Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Soek God met jou hart en verstand

Soek God met jou hart en verstand

Soek God met jou hart en verstand

Die ware Christelike godsdiens spoor ons aan om ons hart sowel as ons verstand te gebruik om geloof op te bou wat God behaag.

TROUENS, die stigter van die Christelike godsdiens, Jesus Christus, het geleer dat ons God nie net met ons “hele hart” en “hele siel” moet liefhê nie, maar ook met ons “hele verstand”, of intellek (Matteus 22:37). Ja, ons verstandelike vermoëns moet ’n sleutelrol in ons aanbidding speel.

Wanneer Jesus sy luisteraars genooi het om oor sy onderrigting na te dink, het hy dikwels gesê: “Wat dink julle?” (Matteus 17:25; 18:12; 21:28; 22:42). Net so het die apostel Petrus aan medegelowiges geskryf om ‘hulle helder denkvermoëns op te wek’ (2 Petrus 3:1). Die apostel Paulus, die vroeë sendeling wat die meeste gereis het, het Christene aangespoor om hulle “denkvermoë” te gebruik en om “seker [te] maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:1, 2). Slegs deur so ’n deeglike, noukeurige benadering tot hulle oortuigings te hê, kan Christene ’n geloof opbou wat God behaag en wat bestand is teen die beproewinge in die lewe.—Hebreërs 11:1, 6.

Om ander te help om sulke geloof op te bou, het vroeë Christenevangeliste “uit die Skrif met hulle geredeneer” en die dinge wat geleer is, “verduidelik en deur verwysings bewys” (Handelinge 17:1-3). Hierdie redelike benadering het ’n goeie reaksie by opregtes van hart uitgelok. Byvoorbeeld, ’n hele aantal mense in die Masedoniese stad Berea “het die woord [van God] met die grootste gretigheid van verstand ontvang en die Skrif elke dag sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge [soos verduidelik deur Paulus en sy metgeselle] so was” (Handelinge 17:11). Hier is twee dinge waarop ons gerus kan let. Eerstens was die Bereane gretig om na God se Woord te luister; tweedens het hulle nie blindelings aangeneem dat wat hulle gehoor het, reg was nie, maar hulle het na die Skrif terugverwys. Die Christensendeling Lukas het die Bereane nederig hiervoor geprys en hulle ‘edelmoedig’ genoem. Weerspieël jy sulke edelmoedigheid in jou benadering tot geestelike dinge?

Verstand en hart werk saam

Soos vroeër gemeld, is die verstand sowel as die hart by ware aanbidding betrokke (Markus 12:30). Dink terug aan die illustrasie in die vorige artikel van die gehuurde verwer wat die verkeerde kleure gebruik het toe hy ’n huis geverf het. As hy aandag geskenk het aan sy werkgewer se instruksies, kon hy sy werk met hart en siel aangepak het en die vertroue gehad het dat sy werk die eienaar se goedkeuring sou wegdra. Dieselfde geld vir ons aanbidding.

“Die ware aanbidders”, het Jesus gesê, sal “die Vader met gees en waarheid . . . aanbid” (Johannes 4:23). Die apostel Paulus het dus geskryf: “Daarom het ons . . . nie opgehou om vir julle te bid nie en te vra dat julle in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van sy wil, sodat julle kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” (Kolossense 1:9, 10). Sulke “juiste kennis” maak dit vir opregte mense moontlik om vol vertroue met hart en siel te aanbid, omdat hulle “aanbid wat [hulle] ken”.—Johannes 4:22.

Weens hierdie redes doop Jehovah se Getuies nie babas of nuwe belangstellendes wat nie die Skrif noukeurig bestudeer het nie. Jesus het sy volgelinge beveel: “Maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Slegs nadat opregte Bybelstudente juiste kennis van God se wil verkry het, kan hulle ’n ingeligte besluit maak wat aanbidding betref. Strewe jy daarna om sulke juiste kennis te verkry?

