Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is Christus se leierskap vir jou ’n werklikheid?

Is Christus se leierskap vir jou ’n werklikheid?

Is Christus se leierskap vir jou ’n werklikheid?

“Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus.”—MATTEUS 23:10.

1. Wie alleen is die Leier van ware Christene?

 DIT was Dinsdag, 11 Nisan. Jesus Christus sou drie dae later doodgemaak word. Hy was vir die laaste keer by die tempel. Gedurende hierdie dag het Jesus die skare wat daar bymekaargekom het sowel as sy dissipels ’n belangrike les geleer. Hy het gesê: “Julle moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus” (Matteus 23:8-10). Dit is dus duidelik dat Jesus Christus die Leier van ware Christene is.

2, 3. Watter uitwerking het dit op ons lewe as ons na Jehovah luister en die Leier wat hy aangestel het, aanvaar?

2 Wat ’n heilsame uitwerking het dit tog op ons lewe as ons Jesus se leierskap aanvaar! Jehovah God het die koms van hierdie Leier voorspel en deur middel van die profeet Jesaja gesê: “Kom, almal wat dors is! Kom na die water. En dié wat geen geld het nie! Kom, koop en eet. Ja, kom, koop wyn en melk selfs sonder geld en sonder prys. . . . Luister aandagtig na my en eet wat goed is, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. . . . Kyk! As ’n getuie vir die volksgroepe het ek hom gegee, as ’n leier en ’n aanvoerder vir die volksgroepe.”—Jesaja 55:1-4.

3 Jesaja het alledaagse vloeistowwe—water, melk en wyn—as metafore gebruik om te toon hoe ons persoonlike lewe geraak word wanneer ons na Jehovah luister en die Leier en Aanvoerder wat hy ons gegee het, volg. Dit het ’n verkwikkende uitwerking. Dit is soos om ’n glas koue water op ’n warm dag te drink. Ons dors na waarheid en regverdigheid word geles. Net soos melk babas sterk maak en hulle laat groei, versterk ‘die melk van die woord’ ons en help dit ons om geestelik te groei in ons verhouding met God (1 Petrus 2:1-3). En wie kan ontken dat wyn bydra tot die vreugde tydens feesvieringe? Net so word ons lewe “net vreugdevol” as ons die ware God aanbid en in die voetstappe van sy aangestelde Leier volg (Deuteronomium 16:15). Dit is dus noodsaaklik dat ons almal—jonk en oud, manne en vroue—toon dat Christus se leierskap vir ons ’n werklikheid is. Maar hoe kan ons in ons daaglikse lewe toon dat die Messias ons Leier is?

Jongmense—‘Neem deurentyd toe in wysheid’

4. (a) Wat het gebeur toe die 12-jarige Jesus Jerusalem tydens die Pasga besoek het? (b) Hoe goed ingelig was Jesus toe hy maar 12 jaar oud was?

4 Dink aan die voorbeeld wat ons Leier vir jongmense gestel het. Hoewel ons nie baie van Jesus se kinderdae weet nie, is een gebeurtenis nogal insiggewend. Toe Jesus 12 jaar oud was, het sy ouers hom saamgeneem op hulle jaarlikse besoek aan Jerusalem vir die Pasga. By hierdie geleentheid het hy in ’n skriftuurlike gesprek verdiep geraak, en sy gesin het per ongeluk sonder hom vertrek. Drie dae later het sy bekommerde ouers, Josef en Maria, hom in die tempel gevind, “waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het”. En “almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde”. Dink net, toe Jesus maar 12 jaar oud was, kon hy nie alleen gedagteprikkelende vrae oor geestelike dinge vra nie, hy kon ook intelligente antwoorde gee! Die opleiding wat sy ouers hom gegee het, het ongetwyfeld gehelp.—Lukas 2:41-50.

5. Hoe kan jongmense bepaal wat hulle gesindheid teenoor gesinsbybelstudie is?

5 Miskien is jy ’n jong persoon. As jou ouers toegewyde knegte van Jehovah is, is daar heel moontlik ’n gereelde program van gesinsbybelstudie in julle huis. Wat is jou gesindheid teenoor die gesinstudie? Dink ’n bietjie na oor vrae soos die volgende: ‘Ondersteun ek die reëling vir Bybelstudie in my gesin heelhartig? Werk ek daarmee saam deur niks te doen wat die roetine sal omvergooi nie?’ (Filippense 3:16). ‘Neem ek aan die studie deel? Vra ek vrae oor die studiemateriaal en lewer ek kommentaar oor die toepassing daarvan, as dit gepas is? Kweek ek, namate ek geestelike vordering maak, ’n begeerte aan vir “vaste voedsel” wat “vir volwasse mense” is?’—Hebreërs 5:13, 14.

