordeboek verduidelik dat ’n vorm van die werkwoord wat hier met “struikel” vertaal word, beteken “om te veroorsaak dat iemand wantroue begin koester en die een verlaat wat hy behoort te vertrou en te gehoorsaam; om afvallig te laat word”. Namate die tyd vir die Gedenkmaal nader kom, sal dit goed wees as ons almal nadink oor die lewenswandel van getroues, van die ou tyd en vandag, en hulle voorbeeld van standvastigheid tydens beproewinge navolg. Moenie toelaat dat teenstand of vervolging veroorsaak dat jy Jehovah en Jesus verlaat nie, maar wees vasbeslote om hulle te vertrou en te gehoorsaam.

13. Wat het Jesus in gebed tot sy Vader gevra ten behoewe van sy volgelinge?

13 In sy slotgebed voordat hy die bovertrek in Jerusalem verlaat het, het Jesus vir sy Vader gesê: “Ek het u woord aan hulle gegee, maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle geen deel van die wêreld is nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie. Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14-16). Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ’n wakende oog hou oor dié wat hy liefhet, om hulle te versterk terwyl hulle afgeskeie van die wêreld bly.—Jesaja 40:29-31.

Bly in die Vader se liefde en in die Seun se liefde

14, 15. (a) Waarmee het Jesus homself vergelyk, in teenstelling met watter ‘ontaarde wingerdstok’? (b) Wie is “die lote” van “die ware wingerdstok”?

14 Tydens die intieme gesprek wat Jesus op die aand van 14 Nisan met sy getroue dissipels gehad het, het hy hom vergelyk met “die ware wingerdstok”, in teenstelling met die ‘ontaarde wingerdstok’ van ontroue Israel. Hy het gesê: “Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die landbouer” (Johannes 15:1). Eeue tevore het die profeet Jeremia hierdie woorde van Jehovah aan sy afvallige volk opgeteken: “Ek het jou as ’n uitgesoekte rooi wingerdstok geplant . . . Hoe het jy dan teenoor my verander in die ontaarde lote van ’n vreemde wingerdstok?” (Jeremia 2:21). En die profeet Hosea het geskryf: “Israel is ’n verslegtende wingerdstok. Vrugte bly hy vir hom voortbring. . . . Hulle hart het huigelagtig geword.”—Hosea 10:1, 2.

15 In plaas van die vrugte van ware aanbidding voort te bring, het Israel in afvalligheid verval en vrugte vir hulleself voortgebring. Drie dae voor Jesus se laaste vergadering met sy getroue dissipels het hy vir die huigelagtige Joodse leiers gesê: “Ek [sê] vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring” (Matteus 21:43). Daardie nuwe nasie is “die Israel van God”, wat uit 144 000 gesalfde Christene bestaan en met “die lote” van “die ware wingerdstok”, Christus Jesus, vergelyk word.—Galasiërs 6:16; Johannes 15:5; Openbaring 14:1, 3.

16. Wat het Jesus die 11 getroue apostels aangespoor om te doen, en wat kan gesê word oor die getroue oorblyfsel in hierdie tyd van die einde?

16 Jesus het vir die 11 apostels wat saam met hom in daardie bovertrek was, gesê: “Elke loot in my wat nie vrug dra nie, neem hy weg, en elkeen wat vrug dra, maak hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Bly in eenheid met my, en ek in eenheid met julle. Net soos die loot nie vanself vrug kan dra tensy dit in die wingerdstok bly nie, so ook kan julle nie, tensy julle in eenheid met my bly” (Johannes 15:2, 4). Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se knegte toon dat die getroue oorblyfsel van gesalfde Christene in eenheid met hulle Hoof, Christus Jesus, gebly het (Efesiërs 5:23). Hulle het hulle laat reinig en laat snoei (Maleagi 3:2, 3). Sedert 1919 bring hulle oorvloedige Koninkryksvrugte voort, eerstens ander gesalfde Christene en, sedert 1935, ’n immer toenemende “groot menigte” metgeselle.—Openbaring 7:9; Jesaja 60:4, 8-11.

17, 18. (a) Watter woorde van Jesus help die gesalfdes en die ander skape om in Jehovah se liefde te bly? (b) Hoe sal dit ons help as ons die Gedenkmaal bywoon?

17 Jesus se verdere woorde is op alle gesalfde Christene en hulle metgeselle van toepassing: “My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra en toon dat julle my dissipels is. Net soos die Vader my liefgehad en ek julle liefgehad het, moet julle in my liefde bly. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos ek die gebooie van die Vader bewaar het en in sy liefde bly.”—Johannes 15:8-10.

18 Ons wil almal graag in God se liefde bly, en dit beweeg ons om Christene te wees wat vrug dra. Ons doen dit deur elke geleentheid aan te gryp om die “goeie nuus van die koninkryk” te verkondig (Matteus 24:14). Ons doen ook ons bes om “die vrugte van die gees” in ons lewe te openbaar (Galasiërs 5:22, 23). Wanneer ons die herdenking van Christus se dood bywoon, sal dit ons versterk in ons voorneme om dit te doen, want ons sal herinner word aan God en Christus se groot liefde vir ons.—2 Korintiërs 5:14, 15.

19. Watter verdere hulp sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Nadat Jesus die Gedenkmaal ingestel het, het hy belowe dat sy Vader vir sy getroue volgelinge ’n “helper, die heilige gees,” sou stuur (Johannes 14:26). Hoe hierdie gees die gesalfdes en die ander skape help om in Jehovah se liefde te bly, sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Gegrond op Bybelse berekenings begin 14 Nisan vir die jaar 2002 ná sononder op Donderdag, 28 Maart. Jehovah se Getuies regoor die wêreld sal dié aand byeenkom om die dood van die Here, Jesus Christus, te herdenk.

b Sien die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, uitgegee deur Jehovah se Getuies, hoofstukke 19 en 32.

Hersieningsvrae

• Watter praktiese les in liefdevolle diens het Jesus sy dissipels geleer?

• Met betrekking tot wat is die Gedenkmaalseisoen ’n gepaste tyd vir selfondersoek?

• Waarom moet ons nie dat Jesus se waarskuwing oor haat en vervolging deur die wêreld ons laat struikel nie?

• Wie is “die ware wingerdstok”? Wie is “die lote”, en wat word van hulle verwag?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Jesus het sy apostels ’n onvergeetlike les in liefdevolle diens geleer

[Prente op bladsy 16, 17]

Christus se dissipels gehoorsaam sy opdrag om selfopofferende liefde aan die dag te lê