Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goddelike lig verdryf duisternis!

Goddelike lig verdryf duisternis!

Goddelike lig verdryf duisternis!

“Jehovah verlig my duisternis.”—2 SAMUEL 22:29.

1. Hoe hou lig verband met lewe?

 “TOE het God gesê: ‘Laat daar lig wees.’ Toe was daar lig” (Genesis 1:3). Met daardie betekenisvolle woorde identifiseer die skeppingsverslag in Genesis Jehovah as die bron van lig, waarsonder lewe op die aarde onmoontlik sou gewees het. Jehovah is ook die bron van geestelike lig, wat ons noodsaaklike leiding op die lewenspad gee (Psalm 43:3). Koning Dawid het die noue verband tussen geestelike lig en lewe getoon toe hy geskryf het: “By u is die bron van die lewe; deur lig van u kan ons lig sien.”—Psalm 36:9.

2. Waaraan is lig nou verbonde, soos Paulus getoon het?

2 Ongeveer 1 000 jaar ná Dawid se tyd het die apostel Paulus na die skeppingsverslag verwys. Hy het aan die Christengemeente in Korinte geskryf en gesê: “Dit is God wat gesê het: ‘Laat die lig uit die duisternis skyn.’” Paulus het daarna getoon dat geestelike lig nou verbonde is aan kennis van Jehovah toe hy bygevoeg het: “Hy het op ons harte geskyn om hulle met die glorieryke kennis van God deur die aangesig van Christus te verlig” (2 Korintiërs 4:6). Hoe bereik hierdie lig ons?

Die Bybel straal lig uit

3. Watter lig voorsien Jehovah deur die Bybel?

3 Jehovah verskaf geestelike lig hoofsaaklik deur sy geïnspireerde Woord, die Bybel. Wanneer ons dus die Bybel bestudeer en kennis van God inneem, laat ons toe dat sy lig op ons skyn. Deur die Bybel werp Jehovah lig op sy voornemens en vertel hy ons hoe ons sy wil kan doen. Dit maak ons lewe sinvol en help ons om ons geestelike behoeftes te bevredig (Prediker 12:1; Matteus 5:3). Jesus het beklemtoon dat ons in ons geestelike behoeftes moet voorsien toe hy die Mosaïese Wet aangehaal en gesê het: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom.’”—Matteus 4:4; Deuteronomium 8:3.

4. In watter opsig is Jesus “die lig van die wêreld”?

4 Jesus word ten nouste met geestelike lig verbind. Trouens, hy het homself “die lig van die wêreld” genoem en gesê: “Hy wat my volg, sal hoegenaamd nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe besit” (Johannes 8:12). Hierdie uitdrukking help ons om te verstaan watter noodsaaklike rol Jesus in die bekendmaking van Jehovah se waarheid aan die mensdom speel. As ons die duisternis wil vermy en in God se lig wil wandel, moet ons luister na alles wat Jesus sê en sy voorbeeld en leringe, soos opgeteken in die Bybel, noukeurig volg.

5. Watter verantwoordelikheid het Jesus se volgelinge ná sy dood gehad?

5 ’n Paar dae voor sy dood het Jesus weer eens na homself as lig verwys en vir sy dissipels gesê: “Die lig sal nog ’n klein rukkie onder julle wees. Wandel terwyl julle die lig het, sodat duisternis julle nie oorweldig nie; en hy wat in die duisternis wandel, weet nie waarheen hy gaan nie. Terwyl julle die lig het, moet julle geloof in die lig beoefen, sodat julle kinders van die lig kan word” (Johannes 12:35, 36). Diegene wat kinders van die lig geword het, het die Bybel se “patroon van gesonde woorde” geleer (2 Timoteus 1:13, 14). Daarna het hulle hierdie gesonde woorde gebruik om ander opregtes van hart uit die duisternis na God se lig te trek.

6. Watter fundamentele waarheid omtrent lig en duisternis vind ons in 1 Johannes 1:5?

6 Die apostel Johannes het geskryf: ‘God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in eenheid met hom nie’ (1 Johannes 1:5). Let op die teenstelling hier tussen lig en duisternis. Geestelike lig kom van Jehovah, en geestelike duisternis kan nie met hom verbind word nie. Wie is dan die bron van die duisternis?