6, 7. Hoe nuttig kan ’n program van daaglikse Bybellees vir jongmense wees?

6 ’n Program van daaglikse Bybellees is ook waardevol. Die psalmis het gesing: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het . . . nie. Maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon” (Psalm 1:1, 2). Moses se opvolger, Josua, ‘het dag en nag op gedempte toon in die wetboek gelees’. Dit het hom in staat gestel om verstandig op te tree en sy godgegewe taak suksesvol uit te voer (Josua 1:8). Ons Leier, Jesus Christus, het gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom’” (Matteus 4:4). As ons elke dag fisiese voedsel nodig het, hoeveel te meer het ons dan gereeld geestelike voedsel nodig!

7 Die 13-jarige Nicole het besef dat sy ’n geestelike behoefte het en het begin om die Bybel elke dag te lees. a Sy is nou 16 en het die Bybel al een keer deurgelees en is nou die tweede keer amper halfpad deur. Haar metode is eenvoudig. “Ek sorg dat ek ten minste een hoofstuk per dag lees”, sê sy. Hoe het haar daaglikse Bybellees haar gehelp? Sy antwoord: “Daar is vandag oorgenoeg slegte invloede. Ek kry elke dag op skool en op ander plekke te doen met situasies wat my geloof toets. Omdat ek elke dag die Bybel lees, help dit my om gou aan Bybelse gebooie en beginsels te dink wat my aanmoedig om hierdie druk te weerstaan. Daarom voel ek nader aan Jehovah en Jesus.”

8. Wat was Jesus se gewoonte met betrekking tot die sinagoge, en hoe kan jongmense sy voorbeeld navolg?

8 Dit was Jesus se gewoonte om in die sinagoge na Skriflesing te luister en daaraan deel te neem (Lukas 4:16; Handelinge 15:21). Hoe goed is dit tog wanneer jongmense daardie voorbeeld navolg deur Christelike vergaderinge, waar die Bybel gelees en bestudeer word, gereeld by te woon! Richard, ’n 14-jarige, spreek sy waardering vir hierdie vergaderinge uit en sê: “Die vergaderinge is vir my kosbaar. Daar word ek voortdurend herinner aan wat goed is en wat sleg is, wat sedelik is en wat onsedelik is, wat Christelike gedrag is en wat dit nie is nie. Ek hoef dit nie deur bittere ondervinding te leer nie.” Ja, “die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys” (Psalm 19:7). Nicole sorg ook dat sy elke week al vyf gemeentelike vergaderinge bywoon. Sy gebruik ook twee tot drie uur om daarvoor voor te berei.—Efesiërs 5:15, 16.

9. Hoe kan jongmense ‘deurentyd toeneem in wysheid’?

9 Jou jeug is ’n goeie tyd om ‘kennis in te neem van die enigste ware God en van die een wat hy uitgestuur het, Jesus Christus’ (Johannes 17:3). Jy ken dalk jongmense wat baie tyd gebruik om strokiesverhale te lees, televisie te kyk, videospeletjies te speel of op die Internet rond te snuffel. Waarom moet jy hulle navolg terwyl jy die volmaakte voorbeeld van ons Leier kan navolg? Toe hy ’n seun was, het hy dit geniet om van Jehovah te leer. En wat was die resultaat? Weens sy liefde vir geestelike dinge het “Jesus . . . deurentyd toegeneem in wysheid” (Lukas 2:52). Jy kan ook.

“Wees onderdanig aan mekaar”

10. Wat sal help dat die gesinslewe ’n bron van vrede en geluk is?

10 Julle huis kan ’n toevlugsoord van vrede en tevredenheid wees of ’n slagveld van onenigheid en twis (Spreuke 21:19; 26:21). As ons Christus se leierskap aanvaar, dra dit by tot vrede en geluk in die gesin. Trouens, Jesus se voorbeeld is die model vir gesinsbetrekkinge. Die Skrif sê: “Wees onderdanig aan mekaar in die vrees van Christus. Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is, hy as redder van hierdie liggaam. . . . Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:21-25). Die apostel Paulus het aan die gemeente in Kolosse geskryf: “Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want dit is welbehaaglik in die Here.”—Kolossense 3:18-20.

