Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God se wette strek ons tot voordeel

God se wette strek ons tot voordeel

God se wette strek ons tot voordeel

“Hoe lief het ek u wet tog!”—PSALM 119:97.

1. Wat is die algemene gesindheid ten opsigte van gehoorsaamheid aan God se wette?

 GEHOORSAAMHEID aan God se wette is vandag nie gewild nie. Vir baie het dit geen sin om hulle aan ’n onsigbare hoër owerheid te onderwerp nie. Ons lewe in ’n tydperk van sedelike relativisme, van vae grense tussen reg en verkeerd en van groot grys gebiede (Spreuke 17:15; Jesaja 5:20). ’n Onlangse meningspeiling het ’n denkwyse weerspieël wat in talle verwêreldlikte gemeenskappe algemeen is toe dit gemeld het dat “die meeste Amerikaners vir hulleself wil besluit wat reg, goed en betekenisvol is”. Hulle verkies “geen streng God. Geen streng reëls. Geen sterk gesagsfigure, hetsy op sedelike of ander gebiede.” ’n Maatskaplike ontleder het gesê dat daar vandag “van individue verwag word om self te bepaal wat dit beteken om ’n goeie en eerbare lewe te lei”. Hy het verder gesê: “Enige vorm van hoër gesag moet sy voorskrifte by die behoeftes van werklike mense aanpas.”

2. Hoe is die eerste vermelding van wette in die Bybel nou verbonde aan God se seën en goedkeuring?

2 Aangesien so baie mense die waarde van Jehovah se wette in twyfel trek, moet ons ons oortuiging versterk dat Goddelike standaarde ons tot voordeel strek. Dit is interessant om na die verslag te kyk waar wette vir die eerste keer in die Bybel gemeld word. In Genesis 26:5 lees ons God se woorde: “Abraham [het] sy verpligtinge teenoor my, my gebooie, my insettinge en my wette voortdurend onderhou.” Jehovah het dit gesê eeue voordat hy ’n omvattende regskode aan Abraham se afstammelinge gegee het. Hoe het God Abraham se gehoorsaamheid, insluitende gehoorsaamheid aan Sy wette, beloon? Jehovah God het hom beloof: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Genesis 22:18). Gehoorsaamheid aan God se wette is dus nou verbonde aan God se seën en goedkeuring.

3. (a) Hoe het een psalmis oor Jehovah se wet gevoel? (b) Watter vrae verdien ons aandag?

3 Een van die psalmiste—heel moontlik ’n prins van Juda en ’n toekomstige koning—het ’n gevoel uitgespreek wat nie gewoonlik met wette geassosieer word nie. Hy het tot God uitgeroep: “Hoe lief het ek u wet tog!” (Psalm 119:97). Dit was nie bloot ’n emosionele uitbarsting nie. Dit was ’n betuiging van liefde vir God se wil soos uiteengesit in sy wet. Jesus Christus, die volmaakte Seun van God, het baie dieselfde gevoel. In ’n profesie word daar beskryf dat Jesus sê: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my ingewande” (Psalm 40:8; Hebreërs 10:9). Wat van ons? Skep ons behae daarin om God se wil te doen? Is ons oortuig van die praktiese waarde en voordele van Jehovah se wette? Watter plek beklee gehoorsaamheid aan God se wette in ons aanbidding, in ons daaglikse lewe, in ons besluite en in ons verhoudings met ander? As ons ’n liefde vir God se wette wil opbou, sal dit goed wees as ons verstaan waarom God die reg het om wette te maak en te handhaaf.

Jehovahdie regmatige Wetgewer

4. Waarom is Jehovah die hoogste, regmatige Wetgewer?

4 As die Skepper is Jehovah die hoogste, regmatige Wetgewer in die heelal (Openbaring 4:11). Die profeet Jesaja het gesê: “Jehovah is ons Wetgewer” (Jesaja 33:22). Hy het die fisiese wette ingestel wat die lewende en lewelose skepping beheer (Job 38:4-38; 39:1-12; Psalm 104:5-19). As ’n skepping van God is die mens onderworpe aan Jehovah se fisiese wette. En hoewel die mens wilsvryheid asook redeneervermoë het, is hy alleenlik gelukkig as hy hom aan God se sedewette en geestelike wette onderwerp.—Romeine 12:1; 1 Korintiërs 2:14-16.

