Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om Jehovah met ’n standvastige hart te dien

Hou aan om Jehovah met ’n standvastige hart te dien

Hou aan om Jehovah met ’n standvastige hart te dien

“My hart is standvastig, o God, my hart is standvastig.”—PSALM 57:7.

1. Waarom kan ons dieselfde oortuiging as Dawid hê?

 JEHOVAH kan ons standvastig maak in die Christelike geloof sodat ons as sy toegewyde knegte die ware Christelike godsdiens kan aankleef (Romeine 14:4). Daarom kan ons dieselfde oortuiging as die psalmis Dawid hê, wat gesing het: “My hart is standvastig, o God” (Psalm 108:1). As ons hart standvastig is, sal dit ons beweeg om ons toewyding aan God na te leef. En deur op hom te vertrou vir leiding en krag, kan ons onbeweeglik wees, standvastig in ons vasbeslotenheid en oortuiging as handhawers van onkreukbaarheid, “terwyl [ons] altyd baie het om in die werk van die Here te doen”.—1 Korintiërs 15:58.

2, 3. Wat beteken Paulus se vermanings wat in 1 Korintiërs 16:13 opgeteken is?

2 In vermanings wat tot Jesus se volgelinge in eertydse Korinte gerig is, maar wat beslis op hedendaagse Christene van toepassing is, het die apostel Paulus gesê: “Bly wakker, staan vas in die geloof, gedra julle soos manne, word sterk” (1 Korintiërs 16:13). In Grieks is elkeen van hierdie opdragte in die teenwoordige tyd, wat voortgesette optrede aanmoedig. Wat beteken hierdie vermaning?

3 Ons kan geestelik ‘wakker bly’ deur die Duiwel teë te staan en na aan God te bly (Jakobus 4:7, 8). As ons op Jehovah vertrou, stel dit ons in staat om verenig te bly en ‘vas te staan in die Christelike geloof’. Ons—met inbegrip van al die vroue onder ons—‘gedra ons soos manne’ deur God moedig as Koninkryksverkondigers te dien (Psalm 68:11). Ons “word sterk” deur voortdurend op ons hemelse Vader te vertrou vir krag om sy wil te doen.—Filippense 4:13.

4. Wat het tot ons doop as Christene gelei?

4 Ons het ons standpunt vir die ware geloof ingeneem toe ons ons onvoorwaardelik aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer het. Maar wat het tot ons doop gelei? Eerstens het ons juiste kennis van God se Woord ingeneem (Johannes 17:3). Dit het geloof gebou en ons berou laat toon, ons ware droefheid laat voel oor ons oortredings van die verlede (Handelinge 3:19; Hebreërs 11:6). Daarna het ons ons bekeer, want ons het ons afgekeer van verkeerde gebruike sodat ons ’n lewe in ooreenstemming met God se wil kon nastreef (Romeine 12:2; Efesiërs 4:23, 24). Dit is gevolg deur ’n heelhartige toewyding aan Jehovah in gebed (Matteus 16:24; 1 Petrus 2:21). Ons het ’n versoek om ’n goeie gewete tot God gerig en is gedoop as ’n simbool van ons toewyding aan hom (1 Petrus 3:21). As ons hierdie stappe in gedagte hou, sal dit ons help om altyd te onthou hoe nodig dit is dat ons ons voortdurend inspan om ons toewyding na te leef en Jehovah met ’n standvastige hart te dien.

Hou aan om na juiste kennis te soek

5. Waarom moet ons aanhou om Bybelkennis in te neem?

5 Om ons toewyding aan God na te leef, moet ons aanhou om geloofversterkende Bybelkennis op te doen wat ons geloof versterk. Hoe bly was ons tog om geestelike voedsel in te neem toe ons aanvanklik van God se waarheid begin leer het! (Matteus 24:45-47). Daardie “maaltye” was heerlik—en hulle het ons geestelik goed gevoed. Nou is dit noodsaaklik om aan te hou om ryk geestelike voedsel in te neem sodat ons as Jehovah se toegewyde knegte ’n standvastige hart kan behou.

