Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christus lei sy gemeente

Christus lei sy gemeente

Christus lei sy gemeente

“Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—MATTEUS 28:20.

1, 2. (a) Wat het die verrese Jesus sy volgelinge belowe toe hy hulle die opdrag gegee het om dissipels te maak? (b) Hoe het Jesus die vroeë Christengemeente daadwerklik gelei?

 VOOR Jesus Christus, ons verrese Leier, in die hemel opgevaar het, het hy aan sy dissipels verskyn en gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee. Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—Matteus 23:10; 28:18-20.

2 Jesus het sy dissipels nie net die lewensreddende werk gegee om meer dissipels te maak nie, maar hy het ook belowe om met hulle te wees. Die geskiedenis van die vroeë Christene, soos opgeteken in die Bybelboek Handelinge, toon sonder enige twyfel dat Christus die gesag wat hy gegee is, gebruik het om die pas gestigte gemeente te lei. Hy het die beloofde “helper”—die heilige gees—gestuur om sy volgelinge te versterk en hulle pogings te rig (Johannes 16:7; Handelinge 2:4, 33; 13:2-4; 16:6-10). Die verrese Jesus het die engele wat hy tot sy beskikking het, gebruik om sy dissipels te ondersteun (Handelinge 5:19; 8:26; 10:3-8, 22; 12:7-11; 27:23, 24; 1 Petrus 3:22). Daarbenewens het ons Leier die gemeente gelei deur te reël dat bekwame manne as ’n bestuursliggaam dien.—Handelinge 1:20, 24-26; 6:1-6; 8:5, 14-17.

3. Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?

3 Maar wat van ons tyd, “die voleinding van die stelsel van dinge”? Hoe lei Jesus Christus die Christengemeente vandag? En hoe kan ons toon dat ons hierdie leierskap aanvaar?

Die Heer het ’n getroue slaaf

4. (a) Uit wie bestaan “die getroue en verstandige slaaf”? (b) Wat het die Heer aan die sorg van die slaaf toevertrou?

4 Toe Jesus die profesie oor die teken van sy teenwoordigheid gegee het, het hy gesê: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy heer by sy aankoms vind dat hy dit doen! Voorwaar, ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matteus 24:45-47). Die “heer” is ons Leier, Jesus Christus, en hy het “die getroue en verstandige slaaf”—al die gesalfde Christene op aarde—oor al sy aardse belange aangestel.

5, 6. (a) Wat beeld “die sewe goue lampstaanders” en “die sewe sterre” af in ’n visioen wat die apostel Johannes ontvang het? (b) Wat word getoon deur die feit dat “die sewe sterre” in Jesus se regterhand is?

5 Die Bybelboek Openbaring toon dat die getroue en verstandige slaaf direk onder die beheer van Jesus Christus staan. In ’n visioen van “die dag van die Here” het die apostel Johannes “sewe goue lampstaanders gesien, en tussen die lampstaanders iemand soos ’n seun van die mens” wat “in sy regterhand . . . sewe sterre gehad” het. Jesus het die visioen aan Johannes verduidelik en gesê: “Wat die heilige geheim betref van die sewe sterre wat jy op my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampstaanders: Die sewe sterre beteken die engele van die sewe gemeentes, en die sewe lampstaanders beteken sewe gemeentes.”—Openbaring 1:1, 10-20.

6 “Die sewe goue lampstaanders” beeld al die gemeentes van ware Christene af wat bestaan in “die dag van die Here”, wat in 1914 begin het. Maar wat van “die sewe sterre”? Aanvanklik het hulle al die geesverwekte, gesalfde opsieners voorgestel wat na die eerste-eeuse gemeentes omgesien het. a Die opsieners was in Jesus se regterhand—onder sy beheer en leiding. Ja, Christus Jesus het die saamgestelde slaafklas gelei. Maar nou is daar min gesalfde opsieners. Hoe word Jesus se leierskap in meer as 93 000 gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld uitgeoefen?

7. (a) Hoe gebruik Jesus die Bestuursliggaam om leierskap in die gemeentes oor die hele aarde te voorsien? (b) Waarom kan daar gesê word dat Christenopsieners deur die heilige gees aangestel word?

