Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie sal die dag van Jehovah oorleef?

Wie sal die dag van Jehovah oorleef?

Wie sal die dag van Jehovah oorleef?

“Die dag kom wat soos die oond brand.”—MALEAGI 4:1.

1. Hoe beskryf Maleagi die einde van hierdie goddelose stelsel?

 DIE profeet Maleagi is deur God geïnspireer om profesieë op te teken van ontsagwekkende gebeure wat in die nabye toekoms sal plaasvind. Hierdie gebeure sal elke persoon op aarde raak. Maleagi 4:1 voorspel: “‘Kyk! die dag kom wat soos die oond brand, en al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedryf, sal soos stoppels word. En die dag wat kom, sal hulle beslis verslind’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.’” Hoe finaal sal die vernietiging van hierdie goddelose stelsel van dinge wees? Dit sal wees soos ’n boom waarvan die wortels vernietig is sodat dit nooit weer kan groei nie.

2. Hoe beskryf sekere tekste Jehovah se dag?

2 Jy vra dalk: ‘Watter “dag” voorspel die profeet Maleagi?’ Dit is dieselfde dag waarvan Jesaja 13:9 praat, wat sê: “Kyk! Die dag van Jehovah kom, wreed, met grimmigheid sowel as met brandende toorn, om die land ’n voorwerp van verbasing te maak en om die land se sondaars daaruit te verdelg.” Sefanja 1:15 gee hierdie beskrywing: “Dié dag is ’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en van angs, ’n dag van storms en van verwoesting, ’n dag van duisternis en van somberheid, ’n dag van wolke en van dik donkerheid.”

“Die groot verdrukking”

3. Wat is “die dag van Jehovah”?

3 In die grotere vervulling van Maleagi se profesie is “die dag van Jehovah” ’n tydperk wat deur “groot verdrukking” gekenmerk word. Jesus het voorspel: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Dink aan die benoudheid wat die wêreld reeds ondervind het, veral sedert 1914 (Matteus 24:7-12). Die Tweede Wêreldoorlog alleen het meer as 50 miljoen lewens geëis! En tog sal rampspoedige gebeure tydens “die groot verdrukking” sulke moeilikhede in die skadu stel. Daardie gebeurtenis, wat dieselfde is as die dag van Jehovah, eindig met Armageddon en bring die laaste dae van hierdie goddelose stelsel tot ’n einde.—2 Timoteus 3:1-5, 13; Openbaring 7:14; 16:14, 16.

4. Wat sal alreeds plaasgevind het wanneer die dag van Jehovah tot ’n einde kom?

4 Teen die einde van daardie dag van Jehovah sal Satan se wêreld en die aanhangers daarvan vernietig wees. Heel eerste sal alle valse godsdiens uit die weg geruim word. Dan sal Jehovah se oordeel voltrek word aan Satan se ekonomiese en politieke stelsels (Openbaring 17:12-14; 19:17, 18). Esegiël voorspel: “Hulle silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal iets afskuweliks word. Nie hulle silwer of hulle goud sal hulle kan verlos in die dag van Jehovah se grimmigheid nie” (Esegiël 7:19). Aangaande daardie dag sê Sefanja 1:14: “Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en kom baie vinnig nader.” Met die oog op wat die Bybel oor Jehovah se dag sê, behoort ons vasbeslote te wees om in ooreenstemming met God se regverdige vereistes te lewe.

5. Wat ondervind diegene wat Jehovah se naam vrees?

5 Ná die profesie oor wat die dag van Jehovah vir Satan se wêreld sal beteken, haal Maleagi 4:2 Jehovah soos volg aan: “Vir julle wat my naam vrees, sal die son van regverdigheid beslis skyn, met genesing in sy vleuels; en julle sal uitgaan en die grond soos vetgemaakte kalwers omwoel.” “Die son van regverdigheid” is Jesus Christus. Hy is die geestelike “lig van die wêreld” (Johannes 8:12). Jesus skyn met genesing, eerstens geestelike genesing, wat ons vandag al ondervind, en dan algehele fisiese genesing in die nuwe wêreld. Soos Jehovah sê, sal dié wat genees is, ‘uitgaan en die grond omwoel soos vetgemaakte kalwers’ wat opgewonde en verheug is om vrygelaat te word.