11. Hoe kan ’n man toon dat Christus se leierskap vir hom ’n werklikheid is?

11 As hierdie raad toegepas word, beteken dit dat die man die leiding neem in die gesin, dat sy vrou hom lojaal ondersteun en dat die kinders aan hulle ouers gehoorsaam is. Maar slegs as die man se hoofskap reg uitgeoefen word, sal dit geluk tot gevolg hê. ’n Verstandige man moet leer hoe om hoofskap uit te oefen deur sy Hoof en Leier, Christus Jesus, na te volg (1 Korintiërs 11:3). Al het Jesus later ‘hoof oor alles met betrekking tot die gemeente’ geword, het hy aarde toe gekom, “nie om gedien te word nie, maar om te dien” (Efesiërs 1:22; Matteus 20:28). Net so oefen ’n Christenman nie sy hoofskap vir selfsugtige gewin uit nie, maar sodat hy na die belange van sy vrou en kinders—ja, die hele gesin—kan omsien (1 Korintiërs 13:4, 5). Hy probeer die godvrugtige eienskappe van sy hoof, Jesus Christus, navolg. Soos Jesus is hy saggeaard en nederig van hart (Matteus 11:28-30). Wanneer hy verkeerd is, is dit nie vir hom moeilik om woorde te gebruik soos “ek is jammer” of “jy is reg” nie. Die goeie voorbeeld van so ’n man maak dit vir ’n vrou makliker om ’n “helper”, ’n “komplement” en ’n “metgesel” vir hom te wees, van hom te leer en sy aan sy saam met hom te werk.—Genesis 2:20; Maleagi 2:14.

12. Wat sal ’n vrou help om haar aan die beginsel van hoofskap te onderwerp?

12 Op haar beurt moet die vrou aan haar man onderdanig wees. Maar as die gees van die wêreld haar aangetas het, kan dit begin om haar beskouing van die beginsel van hoofskap te ondermyn, en die idee om aan ’n man onderdanig te wees, sal haar nie aanstaan nie. Die Skrif gee nie te kenne dat die man dominerend moet wees nie, maar dit vereis wel dat vrouens aan hulle mans onderdanig moet wees (Efesiërs 5:24). En volgens die Bybel is die man of vader verantwoordelik vir die gesin, en wanneer die raad daarin toegepas word, dra dit by tot vrede en ordelikheid in die gesin.—Filippense 2:5.

13. Watter voorbeeld van onderdanigheid het Jesus vir kinders gestel?

13 Kinders moet aan hulle ouers gehoorsaam wees. In hierdie verband het Jesus ’n uitstekende voorbeeld gestel. Ná die voorval in die tempel, toe die 12-jarige Jesus drie dae lank daar agtergelaat is, het hy “saam met [sy ouers] afgegaan en in Nasaret gekom, en hy het aan hulle onderdanig gebly” (Lukas 2:51). Kinders se onderdanigheid aan hulle ouers dra by tot vrede en harmonie in die gesin. Wanneer almal in die gesin hulle aan Christus se leierskap onderwerp, het dit ’n gelukkige gesin tot gevolg.

14, 15. Wat sal ons help om sukses te hê wanneer ons met ’n moeilike situasie in die gesin te kampe het? Gee ’n voorbeeld.

14 Selfs wanneer moeilike situasies in die gesin ontstaan, is die sleutel tot sukses om Jesus na te volg en sy leiding te aanvaar. Die huwelik van 35-jarige Jerry en Lana, die ma van ’n tienerdogter, het byvoorbeeld ’n uitdaging gebied wat nie een van hulle verwag het nie. Jerry verduidelik: “Ek het geweet dat ek dieselfde Bybelbeginsels sou moes toepas wat ander gesinne suksesvol maak as ek ’n goeie gesinshoof wou wees. Maar ek het gou besef dat ek dit met groter wysheid en onderskeidingsvermoë moet toepas.” Sy stiefdogter het gevoel dat hy tussen haar en haar ma gekom het en het hom dit erg kwalik geneem. Jerry het onderskeidingsvermoë nodig gehad om te sien dat hierdie gesindheid die meisie se woorde en optrede beïnvloed het. Hoe het hy die situasie hanteer? Jerry antwoord: “Ek en Lana het ooreengekom dat Lana ten minste vir eers na die dissiplinêre aspek van ouerskap sou omsien, terwyl ek my daarop toegespits het om ’n goeie verhouding met my stiefdogter op te bou. Mettertyd het hierdie benadering goeie vrugte afgewerp.”

15 Wanneer ons met moeilike situasies in die gesin te kampe het, het ons onderskeidingsvermoë nodig om uit te vind waarom gesinslede sekere dinge sê of doen. Ons het ook wysheid nodig om Goddelike beginsels reg toe te pas. Jesus kon byvoorbeeld duidelik onderskei waarom die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, aan hom geraak het, en hy het op ’n verstandige en medelydende wyse teenoor haar opgetree (Levitikus 15:25-27; Markus 5:30-34). Wysheid en onderskeidingsvermoë is kenmerke van ons Leier (Spreuke 8:12). Ons is gelukkig as ons optree soos hy sou opgetree het.

