Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrystelling van die “Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif” in Afrikaans

Vrystelling van die “Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif” in Afrikaans

’n Geestelike mylpaal!

Vrystelling van die “Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif” in Afrikaans

OP 30 November 2001 is ’n geestelike mylpaal bereik: Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is in Afrikaans vrygestel.

Die Nuwe Wêreld-vertaling neem nou sy plek langs Bybels in wat lank reeds deur godvresende mense in Suidelike Afrika gebruik word. Maar waarom is nog ’n Bybelvertaling nodig? Deur wie word dit uitgegee? En hoe kan jy seker wees dat die Nuwe Wêreld-vertaling betroubaar is?

Waarom so baie Bybelvertalings?

Talle nuwe Bybelvertalings is in onlangse jare uitgegee. Party nuwe vertalings het God se Woord vir die eerste keer in sekere tale beskikbaar gestel. Maar nuwe Bybels verskyn ook in tale waarin daar reeds gevestigde vertalings is. Waarom? Die boek So Many Versions?, deur Sakae Koebo en Walter Specht, verduidelik: “Geen vertaling van die Bybel kan ooit as finaal beskou word nie. Vertalings moet tred hou met die vordering op die gebied van Bybelkunde en die veranderinge in tale.”

Gedurende hierdie eeu het die begrip van Hebreeus, Aramees en Grieks—die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is—aansienlik toegeneem. Bybelmanuskripte is ook ontdek wat ouer en akkurater is as dié wat deur vorige geslagte Bybelvertalers gebruik is. God se Woord kan dus vandag akkurater as ooit tevore vertaal word!

Met verwysing na handelsondernemings sê The Atlantic Monthly: “Bybeluitgewery is ’n groot—’n verbasende groot—bedryf.” En soms oorheers die begeerte om ’n blitsverkoper uit te gee skynbaar die besorgdheid oor akkuraatheid. In een nuwe Bybel het die uitgewers hulle die vryheid veroorloof om dele uit te haal wat hulle as te “vervelig” beskou. In ’n ander Bybel is woorde of uitdrukkings wat hedendaagse lesers aanstoot kan gee, verander. In ’n poging om dit vir feministe aanvaarbaar te maak, word God byvoorbeeld “Vader-Moeder” genoem.

God se naam word weggelaat

Die mees verontrustende neiging is moontlik die een wat verband hou met God se persoonlike naam—Jehovah. (Party geleerdes gee dit as “Jahweh” weer.) In antieke afskrifte van die Bybel word God se naam voorgestel deur vier Hebreeuse medeklinkers wat as JHWH of JHVH getranslitereer kan word. Hierdie unieke naam kom byna 7 000 keer in die sogenaamde Ou Testament alleen voor (Eksodus 3:15; Psalm 83:18). Dit is derhalwe duidelik dat ons Skepper wou hê dat sy aanbidders daardie naam moet ken en gebruik!

Maar bygelowige vrese het eeue gelede veroorsaak dat die Jode opgehou het om God se naam uit te spreek. Later het sulke bygelowige beskouings ook in die Christelike godsdiens ingesluip. (Vergelyk Handelinge 20:29, 30; 1 Timoteus 4:1.) Dit het die gebruik geword vir Bybelvertalers om God se naam met die titel “Here” te vervang. Vandag laat die meeste Bybels God se naam heeltemal weg. Party moderne Engelse Bybels laat selfs die verwysing na die woord “naam” in Johannes 17:6 uit, waar Jesus sê: “Ek het u naam openbaar gemaak.” Today’s English Version gee hierdie vers weer met: “Ek het u bekend gemaak.”

Waarom is daar so ’n teësin in God se naam? Luister na ’n paar stellings uit die tydskrif Practical Papers for the Bible Translator (Jaargang 43, nommer 4, 1992). Dit word uitgegee deur die United Bible Societies (UBS), wat in groot mate die wêreldwye werk van Bybelvertaling koördineer. Een artikel het gesê: “Aangesien JHWH ongetwyfeld ’n eienaam is, sou transliterasie, uit beginsel, die logiesste benadering tot vertaling wees.” Maar die artikel het gewaarsku: “Daar is egter sekere werklikhede wat in ag geneem moet word.”

Hoe gegrond is hierdie “werklikhede”? Volgens hierdie tydskrif redeneer sekere geleerdes: “As ons ’n naam soos Jahweh inbring, kan dit [by nie-Christene] die verkeerde idee skep. . . en te kenne gee dat ‘Jahweh’ ’n vreemde God is, of ’n nuwe en onbekende God, wat verskil van die God wat hulle reeds ken.” Maar die Bybel leer uitdruklik dat Jehovah God wel verskil van die gode wat deur nie-Christene aanbid word!—Jesaja 43:10-12; 44:8, 9.

Party geleerdes beweer dat hulle bloot tradisie volg wanneer hulle God se naam met die titel “HERE” vervang. Maar Jesus het die navolging van godonterende tradisies veroordeel (Matteus 15:6). Boonop het die hele idee om ’n naam met ’n titel te vervang geen Bybelse grondslag nie. Jesus Christus het baie titels, soos “Die Woord van God” en “Koning van die konings” (Openbaring 19:11-16). Moet die naam Jesus dan met een van hierdie titels vervang word?

