Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat goddelike beginsels jou lei

Laat goddelike beginsels jou lei

Laat goddelike beginsels jou lei

‘Jehovah leer jou om jouself te bevoordeel.’—JESAJA 48:17.

1. Hoe lei die Skepper mense?

 TERWYL wetenskaplikes hulle inspan om die geheime van die heelal te ontsluit, is hulle verstom oor die ontsaglike hoeveelheid energie in die kosmos rondom ons. Ons son—’n ster van middelgrootte—stel dieselfde hoeveelheid energie vry as “100 miljard waterstofbomme wat elke sekonde ontplof”. Die Skepper kan sulke enorme hemelliggame deur sy onbeperkte krag beheer (Job 38:32; Jesaja 40:26). Wat van ons as mense, wat geskep is met wilsvryheid, ’n sedelikheidsgevoel, rede en die vermoë om geestelikheid te ontwikkel? Watter manier het ons Maker gekies om ons te lei? Hy lei ons liefdevol deur sy volmaakte wette en verhewe beginsels, tesame met ons goed opgeleide gewete.—2 Samuel 22:31; Romeine 2:14, 15.

2, 3. In watter soort gehoorsaamheid skep God behae?

2 God skep behae in intelligente skepsele wat kies om hom te gehoorsaam (Spreuke 27:11). Jehovah het ons nie geprogrammeer sodat ons ons soos verstandelose robotte blindweg sal onderwerp nie, maar het ons eerder wilsvryheid gegee sodat ons ingeligte besluite kan maak om te doen wat reg is.—Hebreërs 5:14.

3 Jesus, wat sy Vader volmaak weerspieël het, het vir sy dissipels gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel. Ek noem julle nie meer slawe nie” (Johannes 15:14, 15). In die ou tyd het ’n slaaf nie juis ’n ander keuse gehad as om die bevele van sy heer te gehoorsaam nie. Daarenteen word ’n vriendskap opgebou wanneer eienskappe geopenbaar word wat die hart aantrek. Ons kan Jehovah se vriende word (Jakobus 2:23). Hierdie vriendskap word deur wedersydse liefde versterk. Jesus het gehoorsaamheid aan God met liefde verbind toe hy gesê het: “As iemand my liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê” (Johannes 14:23). Om dié rede—en om ons in die weg van veiligheid te lei—nooi Jehovah ons om volgens sy beginsels te lewe.

Goddelike beginsels

4. Hoe sal jy beginsels definieer?

4 Wat is beginsels? ’n Beginsel word gedefinieer as “’n algemene of grondwaarheid: ’n omvattende en grondliggende wet, leerstelling of veronderstelling waarop ander gebaseer word of waarvan ander afgelei word” (Webster’s Third New International Dictionary). ’n Noukeurige studie van die Bybel toon dat ons hemelse Vader grondbeginsels voorsien wat ’n verskeidenheid situasies en aspekte van die lewe dek. Hy doen dit tot ons ewige voordeel. Dit is in ooreenstemming met wat die wyse koning Salomo geskryf het: “Hoor, my seun, en neem my woorde aan. Dan sal die lewensjare vir jou baie word. Ek sal jou in die weg van wysheid onderrig; ek sal jou in die spore van regskapenheid laat loop” (Spreuke 4:10, 11). Die grondbeginsels wat Jehovah voorsien, raak ons verhouding met hom en met ons medemens, ons aanbidding en ons daaglikse lewe (Psalm 1:1). Kom ons kyk na ’n paar van hierdie grondbeginsels.

5. Gee voorbeelde van ’n paar grondbeginsels.

5 Jesus het aangaande ons verhouding met Jehovah gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Daarbenewens gee God beginsels wat met ons handelinge met ons medemens verband hou, soos die Gulde Reël: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12; Galasiërs 6:10; Titus 3:2). Wanneer dit by aanbidding kom, word ons vermaan: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat . . . nie” (Hebreërs 10:24, 25). Wat aspekte van ons daaglikse lewe betref, sê die apostel Paulus: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God” (1 Korintiërs 10:31). Daar is tallose ander beginsels in God se Woord.

6. Wat is die verskil tussen beginsels en wette?

6 Beginsels is lewende, noodsaaklike waarhede, en verstandige Christene kweek ’n liefde daarvoor aan. Jehovah het Salomo geïnspireer om te skryf: “Skenk tog aandag aan my woorde. Neig jou oor tot my gesegdes. Mag hulle nie voor jou oë wyk nie. Bewaar hulle in jou hart. Want hulle is lewe vir dié wat hulle vind en gesondheid vir hulle hele vlees” (Spreuke 4:20-22). Hoe verskil beginsels van wette? Beginsels voorsien die grondslag vir wette. Reëls, wat gewoonlik spesifiek is, is moontlik bedoel vir ’n bepaalde tyd of situasie, maar beginsels is tydloos (Psalm 119:111). Goddelike beginsels raak nie verouderd of uitgedien nie. Die geïnspireerde woorde van die profeet Jesaja is waar: “Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan.”—Jesaja 40:8.

Dink en handel volgens beginsels

7. Hoe spoor God se Woord ons aan om volgens beginsels te dink en te handel?

7 Keer op keer spoor “die woord van ons God” ons aan om volgens beginsels te dink en te handel. Toe Jesus gevra is om die Wet op te som, het hy twee bondige stellings gemaak—een het liefde vir Jehovah beklemtoon en die ander liefde vir naaste (Matteus 22:37-40). Daar het Jesus gedeeltelik aangehaal uit ’n vroeëre kort opsomming van basiese beginsels van die Mosaïese Wet, wat in Deuteronomium 6:4, 5 opgeteken staan: “Jehovah ons God is een Jehovah. En jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag.” Jesus het klaarblyklik ook God se voorskrif in Levitikus 19:18 in gedagte gehad. In die duidelike, kort en kragtige slot van die boek Prediker het koning Salomo se woorde ’n hele klomp wette van God saamgevat: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens. Want die ware God sal elke soort werk oordeel met betrekking tot alles wat verborge is, of dit goed of sleg is.”—Prediker 12:13, 14; Miga 6:8.

8. Waarom is dit ’n beskerming om ’n duidelike begrip van basiese Bybelbeginsels te hê?

8 ’n Duidelike begrip van sulke basiese beginsels kan ons help om meer spesifieke voorskrifte te verstaan en toe te pas. Wat meer is, as ons nie basiese beginsels volkome begryp en aanvaar nie, sal ons moontlik nie wyse besluite kan maak nie en kan ons geloof maklik ondermyn word (Efesiërs 4:14). As ons sulke beginsels in ons verstand en hart laat insink, sal ons gereed wees om dit te gebruik wanneer ons besluite maak. Wanneer ons dit met begrip toepas, lei dit tot sukses.—Josua 1:8; Spreuke 4:1-9.

9. Waarom is dit nie altyd maklik om Bybelbeginsels te onderskei en toe te pas nie?

9 Om Bybelbeginsels te onderskei en toe te pas, is nie so maklik as om ’n stel wette te gehoorsaam nie. As onvolmaakte mense wil ons dalk nie die moeite doen om oor beginsels te redeneer nie. Ons verkies moontlik die gerief van ’n reël wanneer ons voor ’n besluit of ’n dilemma te staan kom. Soms vra ons dalk die hulp van ’n ryp Christen—miskien ’n gemeentelike ouer man—en verwag ons om ’n spesifieke reël te kry wat op ons situasie van toepassing is. Maar die Bybel of Bybelpublikasies gee moontlik nie ’n bepaalde reël nie, en selfs al kry ons een, is dit dalk nie ’n voorskrif wat te alle tye en in alle omstandighede geld nie. Miskien onthou jy die geval toe ’n sekere man vir Jesus gevra het: “Leermeester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” Jesus het nie sommer gou ’n reël voorsien wat geskille tussen broers kon besleg nie, maar hy het ’n algemener beginsel gegee: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug.” Só het Jesus ’n riglyn gegee wat destyds nuttig was en vandag nog steeds geld.—Lukas 12:13-15.

10. Hoe kan die feit dat ons in ooreenstemming met beginsels optree, openbaar wat die beweegredes van ons hart is?

10 Jy het waarskynlik al mense gesien wat wette dikwels teësinnig gehoorsaam, uit vrees vir straf. Respek vir beginsels voorkom so ’n gesindheid. Die blote aard van beginsels beweeg diegene wat hulle daardeur laat lei, om uit die hart op te tree. Trouens, die meeste beginsels behels nie onmiddellike straf vir diegene wat dit nie nakom nie. Dit gee ons die geleentheid om te toon waarom ons Jehovah gehoorsaam—wat die beweegredes van ons hart is. ’n Voorbeeld hiervan is toe Josef die onsedelike versoeke van Potifar se vrou verwerp het. Hoewel Jehovah nog nie ’n geskrewe wet teen egbreuk gegee het en daar geen Goddelike straf vasgestel was vir iemand wat gemeenskap met ’n ander man se vrou gehad het nie, was Josef bewus van die beginsels van huwelikstrou wat God ingestel het (Genesis 2:24; 12:18-20). Ons kan uit sy reaksie sien dat hierdie beginsels ’n kragtige invloed op hom gehad het: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?”—Genesis 39:9.

