Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan eensaamheid die hoof bied

Jy kan eensaamheid die hoof bied

Jy kan eensaamheid die hoof bied

WIE kan sê dat hulle nog nooit die pyn ervaar het wat eensaamheid meebring nie? Baie faktore kan ons eensaam laat voel. Maar die eensaamheid van vroue wat nooit getrou het nie of wat weduwees is of geskei is, kan uiters pynlik wees.

’n Jong Christenvrou met die naam Frances vertel byvoorbeeld: “Teen die tyd dat ek 23 was, het dit gelyk of al my vriendinne getroud was en ek alleen oorgebly het.” a Die gevoel van afsondering kan vererger namate die jare verbygaan en die vooruitsig op ’n huwelik al hoe skraler word. “Ek het nooit beplan om ongetroud te bly nie, en ek sal nog steeds graag wil trou as die geleentheid hom voordoen”, erken Sandra, wat nou in haar laat veertigerjare is. Angela, wat in haar vyftigerjare is, sê: “Ek het nie ’n bewuste besluit gemaak om ongetroud te bly nie, maar dit is hoe sake uitgewerk het. Daar was baie min ongetroude broers in die gebied waarheen ek as ’n spesiale pionier gestuur is.”

Dit is prysenswaardig dat baie Christenvroue verkies om ongetroud te bly omdat hulle lojaal ag slaan op Jehovah se raad om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Party pas goed aan by die ongetroude lewe, maar ander vind dat die begeerte om te trou en kinders te hê, met die jare al hoe sterker word. “Die emosionele leemte wat ek voel omdat ek nie ’n huweliksmaat het nie, is my permanente metgesel”, erken Sandra.

Ander faktore, soos om na bejaarde ouers om te sien, kan die gevoel van eensaamheid vererger. “Omdat ek nie getroud is nie, het my familie van my verwag om na ons bejaarde ouers om te sien”, sê Sandra. “Ek het 20 jaar lank die grootste deel van hierdie verantwoordelikheid gedra, al is ek een van ses kinders. Die lewe sou soveel makliker gewees het met ’n man wat my belange op die hart kon dra.”

Frances noem nog iets wat haar eensaamheid vererger. Sy vertel: “Soms vra mense my reguit: ‘Waarom is jy nog nie getroud nie?’ So ’n opmerking laat my voel of dit op die een of ander manier my skuld is dat ek ongetroud is. By feitlik elke troue wat ek bywoon, vra iemand my die gevreesde vraag: ‘So, wanneer trou jy?’ Dan begin ek wonder: ‘As geestelikgesinde broers nie in my belangstel nie, dan het ek seker nie die nodige Christelike eienskappe nie of is ek dalk net onaantreklik.’”

Hoe kan gevoelens van afsondering en eensaamheid oorkom word? Is daar enigiets wat ander kan doen om te help?

Vertrou op Jehovah

Die psalmis het gesing: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:22). Die woord “las” in die Hebreeuse teks beteken letterlik “lot”, en dit verwys na die sorge en angs wat ons moontlik weens ons lot in die lewe verduur. Jehovah is meer bewus van hierdie laste as enigiemand anders en kan ons die krag gee om daarteen opgewasse te wees. Vertroue op Jehovah God het Angela gehelp om haar gevoel van eensaamheid te verwerk. Sy verwys na haar voltydse bediening en sê: “Aan die begin van my pionierdiens het ek en my pioniermaat ver van die naaste gemeente gebly. Ons het geleer om volkome op Jehovah te vertrou, en hierdie vertroue het my deur my hele lewe heen gehelp. Wanneer ek negatiewe gedagtes koester, praat ek met Jehovah, en hy help my. Psalm 23 het my nog altyd baie vertroos, en ek lees dit dikwels.”

Die apostel Paulus het ’n besonder groot las gehad om te dra. By ten minste drie geleenthede het hy ‘die Here dringend versoek dat ’n doring in die vlees van hom sou wyk’. Paulus is nie op wonderdadige wyse gehelp nie, maar hy het wel ’n belofte ontvang dat God se onverdiende goedhartigheid hom sou onderskraag (2 Korintiërs 12:7-9). Paulus het ook die geheim van tevredenheid geleer. Hy het later geskryf: “In alles en in alle omstandighede het ek die geheim daarvan geleer om versadig te wees sowel as om honger te wees, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:12, 13.

Hoe kan ’n mens krag van God verkry wanneer jy ontmoedig of eensaam voel? Paulus het geskryf: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Sandra pas hierdie raad toe. Sy verduidelik: “Omdat ek ongetroud is, is ek dikwels alleen. Dit gee my baie geleenthede om tot Jehovah te bid. Ek voel baie na aan hom en kan vryelik met hom praat oor my probleme en vreugdes.” En Frances sê: “Dit is ’n opdraande stryd om op my eie teen negatiewe gedagtes te stry. Maar as ek my gevoelens openlik teenoor Jehovah uitspreek, help dit ontsettend baie. Ek is oortuig daarvan dat Jehovah belangstel in enigiets wat my geestelike en emosionele welsyn kan raak.”—1 Timoteus 5:5.