Verstaan die Onse Vader

Om die verskil te sien tussen juiste kennis van die Bybel en ’n vae idee van wat dit sê, kan ons gerus kyk na wat algemeen bekend staan as die Onse Vader, of die Gebed van die Here, soos in Matteus 6:9-13 opgeteken is.

Jesus se modelgebed word gereeld deur miljoene in die kerk opgesê. Maar hoeveel is die betekenis daarvan geleer, veral die eerste deel van die gebed wat oor God se naam en Koninkryk handel? Hierdie onderwerpe is so belangrik dat Jesus dit eerste in die gebed gemeld het.

Dit begin met: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word”. Let daarop dat Jesus gesê het ons moet bid dat God se naam geheilig word. Dit laat ten minste twee vrae by baie mense opkom. Eerstens, wat is God se naam? En tweedens, waarom moet dit geheilig word?

Die antwoord op die eerste vraag kan op meer as 7 000 plekke in die Bybel in sy oorspronklike taal gevind word. Die een is in Psalm 83:18: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” Aangaande die Goddelike naam, Jehovah, sê Eksodus 3:15: “Dit is my naam tot onbepaalde tyd, en dit is my gedagtenis van geslag tot geslag.” a Maar waarom is dit nodig dat die naam van God, wat in oortreffende mate rein en heilig is, geheilig moet word? Omdat dit reg van die begin van die mensegeskiedenis af gesmaad en belaster is.

In Eden het God vir Adam en Eva gesê dat hulle sal sterf as hulle van die verbode vrug eet (Genesis 2:17). Satan het God skaamteloos weerspreek en vir Eva gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie.” Satan het God dus van leuens beskuldig. Hy het dit egter nie daar gelaat nie. Hy het God se naam selfs meer oneer aangedoen en vir Eva gesê dat God ten onregte waardevolle kennis van haar weerhou. “Want God weet dat die dag as julle [van die boom van die kennis van goed en kwaad] eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.” Hoe lasterlik tog!—Genesis 3:4, 5.

Deur van die verbode vrug te eet, het Adam en Eva hulle by Satan geskaar. Sedertdien het die meeste mense, of hulle nou daarvan bewus is of nie, tot daardie oorspronklike smaad bygedra deur God se regverdige standaarde te verwerp (1 Johannes 5:19). Mense belaster God steeds deur hom vir hulle lyding te blameer—selfs al is dit moontlik die gevolg van hulle eie slegte weë. “’n Mens se eie dwaasheid verwoes sy lewe, en dan koester hy ’n wrok teen die Here”, sê Spreuke 19:3 (The New English Bible). Kan jy sien waarom Jesus, wat sy Vader waarlik liefgehad het, gebid het dat Sy naam geheilig moet word?

“Laat u koninkryk kom”

Nadat Jesus gebid het dat God se naam geheilig moet word, het hy gesê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Oor hierdie gedeelte kan ons vra: ‘Wat is God se Koninkryk? En wat het die koms daarvan te doen met die feit dat God se wil op aarde gedoen word?’

In die Bybel beteken die woord “koninkryk” basies “heerskappy deur ’n koning”. Logieserwys verwys God se Koninkryk dan na ’n heerskappy, of regering, deur God, met ’n koning van sy keuse. Hierdie Koning is niemand anders nie as die verrese Jesus Christus—die “Koning van die konings en Here van die here” (Openbaring 19:16; Daniël 7:13, 14). Aangaande God se Messiaanse Koninkryk in die hande van Jesus Christus, het die profeet Daniël geskryf: “In die dae van dié konings [menseregerings wat tans heers] sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan”, dit wil sê vir ewig.—Daniël 2:44.

Ja, God se Koninkryk sal volle beheer oor die aarde oorneem, dit van al die goddeloses bevry en “tot onbepaalde tye”, dit wil sê vir ewig, regeer. In hierdie opsig is God se Koninkryk die middel waardeur Jehovah sy naam gaan heilig en dit van al die leuenagtige smaad gaan reinig wat Satan asook goddelose mense daaroor gebring het.—Esegiël 36:23.

