Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly wakker, gaan moedig vooruit!

Bly wakker, gaan moedig vooruit!

Bly wakker, gaan moedig vooruit!

Verslag oor Spesiale vergaderinge

WIE kan werklik ontken dat ons in “kritieke tye [lewe] wat moeilik is om deur te kom”? As Jehovah se Getuies is ons nie immuun teen die druk van die lewe in “die laaste dae” nie (2 Timoteus 3:1-5). Maar ons besef dat mense hulp nodig het. Hulle verstaan nie die betekenis van wêreldgebeure nie. Hulle het vertroosting en hoop nodig. Wat is die vernaamste rol wat ons kan vervul om ons medemens te help?

Ons het ’n godgegewe opdrag om die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14). Mense moet weet dat hierdie hemelse Koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is. Maar ons boodskap word nie altyd gunstig ontvang nie. In sommige plekke is ons werk verbied en word ons broers vervolg. Nogtans gee ons nie moed op nie. Ons stel ons volle vertroue in Jehovah en is vasbeslote om wakker te bly en steeds moedig vooruit te gaan, terwyl ons die goeie nuus sonder ophou bekend maak.—Handelinge 5:42.

Hierdie vasbeslotenheid kon duidelik gesien word by spesiale vergaderinge wat in Oktober 2001 gehou is. Op Saterdag, 6 Oktober, is die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië gehou in die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City, New Jersey, in die Verenigde State. a Die volgende dag is bykomende vergaderinge op vier plekke gehou, drie in die Verenigde State en een in Kanada. b

In sy inleidingskommentare by die jaarvergadering het die voorsitter, Samuel F. Herd, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, na Psalm 92:1, 4 verwys en toe gesê: “Ons wil ons dankbaarheid toon.” Vyf verslae uit ander wêrelddele het ons inderdaad rede tot dankbaarheid gegee.

Verslae van heinde en ver

Broer Alfred Kwakye het vertel hoe die predikingswerk in Ghana, wat vroeër die Goudkus genoem is, vorder. Ons werk was etlike jare in daardie land verbied. Mense het gevra: “Waarom die verbod? Wat het julle gedoen?” Dit het geleenthede geskep om te getuig, het broer Kwakye verduidelik. Toe die verbod in 1991 opgehef is, was daar 34 421 Getuies van Jehovah in Ghana. In Augustus 2001 was daar altesaam 68 152—’n vermeerdering van 98 persent. Daar word nou beplan om ’n Byeenkomssaal met 10 000 sitplekke te bou. Dit is duidelik dat ons geestelike broers in Ghana hulle godsdiensvryheid ten beste benut.

Ten spyte van die politieke onrus in Ierland, is ons broers daar bedrywig in die bediening, en hulle word weens hulle neutrale standpunt gerespekteer. Ierland het 115 gemeentes in 6 kringe, het die takkomitee-koördineerder, Peter Andrews, gesê. Broer Andrews het ’n ondervinding vertel van Liam, ’n tienjarige seun wat onbevrees by die skool getuig. Liam het My boek met Bybelverhale, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, vir 25 van sy klasmaats sowel as vir sy onderwyser gebring. Liam wou gedoop word, maar iemand het gevra of hy nie te jonk is nie. Liam het geantwoord: “Dit is nie my ouderdom nie, maar my liefde vir Jehovah wat belangrik is. My doop sal wys hoe lief ek hom het.” Liam wil graag eendag ’n sendeling word.

In 1968 was daar 5 400 verkondigers van die goeie nuus in Venezuela. Maar daar is nou meer as 88 000, het Stefan Johansson, die takkomitee-koördineerder, gesê. En daar is die potensiaal vir verdere groei, want meer as 296 000 het in 2001 die Gedenkmaal bygewoon. In Desember 1999 het stortreëns modderstortings veroorsaak waarin daar na raming 50 000 mense dood is, waaronder ’n aantal Getuies. Een Koninkryksaal was tot sowat ’n halwe meter van die plafon af met modder gevul. Toe iemand sê dat die broers maar van die gebou moet afsien, het hulle geantwoord: “Nooit! Dit is ons Koninkryksaal, en ons gaan dit nie nou net so los nie.” Hulle het aan die werk gespring en tonne modder, klippe en ander puin verwyder. Die gebou is opgeknap, en die broers sê dat dit nou nog mooier is as voor die ramp!

