Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bewys liefderyke goedhartigheid aan dié wat dit nodig het

Bewys liefderyke goedhartigheid aan dié wat dit nodig het

Bewys liefderyke goedhartigheid aan dié wat dit nodig het

“Bewys liefderyke goedhartigheid . . . aan mekaar.”—SAGARIA 7:9.

1, 2. (a) Waarom moet ons liefderyke goedhartigheid aan die dag lê? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

 JEHOVAH GOD se Woord spoor ons aan om “liefderyke goedhartigheid” lief te hê (Miga 6:8, voetnoot in NW). Dit gee ons ook redes waarom ons dit moet doen. Om maar een te noem, “’n man van liefderyke goedhartigheid doen goed aan sy eie siel” (Spreuke 11:17). Hoe waar is dit tog! As ’n mens liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, aan ander bewys, lei dit tot hegte en blywende verhoudings. Die gevolg is dat ons lojale vriende sal hê—inderdaad ’n kosbare beloning!—Spreuke 18:24.

2 Verder sê die Skrif vir ons: “Hy wat regverdigheid en liefderyke goedhartigheid nastreef, sal die lewe . . . vind” (Spreuke 21:21). Ja, as ons liefderyke goedhartigheid nastreef, sal dit ons geliefd maak by God en ons in aanmerking laat kom vir toekomstige seëninge, wat die ewige lewe insluit. Maar hoe kan ons liefderyke goedhartigheid bewys? Aan wie moet ons dit bewys? En verskil liefderyke goedhartigheid van gewone mensliewendheid of van goedhartigheid oor die algemeen?

Mensliewendheid en liefderyke goedhartigheid

3. Hoe verskil liefderyke goedhartigheid van mensliewendheid?

3 Gewone mensliewendheid en liefderyke goedhartigheid verskil in etlike opsigte. Byvoorbeeld, diegene wat mensliewendheid aan die dag lê, doen dit dikwels sonder ’n innige en persoonlike betrokkenheid by, of verhouding met, die mense wat hulle goedhartig behandel. As ons egter liefderyke goedhartigheid aan iemand bewys, verbind ons ons liefdevol tot daardie persoon. In die Bybel kan blyke van liefderyke goedhartigheid tussen mense gegrond wees op verhoudings wat reeds bestaan het (Genesis 20:13; 2 Samuel 3:8; 16:17). Of dit kan gegrond wees op verhoudings wat deur vorige dade van goedhartigheid opgebou is (Josua 2:1, 12-14; 1 Samuel 15:6; 2 Samuel 10:1, 2). Om hierdie verskil toe te lig, kan ons twee Bybelvoorbeelde vergelyk, een waar mensliewendheid en een waar liefderyke goedhartigheid aan mense bewys is.

4, 5. Hoe word die verskil tussen mensliewendheid en liefderyke goedhartigheid toegelig deur twee Bybelvoorbeelde wat hier gemeld word?

4 Een voorbeeld van mensliewendheid hou verband met ’n groep skipbreukelinge, waaronder die apostel Paulus. Hulle het op die eiland Malta uitgespoel (Handelinge 27:37–28:1). Hoewel die Maltese geen vorige verbintenis of ’n bestaande verhouding met die gestrande mense gehad het nie, het die eilandbewoners die vreemdelinge gasvry ontvang en “buitengewone mensliewendheid” aan hulle betoon (Handelinge 28:2, 7). Hulle gasvryheid was ’n goedhartige daad, maar dit is toevallig en aan vreemdelinge betoon. Daarom was dit mensliewendheid.

5 Vergelyk dit met die gasvryheid wat koning Dawid aan Mefiboset, die seun van sy vriend Jonatan, betoon het. Dawid het vir Mefiboset gesê: “Jy sal voortdurend aan my tafel brood eet.” Dawid het verduidelik waarom hy hierdie voorsiening gemaak het deur te sê: “Ek sal vir seker liefderyke goedhartigheid teenoor jou bewys ter wille van jou vader Jonatan” (2 Samuel 9:6, 7, 13). Daar word tereg na Dawid se volgehoue gasvryheid verwys as ’n daad van liefderyke goedhartigheid, en nie bloot as goedhartigheid nie, want dit was ’n bewys van sy lojaliteit teenoor ’n gevestigde verhouding (1 Samuel 18:3; 20:15, 42). Net so ook betoon God se knegte vandag mensliewendheid aan mense oor die algemeen. Maar hulle bewys volgehoue liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, teenoor diegene met wie hulle ’n verhouding het wat deur God goedgekeur word.—Matteus 5:45; Galasiërs 6:10.

