Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet jy gedoop word?

Waarom moet jy gedoop word?

Waarom moet jy gedoop word?

“Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle.”—MATTEUS 28:19.

1, 2. (a) Onder watter omstandighede is mense soms gedoop? (b) Watter vrae word aangaande doop geopper?

 DIE Frankiese koning Karel die Grote het die oorwonne Saksers in 775-77 G.J. verplig om almal gedoop te word. “Hy het hulle gedwing om hulle te bekeer om in naam Christene te word”, het die geskiedskrywer John Lord gesê. Nadat die Russiese heerser Wladimir I in 987 G.J. met ’n Grieks-Ortodokse prinses getrou het, het hy ook besluit dat sy onderdane “Christene” moes word. Hy het beveel dat sy volk in groot getalle gedoop word—op straf van die dood, indien nodig!

2 Is hierdie soort doop gepas? Het dit werklike betekenis? Kan sommer enigiemand gedoop word?

Doop—Hoe?

3, 4. Waarom is besprinkeling of die uitgieting van water oor die kop nie gepas vir Christelike doop nie?

3 Toe Karel die Grote en Wladimir I mense gedwing het om gedoop te word, het hierdie heersers in stryd met God se Woord opgetree. Trouens, niks goeds word bereik wanneer doop bestaan uit besprinkeling, die uitgieting van water oor die kop of selfs die onderdompeling van mense wat nie Bybelwaarhede geleer is nie.

4 Dink byvoorbeeld aan wat plaasgevind het toe Jesus van Nasaret in 29 G.J. na Johannes die Doper toe gegaan het. Johannes het mense in die Jordaanrivier gedoop. Hulle het vrywillig na hom toe gekom om gedoop te word. Het hy hulle maar net in die Jordaan laat staan terwyl hy ’n bietjie rivierwater oor hulle kop uitgegiet of hulle daarmee besprinkel het? Wat het gebeur toe Johannes vir Jesus gedoop het? Matteus berig dat Jesus, nadat hy gedoop is, “onmiddellik uit die water opgekom” het (Matteus 3:16). Hy was onder in die water, omdat hy in die Jordaanrivier ondergedompel is. Ook toe die vroom Etiopiese eunug gedoop is, sê die Bybelverslag: “Hulle het albei in die water afgeklim, Filippus sowel as die eunug.” Dan sê dit verder: “Toe hulle uit die water opgekom het . . . ” Die doop van Jesus en sy dissipels het dus algehele onderdompeling behels.—Handelinge 8:38, 39.

5. Hoe het die vroeë Christene mense gedoop?

5 Griekse woorde wat as “doop” vertaal word, verwys na iets wat in of onder water gedompel word. Smith’s Bible Dictionary sê: “Doop beteken na regte en in letterlike sin onderdompeling.” Sekere Bybelvertalings praat dus van “Johannes die Onderdompelaar” (Matteus 3:1; Rotherham; Diaglott-interliniêre vertaling). Augustus Neander se History of the Christian Religion and Church, During the Three First Centuries sê: “Die doop is oorspronklik deur middel van onderdompeling toegedien.” Die gerespekteerde Franse werk Larousse du XXe Siècle (Parys, 1928) lewer hierdie kommentaar: “Die eerste Christene is deur onderdompeling gedoop oral waar water gevind is.” En die New Catholic Encyclopedia sê: “Dit is duidelik dat die vroeë Kerk deur onderdompeling gedoop het” (1967, Deel II, bladsy 56). Doop as een van Jehovah se Getuies is vandag dan ’n vrywillige stap wat algehele onderdompeling in water behels.

’n Nuwe rede om gedoop te word

6, 7. (a) Waarom het Johannes mense gedoop? (b) Wat was nuut in verband met die doop van Jesus se volgelinge?

