Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Balseming—Is dit vir Christene?

Balseming—Is dit vir Christene?

Balseming—Is dit vir Christene?

Aan die einde van sy lewe het die getroue aartsvader Jakob hierdie laaste versoek gehad: “Begrawe my by my vaders in die grot wat in die veld van Efron, die Hetiet, is, in die grot wat in die veld van Magpela is wat teenoor Mamre in die land Kanaän lê.”—Genesis 49:29-31.

JOSEF het aan sy vader se versoek voldoen deur middel van ’n gebruik wat destyds in Egipte algemeen was. Hy het “sy knegte, die geneeshere, beveel om sy vader te balsem”. Volgens die verslag in Genesis hoofstuk 50 het dit die geneeshere die gebruiklike 40 dae geneem om die liggaam voor te berei. Deur Jakob te balsem, was dit vir die groot, stadige karavaan familielede en hooggeplaaste Egiptiese amptenare moontlik om Jakob se stoflike oorskot omtrent 400 kilometer daarvandaan na Hebron te neem om hom daar te begrawe.—Genesis 50:1-14.

Bestaan die moontlikheid dat Jakob se gebalsemde liggaam eendag gevind sal word? Die kanse daarvoor is baie skraal. Israel was ’n waterryke streek, en dit beperk die soort argeologiese vondste wat daar gemaak word (Eksodus 3:8). Eertydse metaal- en klipvoorwerpe is volop, maar die meeste van die delikater dinge, soos lap, leer en gebalsemde lyke, was nie bestand teen die vogtigheid en die veranderinge wat met tyd gepaardgaan nie.

Wat is balseming presies? Waarom is dit beoefen? Is dit vir Christene?

Waar het die gebruik sy ontstaan gehad?

Die beste beskrywing van balseming is die bewaring van ’n mense- of diereliggaam. Oor die algemeen is geskiedkundiges dit eens dat balseming sy ontstaan in Egipte gehad het, maar ook deur die eertydse Assiriërs, Perse en Skitiërs beoefen is. Vroeë belangstelling in balseming en proefnemings daarmee het moontlik begin toe liggame ontdek is wat in die woestynsand begrawe was en gevolglik op natuurlike wyse behoue gebly het. Vogtigheid en lug sou nie kon deurdring tot by ’n liggaam wat so begrawe is nie, en dit sou die ontbinding daarvan beperk. Party is van mening dat balseming sy ontstaan gehad het toe liggame gevind is wat in natron (natriumkarbonaat) bewaar is, ’n alkali wat volop in en om Egipte voorkom.

Die doel van die balsemer is bloot om die natuurlike bakteriologiese proses te onderbreek wat binne ure ná die dood begin en die lyk laat ontbind. As hierdie proses gekeer kan word, sal die ontbinding ophou of ten minste aansienlik vertraag word. Drie dinge word beoog: om die oorskot in ’n lewensgetroue toestand te bewaar, ontbinding te voorkom en die lyk bestand te maak teen die skade wat deur insekte veroorsaak kan word.

Die eertydse Egiptenaars het hulle afgestorwenes hoofsaaklik om godsdiensredes gebalsem. Hulle idee van ’n hiernamaals was gekoppel aan ’n begeerte om in voeling te bly met die fisiese wêreld. Hulle het geglo dat hulle liggame tot in ewigheid gebruik sou word en weer lewend gemaak sou word. Al was balseming so algemeen, is daar tot op hede nog geen Egiptiese verslag gevind wat beskryf hoe dit gedoen is nie. Die beste rekord is dié van die Griekse geskiedskrywer Herodotus in die vyfde eeu v.G.J. Daar is egter berig dat pogings om die verlangde eindresultaat te verkry, nie baie suksesvol was toe die aanwysings gevolg is wat Herodotus voorsien het nie.

Is dit vir Christene?

Jakob is gebalsem deur mense wat nie dieselfde godsdiensoortuigings as hy gehad het nie. Maar ons kan ons nouliks voorstel dat Josef, toe hy sy vader se liggaam aan die geneeshere oorhandig het, die gebede en ritueel versoek het wat heel moontlik destyds met die meeste balsemings in Egipte gepaardgegaan het. Jakob sowel as Josef was manne van geloof (Hebreërs 11:21, 22). Die bewaring van Jakob se stoflike oorskot word nie in die Skrif veroordeel nie, al was dit iets wat Jehovah blykbaar nie beveel het nie. Die balseming van Jakob was nie bedoel om ’n presedent te skep vir die nasie Israel of vir die Christengemeente nie. Trouens, daar is geen spesifieke riglyne oor die onderwerp in God se Woord nie. Nadat Josef self in Egipte gebalsem is, word die gebruik nie weer in die Skrif gemeld nie.—Genesis 50:26.