6. Watter kenmerke van liefderyke goedhartigheid wat tussen mense betoon word, kom duidelik na vore in God se Woord?

6 Om ’n paar ander kenmerke van liefderyke goedhartigheid te identifiseer, sal ons kortliks kyk na drie Bybelverslae waarin hierdie eienskap na vore kom. Hieruit sal ons sien dat liefderyke goedhartigheid wat deur mense bewys word, (1) gekenmerk word deur spesifieke dade, (2) uit vrye wil betoon word en (3) veral aan diegene bewys word wat dit nodig het. Verder toon hierdie verslae hoe ons vandag liefderyke goedhartigheid aan die dag kan lê.

’n Vader bewys liefderyke goedhartigheid

7. Wat het Abraham se kneg vir Betuel en Laban vertel, en watter vraag het die kneg geopper?

7 Genesis 24:28-67 vertel die res van die verhaal van Abraham se kneg, wat in die vorige artikel gemeld is. Nadat hy Rebekka ontmoet het, is hy na die huis van haar vader, Betuel, genooi (Verse 28-32). Daar het die kneg breedvoerig vertel van sy soektog na ’n vrou vir Abraham se seun (Verse 33-47). Hy het beklemtoon dat hy die sukses wat hy tot dusver gehad het, beskou as ’n teken van Jehovah, “wat my op die ware weg gelei het om die dogter van die broer van my heer vir sy seun te neem” (Vers 48). Die kneg het ongetwyfeld gehoop dat hierdie aangrypende vertelling van die voorval Betuel en sy seun Laban daarvan sou oortuig dat Jehovah hierdie sending gesteun het. Uiteindelik het die kneg gesê: “As julle dan nou liefderyke goedhartigheid en trou teenoor my heer bewys, sê vir my; maar so nie, sê vir my, sodat ek na die regter- of na die linkerkant kan draai.”—Vers 49.

8. Hoe het Betuel gereageer op die saak in verband met Rebekka?

8 Jehovah het reeds liefderyke goedhartigheid aan Abraham bewys (Genesis 24:12, 14, 27). Sou Betuel bereid wees om dit ook te doen deur toe te laat dat Rebekka saam met Abraham se kneg gaan? Sou God se liefderyke goedhartigheid aangevul word deur die liefderyke goedhartigheid van mense? Of sou die kneg se lang reis tevergeefs gewees het? Dit moes baie bemoedigend vir Abraham se kneg gewees het om Laban en Betuel te hoor sê: “Van Jehovah het hierdie saak uitgegaan” (Vers 50). Hulle het Jehovah se hand in sake gesien en sonder aarseling sy besluit aanvaar. Hierna het Betuel sy liefderyke goedhartigheid bewys deur by te voeg: “Hier is Rebekka voor jou. Neem haar en gaan, en laat haar ’n vrou word vir die seun van jou heer, net soos Jehovah gesê het” (Vers 51). Rebekka het gewillig saam met Abraham se kneg gegaan, en sy het kort daarna Isak se geliefde vrou geword.—Verse 49, 52-58, 67.

Liefderyke goedhartigheid word deur ’n seun bewys

9, 10. (a) Wat het Jakob sy seun Josef gevra om vir hom te doen? (b) Hoe het Josef liefderyke goedhartigheid teenoor sy vader bewys?

9 Abraham se kleinseun Jakob het ook liefderyke goedhartigheid ontvang. Soos Genesis hoofstuk 47 vertel, het Jakob destyds in Egipte gewoon, en ‘die dae het nader gekom vir hom om te sterf’ (Verse 27-29). Hy was bekommerd omdat hy buite die land sou sterf wat God aan Abraham beloof het (Genesis 15:18; 35:10, 12; 49:29-32). Jakob wou egter nie in Egipte begrawe word nie, en daarom het hy gereël dat sy liggaam na die land Kanaän geneem word. Wie sou in ’n beter posisie wees om te verseker dat sy wens vervul word as sy invloedryke seun, Josef?