6. Watter oorwinningsfees sal Jehovah se knegte vier?

6 Wat van mense wat Jehovah se vereistes ignoreer? Maleagi 4:3 sê: “‘Julle [God se knegte] sal beslis die goddeloses vertrap, want hulle sal soos poeier onder julle voetsole word op die dag waarop ek optree’, het Jehovah van die leërs gesê.” Mense wat God aanbid, sal geen aandeel aan die vernietiging van Satan se wêreld hê nie. Hulle sal eerder in figuurlike sin “die goddeloses vertrap” deur aan die oorwinningsfees deel te neem wat op die dag van Jehovah sal volg. ’n Groot viering is gehou ná die vernietiging van Farao se leërs in die Rooi See (Eksodus 15:1-21). Die wegruiming van Satan en sy wêreld tydens die groot verdrukking sal eweneens deur ’n oorwinningsfees gevolg word. Getroue oorlewendes van Jehovah se dag sal uitroep: “Laat ons bly wees en ons verbly in die redding deur hom” (Jesaja 25:9). Watter blydskap sal tog heers wanneer Jehovah se soewereiniteit geregverdig en die aarde gereinig is sodat dit ’n vreedsame woonplek kan wees!

Die Christendom tree net soos Israel op

7, 8. Beskryf die geestelike toestand van Israel in Maleagi se tyd.

7 Diegene wat in ’n begunstigde posisie voor Jehovah kom, is die mense wat hom dien, in teenstelling met dié wat dit nie doen nie. Dit was dieselfde toe Maleagi sy boek geskryf het. In 537 v.G.J. is ’n oorblyfsel van Israel herstel ná 70 jaar van gevangenskap in Babilon. Maar tydens die volgende eeu het die herstelde nasie afvallig en goddeloos begin word. Die meeste onder die volk het Jehovah se naam oneer aangedoen; sy regverdige wette verontagsaam; sy tempel verontreinig deur blinde, kreupel en siek diere as offerandes te bring; en van die vrouens van hulle jeug geskei.

8 Gevolglik het Jehovah vir hulle gesê: “Ek sal nader kom na julle toe vir die oordeel, en ek sal ’n haastige getuie word teen die towenaars en teen die egbrekers en teen dié wat vals sweer en teen dié wat bedrieglik handel met die loon van ’n loonarbeider, met die weduwee en met die vaderlose seun, en dié wat die inwonende vreemdeling wegwys, terwyl hulle my nie gevrees het nie, . . . want ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:5, 6). Jehovah het nietemin ’n uitnodiging gerig aan almal wat hulle van hulle slegte weë wou afkeer: “Keer terug tot my, en ek sal tot julle terugkeer.”—Maleagi 3:7.

9. Hoe het Maleagi se profesieë ’n vroeë vervulling gehad?

9 Daardie woorde het ook ’n vervulling in die eerste eeu G.J. gehad. ’n Joodse oorblyfsel het Jehovah gedien en deel geword van ’n nuwe “nasie” van geesgesalfde Christene, wat later nie-Jode ingesluit het. Maar die oorgrote meerderheid van natuurlike Israel het Jesus verwerp. Jesus het derhalwe vir daardie nasie Israel gesê: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matteus 23:38; 1 Korintiërs 16:22). In 70 G.J., soos in Maleagi 4:1 voorspel is, het ’n “dag . . . wat soos die oond brand” oor vleeslike Israel gekom. Jerusalem en sy tempel is vernietig, en meer as ’n miljoen mense het na bewering gesterf weens hongersnood, magstryde en aanvalle deur die Romeinse leërs. Maar diegene wat Jehovah gedien het, het aan daardie verdrukking ontkom.—Markus 13:14-20.

10. In watter opsig tree die mense oor die algemeen asook die geestelikes net soos eerste-eeuse Israel op?

10 Die mensdom, en veral die Christendom, tree net soos die eerste-eeuse nasie Israel op. Die leiers en die mense oor die algemeen in die Christendom verkies hulle eie godsdiensoortuigings bo die waarhede van God wat Jesus mense geleer het. Die geestelikes is veral skuldig. Hulle weier om Jehovah se naam te gebruik en verwyder dit selfs uit hulle Bybelvertalings. Hulle doen Jehovah oneer aan deur onskriftuurlike leerstellings, soos die heidense leerstelling oor ewige foltering in ’n helse vuur, die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en evolusie. Sodoende beroof hulle Jehovah van die lof wat hy verdien, soos die priesters in Maleagi se dag gedoen het.

