Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kosbaar is die waarheid vir jou?

Hoe kosbaar is die waarheid vir jou?

Hoe kosbaar is die waarheid vir jou?

“Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—JOHANNES 8:32.

1. Hoe het Pilatus se gebruik van die woord “waarheid” blykbaar verskil van Jesus se gebruik daarvan?

 “WAT is waarheid?” Toe Pilatus hierdie vraag gestel het, het hy blykbaar in waarheid oor die algemeen belanggestel. Jesus het egter net voor dit gesê: “Hiervoor is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37, 38). In teenstelling met Pilatus het Jesus die bepaalde lidwoord gebruik en gesê “die waarheid”. Hy het na Goddelike waarheid verwys.

Die wêreld se gesindheid ten opsigte van die waarheid

2. Watter stelling van Jesus toon hoe waardevol waarheid is?

2 Paulus het gesê: “Geloof is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Dieselfde kan van die waarheid gesê word. Selfs wanneer hulle die geleentheid kry om die waarheid te leer wat op die Bybel gegrond is, verwerp baie mense dit. Maar hoe kosbaar is dit tog! Jesus het gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.

3. Op watter waarskuwing in verband met bedrieglike leringe moet ons ag slaan?

3 Die apostel Paulus het gesê dat die waarheid nie in mensefilosofieë en -oorleweringe gevind kan word nie (Kolossense 2:8). Sulke leringe is in werklikheid bedrieglik. Paulus het Christene in Efese gewaarsku dat hulle, as hulle geloof daarin sou stel, soos geestelike kindertjies sou wees “wat rondgeslinger word soos deur golwe . . . deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense, deur middel van listigheid in die versinning van dwaling” (Efesiërs 4:14). Vandag word “bedrieëry van mense” bevorder deur die propaganda van mense wat Goddelike waarheid teëstaan. “Propaganda” word deur The New Encyclopædia Britannica gedefinieer as “die stelselmatige poging om ander mense se opvattings, gesindhede of gedrag te manipuleer”. Sulke propaganda verdraai die waarheid op listige wyse en bied leuens aan as die waarheid. Om die waarheid ten spyte van sulke slinkse druk te vind, moet ons die Skrif ywerig ondersoek.

Christene en die wêreld

4. Aan wie word die waarheid beskikbaar gestel, en watter verpligting het diegene wat dit ontvang?

4 Met verwysing na dié wat sy dissipels geword het, het Jesus Christus tot Jehovah gebid: “Heilig hulle deur middel van die waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). Hierdie persone sou geheilig, of afgesonder, word om Jehovah te dien en sy naam en Koninkryk bekend te maak (Matteus 6:9, 10; 24:14). Hoewel Jehovah se waarheid nie iets is wat alle mense besit nie, is dit as ’n vrye gawe beskikbaar aan almal wat daarna soek, ongeag wat hulle nasionaliteit, ras of kulturele agtergrond is. Die apostel Petrus het gesê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.”—Handelinge 10:34, 35.

5. Waarom word Christene dikwels vervolg?

5 Christene verkondig Bybelwaarheid aan ander, maar hulle word nie oral verwelkom nie. Jesus het gewaarsku: “Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matteus 24:9). Die Ierse geestelike John R. Cotter het in 1817 oor hierdie vers kommentaar gelewer en geskryf: “Hulle [Christene se] pogings om mense se lewens deur middel van hulle predikingswerk te hervorm, sal mense alles behalwe dankbaar laat voel, maar in werklikheid maak dat hulle die dissipels haat en vervolg omdat hulle verdorwe dade geopenbaar word.” Sulke vervolgers ‘neem nie die liefde vir die waarheid aan sodat hulle gered kan word nie’. Dit is waarom “God ’n werking van dwaling na hulle laat gaan, dat hulle die leuen sal glo, sodat hulle almal geoordeel kan word omdat hulle nie die waarheid geglo het nie, maar behae geskep het in onregverdigheid”.—2 Tessalonisense 2:10-12.

6. Watter begeertes moet ’n Christen nie ontwikkel nie?

6 Die apostel Johannes vermaan Christene wat in hierdie vyandige wêreld lewe: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. . . . Alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld” (1 Johannes 2:15, 16). Deur die woord “alles” te gebruik, sluit Johannes niks uit nie. Daarom durf ons nie ’n begeerte ontwikkel na enigiets wat hierdie wêreld aanbied wat ons van die waarheid af kan weglei nie. As ons Johannes se raad toepas, sal dit ’n kragtige uitwerking op ons lewe hê. Hoe?

