Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer ’n les by Nikodemus

Leer ’n les by Nikodemus

Leer ’n les by Nikodemus

“AS IEMAND agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Lukas 9:23). Nederige vissermanne en ’n veragte belastinggaarder het daardie uitnodiging geredelik aanvaar. Hulle het alles net so gelaat om Jesus te volg.—Matteus 4:18-22; Lukas 5:27, 28.

Jesus se oproep word vandag nog gehoor, en baie het daarop gereageer. Tog huiwer sommige wat dit geniet om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer, om ‘hulleself te verloën en hulle folterpaal op te neem’. Hulle is teësinnig om die verantwoordelikheid en voorreg te aanvaar om Jesus se dissipels te wees.

Waarom huiwer sommige om Jesus se uitnodiging te aanvaar en hulle aan Jehovah God toe te wy? Dit is waar dat diegene wat nie met die Joods-Christelike begrip van monoteïsme grootgeword het nie, dalk heelwat tyd nodig het om die bestaan van ’n persoonlike, almagtige Skepper ten volle te begryp. Maar selfs nadat hulle oortuig is dat God werklik bestaan, soek party verskonings om nie in die voetstappe van Jesus te volg nie. Hulle is dalk bang vir wat hulle familie en vriende van hulle sal dink as hulle ’n Getuie van Jehovah word. Ander, wat die dringendheid van die tye waarin ons lewe, uit die oog verloor, begin roem en rykdom najaag (Matteus 24:36-42; 1 Timoteus 6:9, 10). Hoe dit ook al sy, diegene wat hulle besluit bly uitstel om een van Jesus se volgelinge te word, kan ’n les leer uit die verslag van Nikodemus, ’n welgestelde Joodse heerser in Jesus se dag.

’n Vooruitsig op wonderlike geleenthede

Net sowat ses maande nadat Jesus sy aardse bediening begin het, besef Nikodemus dat Jesus “as ’n leermeester van God af gekom het”. Nikodemus, wat beïndruk is deur die wonderwerke wat Jesus kort tevore by die Pasga van 30 G.J. in Jerusalem verrig het, kom onder die sluier van die nag om sy geloof in Jesus te bely en meer oor hierdie leermeester te leer. Daarop vertel Jesus vir Nikodemus ’n baie groot waarheid oor hoe belangrik dit is om “weer gebore” te word sodat ’n mens die Koninkryk van God kan ingaan. By hierdie geleentheid sê Jesus ook die volgende: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:1-16.

Wat ’n wonderlike vooruitsig het Nikodemus tog! Hy kan ’n intieme metgesel van Jesus word en ’n ooggetuie wees van verskeie aspekte van Jesus se lewe op aarde. As ’n heerser van die Jode en ’n onderrigter in Israel, het Nikodemus ’n goeie kennis van God se Woord. Hy het ook skerp insig, soos blyk uit die feit dat hy Jesus identifiseer as ’n leermeester wat deur God gestuur is. Nikodemus stel in geestelike dinge belang, en hy is buitengewoon nederig. Hoe moeilik moet dit tog wees vir ’n lid van die Jode se hoogste hof om ’n eenvoudige timmerman se seun te erken as ’n man wat deur God gestuur is! Al hierdie eienskappe is onontbeerlik as iemand ’n dissipel van Jesus wil word.

Dit lyk nie of Nikodemus se belangstelling in hierdie man van Nasaret afneem nie. Twee en ’n half jaar later, by die Huttefees, woon Nikodemus ’n vergadering van die Sanhedrin by. Op hierdie stadium is Nikodemus nog steeds “een van hulle”. Die hoofpriesters en die Fariseërs stuur beamptes uit om Jesus in hegtenis te neem. Die beamptes keer terug en sê: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.” Die Fariseërs begin hulle kleineer: “Julle is tog nie ook mislei nie? Nie een van die heersers of van die Fariseërs het geloof in hom gestel nie, of hoe? Maar hierdie skare wat die Wet nie ken nie, is vervloekte mense.” Nikodemus kan nie langer stilbly nie. Hy sê: “Ons wet oordeel ’n mens nie tensy dit hom eers gehoor het en te wete gekom het wat hy doen nie, of hoe?” Dan word hý die teiken van die ander Fariseërs se kritiek: “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Ondersoek en sien dat geen profeet uit Galilea verwek word nie.”—Johannes 7:1, 10, 32, 45-52.