‘Hou aan om eers die koninkryk te soek’

16. Wat moet die belangrikste in ons lewe wees, en hoe het Jesus dit deur sy voorbeeld getoon?

16 Jesus het ons in geen onsekerheid gelaat oor wat die belangrikste moet wees in die lewe van diegene wat sy leierskap aanvaar nie. Hy het gesê: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy [God se] regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). En deur sy voorbeeld het hy ons gewys hoe om dit te doen. Aan die einde van die tydperk van 40 dae van vas, bepeinsing en gebed wat op sy doop gevolg het, het Jesus voor ’n versoeking te staan gekom. Satan die Duiwel het hom heerskappy oor “al die koninkryke van die wêreld” aangebied. Stel jou die lewe voor wat Jesus kon geniet het as hy die Duiwel se aanbod aanvaar het! Maar Christus se aandag was toegespits op die uitvoering van sy Vader se wil. Hy het ook besef dat so ’n lewe in Satan se wêreld maar kort sou wees. Hy het onmiddellik die Duiwel se aanbod verwerp en gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig.’” Kort daarna het Jesus “begin preek en sê: ‘Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matteus 4:2, 8-10, 17). Vir die res van sy aardse lewe was Christus ’n voltydse verkondiger van God se Koninkryk.

17. Hoe kan ons toon dat Koninkryksbelange die belangrikste in ons lewe is?

17 Dit is goed as ons ons Leier navolg en nie toelaat dat Satan se wêreld ons verlok om ’n betrekking met ’n hoë salaris of ’n loopbaan ons vernaamste doel in die lewe te maak nie (Markus 1:17-21). Hoe dwaas sou dit tog van ons wees om so verstrengel te raak in wêreldse strewes dat Koninkryksbelange van sekondêre belang word! Jesus het die werk om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak, aan ons toevertrou (Matteus 24:14; 28:19, 20). Ja, ons het dalk ’n gesin of ander verantwoordelikhede waarna ons moet omsien, maar is ons nie bly dat ons in die aand en oor naweke ons Christelike verantwoordelikheid om te getuig en te onderrig, kan nakom nie? En hoe aanmoedigend is dit tog dat sowat 780 000 gedurende die 2001-diensjaar as voltydse bedienaars, of pioniers, kon dien!

18. Wat help ons om vreugde uit die bediening te put?

18 Die Evangelieverslae beeld Jesus uit as ’n man van die daad en ook as iemand wat tere gevoelens gehad het. Toe hy die geestelike behoeftes van die mense om hom gesien het, het hy vir hulle innig jammer gevoel en hulle met graagte gehelp (Markus 6:31-34). Ons bediening bring vir ons vreugde mee wanneer ons daaraan deelneem uit liefde vir ander en met ’n opregte begeerte om hulle te help. Maar hoe kan ons so ’n begeerte aankweek? “Toe ek in my tienerjare was”, sê ’n jong man, Jayson, “het ek nie baie daarvan gehou om velddiens te doen nie.” Wat het hom gehelp om ’n liefde vir hierdie werk aan te kweek? Jayson antwoord: “In ons gesin is Saterdagoggend altyd opsy gesit om velddiens te doen. Dit het my goed gedoen, want hoe meer ek velddiens gedoen het, hoe meer kon ek die goeie resultate daarvan sien en hoe meer het ek dit geniet.” Ons moet ook gereeld en ywerig aan die bediening deelneem.

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen met betrekking tot Christus se leierskap?

19 Dit is inderdaad verkwikkend en lonend om Christus se leierskap te aanvaar. Wanneer ons dit doen, word die jeugjare ’n tyd om te groei in kennis en wysheid. Die gesinslewe is ’n bron van vrede en geluk, en die bediening is ’n werk wat vreugde en tevredenheid meebring. Laat ons dan vasbeslote wees om in ons daaglikse lewe en deur die besluite wat ons neem, te toon dat die leierskap van Christus vir ons ’n werklikheid is (Kolossense 3:23, 24). Maar Jesus Christus voorsien leierskap deur nog ’n kanaal—die Christengemeente. Die volgende artikel sal bespreek hoe ons by hierdie voorsiening baat kan vind.

[Voetnoot]

a Party name is verander.

Onthou jy?

• Hoe vind ons daarby baat as ons ons Leier wat deur God aangestel is, volg?

• Hoe kan jongmense toon dat hulle Jesus se leierskap wil volg?

• Watter uitwerking het Christus se leierskap op die gesinslewe van dié wat hulle daaraan onderwerp?

• Hoe kan ons bediening toon dat Christus se leierskap vir ons ’n werklikheid is?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 9]

Die jeugjare is ’n goeie tyd om kennis van God en van ons aangestelde Leier op te doen

[Prent op bladsy 10]

Onderdanigheid aan Christus se leierskap bevorder gesinsgeluk

[Prente op bladsy 12]

Jesus het die Koninkryk eerste gesoek. Doen jy dit?