’n Skoon gewete—Teen watter koste?
’n Skoon gewete—Teen watter koste?
“REGERING beveel om R$20 000 te ontvang.” Hierdie vreemde opskrif het onlangs in die Brasiliaanse koerant Correio do Povo verskyn. Die berig het die verhaal vertel van Luiz Alvo de Araújo, ’n plaaslike posman, wat ’n stuk grond aan die staat verkoop het. Ná die oordrag van sy eiendom was Luiz verbaas toe hy agterkom dat hy R$20 000 (ongeveer R79 000) meer as die ooreengekome prys betaal is!
Om die ekstra bedrag terug te gee, was makliker gesê as gedaan. Ná verskeie vrugtelose besoeke aan staatsdepartemente is Luiz aangeraai om ’n regsgeleerde se hulp in te roep en die saak in die hof te laat beslis. “Blykbaar het iemand ’n fout gemaak, en weens amptelike rompslomp het niemand geweet hoe om die probleem uit te stryk nie”, het die regter gesê wat die regering gevonnis het om die geld te ontvang en die regskoste te betaal. “Ek het nog nooit so ’n saak teëgekom nie.”
Luiz, een van Jehovah se Getuies, verduidelik: “My Bybelopgeleide gewete het my nie toegelaat om te hou wat nie regtens myne is nie. Ek moes die geld probeer teruggee.”
Vir baie sal so ’n gesindheid vreemd of selfs onverstaanbaar wees. Maar God se Woord toon dat ware Christene groot waarde daaraan heg om ’n skoon gewete te behou in hulle handelinge met sekulêre owerhede (Romeine 13:5). Jehovah se Getuies is vasbeslote om ’n “eerlike gewete” te behou en om hulle ‘in alles eerlik te gedra’.—Hebreërs 13:18.