7 Soos in die eerste eeu, dien ’n klein groepie bekwame manne onder die gesalfde opsieners tans as die Bestuursliggaam, waardeur die saamgestelde getroue en verstandige slaaf verteenwoordig word. Ons Leier gebruik hierdie Bestuursliggaam om bekwame manne—of hulle nou met die gees gesalf is of nie—as ouer manne in die plaaslike gemeentes aan te stel. Die heilige gees, wat Jehovah Jesus die gesag gegee het om te gebruik, speel ’n sleutelrol in hierdie verband (Handelinge 2:32, 33). Hierdie opsieners moet eerstens voldoen aan die vereistes wat uiteengesit word in God se Woord, wat deur die heilige gees geïnspireer is (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9; 2 Petrus 1:20, 21). Hierdie manne word aanbeveel en aangestel ná gebed en onder die leiding van die heilige gees. Daarbenewens toon die persone wat aangestel word, dat hulle die vrugte van hierdie gees voortbring (Galasiërs 5:22, 23). Paulus se raad is dan net soveel van toepassing op alle ouer manne, of hulle gesalfdes is of nie: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het” (Handelinge 20:28). Hierdie aangestelde manne ontvang leiding van die Bestuursliggaam en dien die gemeente gewillig as herders. Op hierdie manier is Christus nou met ons en lei hy die gemeente daadwerklik.

8. Hoe gebruik Christus engele om sy volgelinge te lei?

8 Jesus gebruik vandag ook werklike engele om sy volgelinge te lei. Volgens die illustrasie van die koring en die onkruid sou die oestyd aan “die voleinding van die stelsel van dinge” kom. Wie sou die Heer gebruik om die oeswerk te doen? “Dié wat oes, is engele”, het Christus gesê. Hy het bygevoeg: “Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal alles wat struikeling veroorsaak en mense wat wetteloosheid bedryf, uit sy koninkryk bymekaarmaak” (Matteus 13:37-41). En net soos ’n engel die voetstappe van Filippus na die Etiopiese eunug toe gerig het, so is daar vandag ook oorvloedige bewys dat Christus sy engele gebruik om die werk van ware Christene te rig sodat hulle opregtes van hart kan opspoor.—Handelinge 8:26, 27; Openbaring 14:6.

9. (a) Deur middel waarvan lei Christus die Christengemeente vandag? (b) Oor watter vraag moet ons nadink as ons by Christus se leierskap baat wil vind?

9 Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat Jesus Christus vandag sy dissipels van leiding voorsien deur middel van die Bestuursliggaam, die heilige gees en die engele! Al sou van Jehovah se aanbidders weens vervolging of iets dergeliks tydelik van die Bestuursliggaam afgesny word, sal Christus hulle nog steeds van leiding voorsien deur middel van die heilige gees en ondersteuning deur die engele. Maar ons vind alleen by sy leierskap baat as ons dit aanvaar. Hoe kan ons toon dat ons Christus se leierskap aanvaar?

“Wees gehoorsaam . . . wees onderdanig”

10. Hoe kan ons ons agting vir die aangestelde ouer manne in die gemeente toon?

10 Ons Leier het die gemeentes “gawes in die vorm van mense” gegee—“party as evangeliedienaars, party as herders en onderrigters” (Efesiërs 4:8, 11, 12). Ons gesindheid en optrede teenoor hulle toon duidelik of ons Christus se leierskap aanvaar of nie. Dit is niks minder as reg nie dat ons ‘toon dat ons dankbaar is’ vir die geestelik bekwame manne wat Christus gegee het (Kolossense 3:15). Hulle verdien ook ons respek. “Laat die ouer manne wat die leiding goed neem, dubbele eer waardig geag word”, het die apostel Paulus geskryf (1 Timoteus 5:17). Hoe kan ons ons dankbaarheid en agting vir die ouer manne—of opsieners—in die gemeente toon? Paulus antwoord: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig” (Hebreërs 13:17). Ja, ons moet hulle gehoorsaam en aan hulle onderdanig wees, aan hulle leiding gehoor gee.

11. Waarom toon respek vir die ouermanreëling dat ons ons doop naleef?

11 Ons Leier is volmaak. Die manne wat hy as gawes gegee het, is nie. Daarom maak hulle soms foute. Maar dit is van die allergrootste belang dat ons aan Christus se reëling lojaal bly. Trouens, om ons toewyding en doop na te leef, beteken dat ons die regmatigheid erken van gesag in die gemeente wat deur middel van die gees gegee is en dat ons ons gewillig daaraan onderwerp. Ons doop ‘in die naam van die heilige gees’ is ’n openbare bekendmaking dat ons die heilige gees erken, asook die rol wat dit in Jehovah se voorneme speel (Matteus 28:19). Hierdie doop toon dat ons met die gees saamwerk en niks doen om die werking daarvan onder Christus se volgelinge te belemmer nie. Aangesien die heilige gees ’n noodsaaklike rol speel in die aanbeveling en aanstelling van ouer manne, kan ons dan werklik aan ons toewyding getrou wees as ons nie met die ouermanreëling in die gemeente saamwerk nie?

