Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Waldense—Van kettery tot Protestantisme

Die Waldense—Van kettery tot Protestantisme

Die Waldense—Van kettery tot Protestantisme

Dit was die jaar 1545 in die pragtige Lubéron-streek van Provence, in die suide van Frankryk. ’n Leër het byeengekom om ’n verskriklike opdrag uit te voer wat deur godsdiensonverdraagsaamheid aangevuur is. ’n Week van bloedvergieting het gevolg.

DORPIES is verwoes, en die inwoners is gevange geneem of doodgemaak. Afgryslike gruweldade is deur wrede soldate gepleeg in ’n slagting wat Europa laat sidder het. Sowat 2 700 mans is doodgemaak en 600 is gestuur om op die galeie te werk, om nie te praat van die lyding wat vroue en kinders moes deurmaak nie. Die krygsowerste wat hierdie bloedige veldtog uitgevoer het, is deur die Franse koning en deur die pous geprys.

As gevolg van die Hervorming was daar reeds skeuringe in Duitsland toe die Katolieke koning Frans I van Frankryk, wat bekommerd was oor die verspreiding van Protestantisme, ondersoek ingestel het na sogenaamde ketters in sy koninkryk. Die owerheid in Provence het nie net ’n paar alleenstaande gevalle van kettery gevind nie, maar het ontdek dat daar hele dorpies andersdenkendes was. Die edik is afgekondig om hierdie kettery uit te wis en is eindelik in die slagting van 1545 uitgevoer.

Wie was hierdie ketters? En waarom was hulle die skyf van gewelddadige godsdiensonverdraagsaamheid?

Van rykdom tot armoede

Diegene wat in die slagting doodgemaak is, het aan ’n godsdiensbeweging behoort wat in die 12de eeu begin het en oor ’n groot deel van Europa versprei was. Die manier waarop dit versprei het en verskeie eeue lank voortbestaan het, maak dit uniek in die annale van andersdenkende godsdienste. Die meeste geskiedkundiges is dit eens dat die beweging omstreeks die jaar 1170 begin het. In die Franse stad Lyon wou ’n ryk koopman met die naam Vaudès baie graag leer hoe om God te behaag. Jesus Christus se vermaning aan ’n sekere ryk man om sy besittings te verkoop en aan die armes te gee, het Vaudès blykbaar beweeg om finansiële voorsorg vir sy gesin te tref en toe van sy rykdom afstand te doen om die Evangelie te verkondig (Matteus 19:16-22). Kort voor lank het hy volgelinge gehad wat later as die Waldense bekend geword het. a

Armoede, predikingswerk en die Bybel was die vernaamste dinge in Vaudès se lewe. Protes teen die rykdom van die geestelikes was niks nuuts nie. Etlike andersdenkende geestelikes het die kerk se verdorwe gebruike en magsmisbruik veroordeel. Maar Vaudès was ’n leek, soos die meeste van sy volgelinge. Dit verduidelik ongetwyfeld waarom hy dit noodsaaklik geag het om die Bybel in die volkstaal te hê. Aangesien net die geestelikes die kerk se Latynse vertaling van die Bybel kon lees, het Vaudès opdrag gegee dat die Evangelies en ander Bybelboeke in Frans-Provensaals vertaal word, die taal wat die gewone mense in Oos-Sentraal-Frankryk verstaan het. b Die Arm Manne van Lyon het ag geslaan op Jesus se opdrag om te preek en het hulle boodskap in die openbaar verkondig (Matteus 28:19, 20). Die geskiedkundige Gabriel Audisio verduidelik dat hulle aandrang om in die openbaar te preek, die beslissende faktor geword het vir die kerk se gesindheid teenoor die Waldense.

Van Katolieke tot ketters

In daardie dae is slegs die geestelikes toegelaat om te preek, en die kerk het hom die reg toegeëien om iemand die gesag te gee om te preek. Die geestelikes het gemeen dat die Waldense oningelig en ongeletterd is, maar in 1179 het Vaudès amptelike goedkeuring vir sy predikingswerk van pous Aleksander III probeer verkry. Toestemming is verleen—maar op die voorwaarde dat die plaaslike priesters dit goedkeur. Die geskiedkundige Malcolm Lambert sê dat dit “feitlik dieselfde as ’n algehele weiering was”. Trouens, die aartsbiskop Jean Bellesmains van Lyon het leke amptelik verbied om te preek. Vaudès het hierop gereageer deur Handelinge 5:29 aan te haal: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” Omdat Vaudès hom nie aan die verbod onderwerp het nie, het die kerk hom in 1184 geëkskommunikeer.

