Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vergaderinge wat tot liefde en goeie werke aanspoor

Vergaderinge wat tot liefde en goeie werke aanspoor

“Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”

Vergaderinge wat tot liefde en goeie werke aanspoor

VAN Toronto tot Tokio, van Moskou tot Montevideo stroom miljoene Getuies van Jehovah en hulle vriende verskeie keer elke week na hulle plekke van aanbidding. Onder hulle is hardwerkende gesinsmanne wat uitgeput is ná ’n lang dag by die werk; vlytige vrouens en moeders met hulle kindertjies; energieke jongmense wat die dag by die skool deurgebring het; swak bejaardes wat stadig loop weens kwale en pyne; moedige weduwees en wese en terneergedrukte siele wat vertroosting nodig het.

Hierdie Getuies van Jehovah maak van baie soorte vervoer gebruik—van blitsvinnige sneltreine tot donkies; van beknopte moltreine tot vragmotors. Party moet riviere vol krokodille oorsteek, terwyl ander deur die swaar verkeer van groot stede moet sukkel. Waarom doen al hierdie mense soveel moeite?

Hoofsaaklik omdat dit ’n belangrike deel van hulle aanbidding van Jehovah God uitmaak om Christelike vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem (Hebreërs 13:15). Die apostel Paulus het na nog ’n rede verwys toe hy geskryf het: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat . . . nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Hier was Paulus dit eens met die psalmis Dawid wat gesing het: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Laat ons na die huis van Jehovah gaan.’”—Psalm 122:1.

Waarom is Christene bly om hulle vergaderinge by te woon? Omdat diegene wat daar teenwoordig is, nie net waarnemers is nie. Die vergaderinge bied hulle eerder die geleentheid om mekaar te leer ken. Hierdie samekomste maak dit veral moontlik om te gee, nie net om te ontvang nie, en om mekaar aan te spoor om liefde te betoon en aan goeie werke deel te neem. Hierdie dinge help om vergaderinge opbouende geleenthede te maak. Boonop is Christelike vergaderinge een van die maniere waarop Jesus sy belofte vervul: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik.”—Matteus 11:28.

’n Oase van vertroosting en besorgdheid

Daar is goeie redes waarom Jehovah se Getuies hulle vergaderinge as verkwikkend beskou. Om maar een ding te noem, by vergaderinge word geestelike voedsel op die regte tyd deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien (Matteus 24:45). Vergaderinge speel ook ’n belangrike rol daarin om Jehovah se knegte bekwame en ywerige onderrigters van God se Woord te maak. Daarbenewens kan ’n mens ’n groep liefdevolle en besorgde vriende by die Koninkryksaal vind wat gereed en gewillig is om ander gedurende moeilike tye te help en te vertroos.—2 Korintiërs 7:5-7.

Dit is wat Phillis, ’n weduwee wat haar man verloor het toe haar kinders vyf en agt jaar oud was, ondervind het. Sy het die verkwikkende uitwerking van die Christelike vergaderinge op haar en haar kinders beskryf en gesê: “Dit het ons vertroos om na die Koninkryksaal toe te gaan, want mede-aanbidders het altyd hulle liefde en besorgdheid getoon met ’n drukkie, ’n Bybelgedagte of deur jou hand te druk. Dit is ’n plek waar ek altyd wou wees.”—1 Tessalonisense 5:14.

Nadat Marie ’n groot operasie ondergaan het, het haar dokter gesê dat dit haar ten minste ses weke sou neem om te herstel. Terwyl sy die eerste paar weke aangesterk het, kon Marie nie die vergaderinge bywoon nie. Haar dokter het opgemerk dat sy nie so opgeruimd soos vroeër is nie. Toe hy besef dat sy nie die vergaderinge bywoon nie, het hy haar aangespoor om dit te doen. Marie het gesê dat haar man, wat nie haar geloofsoortuigings deel nie, haar nie na die vergaderinge sou laat gaan nie omdat hy besorg was oor haar gesondheid. Die dokter het derhalwe ’n amptelike voorskrif uitgeskryf waarin hy Marie “beveel” het om na die Koninkryksaal te gaan vir aanmoediging en opbouende omgang. Marie sê ten slotte: “Nadat ek een vergadering bygewoon het, het ek soveel beter gevoel. Ek het begin eet, in die nagte deurgeslaap, ek het minder dikwels pynstillers nodig gehad en het weer geglimlag!”—Spreuke 16:24.

Die liefdevolle gees wat by Christelike vergaderinge heers, word deur buitestanders opgemerk. ’n Kollegestudent het besluit om Jehovah se Getuies waar te neem sodat sy ’n werkstuk vir haar etnologieklas kon skryf. Aangaande die atmosfeer by die vergaderinge het sy in haar werkstuk geskryf: “Die hartlikheid waarmee ek verwelkom is . . . , [het] my baie beïndruk. . . . Die vriendelikheid van Jehovah se Getuies was baie opvallend, en ek meen dat dit die grootste bydrae lewer tot die gees wat daar heers.”—1 Korintiërs 14:25.

In hierdie wêreld vol probleme is die Christengemeente ’n geestelike oase. Dit is ’n toevlugsoord van vrede en liefde. Deur die vergaderinge by te woon, kan jy die waarheid van die psalmis se woorde self ervaar: “Kyk! Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!”—Psalm 133:1.

[Venster/Prent op bladsy 25]

DAAR WORD IN ’N SPESIALE BEHOEFTE VOORSIEN

Hoe vind diegene wat nie kan hoor nie by Christelike vergaderinge baat? Regoor die wêreld stig Jehovah se Getuies gemeentes wat gebaretaal gebruik. Gedurende die afgelope 13 jaar is daar in die Verenigde State 27 gemeentes en 43 groepe gestig wat gebaretaal gebruik. In ten minste 40 ander lande is daar nou ongeveer 140 gemeentes wat gebaretaal gebruik. Christelike publikasies is al in 13 gebaretale op video beskikbaar gestel.

Die Christengemeente gee die dowes die geleentheid om Jehovah te loof. Odile, ’n voormalige Katoliek in Frankryk wat aan ernstige depressie gely en selfmoordgedagtes gekoester het, is innig dankbaar vir die Bybelonderrig wat sy by die Christelike vergaderinge ontvang het. “Ek het my gesondheid en lewensvreugde herwin”, sê sy. “Maar bowenal het ek die waarheid gevind. Die lewe het nou vir my ’n doel.”