Ongeveer ses maande later, op die Pasgadag van 33 G.J., sien Nikodemus hoe Jesus se liggaam van die folterpaal afgehaal word. Saam met Josef van Arimatea, ’n ander lid van die Sanhedrin, berei hy Jesus se liggaam voor om begrawe te word. Vir dié doel bring Nikodemus “’n rol mirre en aalwyn” wat omtrent 100 Romeinse pond weeg, gelykstaande aan 72 Engelse pond. Dit kom neer op ’n aansienlike bedrag. Dit verg ook moed van hom om geïdentifiseer te word met “daardie bedrieër”, soos sy mede-Fariseërs Jesus noem. Nadat hulle Jesus se liggaam gou vir sy begrafnis voorberei het, lê die twee Jesus daar naby in ’n nuwe gedenkgraf neer. Maar selfs op hierdie stadium word Nikodemus nog nie as ’n dissipel van Jesus geïdentifiseer nie!—Johannes 19:38-42; Matteus 27:63; Markus 15:43.

Waarom hy nie opgetree het nie

Johannes sê nie in sy verslag waarom Nikodemus nie ‘sy folterpaal opgeneem’ en Jesus gevolg het nie. Hy het egter ’n paar leidrade gegee wat moontlik hierdie Fariseër se besluiteloosheid verduidelik.

Eerstens het Johannes daarop gewys dat die Joodse heerser “in die nag na [Jesus] toe gekom” het (Johannes 3:2). Een Bybelgeleerde se mening is: “Nikodemus het in die nag gekom, nie uit vrees nie, maar om die skares te vermy wat sy gesprek met Jesus sou onderbreek.” Tog het Johannes na Nikodemus verwys as “die man wat die eerste keer in die nag na [Jesus] toe gekom het”, in dieselfde konteks as wat hy na Josef van Arimatea verwys het as “’n dissipel van Jesus . . . , maar in die geheim weens sy vrees vir die Jode” (Johannes 19:38, 39). Dit is dus waarskynlik dat Nikodemus Jesus onder die sluier van die nag besoek het uit “vrees vir die Jode”, net soos ander in sy dag bang was om enigiets met Jesus te doen te hê.—Johannes 7:13.

Het jy die besluit om een van Jesus se dissipels te word, uitgestel oor wat jou familie, vriende of kollegas mag sê? “Om vir mense te bewe, span ’n strik”, sê ’n spreuk. Hoe kan jy daardie vrees te bowe kom? Die spreuk sê verder: “Maar hy wat op Jehovah vertrou, sal beskerm word” (Spreuke 29:25). Om hierdie vertroue in Jehovah op te bou, moet jy self ondervind dat God jou sal onderskraag wanneer jy in benoudheid verkeer. Bid tot Jehovah en vra hom om jou die moed te gee om selfs klein besluite in verband met jou aanbidding te neem. Uiteindelik sal jou geloof en vertroue in Jehovah groei tot die punt waar jy groot besluite in ooreenstemming met God se wil kan neem.

Nikodemus se posisie en aansien as ’n lid van die heersende klas het hom dalk ook gekeer om die belangrike stap te neem om homself te verloën. Op daardie stadium het hy blykbaar nog baie waarde geheg aan sy posisie as ’n lid van die Sanhedrin. Huiwer jy om die stap te neem om ’n volgeling van Christus te word omdat jy ’n invloedryke posisie in die gemeenskap kan verloor of dalk sekere vooruitsigte op bevordering moet prysgee? Nie een van hierdie dinge kan vergelyk word met die eer om die Allerhoogste van die heelal te dien nie, wat bereid is om aan jou versoeke te voldoen wat in ooreenstemming met sy wil is.—Psalm 10:17; 83:18; 145:18.

Nog ’n moontlike rede waarom Nikodemus getalm het, het dalk met sy rykdom verband gehou. As ’n Fariseër is hy miskien beïnvloed deur die ander, “wat liefhebbers van geld was” (Lukas 16:14). Die feit dat hy ’n duur rol mirre en aalwyn kon bekostig, getuig van sy middele. Vandag bly sommige die besluit uitstel om die verantwoordelikheid van ’n Christen te aanvaar omdat hulle oor hulle materiële besittings besorg is. Jesus het egter vir sy volgelinge gesê: “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra . . . Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:25-33.