10 Die verslag sê: “Daarom het [Jakob] sy seun Josef geroep en vir hom gesê: ‘As ek nou guns in jou oë gevind het, . . . moet [jy] liefderyke goedhartigheid en trou teenoor my bewys. (Moet my asseblief nie in Egipte begrawe nie.) En ek sal met my vaders ontslaap, en jy moet my uit Egipte neem en my in hulle graf begrawe’” (Genesis 47:29, 30). Josef het beloof om aan hierdie versoek te voldoen, en kort daarna het Jakob gesterf. Josef en Jakob se ander seuns het sy liggaam ‘na die land Kanaän geneem en hom begrawe in die grot van die veld van Magpela, die veld wat Abraham gekoop het’ (Genesis 50:5-8, 12-14). Sodoende het Josef liefderyke goedhartigheid teenoor sy vader bewys.

Liefderyke goedhartigheid word deur ’n skoondogter bewys

11, 12. (a) Hoe het Rut liefderyke goedhartigheid aan Naomi bewys? (b) In watter opsig was “die laaste geval” van Rut se liefderyke goedhartigheid beter as “die eerste”?

11 Die boek Rut vertel hoe die weduwee Naomi liefderyke goedhartigheid ontvang het van haar Moabitiese skoondogter Rut, wat ook ’n weduwee was. Toe Naomi besluit het om terug te gaan na Betlehem in Juda, het Rut liefderyke goedhartigheid en vasbeslotenheid geopenbaar en gesê: “Waar u gaan, sal ek gaan, en waar u oornag, sal ek oornag. U volk sal my volk wees, en u God my God” (Rut 1:16). Rut het later liefderyke goedhartigheid bewys toe sy getoon het dat sy gewillig is om met Naomi se bejaarde familielid Boas te trou (Deuteronomium 25:5, 6; Rut 3:6-9). a Hy het vir Rut gesê: “Jy het jou liefderyke goedhartigheid in die laaste geval nog beter getoon as in die eerste geval, deur nie agter die jong manne, hetsy arm of ryk, aan te loop nie.”—Rut 3:10.

12 “Die eerste geval” van Rut se liefderyke goedhartigheid het verwys na die tyd toe sy haar volk verlaat en by Naomi gebly het (Rut 1:14; 2:11). Selfs daardie daad is oortref deur “die laaste geval” van liefderyke goedhartigheid—Rut se gewilligheid om met Boas te trou. Rut sou nou ’n erfgenaam kon voorsien vir Naomi, wat te oud was om kinders voort te bring. Die huwelik het plaasgevind, en toe Rut later geboorte gegee het, het die vroue van Betlehem uitgeroep: “’n Seun is vir Naomi gebore” (Rut 4:14, 17). Rut was waarlik “’n voortreflike vrou”, wat gevolglik deur Jehovah beloon is met die wonderlike voorreg om ’n voorouer van Jesus Christus te word.—Rut 2:12; 3:11; 4:18-22; Matteus 1:1, 5, 6.

Deur dade bewys

13. Hoe het Betuel, Josef en Rut hulle liefderyke goedhartigheid bewys?

13 Het jy opgemerk hoe Betuel, Josef en Rut hulle liefderyke goedhartigheid bewys het? Hulle het dit nie net deur vriendelike woorde gedoen nie, maar deur spesifieke dade. Betuel het nie net gesê: “Hier is Rebekka” nie, maar hy het Rebekka selfs “weggestuur” (Genesis 24:51, 59). Josef het nie net gesê: “Ek sal doen ooreenkomstig u woord” nie, maar hy en sy broers het vir Jakob “gedoen presies soos hy hulle beveel het” (Genesis 47:30; 50:12, 13). Rut het nie net gesê: “Waar u gaan, sal ek gaan” nie, maar sy het haar volk verlaat en Naomi vergesel, en saam het “hulle twee . . . verder gegaan totdat hulle in Betlehem gekom het” (Rut 1:16, 19). In Juda het Rut weer eens gedoen “net soos haar skoonmoeder haar beveel het” (Rut 3:6). Ja, Rut se liefderyke goedhartigheid, soos dié van ander, is deur dade bewys.