12. Watter voorbeelde van minagting vir gesag noem Judas, en wat leer ons daaruit?

12 Daar is voorbeelde in die Skrif wat ons die waarde van gehoorsaamheid en onderdanigheid leer. Die dissipel Judas het drie waarskuwende voorbeelde genoem toe hy verwys het na dié wat smadend gepraat het van die aangestelde manne in die gemeente, en het gesê: “Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en vir beloning halsoorkop die dwaalweg van Bileam ingeslaan en in die opstandige gepraat van Korag vergaan!” (Judas 11). Kain het Jehovah se liefdevolle raad geïgnoreer en het moedswillig ’n weg van moorddadige haat ingeslaan (Genesis 4:4-8). Al is Bileam herhaaldelik deur God gewaarsku, het hy God se volk probeer vervloek om ’n finansiële beloning te verkry (Numeri 22:5-28, 32-34; Deuteronomium 23:5). Korag het sy eie eervolle posisie in Israel gehad, maar dit was nie genoeg vir hom nie. Hy het opstand teen God se kneg Moses, die sagmoedigste mens op aarde, aangestig (Numeri 12:3; 16:1-3, 32, 33). Rampspoed het Kain, Bileam en Korag getref. Hoe duidelik maak hierdie voorbeelde dit tog vir ons dat ons na die raad moet luister van diegene wat Jehovah in verantwoordelike posisies gebruik, en dat ons hulle moet respekteer!

13. Watter seëninge het die profeet Jesaja voorspel vir diegene wat hulle aan die ouermanreëling onderwerp?

13 Wie sou nie baat wou vind by die wonderlike reëling vir toesig wat ons Leier in die Christengemeente ingestel het nie? Die profeet Jesaja het die seëninge daarvan voorspel en gesê: “Kyk! ’n Koning sal vir regverdigheid regeer; en wat vorste betref, hulle sal as vorste vir geregtigheid heers. En elkeen sal soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees, soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land” (Jesaja 32:1, 2). Elkeen van die ouer manne moet so “’n skuilplek” wees wat beskerming en veiligheid bied. Laat ons, al is dit vir ons moeilik om ons aan gesag te onderwerp, ons biddend daarop toelê om gehoorsaam en onderdanig aan die Goddelik ingestelde gesag in die gemeente te wees.

Hoe ouer manne hulle aan Christus se leierskap onderwerp

14, 15. Hoe toon diegene wat die leiding neem in die gemeente dat hulle hulle aan Christus se leierskap onderwerp?

14 Elke Christen—veral die ouer manne—moet Christus se leierskap volg. Die opsieners, of ouer manne, het ’n mate van gesag in die gemeente. Maar hulle strewe nie daarna om ‘die meesters oor die geloof van hulle medegelowiges’ te wees deur hulle lewens te probeer beheer nie (2 Korintiërs 1:24). Die ouer manne neem Jesus se woorde ter harte: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel en die groot manne oor hulle gesag uitoefen. Onder julle is dit nie so nie” (Matteus 20:25-27). Terwyl ouer manne hulle verantwoordelikheid nakom, probeer hulle opreg om ander te dien.

15 Christene word aangespoor: “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, . . . en namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg” (Hebreërs 13:7). Dit word nie verwag omdat die ouer manne leiers is nie. Jesus het gesê: “Een is julle Leier, die Christus” (Matteus 23:10). Dit is die geloof van die ouer manne wat nagevolg moet word omdat hulle navolgers is van ons ware Leier, Christus (1 Korintiërs 11:1). Kom ons kyk na ’n paar maniere waarop ouer manne probeer om soos Christus te wees in hulle verhouding met ander in die gemeente.

16. Hoe het Jesus sy volgelinge behandel, ondanks die gesag wat hy gehad het?

16 Al was Jesus in elke opsig verhewe bo onvolmaakte mense en het hy ongeëwenaarde gesag gehad wat hy van sy Vader ontvang het, was hy beskeie in die manier waarop hy met sy dissipels gehandel het. Hy het nie diegene wat na hom geluister het, met ’n indrukwekkende vertoon van kennis oorweldig nie. Jesus was bedagsaam en medelydend teenoor sy volgelinge en het hulle behoeftes as mense in ag geneem (Matteus 15:32; 26:40, 41; Markus 6:31). Hy het nooit meer van sy dissipels vereis as wat hulle kon gee nie, en hy het nooit ’n groter las op hulle gelaai as wat hulle kon dra nie (Johannes 16:12). Jesus was “saggeaard en nederig van hart”. Dit is dus nie verbasend dat baie mense hom verkwikkend gevind het nie.—Matteus 11:28-30.

17. Hoe moet ouer manne Christelike beskeidenheid aan die dag lê in hulle verhouding met ander in die gemeente?

17 As Christus die Leier beskeidenheid aan die dag gelê het, hoeveel te meer moet dié wat die leiding in die gemeente neem, dit dan doen! Ja, hulle maak seker dat hulle nie enige gesag wat aan hulle toevertrou is, misbruik nie. En hulle ‘kom nie met oordrewe woorde’ om ander te probeer beïndruk nie (1 Korintiërs 2:1, 2). Hulle strewe eerder daarna om eenvoudige en opregte woorde van skriftuurlike waarheid te gebruik. Daarbenewens probeer ouer manne om redelik te wees in hulle verwagtinge van ander en om hulle behoeftes in ag te neem (Filippense 4:5). Aangesien hulle weet dat almal beperkinge het, neem hulle die beperkinge van hulle broers liefdevol in aanmerking (1 Petrus 4:8). En is ouer manne wat nederig en sagmoedig is, nie waarlik verkwikkend nie? Hulle is beslis.

18. Wat kan ouer manne leer uit die manier waarop Jesus kinders behandel het?

18 Jesus was vriendelik en genaakbaar, selfs teenoor geringes. Dink byvoorbeeld aan sy reaksie toe sy dissipels mense berispe het omdat hulle ‘jong kinders na hom toe gebring het’. “Laat die jong kinders na my toe kom”, het Jesus gesê, “moet hulle nie probeer keer nie.” Toe het hy “die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën terwyl hy hulle die hande opgelê het” (Markus 10:13-16). Jesus was hartlik en goedhartig, en ander het tot hom aangetrokke gevoel. Mense was nie bang vir Jesus nie. Selfs kinders was op hulle gemak in sy teenwoordigheid. Ouer manne is ook genaakbaar, en as hulle hartlike toegeneentheid en goedhartigheid aan die dag lê, sal ander—selfs kinders—op hulle gemak voel by hulle.

19. Wat is daarby betrokke om “die denke van Christus” te hê, en watter inspanning verg dit?

19 Die mate waarin ouer manne Christus Jesus kan navolg, hang af van hoe goed hulle hom ken. “Wie het die denke van Jehovah leer ken, dat hy hom kan onderrig?” het Paulus gevra. Toe het hy bygevoeg: “Maar ons het wel die denke van Christus” (1 Korintiërs 2:16). As ons die denke van Christus het, beteken dit dat ons sy denkpatroon sowel as die hele omvang van sy persoonlikheid ken sodat ons weet wat hy in die een of ander situasie sou doen. Stel jou voor dat ons ons Leier so goed kan leer ken! Ja, dit beteken dat ons noukeurig aandag moet gee aan die Evangelieverslae en dat ons ons verstande gereeld moet vul met ’n begrip van Jesus se lewe en voorbeeld. Wanneer ouer manne hulle inspan om Christus se leierskap so noukeurig te volg, sal dié in die gemeente meer geneig wees om hulle geloof na te volg. En die ouer manne het die bevrediging om te sien hoe ander die voetstappe van die Leier vreugdevol volg.

Bly onder Christus se leierskap

20, 21. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen terwyl ons na die beloofde nuwe wêreld uitsien?

20 Dit is noodsaaklik dat ons almal onder Christus se leierskap bly. Namate ons nader kom aan die einde van hierdie stelsel van dinge, kan ons posisie vergelyk word met dié van die Israeliete op die Vlaktes van Moab in 1473 v.G.J. Hulle het op die drumpel van die Beloofde Land gestaan, en deur middel van die profeet Moses het God gesê: “Jy [Josua] sal hierdie volk in die land bring wat Jehovah aan hulle voorvaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee” (Deuteronomium 31:7, 8). Josua was die aangestelde leier. Om in die Beloofde Land in te gaan, moes die Israeliete hulle aan Josua se leierskap onderwerp.

21 Vir ons sê die Bybel: “Een is julle Leier, die Christus.” Net Christus sal ons in die beloofde nuwe wêreld inlei waarin regverdigheid sal woon (2 Petrus 3:13). Laat ons dus vasbeslote wees om ons in alle aspekte van die lewe aan sy leierskap te onderwerp.

[Voetnoot]

a Die “sterre” stel hier nie letterlike engele voor nie. Jesus sou immers nie ’n mens gebruik om inligting vir onsigbare geesskepsele op te teken nie. Die “sterre” moet dus die menslike opsieners, of ouer manne, in die gemeentes afbeeld, wat as Jesus se boodskappers beskou word. Die feit dat daar sewe is, dui op Goddelik vasgestelde volkomenheid.

Onthou jy?

• Hoe het Christus die vroeë gemeente gelei?

• Hoe lei Christus sy gemeente vandag?

• Waarom moet ons onderdanig wees aan diegene wat die leiding neem in die gemeente?

• Op watter maniere kan ouer manne toon dat Christus hulle Leier is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Christus lei sy gemeente en hou opsieners in sy regterhand

[Prente op bladsy 16]

“Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig”

[Prent op bladsy 18]

Jesus was hartlik en genaakbaar. Christen- ouer manne probeer om soos hy te wees