Onthou jy?
Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:
• Watter persoonlike program met betrekking tot die Bergpredikasie kan jy gebruik om spanning te verlig?
Jy kan elke dag een van Jesus se basiese leringe lees wat in daardie predikasie of elders in die Evangelies uiteengesit is. Deur oor daardie lering te peins en dit persoonlik te probeer toepas, sal jy waarskynlik groter geluk en minder spanning ervaar.—12/15, bladsye 12-14.
• Watter drie goeie redes is daar vir gemeentelike ouer manne om bedieningsknegte op te lei om ekstra verantwoordelikhede te behartig?
Weens die groei in die aantal Getuies van Jehovah, is nog verantwoordelike manne nodig om pasgedooptes te help om vordering te maak. Ouer manne wat al lank dien, kan nou weens ouderdom of gesondheidsprobleme nie meer soveel doen nie. En sommige bekwame ouer manne het ekstra verantwoordelikhede buite die plaaslike gemeente, en daarom kan hulle moontlik nie meer soveel in hulle gemeente doen as vroeër nie.—1/1, bladsy 29.
• Hoe vertrou mense op gode wat nie werklik bestaan nie?
Baie mense aanbid die gode van hulle godsdiens, maar hulle is moontlik bloot lewelose gode wat mense net so min kan verlos as wat Baäl in Elia se dag kon doen (1 Konings 18:26, 29; Psalm 135:15-17). Ander vereer vermaaklikheidspersoonlikhede of sportsterre, wat geen ware hoop vir die toekoms kan bied nie. In teenstelling hiermee bestaan Jehovah werklik en voer hy sy voornemens uit.—1/15, bladsye 3-5.
• Wat kan ons leer uit Kain se reaksie op God se waarskuwing?
God het aan ons wilsvryheid gegee, en ons kan kies om eerder te doen wat reg is as om ons van die goeie af te keer, soos Kain gedoen het. Die Bybelverslag toon ook dat Jehovah die onberouvolles veroordeel.—1/15, bladsye 22-3.
• Waarom is reinheid veral nou belangrik?
Weens die verandering in sosiale patrone, bestee baie mense minder tyd daaraan om hulle huis skoon te maak as wat vroeër die geval was. As reinheid met betrekking tot voedsel en water geïgnoreer word, kan dit gesondheidsgevare inhou. Die Bybel beklemtoon nie net fisiese reinheid nie, maar benadruk ook dat ons aan geestelike, sedelike en verstandelike reinheid aandag moet gee.—2/1, bladsye 3-6.
• Paulus het aangaande voor-Christelike getuies gesê dat hulle “nie sonder ons tot volmaaktheid gebring sou word nie”. Hoe so? (Hebreërs 11:40).
Gedurende die komende Millennium sal Christus en sy gesalfde broers in die hemel, wat as konings en priesters dien, die voordele van die losprys ten behoewe van verresenes aanwend. Getroue mense soos dié wat in Hebreërs hoofstuk 11 genoem word, sal sodoende “tot volmaaktheid gebring . . . word”.—2/1, bladsy 23.
• Wat was Paulus se punt toe hy vir die Hebreërs gesê het: “Julle [het] nog nooit tot bloedens toe weerstand gebied nie”? (Hebreërs 12:4).
Hy het bedoel dat hulle nie tot in die dood weerstand gebied het nie. Daar was geskiedkundige voorbeelde van mense wat tot in die dood getrou was. Hoewel die Hebreërs aan wie Paulus geskryf het, nie in so ’n mate getoets is nie, moes hulle tot volwassenheid voortbeur en hulle geloof opbou sodat hulle wat ook al voorgelê het, kon verduur.—2/15, bladsy 29.
• Waarom is dit beter om nie te sê dat Jehovah se geregtigheid deur sy barmhartigheid getemper word nie?
In sommige tale kan “temper” beteken om te versag of teë te hou. Jehovah is ’n God van geregtigheid sowel as barmhartigheid, en wanneer hy hierdie eienskappe aan die dag lê, is daar ’n harmonieuse werking tussen die twee (Eksodus 34:6, 7; Deuteronomium 32:4; Psalm 116:5; 145:9). Jehovah se geregtigheid hoef nie deur barmhartigheid versag of getemper te word nie.—3/1, bladsy 30.
• Is dit gepas vir ’n Christen om die liggaam van ’n afgestorwe dierbare te laat balsem?
Balseming is ’n manier om ’n lyk behoue te laat bly. Sommige antieke volke het hierdie gebruik om godsdiensredes beoefen. Dit was nie die geval met ware aanbidders nie (Prediker 9:5; Handelinge 24:15). Balseming stel bloot die onvermydelike uit, dat die liggaam tot stof terugkeer (Genesis 3:19). Maar daar sou geen rede tot kommer wees as die wet balseming vereis, sommige familielede daarop aandring of dit nodig is omdat mense lang afstande na ’n begrafnis moet reis nie.—3/15, bladsye 29-31.
• Watter Bybelvoorbeelde leer ons dat God mense van alle nasies verwelkom?
Jehovah het die profeet Jona gestuur om die Nineviete te waarsku, en God het Jona gemaan om hulle berou te aanvaar. Jesus het deur sy woorde en sy voorbeeld mense aangemoedig om liefde teenoor Samaritane te betoon. Die apostel Petrus en die apostel Paulus het albei ’n aandeel daaraan gehad om die goeie nuus aan nie-Jode te bring. Uit sulke voorbeelde kan ons sien hoe nodig dit is om mense van alle agtergronde te probeer help.—4/1, bladsye 21-4.