Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is dit gepas om God in gebed te nader sonder om iets soos “in Jesus se naam” te sê?

Die Bybel toon dat Christene wat Jehovah in gebed wil nader, dit in Jesus se naam behoort te doen. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” Hy het bygevoeg: “Wat julle ook al in my naam vra, dit sal ek doen, sodat die Vader in verband met die Seun verheerlik kan word. As julle enigiets in my naam vra, sal ek dit doen.”—Johannes 14:6, 13, 14.

Met verwysing na Jesus se unieke posisie, sê die Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature: “Gebed moet slegs tot God gerig word, deur Jesus Christus as die Middelaar. Alle smeekbedes tot heiliges of engele is dus nie net nutteloos nie, maar ook godslasterlik. Alle aanbidding van die skepsel, ongeag hoe verhewe daardie skepsel is, is afgodediens en word in die heilige wet van God streng verbied.”

Sê nou iemand sê “Dankie Jehovah” ná ’n baie lonende ondervinding, sonder om “in Jesus se naam” te sê? Sal dit verkeerd wees? Nie noodwendig nie. Gestel ’n Christen kom skielik voor gevaar te staan en roep uit: “Help my, Jehovah!” God sal tog nie weier om sy kneg te help net omdat hy nie “in Jesus se naam” gesê het nie.

Ons moet egter onthou dat dit nie noodwendig ’n gebed is as iemand bloot hardop met God praat nie. Nadat Jehovah byvoorbeeld oordeel oor Kain uitgespreek het omdat hy sy broer Abel doodgemaak het, het Kain gesê: “My straf vir my oortreding is te groot om te dra. Kyk, op hierdie dag verdryf u my in werklikheid van die oppervlak van die aarde af, en vir u aangesig sal ek verborge wees; en ek sal ’n swerwer en ’n vlugteling op die aarde word, en enigiemand wat my vind, sal my vir seker doodmaak” (Genesis 4:13, 14). Hoewel Kain sy woorde tot Jehovah gerig het, was sy emosionele uitbarsting ’n klagte oor die wrange vrugte van sonde.

Die Bybel sê vir ons: “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.” Om die Allerhoogste doodluiters aan te spreek asof hy ’n blote mens is, sal beslis ’n gebrek aan nederigheid toon (Jakobus 4:6; Psalm 47:2; Openbaring 14:7). Dit sal ook oneerbiedig wees om te weet wat God se Woord oor Jesus se rol sê en nietemin doelbewus te bid sonder om Jesus Christus die nodige erkenning te gee.—Lukas 1:32, 33.

Dit beteken nie dat Jehovah ’n spesifieke styl of vasgestelde formule verwag wanneer ons bid nie. ’n Sleutelfaktor is ’n mens se hartstoestand (1 Samuel 16:7). In die eerste eeu G.J. het ’n Romeinse leëroffisier met die naam Kornelius “voortdurend smeekbedes tot God gedoen”. Kornelius, ’n onbesnede nie-Jood, was nie aan Jehovah toegewy nie. Hoewel hy waarskynlik nie sy gebede in Jesus se naam gedoen het nie, het dit “as ’n gedagtenis voor God opgestyg”. Waarom? Want “die ondersoeker van harte” het gesien dat Kornelius ‘’n vroom man is en iemand wat God vrees’ (Handelinge 10:2, 4; Spreuke 17:3). Nadat Kornelius kennis ingeneem het van “Jesus wat van Nasaret was”, het hy heilige gees ontvang en ’n gedoopte dissipel van Jesus geword.—Handelinge 10:30-48.

Dit is op stuk van sake nie mense wat besluit watter gebede God verhoor nie. As ’n Christen af en toe woorde tot God spreek en nalaat om ’n uitdrukking soos “in Jesus se naam” te gebruik, is dit nie nodig dat hy daaroor skuldig moet voel nie. Jehovah is ten volle bewus van ons beperkings en wil ons help (Psalm 103:12-14). As ons geloof in “die Seun van God stel”, kan ons seker wees dat “hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:13, 14). Maar veral wanneer ware Christene ander in ’n openbare gebed verteenwoordig, erken hulle die rol wat Jesus in Jehovah se voorneme speel, soos dit in die Skrif uiteengesit word. En omdat hulle gehoorsaam daarna streef om Jesus te eer, rig hulle gebede tot God deur hom.