In die Filippyne word 87 tale en dialekte gepraat, het broer Denton Hopkinson, die takkomitee-koördineerder, gesê. Gedurende die afgelope diensjaar is die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in die land se drie hooftale vrygestel—Cebuano, Iloko en Tagalog. Broer Hopkinson het ’n ondervinding vertel van ’n negejarige seun wat die boek Goeie nuus om jou gelukkig te maak, uitgegee deur Jehovah se Getuies, gelees het. Hy het nog publikasies by die takkantoor gekry, wat hy ook gelees het, maar sy gesin het hom teëgestaan. Toe hy jare later aan ’n mediese fakulteit gestudeer het, het hy met die takkantoor in aanraking gekom en ’n Bybelstudie gevra. Hy is in 1996 gedoop en het kort daarna die voltydse bediening betree. Hy en sy vrou dien nou by die takkantoor.

‘Puerto Rico is in die “Getuie-uitvoer”-bedryf’, het die takkomitee-koördineerder Ronald Parkin verduidelik. Daar is ongeveer 25 000 verkondigers op die eiland, en die getal het jare lank dieselfde gebly. Waarom? Wel, daar word gereken dat Puerto Rico sowat 1 000 verkondigers per jaar na die Verenigde State “uitvoer”, waarvan baie weens ekonomiese redes wegtrek. Broer Parkin het vertel van ’n epogmakende hofbeslissing waarby Luis, ’n 17-jarige Getuie met leukemie, betrokke was. Omdat Luis bloed geweier het, is sy saak hof toe geneem. Die regter wou persoonlik met hom praat en het hom derhalwe in die hospitaal gaan besoek. Luis het haar gevra: “As ek ’n ernstige misdaad sou pleeg, sou u my as ’n volwassene verhoor, maar waarom word ek as ’n minderjarige gereken wanneer ek God wil gehoorsaam?” Die regter was oortuig dat hy ’n volwasse minderjarige was en self kon besluit.

Ná die verslae uit verre lande het Harold Corkern, ’n lid van die Takkomitee in die VSA, onderhoude gevoer met vier knegte van Jehovah wat hom al lank dien. Arthur Bonno is al 51 jaar in die voltydse diens en dien tans op die Takkomitee in Ecuador. Angelo Catanzaro is al 59 jaar in die voltydse diens, waarvan hy die meeste as ’n reisende opsiener deurgebring het. Richard Abrahamson het in 1953 aan die Gileadskool gegradueer en het die voorreg gehad om 26 jaar lank toesig te hou oor die werk in Denemarke voordat hy na die Brooklynse Bethel teruggekeer het. Ten slotte was almal verheug om na die onderhoud met die 96-jarige Carey W. Barber te kon luister. Broer Barber, wat in 1921 gedoop is, is al 78 jaar in die voltydse diens en is sedert 1978 ’n lid van die Bestuursliggaam.

Besielende toesprake

Die jaarvergadering het ’n reeks gedagteprikkelende toesprake ingesluit. Broer Robert W. Wallen het die onderwerp “’n Volk vir sy naam” bespreek. Ons is God se naamvolk, en ons kan in meer as 230 lande gevind word. Jehovah het ons “’n toekoms en ’n hoop” gegee (Jeremia 29:11). Ons moet voortgaan om God se Koninkryk te verkondig en die wonderlike boodskap van bemoediging en vertroosting aan mense uit te dra (Jesaja 61:1). Broer Wallen het afgesluit: “Mag ons dag na dag die naam wat ons dra, Jehovah se Getuies, waardig bly.”—Jesaja 43:10.

Die laaste deel van die program het bestaan uit ’n simposium deur drie lede van die Bestuursliggaam. Die tema daarvan was “Nou is die tyd om wakker te bly, vas te staan en sterk te word”.—1 Korintiërs 16:13.