11. Op watter gebiede wil Christene hulle deur Jehovah se beginsels laat lei?

11 Christene wil hulle vandag deur Jehovah se beginsels laat lei wanneer dit kom by persoonlike sake, soos die keuse van vriende, vermaak, musiek en leesstof (1 Korintiërs 15:33; Filippense 4:8). Namate ons kennis en begrip van en waardering vir Jehovah en sy standaarde toeneem, sal ons gewete, ons sedeliksgevoel, ons help om Goddelike beginsels toe te pas ongeag die omstandighede waarin ons ons bevind, selfs in uiters private sake. Aangesien ons deur Bybelbeginsels gelei word, sal ons nie op die uitkyk wees na skuiwergate in God se wette nie; en ons sal ook nie diegene navolg wat probeer sien hoe ver hulle kan gaan sonder om werklik ’n sekere wet te verbreek nie. Ons besef dat sulke denke selfverydelend en skadelik is.—Jakobus 1:22-25.

12. Wat is noodsaaklik as ons deur Goddelike beginsels gelei wil word?

12 Ryp Christene besef dat ’n begeerte om te weet hoe Jehovah oor ’n saak voel, noodsaaklik is as ’n mens Goddelike beginsels wil volg. “O julle wat Jehovah liefhet”, vermaan die psalmis, “haat die kwaad” (Psalm 97:10). ’n Paar van die dinge wat God as kwaad sou bestempel, word in Spreuke 6:16-19 genoem: “Daar is ses dinge wat Jehovah haat; ja, sewe is verfoeilik vir sy siel: trotse oë, ’n valse tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat skadelike planne beraam, voete wat haastig is om na slegtheid te hardloop, ’n valse getuie wat leuens uitstrooi en iemand wat twis onder broers saai.” Wanneer ons lewe gerig word deur ’n begeerte om Jehovah se beskouing oor sulke basiese dinge in ag te neem, word dit ’n vaste gewoonte om in ooreenstemming met beginsels te lewe.—Jeremia 22:16.

Goeie beweegredes is noodsaaklik

13. Watter soort denke het Jesus in sy Bergpredikasie beklemtoon?

13 As ons beginsels ken en dit toepas, beskerm dit ons ook teen die strik van leë, vormlike aanbidding. Daar is ’n verskil tussen die toepassing van beginsels en wettiese gehoorsaamheid aan reëls. Jesus het dit duidelik getoon in die Bergpredikasie (Matteus 5:17-48). Onthou dat Jesus se gehoor Jode was; die Mosaïese Wet moes dus hulle gedrag gerig het. Maar hulle het in werklikheid ’n verwronge beskouing van die Wet gehad. Hulle het die klem begin lê op die letter van die Wet in plaas van die gees daarvan. Hulle het ook groot nadruk gelê op hulle oorleweringe en dit bo die leringe van God gestel (Matteus 12:9-12; 15:1-9). Gevolglik is die volk oor die algemeen nie geleer om in terme van beginsels te dink nie.

14. Hoe het Jesus sy gehoor gehelp om in terme van beginsels te dink?

14 In teenstelling hiermee het Jesus in die Bergpredikasie beginsels op vyf gebiede van sedelikheid ingesluit: woede, die huwelik en egskeiding, beloftes, wraak, asook liefde en haat. In elke geval het Jesus die voordeel daarvan getoon om ’n beginsel te volg. Sodoende het Jesus die sedelike standaard vir sy volgelinge verhoog. Byvoorbeeld, met betrekking tot egbreuk het hy ’n beginsel gegee wat nie net ’n beskerming teen sekere dade is nie, maar ook teen sekere denke en begeertes: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”—Matteus 5:28.

15. Hoe kan ons enige neiging om wetties te wees, vermy?

15 Hierdie voorbeeld lig toe dat ons nie die doel en gees van Jehovah se beginsels uit die oog moet verloor nie. Ons moet beslis nie God se guns deur middel van sedelike formalisme probeer verkry nie. Jesus het die dwaasheid van so ’n gesindheid blootgelê deur te wys op God se barmhartigheid en liefde (Matteus 12:7; Lukas 6:1-11). As ons Bybelbeginsels volg, sal ons nie probeer lewe (of daarop aandring dat ander lewe) volgens ’n uitvoerige en streng stel moets en moenies wat verder gaan as die leringe van die Bybel nie. Beginsels van liefde en gehoorsaamheid teenoor God sal vir ons belangriker wees as die uiterlike vertoon van aanbidding.—Lukas 11:42.