Die erg ontbinde toestand van liggame wat in grafte in Palestina gevind is, toon dat dit nie ’n Hebreeuse gebruik was om die dooies te balsem nie, ten minste nie sodat hulle liggame lank bewaar sou bly nie. Lasarus was byvoorbeeld nie gebalsem nie. Hoewel hy in doeke toegedraai was, was die mense bekommerd toe die steen voor sy graf weggerol moes word. Omdat Lasarus vier dae vroeër gesterf het, was sy suster seker dat daar ’n reuk sou wees wanneer die graf oopgemaak word.—Johannes 11:38-44.

Was Jesus Christus gebalsem? Die Evangelieverslae steun nie hierdie gevolgtrekking nie. In daardie tyd was dit die Joodse gebruik om die liggaam met speserye en welriekende olies te berei voordat dit begrawe is. Om Jesus se liggaam te behandel, het Nikodemus byvoorbeeld ’n groot hoeveelheid speserye vir hierdie doel voorsien (Johannes 19:38-42). Waarom soveel speserye? Hartgrondige liefde en respek vir Jesus het hom moontlik beweeg om so vrygewig te wees. Ons moenie tot die slotsom kom dat hierdie speserye gebruik is om die liggaam te bewaar nie.

Sal ’n Christen beswaar maak teen die gebruik om liggame te balsem? Realisties gesproke stel balseming bloot die onvermydelike uit. Ons is van stof gemaak, en ons keer terug tot stof wanneer ons sterf (Genesis 3:19). Maar hoeveel tyd sal verloop vandat iemand gesterf het totdat hy begrawe word? As familielede en vriende van ver af kom en graag die liggaam wil sien, sal die oorskot ongetwyfeld tot ’n mate gebalsem moet word.

Volgens die Skrif is daar dus geen rede tot kommer as plaaslike voorskrifte vereis dat die liggaam gebalsem word of as familielede dit graag gedoen wil hê nie. Die dooies is “bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). As hulle in God se geheue is, sal hulle tot die lewe in sy beloofde nuwe wêreld opgewek word.—Job 14:13-15; Handelinge 24:15; 2 Petrus 3:13.

[Venster/Prent op bladsy 31]

BALSEMING—IN DIE VERLEDE EN VANDAG

In eertydse Egipte het die soort balseming wat ’n lyk sou ondergaan, van ’n gesin se status afgehang. ’n Ryk gesin sou waarskynlik die volgende prosedure gekies het:

Die harsings is met behulp van ’n metaalinstrument deur die neusgate uitgetrek. Daarna is die skedel met gepaste middels behandel. Die volgende stap het behels dat al die inwendige organe behalwe die hart en die niere verwyder word. Om die buik binne te dring, moes ’n sny in die liggaam gemaak word, maar dit is as ’n sonde beskou. Egiptiese balsemers het hierdie netelige kwessie omseil deur iemand wat ’n snyer genoem is, aan te wys om die insnyding te maak. Hy het gevlug sodra dit gedoen is, want vervloekinge en steniging was die straf vir hierdie sogenaamde misdaad.

Nadat die buikholte leeggemaak is, is dit baie goed uitgewas. Die geskiedskrywer Herodotus het geskryf: “Hulle vul die holte met die suiwerste gestampte mirre, met kassia en elke ander soort spesery behalwe wierook en werk die opening toe.”

Dan is die liggaam ontwater deur dit 70 dae lank in natron te week. Daarna is die lyk gewas en met groot bedrewenheid in linne toegedraai. Die linne is dan met hars of ’n gomagtige stof bestryk, en die mummie is in ’n ryklik versierde houtkis gesit wat ’n mensevorm gehad het.

Vandag kan balseming binne ’n paar uur gedoen word. Dit word gewoonlik gedoen deur ’n gepaste hoeveelheid balsemingsvloeistof in die are en slagare sowel as in die buik- en borsholte te spuit. Oor die jare is ’n verskeidenheid oplossings ontwikkel en gebruik. Maar formaldehied is weens koste en veiligheid die oplossing wat die meeste vir balseming gebruik word.

[Prent]

Die goue kis van koning Toetankamen