6. Hoe is jy moontlik gehelp om opregte waardering vir Bybelwaarheid aan te kweek?

6 Inspanning is nodig om verdere kennis van die Skrif te verkry. Dit is soos om na verborge skatte te soek—iets wat inspanning verg. Maar hoe bevredigend is dit tog om “die kennis van God” te vind! (Spreuke 2:1-6). Toe ’n Koninkryksverkondiger die Bybel met jou begin studeer het, het hy of sy dalk die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei gebruik. Dit het dalk lank geneem om elke hoofstuk te bespreek, moontlik meer as een studiesessie. Jy het daarby baat gevind wanneer julle die tekste wat aangegee is, gelees en bespreek het. As dit moeilik was om ’n punt te verstaan, is dit aan jou verduidelik. Die een wat jou Bybelstudie gehou het, het goed voorberei, vir God se gees gebid en jou gehelp om opregte dankbaarheid vir die waarheid aan te kweek.

7. Wat maak ’n mens bekwaam om God se waarheid aan ander te leer?

7 Hierdie inspanning was die moeite werd, want Paulus het geskryf: “Elkeen wat mondeling in die woord onderrig word, [moet] in alle goeie dinge deel met die een wat sulke mondelinge onderrig gee” (Galasiërs 6:6). Hier toon die Griekse teks dat die leringe van God se Woord in die verstand en hart van die persoon “wat mondeling . . . onderrig word”, ingeprent is. Aangesien jy hierdie onderrigting ontvang het, maak dit jou bekwaam om weer ander te onderrig (Handelinge 18:25). Om getrou te wees aan jou toewyding, moet jy geestelik gesond en standvastig bly deur God se Woord voortdurend te bestudeer.—1 Timoteus 4:13; Titus 1:13; 2:2.

Onthou die tyd toe jy berou gehad en jou bekeer het

8. Hoe is dit moontlik om godvrugtige gedrag te handhaaf?

8 Onthou jy nog die verligting wat jy gevoel het toe jy die waarheid geleer, berou gehad en toe gevoel het dat God jou vergewe het op grond van jou geloof in Jesus se losprysoffer? (Psalm 32:1-5; Romeine 5:8; 1 Petrus 3:18). Jy wil sekerlik nie terugkeer tot ’n lewe van sonde nie (2 Petrus 2:20-22). Gereelde gebed tot Jehovah sal jou onder meer help om godvrugtige gedrag te handhaaf, jou toewyding na te leef en aan te hou om Jehovah getrou te dien.—2 Petrus 3:11, 12.

9. Watter weg moet ons volg, noudat ons ons van sondige gebruike afgekeer het?

9 Noudat jy jou bekeer het deur jou van sondige gebruike af te keer, moet jy God voortdurend vra om jou te help om jou hart standvastig te hou. Jy was as ’t ware op die verkeerde pad, maar het ’n betroubare kaart geraadpleeg en het toe op die regte pad gekom. Moenie nou die pad byster raak nie. Vertrou voortdurend op God se leiding, en wees vasbeslote om op die weg na die lewe te bly.—Jesaja 30:20, 21; Matteus 7:13, 14.

Moet nooit jou toewyding en doop vergeet nie

10. Watter punte moet ons in gedagte hou met betrekking tot ons toewyding aan God?

10 Hou in gedagte dat jy jou met ’n ewigheid van getroue diens in die vooruitsig in gebed aan Jehovah toegewy het (Judas 20, 21). Toewyding dui op ’n afsondering vir ’n heilige doel (Levitikus 15:31; 22:2). Jou toewyding was nie ’n tydelike ooreenkoms of ’n verbintenis wat met mense aangegaan is nie. Dit was ’n permanente toewyding aan die Universele Soewerein, en om dit na te leef, beteken dat ons lewenslank aan God lojaal moet wees. Ja, ‘of ons lewe en of ons sterf, ons behoort aan Jehovah’ (Romeine 14:7, 8). Ons geluk hang af van ons onderdanigheid aan sy wil en of ons aanhou om hom met ’n standvastige hart te dien.