Geestelike duisternis—die bron

7. Wie is verantwoordelik vir die wêreld se geestelike duisternis, en watter invloed het hy?

7 Die apostel Paulus het gepraat van “die god van hierdie stelsel van dinge”. Met hierdie uitdrukking het hy na Satan die Duiwel verwys. Hy het verder gesê dat Satan “die verstande van die ongelowiges verblind het, sodat die verligting van die glorieryke goeie nuus oor die Christus, wat die beeld van God is, nie sou deurskyn nie” (2 Korintiërs 4:4). Baie beweer dat hulle aan God glo; maar al hoe meer van hulle glo nie aan ’n Duiwel nie. Waarom nie? Hulle wil nie aanvaar dat ’n bose, bomenslike mag enigsins kan bestaan en hulle denke kan beïnvloed nie. Maar soos Paulus toon, bestaan die Duiwel wel, en hy beïnvloed beslis mense sodat hulle nie die lig van die waarheid kan sien nie. Satan se vermoë om mense se denke te beïnvloed, kan gesien word in die profetiese beskrywing van hom as “die een . . . wat die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). As gevolg van Satan se bedrywighede is die toestand wat deur die profeet Jesaja voorspel is, nou op die hele mensdom van toepassing met die uitsondering van dié wat Jehovah dien: “Kyk! duisternis sal die aarde oordek, en dik donkerheid die volksgroepe.”—Jesaja 60:2.

8. Hoe toon diegene wat in geestelike duisternis verkeer, dat hulle gedisoriënteerd is?

8 In digte duisternis is dit onmoontlik om enigiets te sien. Dit is maklik om te verdwaal of gedisoriënteerd te raak. Net so ook het dié wat in geestelike duisternis verkeer, geen insig nie, en hulle raak gou in geestelike sin gedisoriënteerd. Hulle kan die vermoë verloor om te onderskei tussen waarheid en leuens, tussen goed en kwaad. Die profeet Jesaja het van mense in sulke duisternis gepraat toe hy geskryf het: “Wee dié wat sê dat goed sleg is en sleg goed, dié wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, dié wat bitter soet maak en soet bitter!” (Jesaja 5:20). Diegene wat in geestelike duisternis lewe, word deur die god van die duisternis, Satan die Duiwel, beïnvloed, en hulle is gevolglik vervreemd van die bron van lig en lewe.—Efesiërs 4:17-19.

Van duisternis na lig—die uitdaging

9. Verduidelik hoe kwaaddoeners deur die duisternis aangetrek word, in letterlike sowel as geestelike sin.

9 Die getroue man Job het daarop gewys dat kwaaddoeners deur letterlike duisternis aangetrek word, toe hy gesê het: “Wat die oog van die egbreker betref, dit het na die aandskemering uitgesien en gesê: ‘Geen oog sal my aanskou nie!’ En oor sy gesig sit hy ’n bedekking” (Job 24:15). Kwaaddoeners verkeer ook in geestelike duisternis, en hierdie duisternis kan oorweldigend wees. Die apostel Paulus het gesê dat geslagsonsedelikheid, diefstal, gierigheid, dronkenskap, kwaadsprekery en afpersing algemeen is onder diegene wat in dié duisternis vasgevang is. Maar enigeen wat na die lig van God se Woord kom, kan verander. Dat so ’n verandering moontlik is, toon Paulus duidelik in sy brief aan die Korintiërs. Baie Christene in Korinte het vroeër werke van die duisternis beoefen, en tog het Paulus vir hulle gesê: “Maar julle is skoon gewas, maar julle is geheilig, maar julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God.”—1 Korintiërs 6:9-11.

10, 11. (a) Hoe het Jesus bedagsaamheid getoon teenoor ’n man wie se gesigsvermoë hy herstel het? (b) Waarom kies baie nie die lig nie?

10 Wanneer iemand uit digte duisternis in die lig kom, neem dit sy oë waarskynlik ’n rukkie om aan te pas. By Betsaida het Jesus ’n blinde man genees, maar hy het dit liefdevol stap vir stap gedoen. “Hy het die blinde man by die hand geneem, hom tot buite die dorpie gebring en, nadat hy op sy oë gespoeg het, hom die hande opgelê en hom begin vra: ‘Sien jy iets?’ En die man het opgekyk en begin sê: ‘Ek sien mense, want ek bemerk iets wat soos bome lyk, maar hulle loop rond.’ Daarna het hy weer sy hande op die man se oë gelê, en die man het goed gesien, en hy is herstel en het alles helder gesien” (Markus 8:23-25). Jesus het blykbaar die man se gesigsvermoë geleidelik herstel sodat hy aan die helder sonlig gewoond kon raak. Ons kan ons die blydskap van daardie man voorstel toe hy kon sien.