“Hou aan om mekaar se laste te dra”

Binne die Christenbroederskap hoef ’n mens nie jou laste alleen te dra nie. “Hou aan om mekaar se laste te dra, en vervul só die wet van die Christus”, het die apostel Paulus gemaan (Galasiërs 6:2). Deur met mede-Christene om te gaan, kan ons “die goeie woord” van aanmoediging kry wat die las van eensaamheid kan verlig.—Spreuke 12:25.

Neem ook byvoorbeeld wat die Skrif sê oor die dogter van Jefta, ’n rigter in Israel. Voor sy oorwinning oor die vyandelike magte van Ammon het Jefta ’n gelofte gedoen dat hy die eerste een van sy huis wat uitkom om hom geluk te wens, aan Jehovah sou gee. Dit was toe sy dogter (Rigters 11:30, 31, 34-36). Al het dit beteken dat sy ongetroud sou moes bly en van haar normale begeerte moes afsien om ’n gesin te hê, het Jefta se dogter haar gewillig aan hierdie gelofte onderwerp en die res van haar lewe by die heiligdom in Silo gedien. Het die opoffering wat sy gemaak het, ongemerk verbygegaan? Inteendeel: “Van jaar tot jaar het die dogters van Israel gegaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, vier dae in die jaar lof toe te swaai” (Rigters 11:40). Ja, lof kan ’n aanmoediging wees vir diegene wat dit ontvang. Laat ons derhalwe nooit versuim om dié wat dit verdien, lof toe te swaai nie.

Dit sal ook goed wees om na Jesus se voorbeeld te kyk. Al was dit nie die Joodse gebruik vir mans om met vroue te gesels nie, het Jesus tyd saam met Maria en Marta deurgebring. Hulle was waarskynlik óf weduwees óf ongetroude vroue. Jesus wou hê dat hulle albei die geestelike voordele van sy vriendskap moes geniet (Lukas 10:38-42). Ons kan Jesus se voorbeeld navolg deur ook ons ongetroude geestelike susters na gesellighede te nooi en reëlings te tref om saam met hulle aan die predikingswerk deel te neem (Romeine 12:13). Waardeer hulle hierdie belangstelling? Een suster het gesê: “Ek weet dat die broers en susters my liefhet en waardeer, maar ek is dankbaar wanneer die belangstelling wat hulle toon, ’n bietjie persoonliker is.”

“Omdat ons niemand het wat aan ons behoort nie”, verduidelik Sandra, “het ons ’n groter behoefte aan liefde, om deel te voel van die gesin geestelike broers en susters.” Jehovah gee uiteraard vir sulke mense om, en ons werk met hom saam wanneer ons hulle nodig en geliefd laat voel (1 Petrus 5:6, 7). Sulke besorgdheid sal nie ongemerk verbygaan nie, want “hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy [Jehovah God] sal hom vir sy handelswyse beloon”.—Spreuke 19:17.

“Elkeen sal sy eie vrag dra”

Ander kan weliswaar help, en hulle ondersteuning kan baie aanmoedigend wees, maar “elkeen sal sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:5). Wanneer ons die vrag van eensaamheid dra, moet ons egter op ons hoede wees vir sekere gevare. Byvoorbeeld, eensaamheid kan ons oorweldig as ons in emosionele sin in ons dop kruip. Aan die ander kant kan ons eensaamheid die hoof bied deur liefde te betoon (1 Korintiërs 13:7, 8). Die beste manier waarop ons geluk kan vind, is deur vrygewig en mededeelsaam te wees—ongeag ons omstandighede (Handelinge 20:35). “Ek het nie veel tyd om aan eensaamheid te dink nie”, sê een hardwerkende pioniersuster. “Wanneer ek voel dat ek nuttig en besig is, voel ek nie eensaam nie.”

Ons moet ook versigtig wees dat eensaamheid nie tot ’n onverstandige verhouding lei nie. Hoe tragies sal dit byvoorbeeld wees as die begeerte om te trou, ons verblind vir die talle probleme wat dit meebring om met ’n ongelowige te trou en veral vir die Skriftuurlike raad om so ’n juk te vermy! (2 Korintiërs 6:14). ’n Geskeide Christenvrou het gesê: “Daar is iets wat baie erger is as om ongetroud te wees. Dit is om met die verkeerde persoon getroud te wees.”

As daar nie ’n oplossing vir ’n probleem is nie, sal ’n mens dit, ten minste vir die huidige, moet verduur. Met God se hulp kan eensaamheid verduur word. Terwyl ons voortgaan om Jehovah te dien, kan ons vol vertroue wees dat al ons behoeftes eendag op die beste manier moontlik bevredig sal word.—Psalm 145:16.

[Voetnoot]

a Die name van die vroue wat aangehaal word, is verander.

[Prente op bladsy 28]

’n Mens kan eensaamheid die hoof bied deur vrygewig en mededeelsaam te wees