7. Hoe motiveer kennis van die waarheid regskapenes?

7 Gedurende die jaar 2001 het Jehovah se Getuies regoor die wêreld elke maand meer as vier en ’n half miljoen tuisbybelstudies gehou en individue sowel as groepe in God se vereistes vir lewe onderrig. Gevolglik is 263 431 persone gedoop. Die lig van die waarheid het vir hierdie nuwe dissipels kosbaar geword, en hulle het die slegte omgang en onsedelike, godonterende weë verwerp wat so algemeen in hierdie wêreld is. Nadat hulle gedoop is, het hulle voortgegaan om volgens die standaarde te lewe wat Jehovah vir alle Christene stel (Efesiërs 5:5). Is die waarheid só kosbaar vir jou?

Jehovah sorg vir ons

8. Hoe reageer Jehovah op ons toewyding, en waarom is dit verstandig om ‘eers die koninkryk te soek’?

8 Ten spyte van ons tekortkominge aanvaar Jehovah genadig ons toewyding en buig hy as ’t ware af om ons na hom te trek. Hy leer ons sodoende om ons doelwitte en begeertes tot ’n hoër vlak te verhef (Psalm 113:6-8). Terselfdertyd laat Jehovah ons toe om ’n persoonlike verhouding met hom te hê, en hy beloof om vir ons te sorg as ons ‘aanhou om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek’. As ons dit doen en ons geestelikheid bewaar, beloof hy: “Al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:33.

9. Wie is “die getroue en verstandige slaaf”, en hoe sorg Jehovah vir ons deur middel van hierdie “slaaf”?

9 Jesus Christus het sy 12 apostels gekies en die fondament gelê vir die gemeente van gesalfde Christene wat “die Israel van God” genoem is (Galasiërs 6:16; Openbaring 21:9, 14). Dit is later beskryf as “die gemeente van die lewende God . . . , ’n pilaar en stut van die waarheid” (1 Timoteus 3:15). Jesus het lede van hierdie gemeente geïdentifiseer as “die getroue en verstandige slaaf” en as “die getroue bestuurder, die verstandige”. Hierdie getroue kneg, het Jesus gesê, sou die verantwoordelikheid hê om Christene ‘op die regte tyd hulle deel van die voedsel te gee’ (Matteus 24:3, 45-47; Lukas 12:42). Sonder kos sterf ons van honger. En as ons nie geestelike voedsel inneem nie, word ons eweneens swak en sterf ons geestelik. Die feit dat daardie “getroue en verstandige slaaf” bestaan, is dus nog ’n bewys dat Jehovah vir ons sorg. Laat ons altyd die kosbare geestelike voorsienings waardeer wat deur middel van hierdie “slaaf” vir ons gemaak word.—Matteus 5:3.

10. Waarom is dit vir ons noodsaaklik om vergaderinge gereeld by te woon?

10 Persoonlike studie is nodig om geestelike voedsel in te neem. Ons moet ook met ander Christene assosieer en gemeentelike vergaderinge bywoon. Kan jy nog presies onthou wat jy ses maande, of selfs ses weke, gelede geëet het? Moontlik nie. Nietemin het wat jy ook al geëet het, jou die nodige voeding gegee om aan die lewe te bly. En jy het waarskynlik soortgelyke kos sedertdien geëet. Dieselfde geld vir geestelike voedsel wat by ons Christelike vergaderinge voorsien word. Ons onthou dalk nie elke gedagte wat ons by die vergaderinge gehoor het nie. En soortgelyke inligting is moontlik al meer as een keer voorsien. Nietemin is dit geestelike voedsel, wat noodsaaklik is vir ons welsyn. Ons vergaderinge voorsien altyd goeie geestelike voeding, en op die regte tyd.

11. Watter verpligtinge het ons wanneer ons Christelike vergaderinge bywoon?

11 Die bywoning van Christelike vergaderinge plaas ook ’n verantwoordelikheid op ons. Christene word vermaan om ‘mekaar aan te moedig’ en medegelowiges in die gemeente “tot liefde en goeie werke” aan te spoor. As ons vir al die Christelike vergaderinge voorberei, dit bywoon en daaraan deelneem, versterk dit óns geloof en moedig dit ander aan (Hebreërs 10:23-25). Soos jong kinders wat uitsoekerig kan wees wat kos betref, moet party dalk gedurig aangemoedig word om geestelike voedsel in te neem (Efesiërs 4:13). Dit is liefdevol om sulke aanmoediging te gee wanneer dit nodig is sodat hierdie persone ryp Christene kan word, van wie die apostel Paulus geskryf het: “Vaste voedsel is vir volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.”—Hebreërs 5:14.