5. Hoe geld die beginsel in Galasiërs 6:7 met betrekking tot God se wette?

5 Soos ons weet, kan Jehovah se fisiese wette nie verbreek word nie (Jeremia 33:20, 21). As iemand sekere fisiese wette ignoreer, soos die wet van swaartekrag, moet hy die gevolge dra. God se sedewette is eweneens onherroeplik, en niemand kan dit verontagsaam of skend en ongestraf bly nie. Dit word net so seker as sy natuurwette toegepas, hoewel die gevolge dalk nie so gou ervaar word nie. “God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7; 1 Timoteus 5:24.

Die omvang van Jehovah se wet

6. Wat sluit God se wette in?

6 ’n Uitsonderlike voorbeeld van God se wette is die Wet van Moses (Romeine 7:12). Na verloop van tyd het Jehovah God die Mosaïese Wet met “die wet van die Christus” vervang (Galasiërs 6:2; 1 Korintiërs 9:21). a As Christene onder “die volmaakte wet wat tot vryheid behoort”, weet ons dat God nie sy voorskrifte tot sekere aspekte van ons lewe, soos leerstellings of seremoniële ritusse, beperk nie. Sy standaarde dek alle aspekte van die lewe, waaronder gesinsaangeleenthede, saketransaksies, gedrag teenoor die teenoorgestelde geslag, gesindhede teenoor mede-Christene en die beoefening van ware aanbidding.—Jakobus 1:25, 27.

7. Gee voorbeelde van belangrike wette van God.

7 Die Bybel sê byvoorbeeld: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). Ja, egbreuk en hoerery is nie net “liefdesverhoudings” nie. Homoseksuele dade is nie eenvoudig ’n “alternatiewe lewenswyse” nie. Dit is skendings van Jehovah se wet. En dieselfde geld vir diefstal, leuens en laster (Psalm 101:5; Kolossense 3:9; 1 Petrus 4:15). Jakobus het grootpratery veroordeel, terwyl Paulus ons vermaan het om dwase praatjies en onwelvoeglike skertsery te vermy (Efesiërs 5:4; Jakobus 4:16). Vir Christene is al hierdie gedragsreëls deel van die volmaakte wet van God.—Psalm 19:7.

8. (a) Hoe kan Jehovah se wet beskryf word? (b) Wat is die basiese betekenis van die Hebreeuse woord vir “wet”?

8 Sulke basiese voorskrifte in Jehovah se Woord toon dat sy wet nie bloot ’n lys streng, wettiese verordeninge is nie. Dit vorm die grondslag vir ’n gebalanseerde, produktiewe lewe, en alle aspekte van mense se gedrag word ten goede beïnvloed. God se wet is verheffend, eties en leersaam (Psalm 119:72). Die woord “wet”, soos die psalmis dit gebruik, is vertaal van die Hebreeuse woord too-rah’. ’n Bybelgeleerde sê: “Hierdie woord is afgelei van ’n werkwoord wat beteken om te rig, te lei, te mik na, vorentoe te skiet. Dit . . . dui dus op ’n gedragsreël.” Vir die psalmis was die wet ’n gawe van God. Moet ons nie dieselfde waardering daarvoor hê en toelaat dat dit ons lewe rig nie?

9, 10. (a) Waarom het ons betroubare leiding nodig? (b) Alleenlik hoe kan ons ’n aangename en suksesvolle lewe lei?

9 Alle skepsele het betroubare leiding nodig. Dit is waar van Jesus en ander engele, wat hoër as die mens is (Psalm 8:5; Johannes 5:30; 6:38; Hebreërs 2:7; Openbaring 22:8, 9). As hierdie volmaakte skepsele by Goddelike leiding baat kan vind, hoeveel te meer dan onvolmaakte mense! Die mensegeskiedenis en ons persoonlike ondervinding het die profeet Jeremia se waarneming waar bewys: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

10 As ons graag ’n aangename en suksesvolle lewe wil lei, moet ons ons tot God wend vir leiding. Koning Salomo het besef hoe gevaarlik dit is om volgens ’n mens se eie standaarde, sonder Goddelike leiding, te lewe: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood.”—Spreuke 14:12.