11. Waarom moet jy jou doop en die betekenis daarvan onthou?

11 Onthou altyd jou doop wat ’n simbool is van jou heelhartige toewyding aan God. Dit was geensins ’n gedwonge doop nie, want jy het daardie besluit self geneem. Is jy nou vasbeslote om vir die res van jou lewe jou eie wil in ooreenstemming met God se wil uit te oefen? Jy het ’n versoek tot God gedoen om ’n goeie gewete en is gedoop om jou toewyding aan hom te simboliseer. Behou daardie goeie gewete deur jou toewyding na te leef, en Jehovah se ryk seën sal op jou rus.—Spreuke 10:22.

Jou wil speel ’n rol

12, 13. Hoe hou ons eie wil verband met toewyding en doop?

12 Toewyding en doop het inderdaad groot seëninge vir miljoene mense in die hele wêreld meegebring. Wanneer ons ons toewyding aan God simboliseer deur waterdoop te ondergaan, sterf ons ten opsigte van ons vorige lewenswandel, maar nie ten opsigte van ons eie wil nie. As gelowiges wat behoorlik onderrig is, het ons in der waarheid ons eie wil uitgeoefen toe ons ons in gebed aan God toegewy en ons laat doop het. Om ons te kan toewy en te kan laat doop, beteken dat ons moet vasstel wat God se wil is en dan doelbewus kies om dit te doen (Efesiërs 5:17). Sodoende volg ons Jesus na, wat sy eie wil uitgeoefen het toe hy sy houtwerkersgereedskap weggesit het, hom laat doop het en hom ten volle aan die uitvoering van sy hemelse Vader se wil gewy het.—Psalm 40:7, 8; Johannes 6:38-40.

13 Jehovah God se voorneme was dat sy Seun ‘deur lyding tot volmaaktheid gebring sou word’. Gevolglik moes Jesus hierdie lyding uit vrye wil getrou verduur. Daarom het hy “smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane [opgedra], en hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor” (Hebreërs 2:10, 18; 5:7, 8). As ons sulke eerbiedige vrees vir God aan die dag lê, sal ons sekerlik ook “verhoor” word, en ons kan die vertroue hê dat Jehovah ons standvastig sal maak as sy toegewyde Getuies.—Jesaja 43:10.

Jy kan ’n standvastige hart behou

14. Waarom moet ons die Bybel elke dag lees?

14 Wat sal jou help om ’n standvastige hart te behou en sodoende jou toewyding aan God na te leef? Lees die Bybel elke dag sodat jy altyd meer kennis van God se Woord kan inneem. “Die getroue en verstandige slaaf” spoor ons voortdurend aan om dit te doen. Hierdie raad word gegee omdat ons moet aanhou om in God se waarheid te wandel as ons ons toewyding wil naleef. As Jehovah se organisasie willens en wetens valse leerstellings ondersteun het, sou Jehovah se Getuies en diegene vir wie hulle getuig, nooit aangespoor word om die Bybel te lees nie.

15. (a) Wat moet jy in ag neem wanneer jy besluite neem? (b) Waarom kan daar gesê word dat ’n Christen se sekulêre werk vir hom van sekondêre belang is?