Ons moet na ons geestelikheid omsien

12. Wie se verantwoordelikheid is dit uiteindelik as ons in die waarheid wil bly? Verduidelik.

12 Ons huweliksmaat of ons ouers kan ons aanmoedig in die weg van die waarheid. Ook gemeentelike ouer manne kan ons help as lede van die kudde onder hulle herderlike sorg (Handelinge 20:28). Maar wie se verantwoordelikheid is dit uiteindelik as ons wil volhard in ons lewensweg wat op die waarheid gegrond is? Die verantwoordelikheid rus in werklikheid op elkeen van ons. En dit is waar onder normale omstandighede, asook in moeilike tye. Dink aan die volgende voorbeeld.

13, 14. Hoe kan ons die nodige geestelike hulp kry, soos toegelig deur wat met ’n lammetjie gebeur het?

13 In Skotland het ’n paar jong lammers in ’n veld gewei toe een van hulle na die kant van ’n heuwel afgedwaal, geval en op ’n rotslys laer af beland het. Hy het nie seergekry nie, maar was bang en kon nie weer boontoe klim nie. Hy het dus droewig begin blêr. Sy ma het hom gehoor en toe ook begin blêr totdat die herder gekom en die lammetjie gered het.

14 Let op die volgorde van gebeure. Die lammetjie het om hulp geroep, die skaapooi het saam begin roep en die herder, wat van die situasie bewus gemaak is, het vinnig opgetree om die lammetjie te red. As so ’n jong dier en sy ma van gevaar bewus kan wees en onmiddellik om hulp kan roep, moet ons dan nie dieselfde doen wanneer ons geestelik struikel of voor onverwagte gevare van Satan se wêreld te staan kom nie? (Jakobus 5:14, 15; 1 Petrus 5:8). Ons moet, veral as ons onervare is omdat ons jonk of betreklik nuut in die waarheid is.

Volg Goddelike leiding—Dit bring geluk

15. Hoe het een vrou gevoel toe sy met die Christengemeente begin assosieer het?

15 Dink net hoe waardevol dit is om die Bybel te verstaan en dink aan die gemoedsrus wat dit verskaf aan diegene wat die God van waarheid dien. ’n Sewentigjarige vrou wat haar hele lewe lank aan die Anglikaanse Kerk behoort het, het ingestem tot ’n Bybelstudie met een van Jehovah se Getuies. Sy het gou geleer dat God se naam Jehovah is en het saam “Amen” gesê aan die einde van die opregte openbare gebede wat by die plaaslike Koninkryksaal gedoen word. Sy het met diep gevoel gesê: “Julle beeld God nie uit as so ver verhewe bo ons as nietige sterflinge nie, maar julle bring hom as ’t ware tot reg in ons midde soos ’n geliefde vriend. Dit is iets wat ek nog nooit ervaar het nie.” Daardie dierbare belangstellende sal waarskynlik nooit die eerste indruk wat die waarheid op haar gemaak het, vergeet nie. Laat ons eweneens nooit vergeet hoe kosbaar die waarheid vir ons was toe ons dit aanvanklik aangeneem het nie.

16. (a) Wat kan gebeur as ons die verkryging van geld ons vernaamste strewe maak? (b) Hoe kan ons ware geluk vind?

16 Baie mense dink dat hulle gelukkiger sou wees as hulle meer geld het. Maar as ons die verkryging van geld ons vernaamste strewe in die lewe maak, kan ons “eindelose sielskwellinge” ervaar (1 Timoteus 6:10, Phillips). Dink aan hoe baie mense loterykaartjies koop, geld in casino’s bestee of roekeloos op die aandelemark spekuleer, in die hoop om ’n fortuin te maak. Bitter min sien die fortuin waarvan hulle droom. En selfs dié wat dit wel sien, vind dikwels dat hulle skielike rykdom nie vir hulle geluk bring nie. Blywende geluk word eerder verkry as ’n mens Jehovah se wil doen en saam met die Christengemeente werk onder die leiding van Jehovah se heilige gees en met die hulp van sy engele (Psalm 1:1-3; 84:4, 5; 89:15). Wanneer ons dit doen, kan ons onverwagte seëninge ontvang. Is die waarheid vir jou kosbaar genoeg om sulke seëninge in jou lewe te laat kom?