Broer Stephen Lett was eerste aan die beurt en het gepraat oor die onderwerp “Bly wakker in hierdie laat uur”. Fisiese slaap is ’n gawe, het broer Lett verduidelik. Dit gee ons hernieude krag. Maar geestelike slaap is nooit voordelig nie (1 Tessalonisense 5:6). Hoe kan ons derhalwe geestelik wakker bly? Broer Lett het ’n oorsig gegee van drie geestelike “pille”: (1) Doen baie in die werk van die Here (1 Korintiërs 15:58). (2) Wees bewus van jou geestelike behoefte (Matteus 5:3). (3) Gee gehoor aan Bybelraad sodat jy met wysheid kan optree.—Spreuke 13:20.

Broer Theodore Jaracz het ’n besielende toespraak gehou met die tema “Bly standvastig tydens beproewing”. Broer Jaracz het na Openbaring 3:10 verwys en gevra: “Wat is die ‘uur van beproewing’?” Hierdie beproewing kom “in die dag van die Here”, waarin ons vandag lewe (Openbaring 1:10). Die beproewing draai om die vernaamste geskil—skaar ons ons aan die kant van God se opgerigte Koninkryk of aan die kant van Satan se goddelose stelsel van dinge? Totdat hierdie uur van beproewing tot ’n einde kom, sal ons voor toetse of probleme te staan kom. Gaan ons lojaal aan Jehovah en sy organisasie bly? ‘Ons sal hierdie lojaliteit as individue aan die dag moet lê’, het broer Jaracz gesê.

Laastens het broer John E. Barr die tema “Word sterk as ’n geestelike mens” bespreek. Hy het na Lukas 13:23-25 verwys en gesê dat ons ons moet inspan “om deur die nou deur in te gaan”. Baie faal omdat hulle hulle nie daarop toelê om sterk te word nie. As ons ryp Christene wil word, moet ons leer om Bybelbeginsels in alle aspekte van die lewe toe te pas. Broer Barr het die gehoor aangespoor: “Ek is seker julle sal saamstem dat dit nou die tyd is om (1) Jehovah die eerste plek in ons lewe te gee; (2) sterk te word en (3) ons in te span om Jehovah se wil te doen. Sodoende sal ons deur die nou deur kan ingaan wat tot ’n wonderlike, ewige lewe lei.”

Teen die einde van die jaarvergadering was daar nog een vraag wat onbeantwoord was: Wat is die jaarteks vir die 2002-diensjaar? Hierdie vraag is die volgende dag beantwoord.

Bykomende vergadering

Sondagoggend het daar groot afwagting geheers toe die program vir die bykomende vergadering begin het. Dit het met ’n opsomming van die week se Wagtoring-studie begin, en daarop het ’n kort oorsig van hoogtepunte van die jaarvergadering gevolg. Daarna was almal verheug om na ’n toespraak oor die jaarteks vir 2002 te kon luister: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik” (Matteus 11:28). Die toespraak was op studieartikels gebaseer wat later in Die Wagtoring van 15 Desember 2001 verskyn het.

Daarna het van die afgevaardigdes vertel van die spesiale “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkomste wat hulle in Augustus 2001 in Frankryk en Italië bygewoon het. c Laastens was daar die hoogtepunt van die dag se program: twee slottoesprake deur besoekende sprekers van die Brooklynse Bethel.

Die tema van die eerste een was “Vertrou moedig op Jehovah gedurende hierdie kritieke tye”. Die spreker het die volgende hoofpunte ontwikkel: (1) Moedige vertroue op Jehovah was nog altyd noodsaaklik vir God se volk. Die Bybel bevat baie voorbeelde van mense wat ten spyte van teenstand, moed en geloof aan die dag gelê het (Hebreërs 11:1–12:3). (2) Jehovah voorsien ’n vaste grondslag vir volkome vertroue op hom. Sy handelinge en sy Woord verseker ons dat hy vir sy knegte omgee en hulle nooit sal vergeet nie (Hebreërs 6:10). (3) Ons het veral vandag moed en vertroue nodig. Ons is “voorwerpe van haat”, soos Jesus voorspel het (Matteus 24:9). As ons wil volhard, moet ons op God se Woord vertrou, oortuig wees dat sy gees met ons is en moedig aanhou met die verkondiging van die goeie nuus. (4) Voorbeelde toon dat ons nou met teenstand te kampe het. Almal is diep geraak toe die spreker vertel het wat ons broers in Armenië, Frankryk, Georgië, Kazakstan, Rusland en Toerkmenistan deurmaak. Dit is beslis nou die tyd om moed aan die dag te lê en op Jehovah te vertrou!

