Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Twee pastore wat Russell se werke hooggeag het

Twee pastore wat Russell se werke hooggeag het

Twee pastore wat Russell se werke hooggeag het

IN 1891 het Charles Taze Russell, wat uitmuntende werk onder ware Christenaanbidders van Jehovah gedoen het, Europa die eerste keer besoek. Volgens sommige verslae het Russell, toe hy in Pinerolo, Italië, oorgebly het, professor Daniele Rivoire ontmoet, ’n voormalige pastoor van ’n godsdiensgroep wat die Waldense genoem word. a Hoewel Rivoire, nadat hy uit die bediening getree het, nou verbonde gebly het aan die Waldense, het hy ’n oop gemoed behou en baie publikasies gelees wat C. T. Russell geskryf het.

In 1903 het Rivoire Russell se boek The Divine Plan of the Ages in Italiaans vertaal en dit op sy eie onkoste laat druk. Dit was lank voor ’n amptelike Italiaanse uitgawe vrygestel is. In die boek se voorwoord het Rivoire geskryf: “Ons plaas hierdie eerste Italiaanse uitgawe onder die Here se beskerming. Mag hy dit seën sodat dit, ondanks enige tekortkominge, sy allerheiligste naam sal verheerlik en sy Italiaanssprekende kinders tot groter toegewydheid sal aanspoor. Mag die harte van almal wat hierdie boek lees en sodoende ’n waardering kry vir die diepte van die rykdom, wysheid en kennis van God se voorneme en liefde, dankbaar wees teenoor God self, deur wie se genade die vrystelling van hierdie werk moontlik gemaak is.”

Rivoire het ook Zion’s Watchtower and Herald of Christ’s Presence in Italiaans begin vertaal. Hierdie tydskrif, ’n vroeë vorm van Die Wagtoring, het in 1903 as ’n kwartaalblad verskyn. Hoewel professor Rivoire nooit ’n Bybelstudent geword het nie, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het hy groot belangstelling getoon in die verkondiging van die Bybel se boodskap soos dit in die publikasies van die Bybelstudente uiteengesit is.

‘Dit was asof skille van my oë afgeval het’

’n Ander Waldensiese pastoor wat Russell se publikasies hooggeag het, was Giuseppe Banchetti. Giuseppe se vader, wat hom van Katolisisme bekeer het, het hom ’n Waldensiese opvoeding gegee. In 1894 het Giuseppe ’n pastoor geword en verskeie Waldensiese gemeenskappe bedien in Apulië en Abruzzi en op die eilande Elba en Sisilië.

Die amptelike Italiaanse uitgawe van Russell se Divine Plan of the Ages is in 1905 uitgegee. Banchetti het ’n entoesiastiese oorsig van die boek geskryf. Dit het in die Protestantse tydskrif La Rivista Cristiana verskyn. Russell se boek, het Banchetti geskryf, “is vir ons die duidelikste en betroubaarste handleiding wat enige Christen kan hê om ’n lonende en geseënde studie van die Heilige Skrif te onderneem . . . Toe ek dit begin lees het, was dit asof skille van my oë afgeval het, asof die weg na God reguiter en makliker was. Selfs oënskynlike teenstrydighede het meestal net verdwyn. Leerstellings wat vroeër ingewikkeld was, het nou eenvoudig en heeltemal aanvaarbaar gelyk. Dinge wat tot dusver onverstaanbaar was, het duidelik geword. Die bewonderenswaardige plan van die wêreld se redding deur Christus het met sulke ongelooflike eenvoud voor my ontvou dat dit my beweeg het om saam met die Apostel uit te roep: O die diepte van die rykdom van die wysheid en die kennis van God!”—Romeine 11:33.

Soos Remigio Cuminetti in 1925 opgemerk het, het Banchetti “baie simpatie” vir die werk van die Bybelstudente getoon en was hy “heeltemal oortuig” van die leerstellings soos hulle dit verduidelik het. Op sy eie manier het Banchetti ook hierdie leerstellings probeer bekend maak.

Dit blyk duidelik uit Banchetti se werke dat hy, soos Jehovah se Getuies, in ’n aardse opstanding geglo het, soos wat die Skrif leer. Hy was dit ook eens met die Bybelstudente toe hy verduidelik het dat God die jaar waarin Jesus gesterf het, vasgestel en geopenbaar het in Daniël se profesie van die 70 weke (Daniël 9:24-27). Meer as een keer, en geheel en al in stryd met die leerstellings van sy kerk, het hy aangevoer dat die herdenking van Jesus Christus se dood slegs een keer per jaar gevier moet word, op “die presiese dag waarop die herdenking val” (Lukas 22:19, 20). Hy het Darwin se evolusieteorie verwerp en hy het bevestig dat ware Christene nie aan wêreldse oorloë moet deelneem nie.—Jesaja 2:4.

By een geleentheid het Banchetti Russell se werke met ’n man genaamd J. Campbell Wall bespreek. In antwoord op Wall se kritiek het Banchetti gesê: “Ek is seker dat jy ’n uitbundige en intense vreugde sal ervaar as jy Russell se ses bundels lees en dat jy my hartlik sal bedank. Ek loop nie met dogma te koop nie; maar ek het daardie boeke elf jaar gelede gelees en ek dank God elke dag dat hy sulke lig en sulke vertroosting voor my gestel het deur middel van ’n werk wat volkome en stewig op die Heilige Skrif gegrond is.”

“Luister, luister, luister”

Dit is betekenisvol dat hierdie twee Waldensiese pastore—Daniele Rivoire en Giuseppe Banchetti—waardering uitgespreek het vir die manier waarop Russell die Bybel verduidelik het. Banchetti het geskryf: “Ek glo dat geeneen van ons as Evangeliste, nie eens ons pastore of teologiese professors, alles weet nie. Nee, ons het baie, baie ander dinge om te leer. . . . [Ons moet] . . . wag en luister, en nie dink dat ons alles weet nie, en nie verwerp wat aan ons gegee word om te ondersoek nie. Ons moet eerder luister, luister, luister.”

Elke jaar luister duisende na die Koninkryksboodskap wat Jehovah se Getuies na hulle huise toe bring. Oral reageer onbevooroordeelde mense wat na Bybelwaarhede dors, op Jesus se uitnodiging: “Kom word my volgeling.”—Markus 10:17-21; Openbaring 22:17.

[Voetnoot]

a Vernoem na Pierre Vaudès, of Peter Waldus, ’n 12de-eeuse koopman van Lyon, Frankryk. Waldus is deur die Katolieke Kerk geëkskommunikeer weens sy opvattings. Sien die artikel “Die Waldense—van kettery tot Protestantisme”, in Die Wagtoring van 15 Maart 2002, vir verdere inligting oor die Waldense.

[Prent op bladsy 28]

Professor Daniele Rivoire

[Prent op bladsy 29]

Giuseppe Banchetti

[Erkenning]

Banchetti: La Luce, 14 April 1926