Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waar probeer jy sekuriteit vind?

Waar probeer jy sekuriteit vind?

Waar probeer jy sekuriteit vind?

In ’n klein dorpie in Wes-Afrika waai die jong Josué totsiens vir sy familie en vriende. a Dan vertrek hy na die groot stad op soek na finansiële sekuriteit. Maar kort ná sy aankoms vervaag sy hoop wanneer hy besef dat die stad se strate nie van goud gemaak is nie.

OMDAT Josué sukkel om by die stadslewe aan te pas, voel hy heeltemal ontnugter. Die groot stad is alles behalwe wat hy hom voorgestel het. Intussen is daar diep in Josué se hart ’n verlange om terug te keer na sy familie en vriende in daardie nederige dorpie wat hy agtergelaat het. Maar hy is bang dat van die dorpie se inwoners hom sal spot. ‘Hulle sal my ’n mislukking noem’, bekommer hy hom, ‘omdat ek in die stad nie die mas kon opkom nie.’

Iets wat nog swaarder op hom rus, is dat sy ouers dalk teleurgesteld sal wees. Hulle maak op hom staat om hulle finansieel te help. Terwyl hy hierdie emosionele las probeer dra, swoeg Josué lang ure by ’n werk waarop ander neersien en verdien hy net ’n breukdeel van die salaris waarvan hy gedroom het. Hy is uitgeput omdat hy hom oorwerk. En die tyd wat oorbly vir Christelike bedrywighede, wat hom na aan die hart lê, word met elke week wat verbygaan, al hoe minder. Hy is so ver verwyder van die hartlikheid van sy familie en ou vriende dat hy hartseer en eensaam voel. Hy vind dat die stad hom nie die sekuriteit gegee het wat hy so graag wou hê nie.

Hoewel die name en plekke verskil, is Josué se hartseer verhaal een wat hom oor en oor afspeel. Dit was nie selfsug wat Josué laat wegtrek het nie—hy was maar net op soek na sekuriteit. Hy het regtig gedink dat daar vir hom beter geleenthede in die stad is as in sy dorpie. Soms slaag iemand weliswaar daarin om sy finansiële posisie te verbeter, maar dit bring nie ware sekuriteit mee nie. Dit het beslis nie in Josué se geval gebeur nie en sal heel moontlik ook nie werk vir die meeste ander wat dit probeer nie. Dit laat ons vra: ‘Wat is sekuriteit?’

Verskillende mense het verskillende idees oor sekuriteit. Een woordeboek sê dat sekuriteit, of veiligheid, “vryheid van gevaar” is of “vryheid van vrees of kommer”. Die meeste mense besef dat algehele “vryheid van gevaar” vandag nie bestaan nie. Hulle is tevrede solank hulle veilig voel, al word hulle ook deur gevaarlike situasies omring.

Wat van jou? Waar probeer jy sekuriteit vind? Kan dit eerder in die stad as op die platteland gevind word, soos Josué gedink het? Of kan geld dit bied, waar of hoe jy dit ook al kan verkry? Kan dit gevind word deur die maatskaplike leer te klim? Ongeag waar jy glo jy sekuriteit kan vind, hoe lank sal daardie sekuriteit vir jou sowel as jou gesin duur?

Kom ons kyk na drie maniere waarop baie mense sekuriteit probeer vind—blyplek; geld; posisie, oftewel status. Daarna sal ons ondersoek waar ware, permanente sekuriteit gevind kan word.

[Voetnoot]

a Naam is verander.