14. (a) Hoe bewys God se hedendaagse knegte liefderyke goedhartigheid deur dade? (b) Van watter dade van liefderyke goedhartigheid onder Christene in julle gebied is jy bewus?

14 Dit is hartverblydend om te sien hoe God se knegte vandag aanhou om liefderyke goedhartigheid deur dade te bewys. Dink byvoorbeeld aan diegene wat volgehoue emosionele ondersteuning gee aan siek, terneergedrukte of bedroefde medegelowiges (Spreuke 12:25). Of dink aan die talle Getuies van Jehovah wat getrou die bejaardes na die Koninkryksaal vervoer sodat hulle die weeklikse gemeentelike vergaderinge kan bywoon. Anna, wat 82 jaar oud is en gewrigsontsteking het, praat namens baie ander wanneer sy sê: “Om na al die vergaderinge geneem te word, is ’n seën van Jehovah. Ek dank hom uit die diepte van my hart dat hy my sulke liefdevolle broers en susters gegee het.” Verleen jy sulke hulp in julle gemeente? (1 Johannes 3:17, 18). Indien wel, kan jy seker wees dat jou liefderyke goedhartigheid opreg waardeer word.

Uit vrye wil bewys

15. Watter kenmerk van liefderyke goedhartigheid kom ook na vore in die drie Bybelverslae waarna ons gekyk het?

15 Die Bybelverhale waarna ons gekyk het, toon ook dat liefderyke goedhartigheid geredelik en uit vrye wil bewys word, nie onder dwang nie. Betuel het uit vrye wil met Abraham se kneg saamgewerk, en so ook Rebekka (Genesis 24:51, 58). Josef het sy liefderyke goedhartigheid bewys sonder dat iemand anders hom moes aanspoor om dit te doen (Genesis 50:4, 5). Rut was ‘vasbeslote om saam met Naomi te gaan’ (Rut 1:18). Toe Naomi voorgestel het dat Rut Boas nader, het liefderyke goedhartigheid die Moabitiese vrou beweeg om te sê: “Alles wat u vir my sê, sal ek doen.”—Rut 3:1-5.

16, 17. Wat maak die liefderyke goedhartigheid van Betuel, Josef en Rut veral betekenisvol, en wat het hulle beweeg om hierdie eienskap aan die dag te lê?

16 Die liefderyke goedhartigheid wat deur Betuel, Josef en Rut bewys is, is veral betekenisvol omdat Abraham, Jakob en Naomi in geen posisie was om druk op hulle uit te oefen nie. Betuel het immers onder geen wetlike verpligting gestaan om sy dogter weg te stuur nie. Hy kon maklik vir Abraham se kneg gesê het: ‘Nee, ek wil eerder my hardwerkende dogter naby my hou’ (Genesis 24:18-20). Ook het dit Josef vrygestaan om te besluit of hy aan sy vader se versoek gaan voldoen of nie, want Jakob sou dood wees en sou hom nie kon dwing om sy woord te hou nie. Naomi self het gesê dat Rut in Moab kon bly (Rut 1:8). En dit het Rut vrygestaan om eerder met een van “die jong manne” te trou in plaas van met die bejaarde Boas.

17 Betuel, Josef en Rut het uit vrye wil liefderyke goedhartigheid aan die dag gelê; hulle is uit hulle hart beweeg om dit te doen. Hulle het sedelik verplig gevoel om hierdie eienskap te openbaar teenoor diegene met wie hulle ’n verhouding gehad het, net soos koning Dawid verplig gevoel het om dit teenoor Mefiboset te bewys.

18. (a) Met watter gesindheid hou Christen- ouer manne “as herders toesig oor die kudde”? (b) Hoe voel een ouer man daaroor om medegelowiges te help?

