Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe liggaamsgebreke tot ’n einde gaan kom

Hoe liggaamsgebreke tot ’n einde gaan kom

Hoe liggaamsgebreke tot ’n einde gaan kom

STEL jou voor dat die oë van die blindes sien, die ore van die dowes elke geluid hoor, die tong van die stommes van vreugde hard sing en die bene van die kreupeles sterk is en kan rondloop! Ons praat nie van deurbrake in die geneeskunde nie, maar van die resultaat wanneer God ten behoewe van die mensdom ingryp. Die Bybel voorspel: “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep” (Jesaja 35:5, 6). Maar hoe kan ons seker wees dat hierdie wonderlike profesie vervul sal word?

Om mee te begin, toe Jesus Christus op die aarde was, het hy mense werklik van alle soorte siektes en gebreke genees. Ook is die meeste van sy wonderwerke deur baie getuies—selfs deur sy vyande—gesien. Trouens, in ten minste een geval het skeptiese teenstanders deeglik ondersoek ingestel na ’n genesing om Jesus se geloofwaardigheid in twyfel te trek. Maar tot hulle ergernis het hulle net sy wonderwerk bevestig (Johannes 9:1, 5-34). Nadat Jesus nog ’n onbetwisbare wonderwerk verrig het, het hulle gefrustreerd gesê: “Wat moet ons doen, want hierdie man doen baie tekens?” (Johannes 11:47). Die gewone mense was egter nie so onontvanklik nie, want baie het geloof in Jesus begin stel.—Johannes 2:23; 10:41, 42; 12:9-11.

Jesus se wonderwerke—’n voorskou van wêreldwye genesing

Jesus se wonderwerke het nie net bewys dat Jesus die Messias en die Seun van God is nie. Dit het ’n grondslag voorsien vir geloof in die Bybel se beloftes dat gehoorsame mense in die toekoms genees sal word. Hierdie beloftes sluit die profesie in Jesaja hoofstuk 35 in, wat in die eerste paragraaf gemeld word. Jesaja 33:24 sê aangaande die toekomstige gesondheid van godvresende mense: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.” Openbaring 21:4 belowe eweneens: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge [vandag se beproewinge en lyding] het verbygegaan.”

Mense vra gereeld dat hierdie profesieë vervul moet word wanneer hulle Jesus se modelgebed bid, wat gedeeltelik sê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Ja, God se wil sluit die aarde en die mensdom in. Siekte en liggaamsgebreke word om ’n rede toegelaat, maar dit sal binnekort nie meer daar wees nie; dit sal God se “voetbank” nie vir ewig bederf nie.—Jesaja 66:1. a

Pynloos en kosteloos genees

Ongeag aan watter kwaal mense gely het, Jesus het hulle pynloos, dadelik en kosteloos genees. Nuus hieroor het natuurlik soos ’n veldbrand versprei, en kort voor lank “het groot menigtes na hom toe gekom wat kreupeles, verminktes, blindes, stommes en baie ander by hulle gehad het, en hulle het hulle as ’t ware voor sy voete gegooi, en hy het hulle genees”. Hoe het die mense gereageer? Matteus se ooggetuieverslag sê verder: “Die skare [was] verbaas . . . toe hulle sien dat die stommes praat en die kreupeles loop en die blindes sien, en hulle het die God van Israel verheerlik.”—Matteus 15:30, 31.

Let daarop dat Jesus dié wat hy genees het, nie versigtig uit die skare gekies het nie—’n skelmstreek wat deur kwaksalwers gebruik word. Nee, die baie familielede en vriende van mense met kwale “het hulle as ’t ware voor [Jesus se] voete gegooi, en hy het hulle genees”. Kom ons kyk nou na ’n paar spesifieke voorbeelde van Jesus se vermoë om mense te genees.