Die laaste spreker het die tema “Gaan eendragtig saam met Jehovah se organisasie vooruit” ontwikkel. Die toespraak het oor verskeie tydige punte gehandel. (1) Die vooruitgang van Jehovah se volk word oral opgemerk. Weens ons predikingswerk en ons streekbyeenkomste trek ons die publiek se aandag. (2) Jehovah het ’n organisasie tot stand gebring wat verenig is. In 29 G.J. is Jesus met die heilige gees gesalf sodat hy “alles”—diegene met ’n hemelse roeping sowel as diegene met ’n aardse hoop—in God se verenigde gesin kon inbring (Efesiërs 1:8-10). (3) Streekbyeenkomste is ’n treffende voorbeeld van ons internasionale eenheid. Dit kon duidelik gesien word by die spesiale streekbyeenkomste wat in Augustus in Frankryk en Italië gehou is. (4) ’n Besielende resolusie is in Frankryk en Italië aangeneem. Die spreker het ’n paar uittreksels uit die treffende resolusie aangehaal. Die volledige teks van die resolusie verskyn hieronder.

In die slot van die laaste toespraak het die besoekende spreker ’n hartroerende aankondiging gelees wat deur die Bestuursliggaam voorberei is. Dit sê gedeeltelik: “Dit is nou die tyd om wakker en waaksaam te bly en te onderskei hoe wêreldgebeure ontwikkel. . . . Ons wil graag die liefdevolle besorgdheid wat die Bestuursliggaam vir julle en vir die res van God se volk het, aan julle oordra. Mag Hy julle ryklik seën terwyl julle sy wil heelhartig doen.” Regoor die wêreld is Jehovah se volk vasbeslote om in hierdie kritieke tye wakker te bly en saam met Jehovah se verenigde organisasie moedig vooruit te gaan.

[Voetnote]

a ’n Aantal plekke was elektronies verbind met die byeenkomssaal, wat die totale bywoningsyfer vir die jaarvergadering op 13 757 te staan gebring het.

b Die bykomende vergaderinge is in Long Beach, Kalifornië; Pontiac, Michigan; Uniondale, New York, en Hamilton, Ontario, gehou. Die gesamentlike bywoningsyfer, wat dié insluit wat op ander plekke elektronies verbind was, was 117 885.

c Drie spesiale streekbyeenkomste is in Frankryk gehou—in Parys, Bordeaux en Lyon. In Italië is afgevaardigdes van die Verenigde State na Rome en Milaan gestuur, hoewel daar altesaam nege streekbyeenkomste gelyktydig gehou is.

[Venster/Prente op bladsy 29-31]

Resolusie

In Augustus 2001 is spesiale “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkomste in Frankryk en Italië gehou. By hierdie streekbyeenkomste is ’n aangrypende resolusie voorgelê. Hier volg die bewoording van daardie resolusie.

“AS JEHOVAH SE GETUIES het ons almal wat by hierdie ‘Onderrigters van God se woord’-streekbyeenkoms bymekaar is, uiters nuttige onderrigting ontvang. Die bron van hierdie onderrigting is duidelik geïdentifiseer. Die onderrigting is nie van ’n menslike oorsprong nie. Dit kom van die Een wat deur die eertydse profeet Jesaja as ons ‘Grootse Onderrigter’ beskryf is (Jesaja 30:20). Let op die herinnering wat Jehovah in Jesaja 48:17 gee: ‘Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel.’ Hoe doen hy dit? Hoofsaaklik deur middel van die mees vertaalde en verspreide boek ter wêreld, die Bybel, waarin ons onomwonde meegedeel word: ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig.’—2 Timoteus 3:16.