Hoewel die Waldense uit die biskoplike gebied van Lyon en uit die stad verdryf is, wil dit voorkom of die aanvanklike veroordeling in sekere mate net teoreties was. Baie van die gewone mense het die Waldense bewonder vir hulle opregtheid en die manier waarop hulle gelewe het, en selfs biskoppe het voortgegaan om met hulle te praat.

Volgens die geskiedkundige Euan Cameron lyk dit of die Waldensiese predikers nie “die Rooms-Katolieke Kerk op sigself teëgestaan het” nie. Hulle “wou [bloot] preek en onderrig”. Geskiedkundiges sê dat die beweging feitlik tot kettery gedryf is deur ’n reeks verordeninge wat hulle mettertyd permanent ingeperk het. Veroordelings deur die kerk het uiteindelik ’n klimaks bereik toe die Vierde Lateraanse Konsilie die Waldense in 1215 verban het. Hoe het dit hulle predikingswerk geraak?

Hulle gaan ondergronds

Vaudès het in 1217 gesterf, en vervolging het sy volgelinge na die Franse Alpe-valleie, Duitsland, Noord-Italië en Sentraal- en Oos-Europa verstrooi. Vervolging het ook daartoe gelei dat die Waldense hulle op die platteland gevestig het, en dit het hulle predikingsbedrywighede in baie gebiede beperk.

In 1229 het die Katolieke Kerk sy Kruistog teen die Katare, of Albigense, in die suide van Frankryk voltooi. c Daarna het die Waldense die skyf van sulke aanvalle geword. Die Inkwisisie sou weldra genadeloos teen al die kerk se teenstanders gerig word. Vrees het die Waldense ondergronds laat gaan. Teen 1230 het hulle nie meer in die openbaar gepreek nie. Audisio verduidelik: “Hulle het nie nuwe skape gaan soek nie. . . , maar het hulle eerder daaraan gewy om na die bekeerdes om te sien en hulle in hulle geloof staande te hou ten spyte van druk en vervolging van buite.” Hy voeg by dat “predikingswerk noodsaaklik gebly het, maar in die praktyk heeltemal verander het”.

Hulle opvattings en gebruike

Teen die 14de eeu het die Waldense nie meer manne sowel as vroue gehad wat aan predikingsbedrywighede deelgeneem het nie; daar het eerder ’n onderskeid tussen predikers en gelowiges ontwikkel. Slegs goed opgeleide manne het toe herderlike werk gedoen. Hierdie reisende bedienaars is later barbes (ooms) genoem.

Die barbes, wat Waldensiese gesinne tuis besoek het, het hulle eerder daarop toegelê om die beweging lewendig te hou as om dit te versprei. Al die barbes kon lees en skryf, en hulle opleiding, wat tot ses jaar geduur het, was Bybel-georiënteerd. Hulle het die Bybel in die volkstaal gebruik, wat hulle gehelp het om dit aan hulle kuddes te verduidelik. Selfs teenstanders het erken dat die Waldense, met inbegrip van hulle kinders, ’n sterk Bybelse kultuur gehad het en groot dele uit die Skrif kon aanhaal.

Die vroeë Waldense het onder meer leuens, die vaevuur, misdienste vir die dooies, vergifnis en kwytskelding deur die pous asook die aanbidding van Maria en die “heiliges” verwerp. Hulle het ook die Here se Aandmaal, of die Laaste Avondmaal, een keer per jaar gevier. Volgens Lambert was hulle vorm van aanbidding “in werklikheid die godsdiens van die gewone leek”.

“’n Dubbele lewe”

Die Waldense het hegte gemeenskappe gehad. Hulle het binne die beweging getrou, wat oor die eeue heen Waldensiese vanne laat ontstaan het. In hulle stryd om oorlewing het die Waldense egter hulle beskouings probeer verberg. Die geheimhouding wat met hulle godsdiensopvattings en -gebruike gepaardgegaan het, het dit vir teenstanders maklik gemaak om verregaande beskuldigings teen hulle in te bring, deur byvoorbeeld te sê dat hulle by Duiwelaanbidding betrokke is. d

Een manier waarop die Waldense sulke beskuldigings teëgewerk het, was deur ’n kompromis aan te gaan en te beoefen wat volgens die geskiedkundige Cameron ’n “minimale ooreenkoms” met Katolieke aanbidding getoon het. Baie Waldense het by Katolieke priesters gaan bieg, die mis bygewoon, wywater gebruik en selfs pelgrimsreise onderneem. Lambert sê: “In baie opsigte het hulle gedoen wat hulle Katolieke bure gedoen het.” Audisio sê ronduit dat die Waldense mettertyd “’n dubbele lewe gelei het”. Hy voeg by: “Aan die een kant het hulle hulle op die oog af soos Katolieke gedra om hulle relatiewe vrede te behou; aan die ander kant het hulle onder hulleself ’n aantal ritusse en gebruike nagekom wat die voortbestaan van die gemeenskap verseker het.”