11. Hoe toon die wêreld se godsdienste wie hulle werklik dien?

11 In 1914, toe die laaste dae begin het, het hierdie wêreld se godsdienste, onder leiding van diegene wat beweer dat hulle Christene is, getoon wie hulle werklik dien. Gedurende albei wêreldoorloë het hulle hulle lidmate aangespoor om in oorloë oor nasionale verskille te veg, al het dit ook beteken dat hulle mense van hulle eie godsdiens doodmaak. God se Woord identifiseer duidelik dié wat Jehovah gehoorsaam en dié wat dit nie doen nie: “Die kinders van God en die kinders van die Duiwel word aan hierdie feit geken: elkeen wat nie regverdigheid beoefen nie, het nie sy oorsprong by God nie, ook nie hy wat sy broer nie liefhet nie. Want dít is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons liefde vir mekaar moet hê; nie soos Kain, wat sy oorsprong by die bose gehad het en sy broer doodgemaak het nie.”—1 Johannes 3:10-12.

Profesieë word vervul

12, 13. Watter profesieë het God se knegte in ons tyd vervul?

12 Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 kon Jehovah se knegte sien dat God die Christendom en die res van valse godsdiens veroordeel het. Van toe af is die beroep op regskapenes gedoen: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie. Want haar sondes het tot aan die hemel opgehoop en God het haar ongeregtighede onthou” (Openbaring 18:4, 5). Diegene wat Jehovah graag wou dien, is geleidelik van alle spore van valse godsdiens gereinig en het die goeie nuus van die opgerigte Koninkryk wêreldwyd begin verkondig, ’n werk wat voor die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge voltooi moet word.—Matteus 24:14.

13 Dit was sodat die profesie in Maleagi 4:5 vervul kon word, waar Jehovah gesê het: “Kyk! Ek stuur vir julle die profeet Elia voordat die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah kom.” Hierdie profesie is eerstens vervul in die werk van Johannes die Doper, wat deur Elia voorafgeskadu is. Johannes het ’n werk soos dié van Elia gedoen toe hy Jode gedoop het wat hulle van hulle sondes teen die Wetsverbond bekeer het. Nog belangriker, Johannes was die Messias se voorloper. Maar Johannes se werk was slegs ’n kleinskaalse vervulling van Maleagi se profesie. Terwyl Jesus Johannes as ’n tweede Elia geïdentifiseer het, het hy getoon dat daar in die toekoms ’n werk soos dié van Elia gedoen sou word.—Matteus 17:11, 12.

14. Watter belangrike werk moet gedoen word voordat hierdie stelsel eindig?

14 Maleagi se profesie het getoon dat hierdie groot werk, soos dié van Elia, voor “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” gedoen sou word. Dié dag eindig met die vinnig naderende oorlog van die groot dag van God die Almagtige, by Armageddon. Dit beteken dat die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge en die begin van die Duisendjarige Heerskappy van God se hemelse Koninkryk onder die gekroonde koning Jesus Christus voorafgegaan sou word deur ’n werk wat ooreenstem met die werk van Elia. Net soos hierdie profesie voorspel het, voor Jehovah hierdie goddelose stelsel vernietig, verrig die hedendaagse Elia-klas, met die ondersteuning van miljoene mede-Christene met ’n aardse hoop, ywerig die werk om rein aanbidding te herstel, die naam van Jehovah te verheerlik en Bybelwaarhede aan skaapgeaardes te leer.

Jehovah seën sy knegte

15. Hoe dink Jehovah aan sy knegte?

15 Jehovah seën diegene wat hom dien. Maleagi 3:16 sê: “Toe het dié wat Jehovah vrees, met mekaar gepraat, elkeen met sy metgesel, en Jehovah het aandag bly skenk en geluister. En ’n gedenkboek is voor hom geskryf vir dié wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink.” Van Abel se tyd af het God as ’t ware in ’n boek die name neergeskryf van dié aan wie hy sal dink om aan hulle die ewige lewe te gee. Vir hulle sê Jehovah: “Bring al die tiendes in die voorraadkamer, sodat daar voedsel in my huis kan wees; en stel my asseblief hierin op die proef . . . of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie.”—Maleagi 3:10.

16, 17. Hoe het Jehovah sy knegte asook hulle werk geseën?

