Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goeie leierskap—Waar kan ons dit vind?

Goeie leierskap—Waar kan ons dit vind?

Goeie leierskap—Waar kan ons dit vind?

“ELKE huis word . . . deur iemand gebou”, sê die Bybel, “maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4; Openbaring 4:11). Aangesien die ware God, Jehovah, ons Skepper is, “weet [hy] goed hoe ons gevorm is” (Psalm 103:14). Hy weet presies wat ons beperkings en behoeftes is. En omdat hy ’n liefdevolle God is, wil hy in hierdie behoeftes voorsien (Psalm 145:16; 1 Johannes 4:8). Ons behoefte aan goeie leierskap is geen uitsondering nie.

Deur die profeet Jesaja het Jehovah verklaar: “Kyk! As ’n getuie vir die volksgroepe het ek hom gegee, as ’n leier en ’n aanvoerder vir die volksgroepe” (Jesaja 55:4). Die oplossing vir vandag se leierskapkrisis lê daarin dat hierdie Leier—wat deur die Almagtige self aangestel is—geïdentifiseer word en dat sy leierskap aanvaar word. Wie is dan hierdie voorspelde Leier en Aanvoerder? Watter kwalifikasies het hy as ’n leier? Waarheen sal hy ons lei? Wat moet ons doen om by sy leierskap baat te vind?

Die beloofde leier verskyn

Ongeveer 2 500 jaar gelede het die engel Gabriël aan die profeet Daniël verskyn en vir hom gesê: “Jy moet weet en die insig hê dat daar vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier sewe weke sal wees, ook twee-en-sestig weke. Dit sal terugkeer en herbou word, met ’n openbare plein en grag, maar in tye van benoudheid.”—Daniël 9:25.

Dit is duidelik dat die engel Daniël ingelig het omtrent die spesifieke tyd vir die koms van Jehovah se gekose Leier. “Messias die Leier” sou verskyn aan die einde van 69 weke, of 483 jaar, vanaf 455 v.G.J., toe die woord uitgegaan het om Jerusalem te herbou (Nehemia 2:1-8). a Wat het aan die einde van daardie tydperk gebeur? Die evangelieskrywer Lukas vertel: “In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius, toe Pontius Pilatus goewerneur van Judea was, en Herodes distriksheerser van Galilea [29 G.J.], . . . het God se verklaring in die wildernis tot Johannes, die seun van Sagaria, gekom. En hy het in die hele omgewing van die Jordaan gekom en doop as ’n simbool van berou tot vergifnis van sondes verkondig.” In daardie tyd het “die volk in afwagting verkeer” in verband met Messias die Leier (Lukas 3:1-3, 15). Hoewel skares na Johannes toe gekom het, was hy nie daardie Leier nie.

Toe, in om en by Oktober van 29 G.J., het Jesus van Nasaret na Johannes toe gekom om gedoop te word. En Johannes het getuig en gesê: “Ek het die gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en dit het op hom gebly. Selfs ek het hom nie geken nie, maar Hý wat my gestuur het om in water te doop, het vir my gesê: ‘Die een op wie jy die gees sien neerdaal en bly, dit is hy wat in heilige gees doop.’ En ek het dit gesien, en ek het getuig dat dié een die Seun van God is” (Johannes 1:32-34). By sy doop het Jesus die gesalfde Leier—die Messias, of Christus—geword.

Ja, die beloofde “leier en . . . aanvoerder vir die volksgroepe” was Jesus Christus. En wanneer ons sy eienskappe as ’n leier ondersoek, sien ons duidelik dat sy leierskap die hedendaagse vereistes van ’n ideale leier ver oortref.

Die Messias—’n ideale leier

’n Goeie leier gee duidelike riglyne en help mense onder sy sorg om self krag en vermoëns te ontwikkel sodat hulle probleme suksesvol kan oplos. ‘Dit is ’n vereiste vir die suksesvolle 21ste-eeuse leier’, sê die boek 21st Century Leadership: Dialogues With 100 Top Leaders. Hoe goed het Jesus tog dié wat na hom geluister het, voorberei om alledaagse situasies te hanteer! Dink byvoorbeeld aan sy beroemde toespraak—die Bergpredikasie. Die woorde wat in Matteus hoofstukke 5 tot 7 opgeteken is, bevat ’n oorvloed praktiese raad.

Neem as voorbeeld Jesus se raad oor hoe om persoonlike geskille op te los. Hy het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe” (Matteus 5:23, 24). Om die inisiatief te neem om met ander vrede te maak, is die allerbelangrikste—selfs belangriker as om ’n godsdiensplig uit te voer, soos om gawes na die tempelaltaar in Jerusalem te bring, wat deur die Mosaïese Wet vereis is. Dade van aanbidding is andersins vir God onaanvaarbaar. Jesus se raad is vandag net so prakties as wat dit eeue gelede was.

Jesus het ook dié wat na hom geluister het, gehelp om die strik van onsedelikheid te vermy. Hy het hulle vermaan: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matteus 5:27, 28). Wat ’n gepaste waarskuwing! Waarom sou ons die weg tot onsedelikheid inslaan deur gedagtes daaroor te koester? Uit die hart kom hoerery en egbreuk, het Jesus gesê (Matteus 15:18, 19). Ons is verstandig as ons ons hart bewaak.—Spreuke 4:23.

