Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sekuriteit—Nou en vir ewig

Sekuriteit—Nou en vir ewig

Sekuriteit—Nou en vir ewig

WAAROM is sekuriteit dikwels ontwykend en, as dit wel gevind word, tydelik van aard? Kan dit wees dat ons gevoel van sekuriteit op verbeelding gegrond is—op wat ons hoop om te bereik eerder as wat bereikbaar is? As ons ons so laat mislei, kan daar gesê word dat ons in ’n droomwêreld lewe.

Verbeelding stel die verstand in staat om die werklikheid van die lewe met sy onsekerhede agter te laat en ’n wonderlike, veilige toestand in te gaan, waarin enigiets wat die droom kan bederf, verwerp word. Maar dikwels dring die probleme van die werklike wêreld hierdie droomwêreld skielik binne en word die gevoel van welstand meedoënloos uitgewis, sodat die dromer na die nugtere werklikheid teruggeruk word.

Kom ons kyk na een manier waarop mense sekuriteit soek—blyplek. Die groot stad kan byvoorbeeld belowend lyk en droombeelde by mense laat opkom van ’n lewe vol plesier, groot salarisse en luukse woonplekke. Ja, dit lyk dalk of dit langverwagte sekuriteit kan bied. Maar is hierdie droombeeld realisties?

Blyplek—Groot stad of groot drome?

In ontwikkelende lande word die groot stad nog aanlokliker gemaak deur advertensies wat die verbeelding van sommige kan aangryp. Organisasies wat vir hierdie advertensies verantwoordelik is, stel nie noodwendig in jou sekuriteit belang nie, maar eerder in hulle verkope. Hulle verbloem die probleme van die werklike wêreld met tonele wat sukses en sekuriteit uitbeeld. Gevolglik word sekuriteit met hulle geadverteerde produk en die groot stad geassosieer.

Beskou die volgende voorbeeld. Amptenare in ’n stad in Wes-Afrika het reklameborde opgerig wat duidelik uitgebeeld het dat rook in werklikheid presies dieselfde is as om swaar verdiende geld te verbrand. Dit was deel van ’n kampanje om die inwoners teen rook te waarsku. Sigaretvervaardigers en -verkopers het as ’n teenwig slim ontwerpte reklameborde opgerig wat rokers in aantreklike tonele van geluk en sukses uitgebeeld het. Verder het een sigaretmaatskappy van sy werkers in smaakvolle uniforms en spoggerige bofbalpette geklee om sigarette aan jongmense op straat uit te deel en elkeen aan te spoor om “dit te probeer”. Baie van hierdie jongmense was van die platteland af en is deur hierdie uitnodiging mislei, omdat hulle nie vertroud was met slim advertensiemetodes nie. Hulle het aan sigarette verslaaf geraak. Die jong plattelanders het na die groot stad gekom op soek na sekuriteit sodat hulle hulle gesinne kon help of finansieel beter daaraan toe kon wees. In plaas daarvan het hulle baie geld verbrand wat hulle beter kon gebruik het.

Die idee van ’n suksesvolle lewe in die groot stad het nie altyd sy oorsprong by die handelaars nie. Mense wat na die groot stad getrek het en verleë voel om na hulle tuisdorpie terug te keer, kan ook hierdie boodskap oordra. Omdat hulle nie wil hê dat dit moet lyk of hulle misluk het nie, spog hulle met die skynbare rykdom en prestasies wat lewe in die stad vir hulle meegebring het. Maar ’n nadere ondersoek van hulle beweerde status bring aan die lig dat hulle huidige lewenstyl nie beter is as die lewe wat hulle op die platteland gehad het nie; hulle sukkel finansieel soos die meeste ander stadsbewoners.

Veral in groot stede word nuwelinge wat op soek is na sekuriteit, slagoffers van gewetenlose mense. Waarom? Hoofsaaklik omdat hulle nog nie die tyd gehad het om goeie vriendskappe op te bou nie en ver van hulle familielede af is. Hulle het dus geen raadgewers wat hulle kan help om die valstrikke te vermy wat met die materialistiese leefwyse in die stad gepaardgaan nie.