6 Die doop van Johannes het ’n ander doel gehad as die doop wat Jesus se volgelinge uitgevoer het (Johannes 4:1, 2). Johannes het mense gedoop as ’n openbare simbool van hulle berou oor sondes teen die Wet (Lukas 3:3). a Maar iets nuuts was by die doop van Jesus se volgelinge betrokke. Met Pinkster 33 G.J. het die apostel Petrus dié wat na hom geluister het, aangespoor: “Toon berou, en laat elkeen van julle in die naam van Jesus Christus gedoop word tot vergifnis van julle sondes” (Handelinge 2:37-41). Hoewel Petrus met Jode en proseliete gepraat het, het hy nie gepraat van die doop wat ’n simbool was van berou oor sondes teen die Wet nie; en hy het ook nie bedoel dat doop in die naam van Jesus die afwassing van sondes afbeeld nie.—Handelinge 2:10.

7 By daardie geleentheid het Petrus die eerste van “die sleutels van die koninkryk” gebruik. Waarvoor? Om aan dié wat na hom geluister het, kennis te openbaar omtrent die geleentheid wat hulle gehad het om in die Koninkryk van die hemel in te gaan (Matteus 16:19). Aangesien die Jode Jesus as die Messias verwerp het, was dit ’n nuwe en noodsaaklike faktor om berou te hê en geloof in hom te beoefen as hulle God se vergifnis wou vra en ontvang. Hulle kon daardie geloof in die openbaar bekend maak deur in die naam van Jesus Christus in water gedoop te word. Sodoende sou hulle hulle persoonlike toewyding aan God deur Christus simboliseer. Almal wat vandag God se guns wil hê, moet ook hierdie geloof beoefen, hulle aan Jehovah God toewy en Christelike doop ondergaan as ’n simbool van hulle onvoorwaardelike toewyding aan die Allerhoogste God.

Juiste kennis noodsaaklik

8. Waarom is Christelike doop nie vir sommer enigiemand nie?

8 Christelike doop is nie vir sommer enigiemand nie. Jesus het sy volgelinge beveel: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Voordat mense gedoop word, moet hulle eers ‘geleer word om alles te onderhou wat Jesus sy dissipels beveel het’. Die gedwonge doop van mense wat nie geloof het wat op juiste kennis van God se Woord gegrond is nie, is dus waardeloos en strydig met die opdrag wat Jesus aan sy ware volgelinge gegee het.—Hebreërs 11:6.

9. Wat beteken dit om “in die naam van die Vader” gedoop te word?

9 Wat beteken dit om “in die naam van die Vader” gedoop te word? Dit beteken dat die doopkandidaat ons hemelse Vader se posisie en gesag erken. Jehovah God word dus erken as ons Skepper, “die Allerhoogste oor die hele aarde” en die Universele Soewerein.—Psalm 83:18; Jesaja 40:28; Handelinge 4:24.

10. Wat beteken dit om ‘in die naam van die Seun’ gedoop te word?

10 Om ‘in die naam van die Seun’ gedoop te word, beteken dat ’n mens Jesus se posisie en gesag as God se enigverwekte Seun erken (1 Johannes 4:9). Diegene wat aan die vereistes voldoen om gedoop te word, neem Jesus aan as die een waardeur God “’n losprys in ruil vir baie” voorsien het (Matteus 20:28; 1 Timoteus 2:5, 6). Doopkandidate moet ook die “hoër posisie” erken waartoe God sy Seun verhef het.—Filippense 2:8-11; Openbaring 19:16.

11. Wat beteken dit om ‘in die naam van die heilige gees’ gedoop te word?

11 Wat beteken dit om ‘in die naam van die heilige gees’ gedoop te word? Dit toon dat die doopkandidate erken dat die heilige gees Jehovah se werkende krag is wat op verskillende maniere in ooreenstemming met sy voorneme gebruik word (Genesis 1:2; 2 Samuel 23:1, 2; 2 Petrus 1:21). Diegene wat aan die vereistes voldoen om gedoop te word, erken dat die heilige gees hulle help om “die diep dinge van God” te verstaan, om die Koninkrykspredikingswerk te doen en om die vrugte van die gees, naamlik “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”, aan die dag te lê.—1 Korintiërs 2:10; Galasiërs 5:22, 23; Joël 2:28, 29.

Die belangrikheid van berou en bekering

12. Watter verband is daar tussen Christelike doop en berou?

12 Buiten in die geval van die sondelose man Jesus, is doop ’n Goddelik goedgekeurde simbool wat met berou verband hou. Wanneer ons berou het, voel ons opregte verdriet, of spyt, oor iets wat ons gedoen het of nie gedoen het nie. Eerste-eeuse Jode wat God wou behaag, moes berou hê oor hulle sondes teen Christus (Handelinge 3:11-19). Sekere nie-Joodse gelowiges in Korinte het berou gehad oor hoerery, afgodediens, diefstal en ander ernstige sondes. Weens hulle berou is hulle “skoon gewas” in Jesus se bloed; “geheilig”, of afgesonder, vir God se diens en “regverdig verklaar” in Christus se naam en met God se gees (1 Korintiërs 6:9-11). Berou is ’n noodsaaklike stap om ’n goeie gewete en godgegewe verligting van skuldgevoelens oor sonde te verkry.—1 Petrus 3:21.

13. Wat behels bekering sover dit doop aangaan?

13 Voordat ons as Getuies van Jehovah gedoop word, moet ons ons bekeer het. Bekering is ’n vrywillige daad wat verrig word deur iemand wat heelhartig besluit het om Christus Jesus te volg. Sulke persone verwerp hulle vroeëre verkeerde weg en besluit om te doen wat reg is in God se oë. In die Skrif dra die Hebreeuse en Griekse werkwoorde wat met bekering verband hou, die gedagte oor van terugdraai, van omdraai. Hierdie daad dui daarop dat ’n mens jou van ’n verkeerde weg afkeer en jou tot God wend (1 Konings 8:33, 34). Bekering verg ‘werke wat by berou pas’ (Handelinge 26:20). Dit vereis dat ons valse aanbidding laat vaar, in ooreenstemming met God se gebooie optree en uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah gee (Deuteronomium 30:2, 8-10; 1 Samuel 7:3). Bekering het ’n verandering in ons denke, doelwitte en gesindheid tot gevolg (Esegiël 18:31). Ons “draai om” wanneer goddelose eienskappe deur die nuwe persoonlikheid vervang word.—Handelinge 3:19; Efesiërs 4:20-24; Kolossense 3:5-14.

Heelhartige toewyding is noodsaaklik

14. Wat beteken die toewyding van Jesus se volgelinge?

14 Die doop van Jesus se volgelinge moet ook deur ’n heelhartige toewyding aan God voorafgegaan word. Toewyding beteken ’n afsondering vir ’n heilige doel. Hierdie stap is so belangrik dat ons ons besluit om vir ewig uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah te gee, in gebed aan hom bekend moet maak (Deuteronomium 5:9). Ons wy ons natuurlik nie aan ’n werk of aan ’n mens toe nie, maar aan God self.

15. Waarom word doopkandidate ondergedompel?

15 Wanneer ons ons deur Christus aan God toewy, toon ons dat ons vasbeslote is om ons lewe te gebruik om God se wil te doen soos dit in die Skrif uiteengesit word. As ’n simbool van daardie toewyding ondergaan doopkandidate onderdompeling in water, net soos Jesus in die Jordaanrivier gedoop is as ’n simbool daarvan dat hy hom vir God aangebied het (Matteus 3:13). Dit is opmerkenswaardig dat Jesus tydens daardie uiters belangrike geleentheid gebid het.—Lukas 3:21, 22.