15 Wanneer jy besluite neem, moet jy altyd dink aan watter uitwerking dit op die nalewing van jou toewyding aan Jehovah kan hê. Dit kan met jou sekulêre werk te doen hê. Doen jy dit sodat dit jou kan help om ware aanbidding te bevorder? Hoewel werknemers oor die algemeen vind dat toegewyde Christene betroubare en goeie werkers is, merk hulle ook dat Getuies van Jehovah nie verteer word deur ambisie om in die wêreld opgang te maak nie en dat hulle nie met ander wedywer om die betrekkings met die hoogste salarisse te kry nie. Dit is omdat die Getuies se doelwit nie is om rykdom, roem, aansien of mag te verkry nie. Vir diegene wat hulle toewyding aan God naleef, is die belangrikste om God se wil uit te voer. ’n Betrekking wat hulle in staat stel om die nodige lewensmiddele te kan kry, is vir hulle maar net werk, ’n saak van sekondêre belang. Soos in die geval van die apostel Paulus, is hulle vernaamste werk die Christelike bediening (Handelinge 18:3, 4; 2 Tessalonisense 3:7, 8; 1 Timoteus 5:8). Stel jy Koninkryksbelange altyd eerste in jou lewe?—Matteus 6:25-33.

16. Wat kan ons doen as oordrewe besorgdheid dit moeilik maak om ons toewyding aan God na te leef?

16 Party is moontlik byna deur sorge oorweldig voordat hulle die waarheid geleer het. Maar hoe het hulle hart tog geswel van vreugde, dankbaarheid en liefde vir God toe hulle die Koninkrykshoop aangeneem het! As hulle nadink oor al die seëninge wat hulle sedertdien geniet het, sal dit hulle help om hulle toewyding aan Jehovah na te leef. Maar sê nou oordrewe besorgdheid oor probleme wat eie is aan die lewe in hierdie stelsel, dreig nou om “die woord van God” te verstik, net soos dorings keer dat jong plantjies groot word en vrug dra? (Lukas 8:7, 11, 14; Matteus 13:22; Markus 4:18, 19). As jy agterkom dat dit met jou of jou gesin begin gebeur, werp jou sorge op Jehovah en bid dat hy jou sal help om in liefde en waardering toe te neem. As jy jou las op hom werp, sal hy jou onderskraag en jou die krag gee om aan te hou om hom blymoedig en met ’n standvastige hart te dien.—Psalm 55:22; Filippense 4:6, 7; Openbaring 2:4.

17. Hoe is dit moontlik om ernstige beproewinge te verduur?

17 Hou aan om gereeld tot Jehovah God te bid, net soos jy gebid het toe jy jou aan hom toegewy het (Psalm 65:2). Wanneer jy in die versoeking kom om verkeerd te doen of voor ’n ernstige toets te staan kom, vra God se leiding en sy hulp om daarvolgens te handel. Hou in gedagte hoe nodig dit is om geloof te hê, want die dissipel Jakobus het geskryf: “As een van julle dan wysheid kortkom [om ’n beproewing te verduur], laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word. Maar laat hom aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel, want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedryf en heen en weer gewaai word. Trouens, dié mens moet nie veronderstel dat hy enigiets van Jehovah sal ontvang nie; hy is ’n besluitelose mens, onbestendig in al sy weë” (Jakobus 1:5-8). As ’n beproewing oorweldigend lyk, kan ons hiervan seker wees: “Geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense. Maar God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13.

18. Wat kan ons doen as ’n ernstige verborge sonde ons voorneme om ons toewyding aan Jehovah na te leef, ondermyn?

18 Sê nou ’n ernstige verborge sonde pla jou gewete en ondermyn jou voorneme om jou toewyding aan God na te leef? As jy berou het, kan jy vertroos word deur die wete dat Jehovah ‘nie ’n gebroke en verbryselde hart sal verag nie’ (Psalm 51:17). Soek die hulp van liefdevolle Christen- ouer manne, met die wete dat hulle—in navolging van Jehovah—jou begeerte om weer ’n goeie verhouding met jou hemelse Vader te herstel, nie ligtelik sal opneem nie (Psalm 103:10-14; Jakobus 5:13-15). Dan sal jy met hernieude geestelike krag en ’n standvastige hart reguit paaie vir jou voete kan maak en dit moontlik vind om jou toewyding aan God na te leef.—Hebreërs 12:12, 13.

