Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is die maagd Maria se onvolmaaktheid enigsins by bevrugting aan Jesus oorgedra?

Aangaande “die geboorte van Jesus” sê die geïnspireerde verslag: “Gedurende die tyd dat sy moeder Maria aan Josef in die huwelik beloof was, is daar bevind dat sy deur heilige gees swanger was voordat hulle verenig is” (Matteus 1:18). God se heilige gees het inderdaad ’n sleutelrol in Maria se swangerskap gespeel.

Maar wat van Maria? Was haar eiersel, of ovum, enigsins by haar swangerskap betrokke? In die lig van God se beloftes aan Abraham, Isak, Jakob, Juda en koning Dawid—Maria se voorvaders—moes die kind wat gebore sou word, hulle ware nakomeling wees (Genesis 22:18; 26:24; 28:10-14; 49:10; 2 Samuel 7:16). Hoe anders kon die kind wat vir Maria gebore sou word, ’n regmatige erfgenaam van daardie Goddelike beloftes wees? Hy moes haar eie seun wees.—Lukas 3:23-34.

Jehovah se engel het aan die maagd Maria verskyn en gesê: “Moenie vrees nie, Maria, want jy het guns by God gevind; en kyk! jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom Jesus noem” (Lukas 1:30, 31). Bevrugting behels dat ’n eiersel bevrug word. Jehovah God het blykbaar ’n ovum in Maria se moederskoot bevrug deur die lewe van sy enigverwekte Seun uit die geesteryk na die aarde toe oor te plaas.—Galasiërs 4:4.

Kon ’n kind wat op hierdie manier deur ’n onvolmaakte vrou ontvang is, liggaamlik volmaak en sondeloos wees? Watter rol speel die oorerflikheidswette wanneer volmaaktheid met onvolmaaktheid verenig word? Onthou dat heilige gees gebruik is om die volmaakte lewenskrag van God se Seun oor te plaas en die bevrugting te laat plaasvind. Dit het enige onvolmaaktheid uitgeskakel wat in Maria se ovum was, en sodoende is ’n genetiese patroon voortgebring wat van die begin af volmaak was.

Hoe dit ook al sy, ons kan daarvan seker wees dat die werking van God se heilige gees op hierdie tydstip die sukses van God se voorneme gewaarborg het. Die engel Gabriël het aan Maria verduidelik: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word” (Lukas 1:35). Ja, God se heilige gees het as ’t ware ’n beskermende muur gevorm sodat geen onvolmaaktheid of skadelike invloed die ontwikkelende embrio van bevrugting af kon benadeel nie.

Jesus het sy volmaakte menselewe ongetwyfeld aan sy hemelse Vader te danke gehad, nie aan enige mens nie. Jehovah het vir hom “’n liggaam berei”, en Jesus was—van bevrugting af—waarlik “onbesmet, afgeskeie van die sondaars”.—Hebreërs 7:26; 10:5.

[Prent op bladsy 19]

“Jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee”