Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Empatie—Die sleutel tot goedhartigheid en medelye

Empatie—Die sleutel tot goedhartigheid en medelye

Empatie—Die sleutel tot goedhartigheid en medelye

“WANNEER jy ’n ander se pyn versag, het jy iets in die lewe vermag”, het Helen Keller geskryf. Keller het ongetwyfeld geweet wat emosionele pyn is. Toe sy 19 maande oud was, het sy weens ’n siekte heeltemal blind en doof geword. Maar ’n medelydende onderwyseres het Helen in braille leer lees en skryf en, later, leer praat.

Keller se onderwyseres, Ann Sullivan, het maar alte goed geweet watter frustrasie ’n fisiese gebrek kan veroorsaak. Sy was self so te sê blind. Maar Ann het geduldig ’n manier uitgewerk om met Helen te kommunikeer deur letters op Helen se hand “uit te spel”. Helen, geïnspireer deur die empatie van haar onderwyseres, het besluit om haar eie lewe daaraan te wy om blindes en dowes te help. Nadat sy met groot inspanning haar eie gebrek oorkom het, het sy meegevoel gehad met diegene wat in soortgelyke omstandighede was. Sy wou hulle help.

Jy het waarskynlik al opgelet dat dit in hierdie selfsugtige wêreld maklik is om ‘die deur van ’n mens se tere medelye te sluit’ en ander se behoeftes te ignoreer (1 Johannes 3:17). Christene word egter beveel om hulle naaste lief te hê en intense liefde vir mekaar te hê (Matteus 22:39; 1 Petrus 4:8). Tog is jy waarskynlik bewus van hierdie werklikheid: Hoewel ons graag ons liefde aan ander wil betoon, gryp ons dikwels nie geleenthede aan om ander se pyn te versag nie. Dit kan bloot wees omdat ons nie bewus is van hulle behoeftes nie. Empatie is die sleutel wat die deur tot ons goedhartigheid en medelye kan oopsluit.

Wat is empatie?

Een woordeboek sê dat empatie die “vereenselwiging met en begrip van iemand anders se situasie, gevoelens en beweegredes” is. Dit is ook al beskryf as die vermoë om jou in iemand anders se plek te stel. Empatie vereis dus allereers dat ons die omstandighede van iemand anders begryp en tweedens, dat ons die gevoelens ervaar wat daardie omstandighede in hom wek. Ja, empatie behels dat ons iemand anders se pyn in ons hart voel.

Die woord “empatie” kom nie in die Bybel voor nie, maar die Skrif verwys indirek na hierdie eienskap. Die apostel Petrus het Christene gemaan om ‘meegevoel, broederlike geneentheid en medelye’ te betoon (1 Petrus 3:8). Die Griekse woord wat as “meegevoel” vertaal word, beteken letterlik “om saam met iemand te ly” of “om medelye te hê”. Die apostel Paulus het ’n soortgelyke gesindheid aanbeveel toe hy mede-Christene aangespoor het: “Wees bly saam met mense wat bly is; huil saam met mense wat huil.” Paulus het bygevoeg: “Julle moet dieselfde gesindheid teenoor ander hê as teenoor julleself” (Romeine 12:15, 16). En sou jy nie saamstem dat dit so te sê onmoontlik is om ons naaste soos onsself lief te hê as ons nie onsself in hulle plek stel nie?

Die meeste mense het van nature ’n mate van empatie. Wie is nie al ontroer deur hartverskeurende tonele van verhongerde kinders of verwese vlugtelinge nie? Watter liefdevolle moeder kan die snikke van haar kind ignoreer? Maar nie alle lyding kan maklik waargeneem word nie. Hoe moeilik is dit tog om die gevoelens te verstaan van iemand wat aan depressie, ’n onopsigtelike fisiese gebrek of selfs ’n eetversteuring ly—as ons nog nooit self sulke probleme gehad het nie! Die Skrif toon nietemin dat ons meegevoel kan en moet aankweek teenoor diegene wie se omstandighede van ons s’n verskil.

Skriftuurlike voorbeelde van empatie

Jehovah is ons vernaamste voorbeeld van empatie. Hoewel hy self volmaak is, verwag hy nie volmaaktheid van ons nie, “want hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14; Romeine 5:12). En aangesien hy bewus is van ons beperkings, ‘sal hy nie toelaat dat ons versoek word bo wat ons kan verdra nie’ (1 Korintiërs 10:13). Deur middel van sy knegte en sy gees help hy ons om ’n uitweg te vind.—Jeremia 25:4, 5; Handelinge 5:32.

Jehovah voel die pyn wat sy volk verduur. Hy het vir die Jode wat uit Babilon teruggekeer het, gesê: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sagaria 2:8). Die Bybelskrywer Dawid was intens bewus van God se empatie en het vir Hom gesê: “Sit tog my trane in u leersak. Is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:8). Wat ’n vertroosting is dit tog om te weet dat Jehovah die trane onthou—asof hulle in ’n boek opgeskryf is—wat sy getroue knegte stort terwyl hulle stry om hulle onkreukbaarheid te handhaaf!