Hou aan om met ’n standvastige hart te dien

19, 20. Waarom is dit noodsaaklik dat ons aanhou om ons toewyding na te leef?

19 In hierdie kritieke tye moet ons hard werk om ons toewyding na te leef en aan te hou om God met ’n standvastige hart te dien. Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Aangesien ons in “die laaste dae” lewe, kan die einde enige tyd kom (2 Timoteus 3:1). Daarbenewens kan nie een van ons seker wees dat hy môre nog sal lewe nie (Jakobus 4:13, 14). Dit is dus noodsaaklik dat ons vandag aanhou om ons toewyding na te leef!

20 Die apostel Petrus het dit in sy tweede brief beklemtoon. Hy het getoon dat die simboliese aarde, of die goddelose mensegemeenskap, gedurende “Jehovah se dag” vernietig gaan word, net soos die goddeloses in die Vloed omgekom het. Daarom het Petrus uitgeroep: “Watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid”! Hy het hulle ook aangespoor: “Geliefdes, aangesien julle hierdie voorkennis het, moet julle op julle hoede wees dat julle nie [deur valse onderrigters en goddelose manne] weggelei word en van julle eie standvastigheid wegval nie” (2 Petrus 3:5-17). Hoe tragies sou dit tog wees as ’n gedoopte persoon op ’n dwaalspoor gebring word en die einde van sy of haar lewe bereik as iemand wat nie ’n standvastige hart behou het nie!

21, 22. Hoe is die woorde in Psalm 57:7 bewaarheid in die geval van Dawid sowel as in dié van ware Christene?

21 Jou vasbeslotenheid om jou toewyding aan God na te leef, sal heel moontlik versterk word as jy die blye dag toe jy gedoop is, in gedagte hou en God om hulp vra sodat jou woorde en dade sy hart bly sal maak (Spreuke 27:11). Jehovah laat sy volk nooit in die steek nie, en ons moet beslis aan hom getrou wees (Psalm 94:14). Hy het barmhartigheid en medelye betoon deur die planne van Dawid se vyande te dwarsboom en hom te verlos. Dawid was dankbaar hiervoor en het die standvastigheid, die onbeweeglikheid, van sy liefde vir sy Verlosser verklaar. Met diep emosie het hy gesing: “My hart is standvastig, o God, my hart is standvastig. Ek sal sing en melodieë speel.”—Psalm 57:7.

22 Soos Dawid het ware Christene geensins afgewyk van hulle toegewydheid aan God nie. Met standvastige harte skryf hulle hulle verlossing en redding aan Jehovah toe, aan wie hulle vreugdevol lofliedere sing. As jou hart standvastig is, sal dit op God vertrou, en met sy hulp sal jy jou toewyding kan naleef. Ja, jy kan soos “die regverdige” wees van wie die psalmis gesing het: “Selfs vir slegte nuus sal hy nie bang wees nie. Sy hart is standvastig, daartoe beweeg om op Jehovah te vertrou” (Psalm 112:6, 7). Met geloof in God en volle vertroue op hom kan jy jou toewyding naleef en aanhou om Jehovah met ’n standvastige hart te dien.

Onthou jy?

• Waarom moet ons aanhou om juiste kennis van die Bybel in te neem?

• Waarom moet ons die tyd onthou toe ons berou gehad en ons bekeer het?

• Hoe vind ons daarby baat as ons ons toewyding en doop onthou?

• Wat sal ons help om aan te hou om Jehovah met ’n standvastige hart te dien?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 18]

As ons die Christelike bediening ons vernaamste werk maak, help dit ons om aan te hou om Jehovah met ’n standvastige hart te dien

[Prent op bladsy 18]

Bly jy geestelik gesond deur God se Woord daagliks te lees?