Redes om Jehovah se wet te waardeer

11. Waarom moet dit ons begeerte wees om God se wet te verstaan?

11 Dit sal goed wees as ons ’n innige begeerte ontwikkel om Jehovah se wet te verstaan. Die psalmis het so ’n verlange uitgespreek toe hy gesê het: “Open my oë, sodat ek die wonderlike dinge uit u wet kan sien” (Psalm 119:18). Hoe meer ons God en sy weë leer ken, hoe beter sal ons die waarheid van Jesaja se woorde besef: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk!” (Jesaja 48:17, 18). Dit is Jehovah se opregte begeerte dat sy knegte rampspoed moet vermy en die lewe moet geniet deur aandag aan sy gebooie te skenk. Kom ons kyk na ’n paar belangrike redes waarom ons God se wet moet waardeer.

12. Hoe maak Jehovah se kennis van ons hom die beste Wetgewer?

12 Goddelike wette kom van die Een wat ons die beste ken. Aangesien Jehovah ons Skepper is, is dit logies dat hy die mens deur en deur ken (Psalm 139:1, 2; Handelinge 17:24-28). Intieme vriende, familielede, selfs ouers kan ons nie so goed ken soos Jehovah nie. God ken ons selfs beter as wat ons onsself ken! Ons Maker het ’n onvergelyklike begrip van ons geestelike, emosionele, verstandelike en fisiese behoeftes. Wanneer hy sy aandag op ons vestig, toon hy dat hy ons samestelling, ons begeertes en ons strewes baie goed ken. Jehovah verstaan ons beperkings, maar hy weet ook watter potensiaal ons het om goed te doen. Die psalmis sê: “Hy weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:14). Ons kan dus geestelik veilig voel terwyl ons daarna streef om in sy wet te wandel en ons gewillig aan Goddelike leiding onderwerp.—Spreuke 3:19-26.

13. Waarom kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons belange op die hart dra?

13 Goddelike wette kom van die Een wat ons liefhet. God is opreg besorg oor ons ewige welsyn. Het hy nie die groot opoffering gemaak om sy Seun as “’n losprys in ruil vir baie” te gee nie? (Matteus 20:28). Het Jehovah nie beloof dat ‘hy nie sal toelaat dat ons versoek word bo wat ons kan verdra nie’? (1 Korintiërs 10:13). Verseker die Bybel ons nie dat hy ‘vir ons sorg’ nie? (1 Petrus 5:7). Daar is niemand wat met soveel liefdevolle belangstelling nuttige riglyne vir die menseskepping wil voorsien as Jehovah nie. Hy weet wat goed is vir ons en wat die grens tussen geluk en hartseer is. Al is ons onvolmaak en maak ons foute, toon hy sy liefde vir ons op maniere wat tot lewe en seëninge sal lei as ons regverdigheid nastreef.—Esegiël 33:11.

14. In watter belangrike opsig verskil God se wet van menslike idees?

14 God se wet is onveranderlik, wat baie gerusstellend is. In die onstuimige tye waarin ons lewe, is Jehovah ’n onwankelbare rots, wat van ewigheid tot ewigheid bestaan (Psalm 90:2). Hy het van homself gesê: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:6). God se standaarde, soos opgeteken in die Bybel, is volkome betroubaar—nie soos die dryfsand van menslike idees wat voortdurend verander nie (Jakobus 1:17). Sielkundiges het byvoorbeeld jare lank permissiewe metodes van kinderopvoeding aanbeveel, maar party het later van mening verander en erken dat hulle raad verkeerd was. Wêreldse standaarde en riglyne met betrekking tot hierdie kwessie is so veranderlik soos die wind. Maar Jehovah se Woord is bestendig. Die Bybel voorsien al eeue lank raad oor hoe om kinders met liefde groot te maak. Die apostel Paulus het geskryf: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat ons op Jehovah se standaarde kan vertrou; dit sal nie verander nie!

Seëninge vir diegene wat God se wette gehoorsaam

15, 16. (a) Wat sal die resultaat wees as ons Jehovah se standaarde volg? (b) Hoe kan God se wette betroubare riglyne vir die huwelik bied?