Van kettery tot Protestantisme

In die 16de eeu het die Hervorming die Europese godsdienstoneel ingrypend verander. Slagoffers van onverdraagsaamheid kon wetlike erkenning in hulle eie land probeer verkry of kon emigreer na waar toestande gunstiger was. Die gedagte van kettery het ook minder belangrik geword, aangesien soveel mense gevestigde godsdiensleringe begin bevraagteken het.

Reeds in 1523 het die welbekende Hervormer Martin Luther van die Waldense melding gemaak. In 1526 het een van die Waldensiese barbes nuus van die godsdiensverwikkelinge in Europa na die Alpe teruggebring. Dit is gevolg deur ’n tydperk waarin Protestantse gemeenskappe idees met die Waldense uitgeruil het. Protestante het die Waldense aangespoor om die eerste vertaling van die Bybel uit die oorspronklike tale in Frans te steun. Dit is in 1535 gedruk en het later as die Olivétan-Bybel bekend gestaan. Dit is egter ironies dat die meeste Waldense nie Frans kon verstaan nie.

Aangesien die Katolieke Kerk se vervolging van die Waldense voortgeduur het, het groot getalle hulle in die veiliger Provence-gebied in die suide van Frankryk gevestig, soos Protestantse immigrante ook gedoen het. Die owerheid is kort voor lank van hierdie immigrasie in kennis gestel. Ten spyte van talle gunstige verslae oor die lewenswyse en sedes van die Waldense, het sommige mense hulle lojaliteit bevraagteken en hulle daarvan beskuldig dat hulle goeie orde bedreig. Die Mérindol-edik is uitgevaardig en het die verskriklike bloedvergieting tot gevolg gehad wat aan die begin van hierdie artikel genoem word.

Betrekkinge tussen die Katolieke en die Waldense het bly agteruitgaan. In reaksie op aanvalle wat teen hulle geloods is, het die Waldense selfs wapens opgeneem om hulle te verdedig. Hierdie konflik het hulle in die Protestantse kraal ingedwing. So het die Waldense hulle by hoofstroom Protestantisme geskaar.

Deur die eeue heen is Waldensiese kerke in plekke so ver weg van Frankryk as Uruguay en die Verenigde State gestig. Maar die meeste geskiedkundiges is dit eens met Audisio, wat sê dat “die Waldensiese godsdiens met die Hervorming tot ’n einde gekom het”, toe dit deur Protestantisme “verswelg is”. Trouens, die Waldensiese beweging het eeue vroeër baie van sy aanvanklike ywer verloor. Dit het gebeur toe sy lede weens vrees hulle predikingswerk en onderrigting van die Bybel gestaak het.

[Voetnote]

a Daar word onder meer na Vaudès verwys as Valdès, Valdesius of Waldus. Laasgenoemde naam verklaar die oorsprong van die benaming “Waldense”. Die Waldense, of Waldensers, was ook bekend as die Arm Manne van Lyon.

b Reeds in 1199 het die biskop van Metz, in die noordooste van Frankryk, by pous Innocentius III gekla dat mense die Bybel in die volkstaal lees en bespreek. Die biskop het heel waarskynlik na die Waldense verwys.

c Sien “Die Katare—Was hulle Christenmartelaars?” in Die Wagtoring van 1 September 1995, bladsye 27-30.

d Volgehoue laster teen die Waldense het die term vauderie (van die Franse woord vaudois) laat ontstaan. Dit word gebruik om vermeende ketters of Duiwelaanbidders te beskryf.

[Kaart/Prent op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Gebiede wat beïnvloed is deur die Waldense

FRANKRYK

Lyon

PROVENCE

Lubéron

Straatsburg

Milaan

Rome

Berlyn

Praag

Wene

[Prent]

Waldense het die vertaling van die Olivétan-Bybel van 1535 gesteun

[Erkenning]

Bybel: © Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris

[Prente op bladsy 20, 21]

VAUDÈS

Die verbranding van twee bejaarde Waldensiese vroue

[Erkenning]

Bladsye 20 en 21: © Landesbildstelle Baden, Karlsruhe