Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Liggaamsgebreke—’n Probleem sonder perke

Liggaamsgebreke—’n Probleem sonder perke

Liggaamsgebreke—’n Probleem sonder perke

CHRISTIAN, wat in ’n Afrikaland woon, is met geweld van sy huis af weggeneem deur soldate wat hom probeer dwing het om by die leër aan te sluit, maar hy het weens sy Bybelopgeleide gewete geweier om toe te gee. Die soldate het hom toe na ’n militêre kamp geneem waar hy vier dae lank geslaan en daarna deur een van hulle in die been geskiet is. Christian kon by ’n hospitaal kom, maar sy been moes onder die knie afgesit word. In ’n ander Afrikaland is selfs klein kindertjies se ledemate al deur gewapende rebelle afgesny. En van Kambodja tot in die Balkan, van Afganistan tot in Angola, vermink landmyne nog steeds jonk en oud sonder onderskeid.

Ongelukke en siektes, soos suikersiekte, eis ook hulle tol. Selfs gifstowwe in die omgewing kan tot gestremdheid lei. In aangrensende buurte in ’n Oos-Europese stad is etlike kinders byvoorbeeld sonder een van hulle onderarms gebore. Hulle het net ’n kort stompie onder die elmboog. Getuienis dui op genetiese skade wat deur chemiese besoedeling aangerig is. Tallose ander mense het nog al hulle ledemate, maar is nietemin gestremd weens verlamming of ’n ander kwaal. Liggaamsgebreke is inderdaad ’n probleem sonder perke.

Wat die oorsaak ook al mag wees, liggaamsgebreke kan verpletterend wees. Junior het op 20-jarige ouderdom sy linkeronderbeen verloor. Hy het later gesê: “Ek het baie emosionele probleme gehad. Ek het baie gehuil omdat ek nooit weer my been sal hê nie. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek was verward.” Maar mettertyd het Junior se gesindheid merkbaar verander. Hy het die Bybel begin studeer en dinge geleer wat hom nie net gehelp het om sy situasie te verwerk nie, maar hom ook ’n wonderlike hoop op ’n gelukkige toekoms hier op die aarde gegee het. Wil jy, as jy gestremd is, ook graag hierdie hoop hê?

Indien wel, moet jy asseblief die volgende artikel lees. Ons stel voor dat jy die teksverwysings in jou eie Bybel naslaan sodat jy self kan sien wat die Skepper in die toekoms gaan doen vir dié wat van sy voorneme leer en hulle lewe in ooreenstemming daarmee bring.