11 Maar die blydskap van diegene wat gehelp word om stap vir stap uit geestelike duisternis in die lig van waarheid te kom, is selfs groter as die vreugde van daardie man. Wanneer ons hulle blydskap sien, wonder ons dalk waarom meer mense nie na die lig aangetrek word nie. Jesus gee die rede: “Dít is die grondslag vir die oordeel, dat die lig in die wêreld ingekom het maar die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad het, want hulle werke was goddeloos. Want hy wat veragtelike dinge beoefen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy werke nie tereggewys sal word nie” (Johannes 3:19, 20). Ja, baie hou daarvan om “veragtelike dinge” te beoefen—soos onsedelikheid, onderdrukking, leuens, bedrog en diefstal—en Satan se geestelike duisternis skep vir hulle ’n volmaakte milieu om te doen wat hulle wil.

Maak vooruitgang in die lig

12. In watter opsigte het ons daarby baat gevind deurdat ons na die lig gekom het?

12 Watter veranderinge sien ons in onsself sedert ons tot ’n kennis van die lig gekom het? Dit is soms goed om terug te kyk en te sien watter geestelike vooruitgang ons gemaak het. Watter slegte gewoontes het ons afgelê? Watter probleme in ons lewe kon ons regstel? Hoe het ons toekomsplanne verander? In Jehovah se krag en met die hulp van sy heilige gees kan ons voortgaan om veranderinge in ons persoonlikheid en denkpatroon aan te bring wat sal toon dat ons positief op die lig reageer (Efesiërs 4:23, 24). Paulus stel dit só: “Julle was eens duisternis, maar julle is nou lig in verband met die Here. Gaan voort om as kinders van die lig te wandel, want die vrug van die lig bestaan uit elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid” (Efesiërs 5:8, 9). As ons ons deur Jehovah se lig laat lei, gee dit ons ’n hoop en ’n doel, en dit maak ook die lewe van die mense om ons aangenamer. En hoe bly maak dit Jehovah se hart tog wanneer ons hierdie veranderinge aanbring!—Spreuke 27:11.

13. Hoe kan ons ons dankbaarheid vir Jehovah se lig toon, en wat is nodig om dit te doen?

13 Ons toon ons dankbaarheid vir die gelukkiger lewe wat ons geniet deur Jehovah se lig uit te straal—om ons familielede, vriende en bure te vertel van die dinge wat ons uit die Bybel geleer het (Matteus 5:12-16; 24:14). Vir diegene wat weier om te luister, is ons predikingswerk tesame met ons voorbeeldige Christelike lewenswyse ’n teregwysing. Paulus verduidelik: “Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is; en hou op om saam met hulle deel te hê aan die onvrugbare werke wat tot die duisternis behoort, maar wys hulle eerder tereg” (Efesiërs 5:10, 11). Dit verg moed om ander te help om die duisternis te verlaat en die lig te kies. Nog belangriker, dit verg medelye vir ander en besorgdheid oor hulle sowel as ’n hartgrondige begeerte om die lig van die waarheid aan hulle te bring tot hulle ewige voordeel.—Matteus 28:19, 20.

Pas op vir misleidende ligte!

14. Op watter waarskuwing moet ons ag slaan wat lig betref?

14 Vir diegene wat gedurende die donker ure van die nag op see is, is enige lig ’n welkome gesig. In die verlede is vure op die kranse van Engeland aangesteek om aan te dui waar ’n toevlug teen storms gevind kon word. Skeepsbemannings was dankbaar om deur hierdie ligte na veilige hawens gelei te word. Party vure was egter misleidende ligte. In plaas van ’n hawe te vind, is talle skepe mislei en het hulle op die rotsagtige kus gestrand, waar hulle vrag geroof is. In hierdie bedrieglike wêreld moet ons versigtig wees om nie getrek te word deur misleidende ligte wat ons geestelik kan laat skipbreuk ly nie. “Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander”, word daar vir ons gesê. Sy knegte, waaronder afvalliges, is eweneens “bedrieglike werkers” wat “ook aanhou om hulle in bedienaars van regverdigheid te verander”. As ons na die valse redenasies van sulke persone luister, kan ons vertroue in Jehovah se Woord van waarheid, die Bybel, ondermyn word en kan ons geloof uiteindelik tot niet gaan.—2 Korintiërs 11:13-15; 1 Timoteus 1:19.