Nog ’n artikel in die voorgenoemde tydskrif voer aan: “Die vorm ‘Jehovah’ moet normaalweg vermy word.” Die rede? “Geleerdes glo oor die algemeen dat die oorspronklike uitspraak die beste deur ‘Jahweh’ weergegee word.” Nietemin word bekende Bybelname soos Jeremia, Jesaja en Jesus ook weergegee op maniere wat min ooreenkoms toon met hulle oorspronklike Hebreeuse uitspraak (Jir·mejahʹ, Jesja·jaʹhoe en Jeho·sjoeʹa). Aangesien die vorm “Jehovah” ’n erkende vertaling van God se naam is—en een waarmee baie mense bekend is—is argumente teen die gebruik daarvan nie geldig nie. Dit lyk werklik of die teësinnigheid om God se naam te gebruik, eerder op emosie en vooroordeel gegrond is as op vakkundigheid.

Dit is egter nie bloot ’n akademiese kwessie nie. ’n Konsultant van die UBS in Indië het byvoorbeeld geskryf oor die gevolge toe God se naam uit vertalings verwyder is waarin dit voorheen voorgekom het. Hy erken: “Die Hindoes stel nie belang in die titel van God nie; hulle wil weet wat die persoonlike naam van God is, en tensy hulle die naam ken, kan hulle hulle nie vereenselwig met die een wat dit dra nie.” Dit kan in werklikheid gesê word van almal wat na God soek. Dit is noodsaaklik om God se naam te ken as ’n mens hom wil verstaan, nie as die een of ander onpersoonlike krag nie, maar as ’n persoon—iemand wat ons kan leer ken (Eksodus 34:6, 7). Die Bybel sê gevolglik: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13). Aanbidders is verplig om sy naam te gebruik!

’n Vertaling wat God vereer

Dit was dus destyds in 1950 ’n betekenisvolle gebeurtenis toe die Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte gepubliseer is. Gedurende die volgende dekade is opeenvolgende aflewerings gepubliseer van wat gewoonlik die Ou Testament, oftewel die Hebreeuse Geskrifte, genoem word. In 1961 is die hele Bybel in Engels in een boekdeel uitgegee. Dit is betekenisvol dat die Nuwe Wêreld-vertaling God se naam Jehovah gebruik op elkeen van die bykans 7 000 plekke waar dit in die “Ou Testament” voorkom. Dit is veral opmerklik dat God se naam 237 keer in die “Nuwe Testament”, oftewel die Christelike Griekse Geskrifte, herstel is.

Die herstelling van daardie naam strek God nie net tot eer nie, maar dit verruim ook die horison van ons begrip. Byvoorbeeld, baie vertalings gee Matteus 22:44 weer as: “Die Here het tot my Here gespreek.” Maar wie praat nou eintlik met wie? Die Nuwe Wêreld-vertaling vertaal hierdie vers as: “Jehovah het vir my Here gesê” en haal so Psalm 110:1 korrek aan. Lesers kan sodoende ’n noodsaaklike onderskeid tussen Jehovah God en sy Seun maak.

Deur wie word dit uitgegee?

Die Nuwe Wêreld-vertaling word uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die wetlike liggaam wat Jehovah se Getuies verteenwoordig. Hierdie Genootskap druk en versprei Bybels al meer as honderd jaar lank oor die hele wêreld. Hierdie spesifieke vertaling is aan die Genootskap voorgelê deur ’n groep Christene wat bekend staan as die Nuwe Wêreld-Bybelvertaalkomitee. Die komiteelede het nie persoonlike aansien gesoek nie. Inteendeel, hulle het versoek dat hulle selfs ná hulle dood naamloos bly.—Vergelyk 1 Korintiërs 10:31.

Maar waarom is hierdie werk die Nuwe Wêreld-vertaling genoem? Dit het die vaste oortuiging weerspieël dat die mensdom “op die drumpel van die nuwe wêreld” staan wat in 2 Petrus 3:13 beloof word. Soos die komitee self geskryf het, is dit gedurende hierdie “oorgangstydperk vanaf die ou wêreld” belangrik dat Bybelvertalings “die suiwer waarheid van God se Woord” laat uitstraal.—Sien Voorwoord van 1950-uitgawe.

’n Akkurate vertaling

Die voorkeur is dus aan akkuraatheid gegee. Die vertalers van die Engelse uitgawe het regstreeks uit die oorspronklike Hebreeus, Aramees en Grieks vertaal en die beste beskikbare manuskripte gebruik. a Buitengewone sorg is ook aan die dag gelê om die antieke teks so letterlik moontlik weer te gee—maar in taal wat hedendaagse lesers maklik kan verstaan.