Hy het baie gehad om te verloor

Dit is interessant dat die verslag oor Nikodemus, wat slegs in Johannes se Evangelie verskyn, nie sê of hy ooit ’n volgeling van Jesus geword het nie. Volgens een tradisie het Nikodemus hom aan Jesus se kant geskaar, is hy gedoop, het hy ’n teiken van Joodse vervolging geword, is hy uit sy posisie verwyder en uiteindelik uit Jerusalem verban. Hoe dit ook al sy, een ding is seker: Hy het baie gehad om te verloor deur te talm terwyl Jesus hier op aarde was.

As Nikodemus Jesus begin volg het toe hy die Here die heel eerste keer ontmoet het, kon hy ’n intieme dissipel van Jesus geword het. Met Nikodemus se kennis, insig, nederigheid en sy bewustheid van geestelike behoeftes, kon hy ’n uitstaande dissipel geword het. Ja, hy kon die ongelooflike preke deur die Groot Leermeester gehoor het, lewensbelangrike lesse uit Jesus se illustrasies geleer het, ’n getuie van Jesus se verstommende wonderwerke gewees het en krag geput het uit Jesus se laaste vermanings aan sy apostels. Maar hy het homself al hierdie dinge ontsê.

Nikodemus se besluiteloosheid het vir hom ’n groot verlies beteken. Ingesluit hierby was Jesus se hartlike uitnodiging: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig” (Matteus 11:28-30). Nikodemus het die geleentheid laat verbygaan om hierdie verkwikking letterlik van Jesus self te ontvang!

Wat van jou?

Sedert 1914 is Jesus Christus teenwoordig in die hemel as die Koning van God se hemelse Koninkryk. Hy het voorspel wat gedurende sy teenwoordigheid gaan gebeur en onder andere gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Voor die einde kom, moet daardie wêreldwye predikingswerk voltooi word. Jesus Christus skep behae in die feit dat onvolmaakte mense hieraan deelneem. Jy kan ook aan hierdie werk deelneem.

Nikodemus het besef dat Jesus van God af gekom het (Johannes 3:2). Uit ’n studie van die Bybel het jy moontlik tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Dalk het jy veranderinge in jou lewenswyse aangebring om aan Bybelstandaarde te voldoen. Jy woon miskien selfs vergaderinge van Jehovah se Getuies by om verdere kennis van die Bybel op te doen. Dit is baie goed dat jy hierdie dinge doen. Nikodemus moes egter meer doen as om net waardering te toon vir Jesus as die een wat deur God gestuur is. Hy moes “homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en [Jesus] voortdurend volg”.—Lukas 9:23.

Ons moet die woorde van die apostel Paulus ter harte neem. Hy het geskryf: “As sy medewerkers versoek ons julle ook dringend om nie die onverdiende goedhartigheid van God aan te neem en die doel daarvan te mis nie. Want hy sê: ‘In ’n aanneemlike tyd het ek jou verhoor, en in ’n dag van redding het ek jou gehelp.’ Kyk! Nou is die besonder aanneemlike tyd. Kyk! Nou is die dag van redding.”—2 Korintiërs 6:1, 2.

Dit is nóú die tyd om die geloof op te bou wat ’n mens tot optrede beweeg. Met dié doel moet jy peins oor die dinge wat jy in die Bybel leer. Bid tot Jehovah en vra hom om jou te help sodat jy sulke geloof aan die dag kan lê. Namate jy sy helpende hand ervaar, sal jou waardering en liefde vir hom die begeerte by jou wek om ‘jouself te verloën en dag vir dag jou folterpaal op te neem en Jesus Christus voortdurend te volg’. Sal jy nou optree?

[Prent op bladsy 9]

Aanvanklik het Nikodemus moedig vir Jesus opgekom

[Prent op bladsy 9]

Ondanks teenkanting het Nikodemus Jesus se liggaam help voorberei om begrawe te word

[Prent op bladsy 10]

Persoonlike studie en gebed kan jou versterk om op te tree

[Prent op bladsy 10]

Sal jy die voorreg aanvaar om onder die leierskap van Jesus Christus te werk?