Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Op hulle eie manier wys

Op hulle eie manier wys

Op hulle eie manier wys

“VOLWASSENES het wysheid, maar kinders is op hulle eie manier wys”, sê ’n Nigeriese spreekwoord. Edwin, ’n Christen- ouer man in Nigerië, het die waarheid hiervan agtergekom.

Eendag het Edwin ’n metaalbussie onder sy lessenaar by die huis gevind.

“Wie s’n is dit?” het Edwin sy drie kinders gevra.

“Dis myne”, het die agtjarige Emmanuel geantwoord. Hy het gou bygevoeg dat hierdie geroeste ysterbussie wat 12 sentimeter by 12 sentimeter is en wat ’n gleuf aan die bokant het, vir bydraes vir die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies is. “Aangesien ek nie elke dag na die Koninkryksaal toe gaan nie”, het hy verduidelik, “het ek besluit om ’n bussie te maak sodat ek my snoepiegeld wat ek nie gebruik nie, daarin kan gooi.”

Emmanuel se pa het ’n bussie by die huis gehad om geld te spaar sodat hulle die jaarlikse streekbyeenkoms kan bywoon. Maar weens ’n noodgeval in die gesin het hulle die geld daarin gebruik. Om seker te maak dat die geld wat hy bydra nie vir enigiets anders gebruik word nie, het Emmanuel ’n ou blik na ’n sweiser geneem om dit te laat verseël. Toe die sweiser hoor waarvoor die blik gebruik sou word, het hy vir Emmanuel ’n bussie uit afvalmetaal gemaak. Michael, Emmanuel se vyfjarige boetie, wou ook ’n bussie hê.

Edwin was verstom oor wat die kinders gedoen het en het hulle gevra waarom hulle die bussies laat maak het. Michael het geantwoord: “Ek wil bydra!”

Sonder dat hulle ouers geweet het, het Emmanuel, Michael en Uchei, hulle negejarige sussie, van hulle snoepiegeld gespaar en dit in die bussies gegooi. Waar het hulle die idee gekry? Toe die kinders oud genoeg was om geld in hulle handjies vas te hou, het hulle ouers hulle geleer om geld in die bydraebussie by die Koninkryksaal te gooi. Klaarblyklik was dit ’n les wat die kinders goed geleer het.

Toe die bussies vol was, is hulle oopgesny. Die spaargeld was altesaam R27,42—glad nie ’n onbeduidende bedrag in ’n land waar die gemiddelde jaarlikse inkomste minder as drieduisend rand is nie. Sulke vrywillige bydraes ondersteun die predikingswerk van Jehovah se Getuies wat nou in 235 lande regoor die wêreld gedoen word.