Dit is derhalwe nie verbasend dat party geleerdes met lof van die Nuwe Wêreld-vertaling se integriteit en akkuraatheid gepraat het nie. Professor Benjamin Kedar, ’n Hebraïkus in Israel, het in 1989 gesê: “Ek raadpleeg dikwels die Engelse uitgawe van wat as die Nuwe Wêreld-vertaling bekend staan tydens my taalkundige navorsing in verband met die Hebreeuse Bybel en vertalings. Dit bevestig keer op keer my mening dat hierdie werk ’n opregte poging weerspieël om ’n begrip van die teks weer te gee wat so akkuraat moontlik is.”

Ander uitgawes word beskikbaar gestel

Dit is dus gepas dat die Wagtoringgenootskap die Nuwe Wêreld-vertaling in ander tale buiten Engels beskikbaar gestel het. Dit word tans, in sy geheel of gedeeltelik, in 34 tale gepubliseer. Om met hierdie onderneming te help, het die Genootskap ’n metode van Bybelvertaling ontwikkel wat ’n studie van Bybelwoorde met rekenaartegnologie kombineer. Die Genootskap het ook die Vertaaldiensdepartement op die been gebring, nou by Patterson, New York, om vertalers te help. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies hou noukeurig toesig oor Bybelvertaling deur middel van die Skryfkomitee. Maar presies hoe word hierdie werk gedoen?

Eerstens word ’n groep toegewyde Christene aangestel om as ’n vertaalspan te dien. Die ondervinding het getoon dat vertalers ’n beter, meer gebalanseerde vertaling lewer wanneer hulle as ’n span saamwerk eerder as afsonderlik. (Vergelyk Spreuke 11:14.) Elke lid van die span het gewoonlik reeds ervaring as ’n vertaler van die Genootskap se publikasies. Die span word dan deeglik opgelei in die basiese beginsels van Bybelvertaling en in die gebruik van die rekenaarprogramme wat spesiaal daarvoor ontwerp is.

Die vertaalspan het die opdrag om ’n Bybel te lewer wat (1) akkuraat is, (2) konsekwent is, (3) so letterlik is as wat die taal toelaat en (4) nogtans maklik deur die gewone mense verstaan kan word. Hoe word dit gedoen? Neem byvoorbeeld die Bybel wat onlangs vrygestel is. Die vertaalspan het begin deur Afrikaanse ekwivalente te kies vir al die belangrike Bybelterme wat in die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling gebruik word. Die rekenaar is geprogrammeer om verwante en sinonieme Bybelwoorde te toon. Dit het ook die oorspronklike Griekse of Hebreeuse woorde getoon waaruit die Engelse woorde vertaal is sodat die vertaler kon sien hoe daardie Griekse of Hebreeuse woorde in ander gevalle vertaal is. Dit alles het baie gehelp met die keuse van ekwivalente Afrikaanse uitdrukkings. Nadat die span oor hierdie woorde ooreengekom het, het hulle die Bybel begin vertaal, terwyl hulle die rekenaar gebruik het om die Afrikaanse ekwivalente by elke vers te toon.

Vertaling behels egter baie meer as om bloot een groep woorde met ’n ander te vervang. Dit het baie werk geverg om seker te maak dat die Afrikaanse uitdrukkings wat gekies is, die korrekte skriftuurlike gedagte in elke konteks oordra. Hulle moes ook seker maak dat die grammatika en sinskonstruksie natuurlik is en dat dit lekker lees. Julle kan julle indink hoeveel harde werk hierdie projek geverg het. Die Afrikaanse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling gee God se Woord weer op ’n manier wat maklik leesbaar, duidelik en verstaanbaar asook getrou aan die antieke teks is.

Ons spoor julle aan om self die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif te ondersoek. Dit kan by die uitgewers van hierdie tydskrif of by die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies verkry word. Julle kan dit lees in die vertroue dat dit die woorde van God getrou in julle taal weergee. Julle sal ongetwyfeld weldra saamstem dat die onlangse vrystelling daarvan waarlik ’n geestelike mylpaal was!

[Voetnoot]

a The New Testament in the Original Greek, deur Westcott en Hort, is as die Griekse grondteks gebruik. R. Kittel se Biblia Hebraica is as die grondteks vir die Hebreeuse Geskrifte gebruik.

[Venster/Prente op bladsy 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Kenmerke van die Nuwe Wêreld-vertaling

Duidelike en leesbare druk

Verse is in paragrawe gegroepeer: Eerder as om elke vers ’n afsonderlike paragraaf te maak, is verse in paragrawe gegroepeer. Dit help die leser om die ontwikkeling van die Bybelskrywers se gedagtes te volg.

Lopende opskrifte: Dit is boaan die meeste bladsye en help om Bybelverslae gou te vind.

Kruisverwysings: Elke bladsy bevat verwysings wat jou na verwante Bybeltekste neem.

Konkordansie: ’n Gedeelte agter in die boek het die titel “Indeks van Bybelwoorde”. Gekose woorde en waar hulle in die Bybel voorkom, word aangegee, gewoonlik met ’n kort aanhaling wat die konteks toon.

Aanhangsel: ’n Reeks kort artikels oor basiese Bybelleerstellings en verwante sake.