Die Bergpredikasie bevat ook uitstekende raad oor liefde vir jou vyande, vrygewigheid, die regte beskouing van materiële en geestelike dinge, ensovoorts (Matteus 5:43-47; 6:1-4, 19-21, 24-34). Jesus het sy gehoor selfs gewys hoe om God se hulp te vra deur hulle te leer bid (Matteus 6:9-13). Messias die Leier versterk sy volgelinge en berei hulle voor om die probleme wat algemeen onder die mensdom voorkom, die hoof te bied.

Ses keer in die Bergpredikasie lei Jesus sy stellings in met die uitdrukkings “julle het gehoor dat daar gesê is” of “ook is daar gesê”, maar dan bring hy ’n ander gedagte in met die woorde “ek sê egter vir julle” (Matteus 5:21, 22, 27, 28, 31-34, 38, 39, 43, 44). Dit toon dat dié wat na hom geluister het, gewoond was om op ’n sekere manier op te tree, volgens die mondelinge tradisies van die Fariseërs. Maar nou het Jesus vir hulle ’n ander weg gewys—een wat die ware gees van die Mosaïese Wet weerspieël het. Jesus het sodoende ’n verandering ingebring, en hy het dit op so ’n manier gedoen dat dit vir sy volgelinge maklik was om dit te aanvaar. Ja, Jesus het mense beweeg om groot veranderinge, geestelik en sedelik, in hulle lewe aan te bring. Dit is ’n kenmerk van ’n ware leier.

’n Bestuurshandleiding wys daarop hoe moeilik dit is om so ’n verandering teweeg te bring. Dit sê: “Die persoon [leier] wat die verandering wil aanbring, het die sensitiwiteit van ’n maatskaplike werker, die insig van ’n sielkundige, die stamina van ’n langafstandatleet, die verbetenheid van ’n bulhond, die onafhanklikheid van ’n kluisenaar en die geduld van ’n heilige nodig. En selfs al hierdie eienskappe verseker nie sukses nie.”

“Leiers moet optree soos hulle wil hê hulle volgelinge moet optree”, het ’n artikel met die titel “Leierskap: Maak eienskappe saak?” gesê. ’n Goeie leier se dade moet inderdaad met sy woorde strook. Hoe waar was dit tog van Jesus Christus! Ja, hy het diegene wat saam met hom was, geleer om nederig te wees, maar hy het ook ’n praktiese voorbeeld vir hulle gestel deur hulle voete te was (Johannes 13:5-15). Hy het nie net sy dissipels uitgestuur om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie, maar het homself kragtig in daardie werk ingespan (Matteus 4:18-25; Lukas 8:1-3; 9:1-6; 10:1-24; Johannes 10:40-42). En Jesus het ’n voorbeeld gestel in die manier waarop hy op leierskap gereageer het. “Die Seun kan hoegenaamd niks op eie inisiatief doen nie”, het hy oor homself gesê, “maar net wat hy die Vader sien doen.”—Johannes 5:19.

Die voorgaande bespreking van wat Jesus gesê en gedoen het, toon duidelik dat hy die ideale Leier is. Trouens, hy oortref alle menslike standaarde vir goeie leierskap. Jesus is volmaak. Omdat hy onsterflikheid ná sy dood en opstanding ontvang het, lewe hy vir ewig (1 Petrus 3:18; Openbaring 1:13-18). Watter menseleier het hierdie kwalifikasies?

Wat moet ons doen?

As die heersende Koning van God se Koninkryk sal “Messias die Leier” die gehoorsame mensdom met seëninge oorlaai. In hierdie verband belowe die Skrif: “Die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek” (Jesaja 11:9). “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:11). “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie” (Miga 4:4). “God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.

Die wêreld ondervind vandag ’n leierskapkrisis. Jesus Christus lei egter sagmoediges in ’n vreedsame nuwe wêreld in, waar gehoorsame mense verenig sal wees in die aanbidding van Jehovah God en tot volmaaktheid sal groei. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons tyd opsy sit om kennis in te neem van die ware God en sy aangestelde Leier en dat ons in ooreenstemming met daardie kennis optree!—Johannes 17:3.

Een van die beste pluimpies wat ons iemand kan gee, is om hom na te volg. Moet ons dan nie die grootste Leier in die mens se geskiedenis—Jesus Christus—probeer navolg nie? Hoe kan ons dit doen? Watter uitwerking sal dit op ons lewe hê as ons sy leierskap aanvaar? Hierdie vrae en ander sal in die volgende twee artikels bespreek word.

[Voetnoot]

a Sien bladsye 186-92 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 4]

Daniël het die koms van God se gekose Leier voorspel

[Prente op bladsy 7]

Jesus se onderrigting het mense voorberei om die lewe se probleme die hoof te bied

[Prent op bladsy 7]

Jesus sal gehoorsame mense in ’n vreedsame nuwe wêreld inlei