Jesus Christus is soos sy hemelse Vader bewus van ander se gevoelens. Toe hy ’n dowe man genees het, het hy hom eenkant toe geneem, waarskynlik sodat sy wonderdadige genesing hom nie onnodig verbouereerd sou maak of sou laat skrik nie (Markus 7:32-35). By ’n ander geleentheid het Jesus ’n weduwee gesien wat op die punt was om haar enigste seun te begrawe. Hy het onmiddellik besef watter pyn sy verduur het, die lykstoet genader en die jong man opgewek.—Lukas 7:11-16.

Ná Jesus se opstanding, toe hy op die pad na Damaskus aan Saulus verskyn het, het hy vir Saulus gesê hoe sy wrede vervolging van die dissipels hom geraak het. “Ek is Jesus, wat jy vervolg”, het hy vir hom gesê (Handelinge 9:3-5). Jesus het die pyn gevoel wat sy dissipels verduur het, soos ’n moeder wat die pyn van haar siek kind voel. As ons hemelse Hoëpriester het Jesus eweneens ‘simpatie met ons swakhede’, of soos die Rotherham-vertaling sê, hy het “meegevoel met ons swakhede”.—Hebreërs 4:15.

Die apostel Paulus het geleer om ander se lyding en gevoelens in ag te neem. “Wie is swak en ek is nie swak nie? Wie word tot struikeling gebring en ek is nie ontstoke nie?” het hy gevra (2 Korintiërs 11:29). Toe ’n engel Paulus en Silas wonderdadig van hulle boeie in ’n Filippensiese gevangenis bevry het, het Paulus heel eerste vir die tronkbewaarder gesê dat niemand ontsnap het nie. Hy het met empatie besef dat die tronkbewaarder dalk selfmoord sou pleeg. Paulus het geweet dat ’n tronkbewaarder volgens Romeinse gebruik swaar gestraf sou word as ’n gevangene ontsnap—veral as hy beveel is om hom goed te bewaak (Handelinge 16:24-28). Paulus se lewensreddende daad van goedhartigheid het die tronkbewaarder beïndruk, en hy en sy huis het stappe geneem om Christene te word.—Handelinge 16:30-34.

Hoe om empatie aan te kweek

Die Skrif moedig ons herhaaldelik aan om ons hemelse Vader en sy Seun, Jesus Christus, na te volg, en daarom is empatie ’n eienskap wat ons moet aankweek. Hoe kan ons dit doen? Daar is drie vername maniere waarop ons ons aanvoeling vir die behoeftes en gevoelens van ander kan verskerp: deur te luister, oplettend te wees en deur ons in hulle situasie te stel.

Luister. As ons aandagtig luister, leer ons met watter probleme ander te kampe het. En hoe beter ons luister, hoe waarskynliker is dit dat hulle hulle hart vir ons sal oopmaak en hulle gevoelens sal lug. “Ek kan met ’n ouer man praat as ek seker is dat hy na my sal luister”, verduidelik Miriam. “Ek wil weet dat hy werklik my probleem verstaan. My vertroue in hom neem toe wanneer hy indringende vrae vra wat toon dat hy aandagtig geluister het na wat ek hom vertel het.”

Wees oplettend. Nie almal sal vir ons openlik sê hoe hulle voel of wat hulle deurgaan nie. Maar iemand wat oplettend is, sal sien wanneer ’n mede-Christen depressief lyk, wanneer ’n tiener teruggetrokke raak of wanneer ’n ywerige bedienaar sy geesdrif verloor. Hierdie vermoë om ’n probleem in sy vroeë stadium aan te voel, is noodsaaklik vir ouers. “Op die een of ander manier weet my ma hoe ek voel nog voordat ek met haar daaroor praat”, sê Marie, “daarom is dit vir my maklik om openhartig oor my probleme met haar te gesels.”

Stel jou in daardie persoon se plek. Die kragtigste manier om empatie te wek, is om jou af te vra: ‘Hoe sou ek gevoel het as ek in hierdie situasie was? Hoe sou ek gereageer het? Wat sou ek nodig hê?’ Job se drie valse vertroosters was nie in staat om hulle in sy posisie te stel nie. Daarom het hulle hom veroordeel vir denkbeeldige sondes wat hy na hulle mening moes gepleeg het.

Onvolmaakte mense vind dit dikwels makliker om foute te veroordeel as om gevoelens te verstaan. Maar as ons hard probeer om ons voor te stel hoe benoud ’n geteisterde persoon voel, sal dit ons help om eerder te simpatiseer as te veroordeel. “Ek gee baie beter raad wanneer ek aandagtig luister en die hele situasie probeer verstaan voordat ek enige voorstelle begin maak”, het Juan, ’n ervare ouer man, gesê.