17. Wat het die feit dat Petrus by Simon, ’n leerlooier, tuisgegaan het omtrent die apostel se gesindheid geopenbaar?

17 Dink aan die ondervinding van die apostel Petrus. In die jaar 36 G.J. het hy ’n sendingreis na die vlakte van Saron onderneem. Hy het by Lidda aangedoen, waar hy die verlamde man Eneas genees het, en daarna het hy na die hawestad Joppe gegaan. Daar het hy Dorkas opgewek. Handelinge 9:43 sê vir ons: “Hy het ’n hele paar dae in Joppe gebly by ’n sekere Simon, ’n leerlooier.” Hierdie vlugtige verwysing openbaar Petrus se onbevooroordeelde gesindheid terwyl hy vir die mense in daardie stad getuig het. Hoe? Die Bybelgeleerde Frederic W. Farrar skryf: “Geen streng en stoere volgeling van die Mondelinge [Mosaïese] Wet sou hom laat oorhaal het om in die huis van ’n leerlooier te bly nie. Die daaglikse kontak met die velle en karkasse van verskillende diere wat ’n noodsaaklike gevolg van dié ambag is, en die materiale wat daarvoor gebruik word, het dit onrein en veragtelik vir alle onbuigsame, wettiese mense gemaak.” Al was Simon se “huis by die see” dalk nie langs sy leerlooiery nie, het hy ‘’n ambag beoefen wat met afkeer bejeën is en dus dikwels die selfrespek ondermyn het van almal wat dit beoefen het’, sê Farrar.—Handelinge 10:6.

18, 19. (a) Waarom was Petrus dronkgeslaan deur ’n visioen wat hy ontvang het? (b) Watter onverwagte seën het Petrus ontvang?

18 Die onbevooroordeelde Petrus het Simon se gasvryheid aanvaar, en daar het Petrus ’n onverwagte opdrag van God ontvang. Hy het ’n visioen gesien waarin hy beveel is om diere te eet wat volgens die Joodse wet onrein was. Petrus het beswaar gemaak en gesê dat hy “nog nooit iets geëet [het] wat verontreinig en onrein is nie”. Maar daar is drie keer vir hom gesê: “Hou op om die dinge wat God gereinig het, verontreinig te noem.” Dit is te verstane dat “Petrus by homself heel dronkgeslaan was oor wat die visioen wat hy gesien het, tog kon beteken”.—Handelinge 10:5-17; 11:7-10.

19 Petrus het nie geweet dat ’n nie-Jood met die naam Kornelius die vorige dag in Sesarea, 50 kilometer daarvandaan, ook ’n visioen gehad het nie. Jehovah se engel het Kornelius beveel om dienaars na Petrus by die huis van Simon die leerlooier te stuur. Kornelius het sy dienaars na Simon se huis gestuur, en Petrus het saam met hulle na Sesarea teruggegaan. Daar het hy vir Kornelius en sy familielede en vriende getuig. As gevolg daarvan het hulle die eerste onbesnede nie-Joodse gelowiges geword wat die heilige gees as Koninkrykserfgename ontvang het. Hoewel die mans onbesnede was, is almal wat Petrus se woorde gehoor het, gedoop. Dit het die weg geopen vir mense van die nasies, wat uit ’n Joodse standpunt onrein was, om lede van die Christengemeente te word (Handelinge 10:1-48; 11:18). Wat ’n uitsonderlike voorreg vir Petrus—en dit omdat die waarheid vir hom kosbaar was en hom beweeg het om Jehovah se opdragte uit te voer en in geloof op te tree!

20. Watter Goddelike hulp ontvang ons wanneer ons die waarheid eerste in ons lewe stel?

20 Paulus spoor ons aan: “Laat ons, terwyl ons die waarheid praat, deur liefde in alles opgroei in hom wat die hoof is, Christus” (Efesiërs 4:15). Ja, die waarheid sal ons nou onvergelyklike geluk bring as ons dit eerste in ons lewe stel en toelaat dat Jehovah deur middel van sy heilige gees ons voetstappe rig. Moet ook nie die ondersteuning van die heilige engele in ons evangelisasiewerk vergeet nie (Openbaring 14:6, 7; 22:6). Hoe bevoorreg is ons tog om sulke ondersteuning te hê in die werk wat Jehovah ons beveel het om te doen! As ons ons onkreukbaarheid handhaaf, sal dit daartoe lei dat ons Jehovah, die God van waarheid, tot in alle ewigheid loof. Kan enigiets kosbaarder as dit wees?—Johannes 17:3.

Wat het ons geleer?

• Waarom neem baie nie die waarheid aan nie?

• Hoe moet Christene die dinge van Satan se wêreld beskou?

• Wat moet ons gesindheid ten opsigte van vergaderinge wees, en waarom?

• Watter verantwoordelikheid het ons om na ons geestelikheid om te sien?

[Studievrae]

[Kaart/Prent op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

GROOT SEE

Sesarea

VLAKTE VAN SARON

Joppe

Lidda

Jerusalem

[Prent]

Petrus het ’n opdrag van God uitgevoer en onverwagte seëninge ontvang

[Erkenning]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 13]

Jesus het van die waarheid getuig

[Prent op bladsy 15]

Net soos fisiese voedsel is geestelike voedsel noodsaaklik vir ons welsyn