16. Hoe kan ons op ’n gepaste manier aan ons vreugde uiting gee wanneer ons sien hoe mense gedoop word?

16 Jesus se doop was ’n ernstige maar tog vreugdevolle gebeurtenis. So ook is Christelike doop vandag. Wanneer ons sien hoe mense hulle toewyding aan God simboliseer, kan ons aan ons vreugde uiting gee deur eerbiedige applous en hartlike aanmoediging. Maar ’n gejuig, ’n gefluit, ensovoorts word vermy uit ontsag vir die heiligheid van hierdie betoning van geloof. Ons gee op ’n waardige manier uiting aan ons vreugde.

17, 18. Wat help om vas te stel of individue aan die vereistes vir doop voldoen?

17 In teenstelling met diegene wat babas besprinkel of wat massas mense wat die Skrif nie ken nie, dwing om gedoop te word, forseer Jehovah se Getuies nooit enigiemand om hulle te laat doop nie. Trouens, hulle doop nie mense wat nie aan die geestelike vereistes vir doop voldoen nie. Voordat enigiemand selfs ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus kan word, sorg Christen- ouer manne dat hy basiese Bybelleerstellings verstaan, in ooreenstemming daarmee lewe en ’n bevestigende antwoord gee op ’n vraag soos: “Wil jy werklik een van Jehovah se Getuies wees?”

18 Wanneer iemand ’n betekenisvolle aandeel aan die Koninkrykspredikingswerk het en ’n begeerte uitspreek om gedoop te word, hou Christen- ouer manne in die meeste gevalle besprekings met hom om seker te maak dat hy ’n gelowige is wat hom aan Jehovah toegewy het en dat hy aan God se vereistes vir doop voldoen (Handelinge 4:4; 18:8). Persoonlike antwoorde op meer as 100 vrae oor Bybelleerstellings help die ouer manne om vas te stel of dié wat die antwoorde gee, wel aan die skriftuurlike vereistes vir doop voldoen. Party voldoen nie daaraan nie en word dus nie toegelaat om Christelike doop te ondergaan nie.

Is daar iets wat jou keer?

19. Wie sal, in die lig van Johannes 6:44, Jesus se mede-erfgename wees?

19 Daar is moontlik vir baie wat tydens gedwonge massadopings gedoop is, gesê dat hulle hemel toe sal gaan wanneer hulle sterf. Maar Jesus het van sy voetstapnavolgers gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Jehovah het 144 000 mense na Christus getrek wat Jesus se mede-erfgename in die hemelse Koninkryk sal wees. Gedwonge doop het nog nooit enigiemand vir daardie wonderlike plek in God se reëling geheilig nie.—Romeine 8:14-17; 2 Tessalonisense 2:13; Openbaring 14:1.

20. Wat sal party wat nog nie gedoop is nie, moontlik help?

20 Veral sedert die middel-1930’s het menigtes wat hoop om “die groot verdrukking” te oorleef en vir ewig op die aarde te lewe, by Jesus se “ander skape” aangesluit (Openbaring 7:9, 14; Johannes 10:16). Hulle voldoen aan die vereistes om gedoop te word omdat hulle hulle lewe in ooreenstemming met God se Woord gebring het en hom met ‘hulle hele hart, siel, krag en verstand’ liefhet (Lukas 10:25-28). Hoewel party mense besef dat Jehovah se Getuies God “met gees en waarheid aanbid”, het hulle nog nie Jesus se voorbeeld gevolg en in die openbaar bewys gelewer van opregte liefde en uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah deur hulle te laat doop nie (Johannes 4:23, 24; Deuteronomium 4:24; Markus 1:9-11). Ernstige en spesifieke gebede oor hierdie noodsaaklike stap sal hulle heel moontlik die nodige motivering en moed gee om ten volle volgens God se Woord te lewe, ’n onvoorwaardelike toewyding aan Jehovah God te maak en gedoop te word.

21, 22. Waarom huiwer party om hulle toe te wy en te laat doop?