Die publikasies wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, het al baie mense in hierdie verband gehelp. Die Wagtoring en Ontwaak! het al sulke ingewikkelde probleme soos depressie en kindermishandeling bespreek. Hierdie tydige inligting help lesers om meer bewus te wees van die gevoelens van diegene wat op hierdie maniere ly. Die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk het baie ouers ook gehelp om hulle kinders se probleme te verstaan.

Empatie help in Christelike bedrywighede

Min van ons sou die toestand van ’n verhongerde kind kon ignoreer as ons voedsel gehad het om met hom te deel. As ons empatie het, sal ons ook iemand se geestelike toestand onderskei. Die Bybel sê aangaande Jesus: “Toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Miljoene is vandag in ’n soortgelyke geestelike toestand, en hulle het hulp nodig.

Soos in Jesus se dag sal ons moontlik vooroordeel of ingewortelde tradisie moet oorkom om sommige mense se hart te bereik. Die bedienaar wat empatie betoon, probeer ’n gemeenskaplike terrein vind of praat oor onderwerpe wat mense na aan die hart lê, om sy boodskap groter byval te laat vind (Handelinge 17:22, 23; 1 Korintiërs 9:20-23). Goedhartige dade wat deur empatie gemotiveer word, kan ook diegene wat na ons luister, ontvankliker maak vir die Koninkryksboodskap, soos in die geval van die Filippensiese tronkbewaarder.

Empatie is onontbeerlik om die tekortkominge van ander in die gemeente oor te sien. As ons die gevoelens van ’n broer wat ons te na gekom het, probeer verstaan, sal dit vir ons ongetwyfeld baie makliker wees om hom te vergewe. Ons sou moontlik net so opgetree het as ons in dieselfde situasie was en as ons sy agtergrond gehad het. As Jehovah se empatie hom beweeg om “gedagtig [te wees] dat ons stof is”, behoort ons empatie ons dan nie te beweeg om toegewings te maak vir die onvolmaakthede van ander en hulle “vryelik te vergewe” nie?—Psalm 103:14; Kolossense 3:13.

As ons raad moet gee, sal ons dit waarskynlik op ’n baie vriendeliker manier doen as ons die een wat oortree het se gevoelens in ag neem, asook dinge wat vir hom ’n teer punt mag wees. Die Christen- ouer man wat empatie aan die dag lê, herinner homself: ‘Ek kon ook hierdie fout gemaak het. Ek kon in sy situasie gewees het.’ Paulus maan dus: “[Probeer] so iemand in ’n gees van sagmoedigheid . . . reghelp, terwyl jy op jouself let, sodat jy nie ook versoek word nie.”—Galasiërs 6:1.

Empatie kan ons ook aanspoor om praktiese hulp aan te bied as dit in ons vermoë is om dit te doen, al huiwer ’n mede-Christen dalk om daarvoor te vra. Die apostel Johannes skryf: “Wie hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud het en sy broer sien gebrek ly en tog die deur van sy tere medelye vir hom sluit, in watter opsig bly die liefde vir God in hom? . . . Laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid.”—1 Johannes 3:17, 18.

As ons “met dade en in waarheid” wil liefhê, moet ons eers sien wat ons broer se spesifieke behoeftes is. Let ons noukeurig op na ander se behoeftes met die doel om hulle te help? Dit is wat empatie in werklikheid is.

Kweek meegevoel aan

Dalk het ons nie van nature baie empatie vir ander nie; tog kan ons hierdie meegevoel aankweek. As ons aandagtiger luister, oplettender is en ons meer dikwels in ander se situasie indink, sal ons empatie toeneem. Dit sal ons gevolglik beweeg om groter liefde, goedhartigheid en medelye teenoor ons kinders, ander Christene en ons naaste te betoon.

Moet nooit toelaat dat selfsug jou empatie verdring nie. “Geeneen van julle moet net aan sy eie sake dink nie”, het Paulus geskryf, “maar julle moet ook ander mense se belange in ag neem” (Filippense 2:4, Phillips). Ons ewige toekoms hang af van die empatie van Jehovah en van sy Hoëpriester, Jesus Christus. Ons het dus ’n sedelike verpligting om hierdie eienskap aan te kweek. Ons empatie sal ons in staat stel om beter bedienaars en beter ouers te wees. Bowenal sal empatie ons help om te besef dat “dit . . . groter geluk [verskaf] om te gee as om te ontvang”.—Handelinge 20:35.

[Prent op bladsy 25]

Empatie behels dat ons noukeurig oplet na ander se behoeftes met die doel om hulle te help

[Prent op bladsy 26]

Sal ons leer om die empatie te betoon wat ’n liefdevolle moeder van nature teenoor haar kind voel?