Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat beteken die kommentaar in Hebreërs 12:4: “Julle [het] nog nooit tot bloedens toe weerstand gebied nie”?

Die frase “tot bloedens toe weerstand gebied” impliseer om tot die dood toe te volhard, om letterlik jou lewensbloed uit te stort.

Die apostel Paulus het geweet dat sommige Hebreeuse Christene vanweë hulle geloof reeds “onder baie lyding ’n groot stryd verduur het” (Hebreërs 10:32, 33). Toe Paulus hierop gewys het, het hy blykbaar die inspanning wat nodig sou wees in ’n Griekse atletiekwedstryd, wat items soos wedlope, stoei, boks asook diskus- en spiesgooi kon insluit, as ’n metafoor gebruik. In ooreenstemming hiermee het hy mede-Christene in Hebreërs 12:1 aangespoor: “Laat ons ook elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop.”

Drie verse later, in Hebreërs 12:4, het Paulus moontlik van die beeld van ’n wedloop na dié van ’n bokswedstryd verskuif. (Albei word in 1 Korintiërs 9:26 gemeld.) Eertydse boksers se vuiste en gewrigte is met leerrieme verbind. Die rieme is dalk selfs swaarder gemaak “met lood-, yster- of metaalinsetsels, wat die boksers ernstig kon beseer”. Sulke wrede wedstryde het bloeding, soms selfs die dood, tot gevolg gehad.

Die Hebreeuse Christene het egter genoegsame voorbeelde van getroue knegte van God gehad wat vervolging en wrede mishandeling selfs tot die dood toe, “tot bloedens toe”, moes verduur. Let op die konteks waarin Paulus die aandag gevestig het op wat eertydse getroues ondervind het:

“Hulle is gestenig, hulle is beproef, hulle is in stukke gesaag, hulle het gesterf deur slagting met die swaard, hulle het rondgeloop in skaapvelle, in bokvelle, terwyl hulle gebrek gely het, in verdrukking verkeer het, sleg behandel is.” Daarna het Paulus die aandag gevestig op die Vervolmaker van ons geloof, Jesus: “Hy [het] ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en . . . hy [het] aan die regterhand van die troon van God gaan sit.”—Hebreërs 11:37; 12:2.

Ja, baie het “tot bloedens toe weerstand gebied”, dit wil sê tot die dood toe. In hulle geval was dit nie net ’n innerlike stryd teen die sonde van gebrek aan geloof nie. Hulle was lojaal ondanks wrede fisiese mishandeling en het tot die dood toe getrou gebly.

Nuwelinge in die gemeente in Jerusalem, wat dalk Christene geword het nadat die bittere vervolging van die verlede bedaar het, het nog nie voor sulke uiterste toetse te staan gekom nie (Handelinge 7:54-60; 12:1, 2; Hebreërs 13:7). Tog het selfs beproewinge wat nie so erg was nie, party van hulle ontmoedig om die stryd voort te sit; hulle het ‘moeg geword en in hulle siel beswyk’ (Hebreërs 12:3). Hulle moes tot volwassenheid voortbeur. Dit sou hulle versterk in hulle vermoë om enigiets te verduur wat dalk voorgelê het, selfs as dit fisiese mishandeling ingesluit het wat daartoe kon lei dat hulle hulle lewensbloed uitstort.—Hebreërs 6:1; 12:7-11.

Baie Christene van vandag het “tot bloedens toe weerstand gebied” en is tereggestel omdat hulle nie hulle Christelikheid wou prysgee nie. Paulus se woorde in Hebreërs 12:4 moenie ’n rede tot angs wees nie, maar moet eerder beskou word as ’n aanduiding van die uiterstes waartoe ons vasbeslote is om te gaan sodat ons aan God lojaal kan bly. Later het Paulus in dieselfde brief aan die Hebreërs geskryf: “Laat ons . . . voortgaan om onverdiende goedhartigheid te geniet, waardeur ons op aanneemlike wyse heilige diens aan God kan verrig met godvrugtige vrees en ontsag.”—Hebreërs 12:28.