“Vandag het die mensdom sulke nuttige onderrigting dringend nodig. Waarom sê ons so? Wel, tot watter slotsom kom denkende mense wanneer hulle die veranderende, verwarrende wêreldtoneel beskou? Eenvoudig dit: Hoewel miljoene deur die wêreld se onderwysstelsels onderrig is, is daar ’n ernstige gebrek aan egte waardes en ’n onvermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei (Jesaja 5:20, 21). ’n Gebrek aan Bybelkennis kom algemeen voor. Die tegnologie voorsien ’n magdom inligting deur middel van rekenaars, maar waar is die antwoorde op belangrike vrae soos: Wat is die doel van die lewe? Wat beteken die gebeure van ons tyd? Is daar ’n vaste hoop vir die toekoms? Sal vrede en veiligheid ooit ’n werklikheid word? Daarbenewens vind ’n mens biblioteekrakke vol naslaanwerke wat miljoene bladsye beslaan en feitlik elke gebied van mensestrewes dek. Nogtans herhaal die mens sy foute van die verlede. Misdaadsyfers skiet die hoogte in. Siektes wat na mening uitgewis was, keer terug, terwyl ander, soos vigs, onrusbarend vinnig versprei. Gesinslewe verbrokkel teen ’n verstommende tempo. Besoedeling beskadig die omgewing. Terrorisme en wapens van massavernietiging bedreig vrede en veiligheid. Probleme waarvoor daar geen oplossings is nie, word net meer. Watter rol kan ons gepas speel om ons medemens in hierdie kritieke tye te help? Bestaan daar onderrigting wat verduidelik waarom die mensdom in hierdie verknorsing is en wat nie net wys hoe ’n mens nou ’n beter lewe kan geniet nie, maar wat ook ’n helder, vaste toekomshoop bied?

“Ons skriftuurlike opdrag is: ‘Gaan en maak dissipels van mense van al die nasies, en leer hulle om alles te onderhou wat Christus beveel het’ (Matteus 28:19, 20). Jesus Christus het hierdie opdrag ná sy dood en opstanding gegee, toe hy alle gesag in die hemel en op die aarde ontvang het. Dit is verhewe bo enige bedrywigheid wat deur mense bevorder word. In God se oë is ons opdrag, wat toegespits is op die geestelike behoeftes van dié wat na regverdigheid honger, die heel belangrikste. Ons het vaste skriftuurlike redes om daardie opdrag ernstig op te neem.

“Dit vereis dat ons hierdie werk die eerste plek in ons lewe gee. Met God se seën en hulp sal die werk gedoen word, ondanks ’n magdom dinge wat ons aandag kan aflei, struikelblokke en vyandige godsdienstige en politieke elemente, wat die vooruitgang van hierdie wêreldwye onderrigprogram probeer belemmer. Ons is vol vertroue en geloof dat hierdie werk sal aanhou floreer en met groot sukses voltooi sal word. Waarom kan ons so seker wees? Omdat die Here Jesus Christus belowe het dat hy tot die voleinding van hierdie stelsel van dinge met ons in ons godgegewe bediening sal wees.

“Daar is min tyd oor vir die geteisterde mensdom. Ons huidige opdrag moet uitgevoer word voordat die finale einde kom. Daarom verklaar ons as Jehovah se Getuies dat ons ons die volgende voorneem:

“Eerste: As toegewyde bedienaars is ons vasbeslote om Koninkryksbelange eerste in ons lewe te hou en geestelik vooruitgang te maak. Daarom bid ons in ooreenstemming met die woorde van Psalm 143:10: ‘Leer my om u wil te doen, want u is my God.’ Dit vereis dat ons goeie studente moet wees, wat ons daarop toelê om die Bybel daagliks te lees en persoonlike studie en navorsing te doen. Sodat ons vooruitgang vir almal duidelik kan wees, sal ons ons sover moontlik inspan om voor te berei vir en ten volle baat te vind by die teokratiese onderrigting wat ons by gemeentelike vergaderinge, by kringbyeenkomste en by streek-, nasionale en internasionale byeenkomste ontvang.—1 Timoteus 4:15; Hebreërs 10:23-25.

