Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Stad op ’n berg

’n Stad op ’n berg

’n Stad op ’n berg

“JULLE is die lig van die wêreld. ’n Stad kan nie weggesteek word wanneer dit op ’n berg geleë is nie”, het Jesus vir sy dissipels in sy beroemde Bergpredikasie gesê.—Matteus 5:14.

Talle Judese en Galilese dorpe was eerder op ’n berg as onder in ’n vallei geleë. Die hoofrede waarom daar bo-op heuwels gebou is, was ter wille van veiligheid. Israelitiese nedersettings is nie net deur invallende leërs geplunder nie, maar ook deur rowerbendes (2 Konings 5:2; 24:2). Onverskrokke inwoners kon ’n groepie huise bo-op ’n berg wat dig opmekaar gebou is, baie makliker verdedig as ’n dorp onder in ’n vallei, wat ’n groter muur nodig gehad het vir beskerming.

Aangesien die mure van Joodse huise dikwels met kalk gepleister is, kon ’n klompie van hierdie gewitte huise op ’n heuwel maklik kilometers ver gesien word (Handelinge 23:3). In die helder Palestynse sonlig het hierdie heuweldorpe soos ’n ligbaken geskitter, net soos soortgelyke Mediterreense dorpe in ons dag.

Jesus het hierdie treffende kenmerk van die Galilese en Judese platteland gebruik om sy volgelinge die rol van ’n ware Christen te leer. “Laat julle lig net so voor die mense skyn”, het hy vir hulle gesê, “sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:16). Hoewel Christene nie goeie werke verrig om deur mense vereer te word nie, bly hulle goeie gedrag nie ongemerk nie.—Matteus 6:1.

Sulke goeie gedrag is veral opvallend gedurende die streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies. ’n Koerant in Spanje het verslag gedoen oor ’n onlangse streekbyeenkoms en gesê: “Terwyl belangstelling in godsdienstige temas aan die afneem is in ander gelowe, is dit nie die geval met Jehovah se Getuies nie. Aangesien hulle nie wil hê dat die Bybel van geen nut moet wees nie, pas hulle die Woord van God toe.”

Thomas, die opsigter van ’n stadion in die noordweste van Spanje wat gereeld deur die Getuies gebruik is, het dit geniet om tussen mense te wees wat die Woord van God toepas. Hy het sy aftrede ’n paar weke uitgestel sodat hy teenwoordig kon wees by ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies. Toe talle byeenkomsgangers, onder andere jongmense, hom na afloop van die byeenkoms genader het om dankie te sê vir sy samewerking deur die jare en hom ’n gelukkige aftrede toe te wens, het sy oë vol trane geskiet. “Om julle mense te leer ken, was een van die beste ondervindinge in my lewe”, het hy gesê.

’n Stad op ’n berg trek ’n mens se aandag omdat dit teen die horison afsteek en omdat enige wit huise daarin die lig van die son weerkaats. Net so staan ware Christene uit as anders omdat hulle verhewe skriftuurlike standaarde van eerlikheid, sedelikheid en medelye probeer volg.

Daarbenewens weerkaats Christene die lig van waarheid deur middel van hulle predikingswerk. Die apostel Paulus het van die eerste-eeuse Christene gesê: “Aangesien ons hierdie bediening het ooreenkomstig die barmhartigheid wat aan ons bewys is, gee ons nie moed op nie . . . , maar deur die waarheid openbaar te maak, beveel ons ons by elke menslike gewete voor die aangesig van God aan” (2 Korintiërs 4:1, 2). Hoewel hulle oral waar hulle gepreek het, teenkanting ondervind het, het Jehovah hulle bediening in so ’n mate geseën dat Paulus teen omstreeks die jaar 60 G.J. kon skryf dat die goeie nuus verkondig word “in die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kolossense 1:23.

Vandag neem Jehovah se Getuies ook hulle verantwoordelikheid ernstig op om ‘hulle lig voor die mense te laat skyn’, soos Jesus beveel het. Jehovah se Getuies versprei die goeie nuus van die Koninkryk mondelings en deur gedrukte materiaal in 235 lande regoor die wêreld. Hulle het hulle Bybelpublikasies in ongeveer 370 tale beskikbaar gestel, sodat die lig van Bybelwaarheid soveel mense as moontlik kan bereik.—Matteus 24:14; Openbaring 14:6, 7.

Op baie plekke het die Getuies die uitdaging aanvaar om die tale te leer van mense wat uit lande geëmigreer het waar die predikingswerk tans beperk is of voorheen beperk was. In heelwat van die groter stede in Noord-Amerika het mense byvoorbeeld uit China en Rusland ingestroom. Plaaslike Getuies het hulle daarop toegelê om Chinees, Russies en ander tale te leer sodat hulle die goeie nuus aan die nuwelinge kon verkondig. Trouens, daar word in ’n hele paar tale snelkursusse aangebied sodat die goeie nuus aan nog ander verkondig kan word terwyl die land “wit is vir die oes”.—Johannes 4:35.

Die profeet Jesaja het voorspel: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en al die nasies sal daarheen stroom.” Deur hulle gedrag en deur hulle bediening help Jehovah se Getuies mense in alle wêrelddele om na “die berg van die huis van Jehovah” te kom om in God se weë onderrig te word en om te leer om in God se paaie te wandel (Jesaja 2:2, 3). Die vreugdevolle resultaat, soos Jesus gewys het, is dat hulle saam ‘heerlikheid gee aan hulle hemelse Vader’, Jehovah God.—Matteus 5:16; 1 Petrus 2:12.