16 Jehovah het inderdaad diegene geseën wat hom dien. Hoe? Een manier is met ’n beter begrip van sy voornemens (Spreuke 4:18; Daniël 12:10). Nog een is deur aan hulle verbasende vrugte in hulle predikingswerk te gee. Talle opregtes van hart het by hulle aangesluit in ware aanbidding, en hulle almal maak deel uit van “’n groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale, . . . en hulle hou aan om met ’n harde stem te roep en te sê: ‘Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam’” (Openbaring 7:9, 10). Hierdie groot menigte het op ’n wonderlike wyse na vore gekom, en dié wat Jehovah ywerig dien, tel nou oor die sesmiljoen in meer as 93- 000 gemeentes wêreldwyd!

17 Jehovah se seën word ook gesien in die feit dat Jehovah se Getuies die Bybelpublikasies uitgee wat die grootste verspreiding in die hele geskiedenis het. Elke maand word daar nou 90 miljoen eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! gedruk, Die Wagtoring in 144 tale en die Ontwaak! in 87. Die Bybelstudieboek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, wat in 1968 uitgegee is, het ’n verspreidingsyfer van meer as 107 miljoen in 117 tale bereik. Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat in 1982 vrygestel is, het oor die 81 miljoen in 131 tale bereik. Van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, wat in 1995 vrygestel is, is daar tot dusver meer as 85 miljoen in 154 tale gedruk. Die brosjure Wat vereis God van ons?, wat in 1996 uitgegee is, het ’n verspreidingsyfer van 150 miljoen eksemplare in 244 tale.

18. Waarom ondervind ons geestelike voorspoed ondanks teenstand?

18 Hierdie geestelike voorspoed is ondervind ondanks hewige en langdurige teenstand van Satan se wêreld. Dit bevestig die waarheid van Jesaja 54:17: “‘Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie, en elke tong wat in die gereg teen jou sal opstaan, sal jy veroordeel. Dit is die erfbesitting van die knegte van Jehovah, en hulle regverdigheid is uit my’, is die woord van Jehovah.” Hoe bemoedigend is dit tog vir Jehovah se knegte om te weet dat Maleagi 3:17 sy grotere vervulling op hulle het: “‘Hulle sal beslis myne word’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘op die dag dat ek ’n spesiale eiendom voortbring.’”

Vreugdevolle diens aan Jehovah

19. Wat is die onderskeid tussen dié wat Jehovah dien en dié wat dit nie doen nie?

19 Die verskil tussen getroue knegte van Jehovah en die mense in Satan se wêreld word met verloop van tyd al hoe duideliker. Maleagi 3:18 het voorspel: “Julle sal beslis weer die onderskeid sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie.” Een van die talle onderskeide is dat diegene wat Jehovah dien, dit met groot vreugde doen. Een van die redes hiervoor is die wonderlike hoop wat hulle koester. Hulle vertrou volkome op Jehovah wanneer hy sê: “Kyk, ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde; en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie. Maar verheug julle en wees vir ewig bly oor wat ek skep.”—Jesaja 65:17, 18; Psalm 37:10, 11, 29; Openbaring 21:4, 5.

20. Waarom is ons ’n gelukkige volk?

20 Ons stel geloof in Jehovah se belofte dat sy lojale knegte sy groot dag sal oorleef en in die nuwe wêreld ingebring sal word (Sefanja 2:3; Openbaring 7:13, 14). En hoewel party dalk weens ouderdom, siekte of ’n ongeluk sal sterf voordat die nuwe wêreld kom, gee Jehovah sy woord dat hy hulle sal opwek met die ewige lewe in die vooruitsig (Johannes 5:28, 29; Titus 1:2). Ons het dus alle rede om die gelukkigste mense op aarde te wees terwyl ons hierdie dag van Jehovah nader, al het ons almal ons probleme en uitdagings.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat is “die dag van Jehovah”?

• Hoe tree die wêreld se godsdienste soos eertydse Israel op?

• Watter profesieë word deur Jehovah se knegte vervul?

• Hoe het Jehovah sy knegte geseën?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Eerste-eeuse Jerusalem het ‘soos die oond gebrand’

[Prente op bladsy 23]

Jehovah sorg vir dié wat hom dien

[Prente op bladsy 24]

Danksy hulle wonderlike hoop is Jehovah se knegte waarlik vreugdevol