Josué het nie in die strik getrap om te begin rook nie. Daarbenewens het hy besef dat hy glad nie opgewasse is teen die eise van die stadslewe nie. In sy geval was die enigste ding wat die stad hom werklik kon bied, selfs onder die beste omstandighede, groot, onvervulde drome. Hy het gesien dat hy nie ware sekuriteit in die stad gehad het nie; hy was eenvoudig nie tuis daar nie. Gevoelens van leegheid, minderwaardigheid en mislukking het hom oorweldig, en hy het uiteindelik sy trots gesluk en na die platteland teruggekeer.

Hy was bang dat hy gespot sou word. Maar sy familie en ware vriende het hom met oop arms terugverwelkom. Danksy die hartlikheid van sy familie, die bekende omgewing van die dorpie en die liefde van sy vriende in die Christengemeente, het hy gou baie veiliger gevoel as in die groot stad, waar die drome van baie in nagmerries verander. Tot sy verbasing het harde werk saam met sy vader op die lande hom en sy gesin in werklikheid ’n groter inkomste besorg as wat sy netto inkomste in die stad sou gewees het.

Geld—Wat is in werklikheid die probleem?

Sal geld jou ’n gevoel van sekuriteit gee? Liz van Kanada sê: “Toe ek jonk was, het ek gedink dat geld ’n mens van bekommernisse bevry.” Sy het verlief geraak op ’n man wat welaf was. Kort voor lank is hulle getroud. Het sy ’n gevoel van sekuriteit gehad? Liz vertel verder: “Toe ek getrou het, het ons ’n pragtige huis en twee motors gehad, en weens ons finansiële posisie kon ons feitlik alles bekostig wat ons begeer het, materiële dinge, reise en ontspanning. Maar ek het my vreemd genoeg nog steeds oor geld bekommer.” Sy verduidelik waarom: “Ons het so baie gehad om te verloor. Dit lyk vir my hoe meer jy het, hoe onveiliger voel jy. Geld het ons nie van kommer of angstigheid bevry nie.”

As jy meen dat jy nie genoeg geld het om jou ’n gevoel van sekuriteit te gee nie, moet jy jou afvra: ‘Wat is in werklikheid die probleem? Het ek waarlik te min geld, of weet ek net nie hoe om verstandig met geld te werk nie?’ Wanneer Liz terugdink aan haar verlede, sê sy: “Ek besef nou dat die onvermoë om met geld te werk, die oorsaak van ons gesin se probleme was toe ek ’n kind was. Ons het op rekening gekoop, en gevolglik was ons altyd in die skuld. Dit het tot bekommernisse gelei.”

Vandag voel Liz en haar man egter dat hulle groter sekuriteit het, hoewel hulle minder geld het. Toe hulle die waarheid van God se Woord geleer het, het hulle opgehou luister na bewerings oor hoe wonderlik geld is en na God se wysheid begin luister, onder andere na hierdie woorde: “Wat die een betref wat na my luister, hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie” (Spreuke 1:33). Hulle wou hê dat hulle lewe meer betekenis moes hê as wat ’n groot bankbalans daaraan kon gee. Nou is Liz en haar man sendelinge in ’n verre land en leer hulle rykes sowel as armes dat Jehovah God binnekort ware sekuriteit, of veiligheid, regoor die aarde tot stand gaan bring. Hierdie werk verskaf diepe tevredenheid en stabiliteit wat voortspruit uit ’n verhewe doel en waardes, nie uit geldelike gewin nie.

Onthou hierdie basiese waarheid: Om ryk te wees by God, het veel groter waarde as materiële rykdom. Regdeur die Heilige Skrif word die klem nie op materiële rykdom geplaas nie, maar op hoe belangrik dit is om ’n goeie posisie voor Jehovah te hê, wat ons kan behou deur voortdurend God se wil met geloof te doen. Christus Jesus het ons aangespoor om ‘ryk teenoor God’ te wees en ’n “skat in die hemele” te vergaar.—Lukas 12:21, 33.

Posisie—Waarheen mik jy?

As jy in die versoeking kom om te dink dat jy sekuriteit sal kry deur die maatskaplike leer te klim, moet jy jou afvra: ‘Wie op die leer het werklik al die sport bereik waar hulle ware sekuriteit het? Hoeveel hoër moet ek klim om dit te verkry?’ ’n Suksesvolle loopbaan kan jou ’n valse gevoel van sekuriteit gee en tot teleurstelling of, nog erger, tot ’n rampspoedige val lei.

Werklike ondervindinge toon dat ’n goeie naam by God baie meer sekuriteit bied as ’n naam by mense. Net Jehovah kan die mens die ewige lewe as gawe gee. Dit behels dat ons naam in God se boek van die lewe geskryf moet word, nie in die een of ander sosiale gids nie.—Eksodus 32:32; Openbaring 3:5.

Skuif wensdenkery gerus opsy en vra jou af hoe jou huidige situasie daar uitsien en wat jy in alle eerlikheid van die toekoms kan verwag. Niemand het alles nie. Soos ’n wyse Christen dit gestel het: “Ek moes leer dat die lewe nooit dit EN dat is nie, maar dit OF dat.” Staan gerus ’n oomblik hier stil en lees eers die venster “Soos vertel in Benin”.

Beantwoord nou hierdie vrae: Wat is ’n belangrike bestemming, of doelwit, in my lewe? Wat is die kortste roete om daar uit te kom? Is ek dalk op ’n lang, onseker ompad, terwyl die dinge wat ek werklik wil hê en wat realisties is, verkry kan word deur ’n minder ingewikkelde roete te volg?

Nadat Jesus raad gegee het oor die relatiewe waarde van materiële dinge in vergelyking met die waarde van geestelike dinge, het hy gesê dat die oog “eenvoudig” of “in fokus” gehou moet word (Matteus 6:22, voetnoot in NW). Hy het duidelik getoon dat die vernaamste dinge in die lewe geestelike waardes en doelwitte is wat om God se naam en sy Koninkryk draai (Matteus 6:9, 10). Ander dinge is minder belangrik of is as ’t ware uit fokus.

Vandag kan baie kameras outomaties fokus op voorwerpe wat ver sowel as naby is. Is jy geneig om so te wees? Is feitlik alles waarna jy kyk “in fokus”—dit wil sê belangrik, begeerlik en, met ’n bietjie wensdenkery, bereikbaar? Selfs as dit net in geringe mate die geval is, kan die belangrike voorwerp vir Christene, die Koninkryk, maklik verlore gaan tussen ’n magdom ander beelde, wat almal meeding om jou aandag. Jesus se streng vermaning was: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:33.

Sekuriteit—nou en vir ewig

Ons almal droom miskien van beter dinge vir ons en ons geliefdes. Maar die feit dat ons onvolmaak is, in ’n onvolmaakte wêreld lewe en ’n beperkte lewensduur het, laat ons met geen ander keuse nie as om die dinge te beperk wat ons realisties kan hoop om te bereik. ’n Bybelskrywer het duisende jare gelede verduidelik: “Ek het teruggekeer en onder die son gesien dat die vinniges nie die wedloop het nie en die sterkes ook nie die geveg nie, en dat die wyses ook nie die voedsel het nie en dié met begrip ook nie die rykdom nie, en dat selfs dié wat kennis het, nie die guns het nie; want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.”—Prediker 9:11.

Soms raak ons so vasgevang in die daaglikse sleur van die lewe dat ons vergeet om na die geheelbeeld te kyk van wie ons is en wat ons werklik nodig het om ’n ware gevoel van sekuriteit te hê. Let op hierdie ou woorde van wysheid: “As jy geld liefhet, sal jy nooit genoeg daarvan kry nie; as jy graag ryk wil wees, sal jy nooit alles kry wat jy wil hê nie. Dit is tevergeefs. ’n Werkende man het dalk genoeg om te eet of dalk te min, maar ten minste kan hy ’n goeie nagrus kry. ’n Ryk man het egter so baie dat hy weens kommer wakker lê” (Prediker 5:10, 12, Today’s English Version). Ja, waar probeer jy sekuriteit vind?