Soos alle regerings het God se Koninkryk ook onderdane. Wie is hulle? Die Bybel antwoord: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:11). Jesus het insgelyks gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf.” Hierdie mense het natuurlik juiste kennis van God, wat ’n vereiste vir lewe is.—Matteus 5:5; Johannes 17:3.

Kan jy jou die hele aarde voorstel vol sagmoedige, saggeaarde mense wat God waarlik liefhet en ook mekaar liefhet? (1 Johannes 4:7, 8). Dit is waarvoor Jesus gebid het toe hy gesê het: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” Verstaan jy waarom Jesus sy volgelinge so leer bid het? Nog belangriker, sien jy hoe die vervulling van hierdie gebed jou persoonlik kan raak?

Miljoene redeneer nou oor die Skrif

Jesus het ’n aardwye kampanje van geestelike onderrigting voorspel wat God se inkomende Koninkryk sal aankondig. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde [van die huidige wêreld, of stelsel] kom.”—Matteus 24:14.

In alle wêrelddele verkondig sowat sesmiljoen van Jehovah se Getuies hierdie goeie nuus aan hulle naaste. Hulle nooi jou om meer oor God en sy Koninkryk te leer deur jou denkvermoë te gebruik en “die Skrif . . . sorgvuldig [te] ondersoek”. Dit sal jou geloof versterk en jou oë laat blink met die hoop om op ’n paradysaarde te lewe, wat “vol [sal] wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek”.—Jesaja 11:6-9.

[Voetnoot]

a Sommige geleerdes verkies die weergawe “Jahweh” in plaas van “Jehovah”. Die meeste moderne Bybelvertalers het egter God se naam in enige vorm uit hulle vertalings weggelaat en dit vervang met die algemene titels “Here” of “God”. Sien asseblief die brosjure Die Goddelike naam wat vir ewig sal bestaan, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n deeglike bespreking van God se naam.

[Venster/Prent op bladsy 8]

VOLG DIE GROOT LEERMEESTER NA

Jesus het dikwels onderrig deur die aandag op spesifieke Bybelonderwerpe te vestig. Ná sy opstanding het hy byvoorbeeld sy rol in God se voorneme aan twee dissipels verduidelik wat verbysterd was oor sy dood. Lukas 24:27 sê: “Hy het by Moses en al die Profete begin en vir hulle dinge in die hele Skrif uitgelê wat op hom betrekking het.”

Let daarop dat Jesus ’n spesifieke onderwerp gekies het—‘homself’, die Messias—en dat hy in sy bespreking uit “die hele Skrif” aangehaal het. Jesus het in werklikheid toepaslike Bybeltekste soos die stukke van ’n legkaart bymekaargesit, wat sy dissipels in staat gestel het om ’n duidelike patroon van geestelike waarheid te sien (2 Timoteus 1:13). Gevolglik was hulle nie net verlig nie, maar diep geraak. Die verslag sê vir ons: “Hulle het vir mekaar gesê: ‘Het ons hart nie gebrand toe hy op die pad met ons gepraat het, toe hy die Skrif ten volle vir ons geopen het nie?’”—Lukas 24:32.

Jehovah se Getuies streef daarna om Jesus se metodes in hulle bediening na te volg. Hulle vernaamste studiehulpe is die brosjure Wat vereis God van ons? en die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Dit bespreek tientalle interessante Bybelonderwerpe, soos: “Wie is God?”, “Waarom laat God lyding toe?”, “Hoe kan jy die ware godsdiens vind?”, “Dit is nóú die laaste dae!” en “Hoe om ’n gesin te bou wat God vereer.” Elke les bevat heelwat tekste.

Kom gerus met Jehovah se Getuies in julle gemeenskap in aanraking of skryf na die adres op bladsy 2 van hierdie tydskrif vir ’n gratis tuisbybelstudie van hierdie en ander onderwerpe.

[Prent]

Bereik die hart van jou student deur die aandag op spesifieke Bybelonderwerpe te vestig

[Prente op bladsy 7]

Snap jy die betekenis van Jesus se modelgebed?

“Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word . . . ”

“Laat u [Messiaanse] koninkryk kom . . . ”

“Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”