15. Wat sal ons help om op die pad te bly wat na die lewe lei?

15 Die psalmis het geskryf: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Ja, die ‘smal pad wat na die lewe lei’, word helder verlig deur ons liefdevolle God, Jehovah, “wie se wil dit is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (Matteus 7:14; 1 Timoteus 2:4). As ons Bybelwette toepas, sal dit ons beskerm sodat ons nie van die smal pad afdwaal na die weë van die duisternis nie. Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:16). Namate ons geestelik groei, word ons deur God se Woord geleer. In die lig van God se Woord kan ons onsself teregwys of, indien nodig, deur liefdevolle herders in die gemeente tereggewys word. Ons kan ook dinge regstel en dissipline in regverdigheid nederig aanvaar om ons voete op die pad na die lewe te hou.

Wandel met waardering in die lig

16. Hoe kan ons waardering toon vir Jehovah se wonderlike voorsiening van lig?

16 Hoe kan ons waardering toon vir Jehovah se wonderlike voorsiening van lig? Johannes hoofstuk 9 vertel ons dat ’n man wat blind gebore is en deur Jesus genees is, beweeg is om sy waardering te toon. Hoe? Hy het geloof in Jesus as die Seun van God gestel en hom in die openbaar as “’n profeet” geïdentifiseer. Daarbenewens het hy hom moedig uitgespreek teen diegene wat nie Jesus se wonderwerk wou erken nie (Johannes 9:17, 30-34). Die apostel Petrus noem gesalfde lede van die Christengemeente “’n volk vir spesiale besit”. Waarom? Omdat hulle dieselfde waarderende gesindheid het as die blindgebore man wat genees is. Hulle toon waardering vir Jehovah, hulle Weldoener, deur ‘die voortreflikhede alom bekend te maak van die een wat hulle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het’ (1 Petrus 2:9; Kolossense 1:13). Dié met ’n aardse hoop het dieselfde dankbare gesindheid, en hulle ondersteun hulle gesalfde broers in die openbare bekendmaking van Jehovah se “voortreflikhede”. Wat ’n onskatbare voorreg gee God tog aan onvolmaakte mense!

17, 18. (a) Watter verantwoordelikheid het elke individu? (b) Wat word elke Christen aangespoor om te vermy, in navolging van Timoteus?

17 Hartgrondige waardering vir die lig van die waarheid is noodsaaklik. Onthou dat nie een van ons die waarheid by geboorte ken nie. Party leer dit as volwassenes, en hulle sien gou dat die lig ver verhewe bo die duisternis is. Ander het die groot voorreg om deur godvresende ouers grootgemaak te word. Vir hulle is dit dalk maklik om die lig as vanselfsprekend te beskou. ’n Getuie wie se ouers Jehovah gedien het nog voordat sy gebore is, erken dat dit haar lank geneem het en groot inspanning geverg het om te begryp presies hoe betekenisvol en belangrik die waarhede is wat sy van kleins af geleer is (2 Timoteus 3:15). Hetsy oud of jonk, elkeen van ons moet ’n diepe waardering opbou vir die waarheid wat Jehovah geopenbaar het.

18 Die jong man Timoteus is van kleintyd af “die heilige geskrifte” geleer, maar dit was slegs deur hom op sy bediening toe te lê dat hy ’n ryp Christen geword het (2 Timoteus 3:15). Hy was toe in ’n posisie om die apostel Paulus te help, wat hom aangespoor het: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.” Soos Timoteus moet nie een van ons enigiets doen waaroor ons ons hoef te skaam—of waaroor Jehovah hom vir ons hoef te skaam nie!—2 Timoteus 2:15.

19. (a) Wat het ons almal rede om te sê, soos Dawid? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Ons het alle rede om Jehovah te loof, wat ons die lig van sy waarheid gegee het. Soos koning Dawid sê ons: “U is my lamp, o Jehovah, en Jehovah verlig my duisternis” (2 Samuel 22:29). Maar ons durf nie oorgerus raak nie, aangesien dit kan veroorsaak dat ons weer in die duisternis beland waaruit ons bevry is. Die volgende artikel sal ons dus help om te bepaal hoe belangrik Goddelike waarheid in ons lewe is.

Wat het jy geleer?

• Hoe voorsien Jehovah geestelike verligting?

• Watter uitdaging bied die geestelike duisternis wat ons omring?

• Watter gevare moet ons vermy?

• Hoe kan ons ons waardering vir die lig van die waarheid toon?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 8]

Jehovah is die bron van fisiese en geestelike lig

[Prent op bladsy 10]

Net soos Jesus ’n blinde man geleidelik genees het, help hy ons om uit geestelike duisternis te kom

[Prent op bladsy 11]

As ’n mens deur Satan se misleidende ligte bedrieg word, het dit geestelike skipbreuk tot gevolg