15 Deur sy profeet Jesaja het God gesê: “My woord . . . wat uit my mond uitgaan . . . , sal beslis sukses behaal” (Jesaja 55:11). Ons sal net so seker sukses behaal, goeie vrugte pluk en geluk smaak as ons opreg daarna streef om die standaarde in sy Woord te volg.

16 Kom ons kyk byvoorbeeld hoe God se wette betroubare riglyne vir ’n gelukkige huwelik bied. “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees”, het Paulus geskryf, “en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Huweliksmaats moet mekaar respekteer en liefhê: “Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Die soort liefde wat ons moet hê, word in 1 Korintiërs 13:4-8 beskryf: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie.” ’n Huwelik wat deur hierdie soort liefde gekenmerk word, sal nie misluk nie.

17. Watter voordele hou dit in om Jehovah se standaarde oor die gebruik van alkohol te volg?

17 Nog ’n bewys dat Jehovah se standaarde nuttig is, is die feit dat hy dronkenskap veroordeel. Hy keur dit selfs af dat iemand hom “aan baie wyn oorgee” (1 Timoteus 3:3, 8; Romeine 13:13). Baie wat God se standaarde in hierdie saak ignoreer, ly aan siektes wat deur oormatige drinkery veroorsaak of vererger word. Party wat die Bybel se raad oor matigheid geïgnoreer het, het in die gewoonte verval om baie te drink om “hulle te help ontspan”. Oormatige drinkery lei tot baie probleme, soos verlies van respek, gespanne gesinsverhoudings of gesinsverbrokkeling, verkwisting van inkomste en afdanking (Spreuke 23:19-21, 29-35). Is Jehovah se standaarde in verband met die gebruik van alkohol nie ’n beskerming nie?

18. Is God se wette prakties in finansiële sake? Verduidelik.

18 God se standaarde is ook prakties in finansiële sake. Die Bybel spoor Christene aan om eerlik en vlytig te wees (Lukas 16:10; Efesiërs 4:28; Kolossense 3:23). Omdat hulle hierdie raad volg, het baie Christene bevordering gekry of hulle werk behou terwyl ander afbetaal is. Dit bring ook finansiële voordele mee wanneer iemand onskriftuurlike gewoontes en verslawings vermy, soos dobbelary, die rookgewoonte en dwelmmisbruik. Jy kan ongetwyfeld aan ander voorbeelde dink wat die praktiese waarde van God se standaarde op ekonomiese gebied toon.

19, 20. Waarom is dit die weg van wysheid om God se wette te aanvaar en daarvolgens te lewe?

19 Dit is maklik vir onvolmaakte mense om van God se wette en standaarde af te wyk. Dink aan die Israeliete by die berg Sinai. God het vir hulle gesê: “As julle dan nou my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word.” Hulle het geantwoord: “Alles wat Jehovah gespreek het, is ons bereid om te doen.” Maar hoe het die weg wat hulle ingeslaan het, tog van hulle woorde verskil! (Eksodus 19:5, 8; Psalm 106:12-43). Laat ons eerder God se standaarde aanvaar en daarvolgens lewe.

20 Dit is die weg van wysheid en geluk om getrou by die onvergelyklike wette te bly wat Jehovah voorsien het om ons te help om ons lewe te rig (Psalm 19:7-11). As ons dit met welslae wil doen, moet ons ook die waarde van godvrugtige beginsels besef. Dit is die onderwerp van die volgende artikel.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 September 1996, bladsye 14-24, vir ’n breedvoerige bespreking van “die wet van die Christus”.

Onthou jy?

• Waarom kan ons vol vertroue wees dat God se wette ons tot voordeel sal strek?

• Om watter redes moet ons Jehovah se wet waardeer?

• In watter opsigte strek God se wette ons tot voordeel?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Abraham is ryklik geseën omdat hy Jehovah se wet gehoorsaam het

[Prente op bladsy 15]

Die sorge van vandag se besige lewe lei baie mense se aandag af van Goddelike wette

[Prent op bladsy 17]

Soos ’n vuurtoring op ’n groot rots, is Goddelike wette bestendig en onveranderlik