Hoe kan jy die einde van hierdie wêreld oorleef?
Hoe kan jy die einde van hierdie wêreld oorleef?
DIE Bybel beskryf die einde van hierdie huidige stelsel van dinge as “’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en van angs, ’n dag van storms en van verwoesting, ’n dag van duisternis en van somberheid, ’n dag van wolke en van dik donkerheid” (Sefanja 1:15). Dit is beslis nie die soort dag waarna jy normaalweg sou uitsien nie! Nogtans het die apostel Petrus sy mede-Christene aangespoor om “die teenwoordigheid van die dag van Jehovah [te] verwag en goed in gedagte [te] hou, waardeur die hemele, wat aan die brand sal wees, tot niet gemaak sal word en die elemente, wat intens warm sal wees, sal smelt! Maar daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.”—2 Petrus 3:12, 13.
Petrus het nie hier gepraat van ’n vernietiging van die letterlike hemele en aarde nie. Die “hemele” en “aarde” waarna Petrus in hierdie konteks verwys, is sinnebeelde van die huidige verdorwe menseregerings en van die goddelose mensegemeenskap. “Die dag van Jehovah” sal nie die aarde self vernietig nie, maar sal “die land se sondaars daaruit . . . verdelg” (Jesaja 13:9). Vir diegene wat “sug en steun oor al die verfoeilike dinge” wat in vandag se goddelose mensegemeenskap gedoen word, sal die dag van Jehovah dus ’n dag van redding wees.—Esegiël 9:4.
Maar hoe kan enigiemand gered word tydens “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”? “Die woord van Jehovah” wat aan een van sy profete geopenbaar is, verskaf die antwoord op hierdie vraag: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom” (Joël 1:1; 2:31, 32). Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om te leer wat dit beteken om die naam van Jehovah aan te roep.