Kan jy jou planne verander as jou situasie ooreenkom met Josué se onrealistiese droom? Diegene wat jou waarlik liefhet, sal jou ondersteun, net soos Josué se familie en vriende in die Christengemeente gedoen het. Jy sal moontlik groter sekuriteit vind in ’n nederige omgewing saam met diegene wat jou liefhet as in die stad saam met mense wat jou dalk probeer uitbuit.

Kan jy, as jy soos Liz en haar man reeds welaf is, jou lewenstyl verander sodat jy meer tyd en energie daaraan kan bestee om mense, ryk of arm, te help om van die Koninkryk te leer, die middel waardeur ons ware sekuriteit kan verkry?

As jy besig is om die maatskaplike of korporatiewe leer te klim, kan jy eerlik nadink oor wat jou motiveer. Sekere voordele wat jy geniet, kan jou lewe weliswaar genotvoller maak. Maar is jy in staat om die Koninkryk—die enigste middel waardeur ons blywende sekuriteit kan verkry—in fokus te hou? Onthou Jesus se woorde: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). As jy betrokke raak by die verskillende bedrywighede in die Christengemeente, sal jy ’n gevoel van genoegdoening asook sekuriteit geniet.

Diegene wat hulle volle vertroue in Jehovah en sy Koninkryk stel, floreer nou reeds in verkwikkende sekuriteit en sien uit na volkome veiligheid in die toekoms. Die psalmis het gesê: “Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly, en my heerlikheid is geneig om vreugdevol te wees. Ook sal my vlees in veiligheid woon.”—Psalm 16:8, 9.

[Venster/Prent op bladsy 6]

Soos vertel in Benin

Verskeie weergawes van hierdie verhaal is al duisende kere vertel. Onlangs het ’n bejaarde inwoner van ’n dorpie in Benin, Wes-Afrika, die volgende weergawe aan ’n paar jonges vertel.

’n Visserman keer terug huis toe in sy kano en kom ’n oorsese deskundige teë wat in hierdie ontwikkelende land werk. Die deskundige vra die visserman waarom hy so vroeg terug is. Hy antwoord dat hy langer kon uitgebly het, maar dat hy genoeg gevang het om vir sy gesin te sorg.

“En nou, wat doen jy dan met al jou tyd?” vra die deskundige.

Die visserman antwoord: “Wel, ek vang ’n bietjie vis. Ek speel met my kinders. Ons almal geniet ’n middagslapie wanneer dit warm word. Saans eet ons aandete saam. Later kom ek en my vriende bymekaar om ’n bietjie musiek te geniet, en so aan.”

Die deskundige val hom in die rede: “Kyk, ek het ’n universiteitsgraad en het hierdie dinge bestudeer. Ek wil jou help. Jy moet langer uitbly wanneer jy gaan visvang. Jy sal meer verdien en binnekort ’n groter boot kan koop as hierdie kano. Met ’n groter boot sal jy nóg meer kan verdien en weldra ’n vloot treilers kan opbou.”

“En dan?” wil die visserman weet.

“Dan sal jy nie meer jou vis deur ’n middelman hoef te verkoop nie, maar jy sal direk met die fabriek kan onderhandel of selfs jou eie visfabriek kan begin. Jy sal jou dorpie kan verlaat en na Cotonou of Parys of New York kan trek en alles van daar af kan bestuur. Jy kan dit selfs oorweeg om jou onderneming op die effektebeurs te plaas en miljoene verdien.”

“Hoe lank sal dit alles vat?” vra die visserman.

“Seker so 15 tot 20 jaar”, antwoord die deskundige.

“En dan?” vra die visserman verder.

“Dis wanneer die lewe interessant begin raak”, verduidelik die deskundige. “Dan kan jy aftree. Jy kan uit die gejaag en gewoel van die stad wegtrek na ’n afgeleë dorpie.”

“En wat dan?” vra die visserman.

“Dan het jy tyd om ’n bietjie vis te vang, met jou kinders te speel, ’n middagslapie te geniet wanneer dit warm word, aandete met die gesin te hê en saam met jou vriende ’n bietjie musiek te geniet.”

[Prente op bladsy 7]

Bring bevordering sekuriteit mee?

[Prente op bladsy 8]

Mede-Christene wil graag hê dat jy sekuriteit moet geniet