21 Party huiwer om hulle toe te wy en te laat doop omdat hulle so betrokke is by wêreldse sake of die najaging van rykdom dat hulle min tyd vir geestelike dinge het (Matteus 13:22; 1 Johannes 2:15-17). Hoe gelukkig sal dit hulle tog maak as hulle hulle beskouing en doelwitte verander! As hulle nader aan Jehovah kom, sal hulle geestelik verryk word, verligting van hulle sorge kry en die vrede en bevrediging geniet wat kom wanneer ’n mens God se wil doen.—Psalm 16:11; 40:8; Spreuke 10:22; Filippense 4:6, 7.

22 Ander sê dat hulle Jehovah liefhet, maar hulle kom nie tot die punt van toewyding en doop nie, omdat hulle dink dat hulle sodoende aanspreeklikheid sal vermy. Maar ons moet elkeen aan God rekenskap gee. Ons het daardie verantwoordelikheid gekry toe ons die woord van Jehovah gehoor het (Esegiël 33:7-9; Romeine 14:12). As ’n volk wat “uitgekies” is, is die eertydse Israeliete in ’n nasie gebore wat aan Jehovah toegewy was, en hulle het gevolglik ’n verpligting gehad om hom in ooreenstemming met sy bevele getrou te dien (Deuteronomium 7:6, 11). Niemand word vandag in so ’n nasie gebore nie, maar as ons juiste skriftuurlike onderrigting ontvang het, moet ons in geloof in ooreenstemming daarmee optree.

23, 24. Watter vrese moet mense nie laat huiwer om hulle te laat doop nie?

23 Vrees dat hulle nie genoeg kennis het nie, weerhou party dalk daarvan om hulle te laat doop. Maar ons moet almal nog baie leer, want ‘die mensdom sal nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde uitvind nie’ (Prediker 3:11). Dink byvoorbeeld aan die Etiopiese eunug. As ’n proseliet het hy wel kennis van die Skrif gehad, maar hy kon nie elke vraag oor God se voornemens beantwoord nie. Maar nadat hy van Jehovah se voorsiening vir redding deur Jesus se losprysoffer geleer het, het die eunug hom dadelik laat doop.—Handelinge 8:26-38.

24 Party huiwer om hulle aan God toe te wy omdat hulle bang is dat hulle sal faal. Monique, ’n 17-jarige, sê: “Ek het my nog nie laat doop nie, omdat ek bang is dat ek nie my toewyding sal kan naleef nie.” Maar as ons met ons hele hart op Jehovah vertrou, ‘sal hy ons paaie reguit maak’. Hy sal ons help om as sy getroue, toegewyde knegte ‘voort te gaan om in die waarheid te wandel’.—Spreuke 3:5, 6; 3 Johannes 4.

25. Watter vraag verdien nou om ondersoek te word?

25 Daar is elke jaar duisende wat weens absolute vertroue op Jehovah en opregte liefde vir hom beweeg word om hulle toe te wy en te laat doop. En alle toegewyde knegte van God wil tog sekerlik aan hom getrou bly. Maar ons lewe nou in kritieke tye en ons staan voor etlike toetse van geloof (2 Timoteus 3:1-5). Wat kan ons doen om ons toewyding aan Jehovah na te leef? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

[Voetnoot]

a Aangesien Jesus sonder sonde was, is hy nie gedoop as ’n simbool van berou nie. Sy doop het gesimboliseer dat hy hom vir God aanbied om sy Vader se wil te doen.—Hebreërs 7:26; 10:5-10.

Onthou jy?

• Hoe word Christelike doop uitgevoer?

• Watter kennis is nodig voordat ’n mens gedoop kan word?

• Watter stappe lei tot die doop van ware Christene?

• Waarom huiwer party om hulle te laat doop, en hoe kan hulle gehelp word?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 14]

Weet jy wat dit beteken om ‘in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees’ gedoop te word?