Blindheid: Terwyl Jesus in Jerusalem was, het hy ’n man genees wat “van sy geboorte af blind” was. Die mense in die stad het hierdie man as ’n blinde bedelaar geken. Jy kan jou dus die opgewondenheid en beroering voorstel toe mense sien dat hy rondloop en kan sien! Maar nie almal was bly nie. Party lede van ’n vername en invloedryke Joodse sekte wat die Fariseërs genoem is en wat gegrief was omdat Jesus vroeër hulle goddeloosheid blootgelê het, het wanhopig bewyse probeer vind dat dit ’n skelmstreek van Jesus was (Johannes 8:13, 42-44; 9:1, 6-31). Daarom het hulle eers die man wat genees is, toe sy ouers, en daarna weer die man, ondervra. Maar die Fariseërs se vrae het net Jesus se wonderwerk bevestig, en dit het hulle kwaad gemaak. Dronkgeslaan oor die onredelikheid van hierdie godsdienshuigelaars, het die man wat genees is, gesê: “Van ouds af is daar nog nooit gehoor dat enigeen die oë geopen het van iemand wat blind gebore is nie. As hierdie man nie van God gekom het nie, sou hy hoegenaamd niks kon doen nie” (Johannes 9:32, 33). Weens dié eerlike en rasionele woorde van geloof het die Fariseërs “hom uitgegooi”, wat blykbaar beteken dat hulle die man wat vroeër blind was, uit die sinagoge geban het.—Johannes 9:22, 34.

Doofheid: Terwyl Jesus in die Dekapolis was, ’n streek oos van die Jordaanrivier, het die mense daar “’n man wat doof was en ’n spraakgebrek gehad het, na hom toe gebring” (Markus 7:31, 32). Jesus het nie net die man genees nie, maar hy het ook diep insig geopenbaar in die gevoelens van die dowes, wat moontlik verbouereerd raak in ’n skare. Volgens die Bybel het Jesus die dowe man “eenkant toe geneem, weg van die skare af”, en hom genees. Ooggetuies was weer eens “uitermate verstom” en het gesê: “Hy het alles goed gedoen. Hy laat selfs die dowes hoor en die stommes praat.”—Markus 7:33-37.

Verlamming: Terwyl Jesus in Kapernaum was, het mense ’n verlamde man wat op ’n bed lê, na hom toe gebring (Matteus 9:2). Verse 6 tot 8 beskryf wat gebeur het. “[Jesus] het . . . vir die verlamde gesê: ‘Staan op, tel jou bed op en gaan na jou huis toe.’ En hy het opgestaan en na sy huis gegaan. Toe die skare dit sien, het hulle vreesbevange geraak, en hulle het God verheerlik, wat sulke gesag aan mense gegee het.” Hierdie wonderwerk is ook in die teenwoordigheid van Jesus se dissipels sowel as sy vyande verrig. Let daarop dat eersgenoemdes, wat nie deur haat en vooroordeel verblind is nie, “God verheerlik” het oor wat hulle gesien het.

Siekte: “Daar het ook ’n melaatse na [Jesus] toe gekom wat selfs gekniel en hom gesoebat het en vir hom gesê het: ‘As u net wil, kan u my rein maak.’ En beweeg deur innige jammerte het hy sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: ‘Ek wil. Word gereinig.’ En onmiddellik het die melaatsheid van hom verdwyn” (Markus 1:40-42). Let op dat Jesus hierdie man nie teësinnig genees het nie, maar uit opregte medelye. Stel jou voor dat jy melaats is. Hoe sou jy voel as jy oombliklik en pynloos genees word van ’n gevreesde siekte wat jou liggaam al hoe meer misvorm het en jou ’n verstoteling uit die samelewing gemaak het? Jy kan ongetwyfeld verstaan waarom ’n ander melaatse wat wonderdadig genees is, “voor Jesus se voete op sy gesig geval en hom gedank” het.—Lukas 17:12-16.

Besering: Jesus se laaste wonderwerk voordat hy in hegtenis geneem en aan die paal gehang is, was ’n genesingsdaad. Die apostel Petrus het impulsief opgetree teen diegene wat op die punt was om Jesus weg te neem en het die swaard wat hy by hom gehad het, “getrek en die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap” (Johannes 18:3-5, 10). Die parallelle verslag in Lukas sê vir ons dat Jesus “die oor aangeraak en hom gesond gemaak” het (Lukas 22:50, 51). Hierdie mensliewende daad is weer eens verrig voor die oë van Jesus se vriende sowel as sy vyande—in hierdie geval dié wat hom gevange geneem het.