Blye resultate

16. Gee voorbeelde van die onderliggende beginsels van party Bybelse voorskrifte.

16 Terwyl ons daarna streef om Jehovah te gehoorsaam, is dit belangrik om te besef dat sy wette op belangrike beginsels gegrond is. Christene moet byvoorbeeld afgodediens, geslagsonsedelikheid en die misbruik van bloed vermy (Handelinge 15:28, 29). Waarop is die Christen se standpunt in hierdie kwessies gebaseer? God verdien ons uitsluitlike toegewydheid; ons moet getrou wees aan ons huweliksmaat en Jehovah is die Lewegewer (Genesis 2:24; Eksodus 20:5; Psalm 36:9). As ons hierdie onderliggende beginsels verstaan, is dit makliker om die verwante wette te aanvaar en te gehoorsaam.

17. Watter goeie resultate kan dit oplewer as ons Bybelbeginsels onderskei en toepas?

17 Namate ons die onderliggende beginsels onderskei en toepas, besef ons dat dit ons tot voordeel strek. Die geestelike seëninge wat God se knegte geniet, gaan dikwels gepaard met tasbare voordele. Diegene wat byvoorbeeld die rookgewoonte vermy, wat sedelike rein lewens lei en wat die heiligheid van bloed respekteer, vermy sekere siektes. En as ons in ooreenstemming met Goddelike waarheid lewe, kan dit ons ook op ekonomiese of maatskaplike gebied of in die gesin baat. Enige van hierdie tasbare voordele toon die waarde van Jehovah se standaarde, dat dit werklik prakties is. Maar die praktiese voordele is nie op sigself die hoofrede waarom ons God se beginsels toepas nie. Ware Christene is gehoorsaam aan Jehovah omdat hulle hom liefhet, omdat hy hulle aanbidding verdien en omdat dit die regte ding is om te doen.—Openbaring 4:11.

18. Waardeur moet ons lewe gerig word as ons suksesvolle Christene wil wees?

18 As ons ons lewe deur Bybelbeginsels laat rig, lei dit tot ’n beter lewe, wat ander weer na die weg van God kan aantrek. Maar die belangrikste is dat ons lewensweg Jehovah tot eer strek. Ons besef dat Jehovah werklik ’n liefdevolle God is wat die beste vir ons wil hê. Wanneer ons besluite in ooreenstemming met Bybelbeginsels maak en sien hoe Jehovah ons seën, voel ons selfs nader aan hom. Ja, ons bou ’n intiemer verhouding met ons hemelse Vader op.

Onthou jy?

• Wat is ’n beginsel?

• Hoe verskil beginsels van wette?

• Waarom is dit goed vir ons om in terme van beginsels te dink en te handel?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 20]

Wilson, ’n Christen van Ghana, is in kennis gestel dat hy oor ’n paar dae uit sy werk ontslaan sou word. Op sy laaste dag by die werk is hy aangesê om die privaat motor van die besturende direkteur van die maatskappy te was. Toe Wilson ’n groot som geld in die motor vind, het sy opsiener vir hom gesê dat God die geld gestuur het omdat Wilson daardie dag afgedank sou word. Maar Wilson het die Bybelbeginsels oor eerlikheid toegepas en die geld vir die direkteur teruggegee. Die direkteur was verbaas en beïndruk en het Wilson nie net onmiddellik ’n permanente betrekking aangebied nie, maar hom ook bevorder tot ’n senior lid van die maatskappy se personeel.—Efesiërs 4:28.

[Venster op bladsy 21]

Rukia is ’n Albanese vrou in haar sestigerjare. Weens ’n familietwis het sy meer as 17 jaar nie met haar broer gepraat nie. Sy het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en geleer dat ware Christene in vrede met ander moet saamlewe en nie wrokke moet koester nie. Sy het die hele nag gebid, en met ’n bonsende hart het sy na haar broer se huis gestap. Haar broer se dogter het die deur oopgemaak. Verbaas het sy vir Rukia gevra: “Wie is dood? Waarom is Tannie hier?” Rukia het gevra om met haar broer te praat. Sy het kalm verduidelik dat die Bybelbeginsels en dinge wat sy oor Jehovah geleer het, haar beweeg het om vrede met haar broer te maak. Ná al die trane en omhelsings het hulle hierdie spesiale hereniging gevier!—Romeine 12:17, 18.

[Prent op bladsy 23]

Matteus 5:27, 28

[Prent op bladsy 23]

Matteus 5:3

[Prent op bladsy 23]

Matteus 5:24

[Prent op bladsy 23]

“Toe hy die menigte mense sien, het hy teen die berg opgegaan; en nadat hy gaan sit het, het sy dissipels na hom toe gekom; en hy het sy mond oopgemaak en hulle begin leer.”—MATTEUS 5:1, 2