‘Ons liefde het inniger geword’
‘Ons liefde het inniger geword’
OP Vrydag, 31 Maart 2000, het die berg Oesoe op die eiland Hokkaido, Japan, uitgebars nadat dit 23 jaar lank rustend was. Duisende inwoners moes uit die gevaargebied vlug. Baie het hulle huis en werk verloor, maar gelukkig het nie een van hulle hulle lewe verloor nie. Onder die mense wat moes vlug, was 46 Getuies van Jehovah, maar hulle was nie sonder heenkome nie.
Op die dag van die uitbarsting is daar, met die hulp van ’n reisende Christenbedienaar wat in daardie gebied gedien het, reëlings getref vir noodleniging. Kort voor lank het noodlenigingsvoorrade van buurgemeentes af begin aankom. Onder die toesig van die takkantoor in Japan is ’n noodlenigingskomitee gou op die been gebring, en bydraes van Jehovah se Getuies regoor Japan het in die noodlenigingsfonds ingestroom. Om geestelike bedrywighede te ondersteun, is voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies na die gemeente gestuur wat die ergste geraak is, en die kringopsiener het die gebied herhaaldelik besoek om emosionele en geestelike hulp te verleen.
Die Getuies in die geteisterde gebied het gedurende daardie moeilike tyd voortgegaan om hulle Christelike vergaderinge te hê deur dit in huise in ’n veiliger gebied te hou. Toe die ontruimingsbevel opgehef is in die gebied waar die Koninkryksaal geleë was, het die broers teruggekeer en ’n gekraakte, beskadigde gebou gevind wat na een kant toe oorleun. Nie ver van die Koninkryksaal af nie het daar nog dik rook uit die nuut gevormde krater gekom. Die Getuies het gewonder: ‘Is dit verstandig om vergaderinge nog hier te hou? Kan die Koninkryksaal herstel word?’
Daar is besluit om ’n nuwe Koninkryksaal op ’n veiliger plek daar naby te bou. Die Streekboukomitee het die nodige hulp verleen. Geld wat deur Getuies van regoor die land bygedra is, is vir hierdie bouwerk gebruik. Grond is gou aangekoop, en danksy die hulp van honderde vrywilligers is ’n nuwe Koninkryksaal in ’n kort rukkie voltooi. Op Sondag, 23 Julie 2000, is die eerste vergadering wat in hierdie nuwe Koninkryksaal gehou is, deur 75 mense bygewoon. Baie in die gehoor het vreugdetrane gestort. Toe die Koninkryksaal in Oktober van daardie selfde jaar toegewy is, is een van die ouer manne van die plaaslike gemeente beweeg om te sê: “Die uitbarsting het ontberinge en lyding veroorsaak. En tog het hierdie bouwerk ons vrees in vreugde verander. Ons liefde vir Jehovah en ons dierbare Christenbroers het inniger geword!”
[Foto-erkenning op bladsy 19]
Uitbarsting van die berg Oesoe: AP Photo/Koji Sasahara