“Tweede: Sodat ons deur God geleer kan word, sal ons slegs by sy tafel aansit en noukeurig ag slaan op die Bybel se waarskuwing oor misleidende leringe van demone (1 Korintiërs 10:21; 1 Timoteus 4:1). Ons sal spesiale voorsorg tref om skadelike elemente te vermy, waaronder valse godsdiensleringe, sinnelose redenasies, skandelike seksuele verdorwenheid, die plaag van pornografie, verderflike vermaak en alles wat nie ‘met die gesonde leer strook’ nie (Romeine 1:26, 27; 1 Korintiërs 3:20; 1 Timoteus 6:3; 2 Timoteus 1:13). Weens ons agting vir ‘gawes in die vorm van mense’, wat bekwaam is om ander te leer wat heilsaam is, sal ons hulle pogings opreg waardeer en heelhartig met hulle saamwerk om die rein en regverdige sedelike en geestelike standaarde van God se Woord te handhaaf.—Efesiërs 4:7, 8, 11, 12; 1 Tessalonisense 5:12, 13; Titus 1:9.

“Derde: As Christenouers sal ons heelhartig daarna streef om ons kinders nie net deur woorde nie, maar ook deur ons voorbeeld te onderrig. Dit is vir ons van die grootste belang om hulle van kleintyd af te help om ‘die heilige geskrifte te ken, wat hulle wys kan maak tot redding’ (2 Timoteus 3:15). Ons sal goed in gedagte hou dat ons pogings om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed, hulle die beste geleentheid sal bied om God se belofte te ondervind dat ‘dit met hulle goed sal gaan en hulle lank op die aarde mag bly’.—Efesiërs 6:1-4.

“Vierde: Wanneer ons voor sorge of ernstige probleme te staan kom, sal ons eerstens ‘ons versoeke by God bekend laat word’, met die versekering dat ‘die vrede van God wat alle mensedenke te bowe gaan’, ons sal bewaak (Filippense 4:6, 7). Omdat ons onder Christus se juk gekom het, sal ons verkwikking vind. Ons sal nie huiwer om ons sorge op God te werp nie, want ons weet dat hy vir ons sorg.—Matteus 11:28-30; 1 Petrus 5:6, 7.

“Vyfde: Om ons dankbaarheid teenoor Jehovah te bewys vir die voorreg om onderrigters van sy Woord te wees, sal ons ons opnuut inspan om ‘sy woord van waarheid reg te hanteer’ en ‘ons bediening ten volle uit te voer’ (2 Timoteus 2:15; 4:5). Omdat ons ten volle besef wat op die spel is, is dit ons hartgrondige begeerte om verdienstelikes te soek en die saad wat gesaai is, te versorg. Ons sal ook ons onderrigting verbeter deur op doeltreffende wyse meer tuisbybelstudies te hou. Dit sal ons meer in ooreenstemming bring met God se wil dat ‘alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom’.—1 Timoteus 2:3, 4.

“Sesde: Regdeur die vorige eeu en tot in hierdie een moes Jehovah se Getuies in baie lande verskeie vorme van teenstand en vervolging verduur. Maar Jehovah was met ons (Romeine 8:31). Sy onfeilbare Woord verseker ons dat ‘geen wapen wat teen ons gesmee word’ om ons Koninkrykspredikings- en onderrigtingswerk te verhinder, te vertraag of stop te sit, suksesvol sal wees nie (Jesaja 54:17). Hetsy in gunstige of in moeilike tye, ons kan nie ophou om oor die waarheid te praat nie. Ons is vasbeslote om ons predikings- en onderrigtingsopdrag met dringendheid uit te voer (2 Timoteus 4:1, 2). Ons doelwit is om die goeie nuus van God se Koninkryk tot die beste van ons vermoë aan mense van alle nasies bekend te maak. Hulle sal dus steeds die geleentheid hê om te leer van die voorsiening van die ewige lewe in ’n regverdige nuwe wêreld. As ’n groot, verenigde groep onderrigters van God se Woord is ons vasbeslote om steeds die voorbeeld van die Groot Leermeester, Jesus Christus, te volg en sy godvrugtige eienskappe te weerspieël. Ons sal al hierdie dinge tot die eer en lof van ons Grootse Onderrigter en Lewegewer, Jehovah God, doen.

“Almal teenwoordig by hierdie streekbyeenkoms wat ten gunste daarvan is dat hierdie resolusie aangeneem word, sê asseblief JA!”

Toe die slotvraag van die resolusie gestel is aan die 160 000 by die drie streekbyeenkomste in Frankryk en die 289 000 wat op nege plekke in Italië byeen was, is ’n dawerende “JA” in die verskeie tale van die afgevaardigdes gehoor.