Ja, hoe noukeuriger ons Jesus se wonderwerke ondersoek, hoe duideliker sien ons die bewyse dat dit eg was (2 Timoteus 3:16). En soos vroeër gemeld is, behoort so ’n studie ons geloof te versterk in God se belofte om gehoorsame mense te genees. Die Bybel omskryf Christelike geloof as “die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Dit is duidelik dat God nie blinde liggelowigheid of wensdenkery voorstaan nie, maar vaste geloof wat op bewyse gegrond is (1 Johannes 4:1). Namate ons hierdie geloof aankweek, word ons geestelik sterker, gesonder en gelukkiger.—Matteus 5:3; Romeine 10:17.

Geestelike genesing moet eerste kom!

Baie mense wat fisies gesond is, is ongelukkig. Party probeer selfmoord pleeg omdat hulle geen hoop vir die toekoms het nie of omdat hulle voel dat hulle te veel probleme het. Hulle is in werklikheid geestelik gestremd—’n baie ernstiger toestand in God se oë as ’n liggaamsgebrek (Johannes 9:41). Daarenteen lei baie wat ’n liggaamsgebrek het, soos Christian en Junior wat in die vorige artikel genoem is, ’n gelukkige, sinvolle lewe. Waarom? Omdat hulle geestelik gesond is en versterk word deur ’n vaste hoop wat op die Bybel gegrond is.

Met verwysing na ons unieke behoefte as mense het Jesus gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4). Ja, in teenstelling met die diereskepping het mense meer as fisiese voedsel nodig. Aangesien ons na God se “beeld” geskep is, het ons geestelike voedsel nodig—kennis van God en hoe ons in sy voorneme inpas en sy wil kan doen (Genesis 1:27; Johannes 4:34). Kennis van God maak ons lewe sinvol en gee ons geestelike krag. Dit lê ook die grondslag vir ewige lewe op ’n paradysaarde. “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.

Dit is opmerkenswaardig dat Jesus se tydgenote hom nie as “Geneser” aangespreek het nie, maar as “Leermeester” (Lukas 3:12; 7:40). Waarom? Omdat Jesus mense geleer het van die blywende oplossing vir die mensdom se probleme—God se Koninkryk (Lukas 4:43; Johannes 6:26, 27). Hierdie hemelse regering in die hande van Jesus Christus sal oor die hele aarde heers en sal al die Bybelbeloftes oor die algehele en blywende herstel van regverdige mense en hulle aardse tuiste vervul (Openbaring 11:15). Daarom het Jesus, in sy modelgebed, die koms van die Koninkryk verbind met God se wil wat op die aarde sal geskied.—Matteus 6:10.

Talle gestremde persone se trane van droefheid het in vreugdetrane verander toe hulle van hierdie bemoedigende hoop geleer het (Lukas 6:21). God sal in werklikheid nie net aan siekte en liggaamsgebreke ’n einde maak nie; hy sal ook ontslae raak van die oorsaak van menselyding—sonde. Jesaja 33:24 en Matteus 9:2-7, wat vroeër aangehaal is, verbind siekte tereg met ons sondige toestand (Romeine 5:12). Wanneer sonde oorwin is, sal die mensdom dus eindelik “die glorieryke vryheid van die kinders van God” geniet, ’n vryheid wat volmaaktheid van verstand en liggaam insluit.—Romeine 8:21.

Mense wat redelik gesond is, kan maklik hulle situasie as vanselfsprekend aanvaar. Maar nie dié wat die trauma van liggaamsgebreke verduur nie. Hulle weet hoe kosbaar gesondheid en die lewe is en hoe skielik en onverwags dinge kan verander (Prediker 9:11). Daarom hoop ons dat dié van ons lesers wat gestremd is, sal let op God se wonderlike beloftes soos dit in die Bybel opgeteken is. Jesus het sy lewe afgelê om te verseker dat dit vervul sal word. Watter beter waarborg kan ons hê?—Matteus 8:16, 17; Johannes 3:16.

[Voetnoot]

a Sien die brosjure Gee God werklik vir ons om?, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, vir ’n breedvoerige bespreking oor waarom God lyding toelaat.