18 Liefderyke goedhartigheid is nog steeds ’n kenmerk van God se knegte, insluitende die manne wat as herders toesig hou oor God se kudde (Psalm 110:3; 1 Tessalonisense 5:12). Hierdie ouer manne, of opsieners, voel dat hulle daarvoor verantwoordelik is om goed om te sien na die pand wat met hulle aanstelling aan hulle toevertrou is (Handelinge 20:28). Tog word hulle herderswerk en ander dade van liefderyke goedhartigheid ten behoewe van die gemeente “nie onder dwang nie, maar gewillig” verrig (1 Petrus 5:2). Die ouer manne hou toesig oor die kudde omdat dit hulle verantwoordelikheid sowel as hulle begeerte is om dit te doen. Hulle bewys liefderyke goedhartigheid teenoor Christus se skape omdat hulle dit moet doen en wil doen (Johannes 21:15-17). “Ek geniet dit om die broers by hulle huise te besoek of om hulle te bel bloot om te wys dat ek aan hulle dink”, sê een Christen- ouer man. “Dit verskaf my groot vreugde en tevredenheid om die broers te help!” Liefdevolle ouer manne in alle wêrelddele stem heelhartig hiermee saam.

Bewys liefderyke goedhartigheid aan dié wat dit nodig het

19. Watter feit omtrent liefderyke goedhartigheid word beklemtoon deur die Bybelverslae wat in hierdie artikel bespreek word?

19 Die Bybelverslae wat ons bespreek het, beklemtoon ook die feit dat liefderyke goedhartigheid bewys moet word aan diegene wat ’n behoefte het waarin hulle nie self kan voorsien nie. Ten einde sy geslagslyn te laat voortduur, het Abraham Betuel se samewerking nodig gehad. Om sy liggaam na Kanaän te laat neem, het Jakob Josef se hulp nodig gehad. En om ’n erfgenaam voort te bring, het Naomi Rut se hulp nodig gehad. Nie Abraham, Jakob of Naomi kon sonder hulp in daardie behoeftes voorsien nie. Net so moet liefderyke goedhartigheid ook vandag veral bewys word aan dié wat dit nodig het (Spreuke 19:17). Ons moet die aartsvader Job se voorbeeld navolg, wat ag gegee het op “die geteisterde . . . wat om hulp geroep het, en die vaderlose seun en enigiemand wat geen helper gehad het nie”, sowel as op “die een wat op die punt gestaan het om te sterf”. Job het ook ‘die hart van die weduwee bly gemaak’ en ‘oë vir die blinde en voete vir die kreupele geword’.—Job 29:12-15.

20, 21. Wie het ons dade van liefderyke goedhartigheid nodig, en wat moet elkeen van ons vasbeslote wees om te doen?

20 Daar is in werklikheid in elke Christengemeente ‘geteisterdes wat om hulp roep’. Dit kan die gevolg wees van faktore soos eensaamheid, ontmoediging, gevoelens van onwaardigheid, teleurstelling in ander, ernstige siekte of die dood van ’n geliefde. Ongeag wat die oorsaak is, al hierdie dierbares het behoeftes waarin ons kan en moet voorsien deur gewillige en volgehoue dade van liefderyke goedhartigheid.—1 Tessalonisense 5:14.

21 Laat ons dus aanhou om Jehovah God na te volg, wat “oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid” (Eksodus 34:6; Efesiërs 5:1). Ons kan dit doen deur uit vrye wil spesifieke dinge te doen, veral ten behoewe van diegene wat dit nodig het. En ons sal sekerlik Jehovah daardeur vereer en groot vreugde smaak terwyl ons ‘liefderyke goedhartigheid aan mekaar bewys’.—Sagaria 7:9.

[Voetnoot]

a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 370, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir besonderhede oor die soort huwelik wat hier ter sprake was.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe verskil liefderyke goedhartigheid van mensliewendheid?

• Op watter maniere is liefderyke goedhartigheid deur Betuel, Josef en Rut aan die dag gelê?

• Met watter gesindheid moet ons liefderyke goedhartigheid bewys?

• Wie het ons dade van liefderyke goedhartigheid nodig?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Hoe het Betuel liefderyke goedhartigheid aan die dag gelê?

[Prent op bladsy 21]

Rut se lojale liefde was ’n seën vir Naomi

[Prente op bladsy 23]

Liefderyke goedhartigheid word uit vrye wil betoon, deur spesifieke dade getoon en aan diegene bewys wat dit nodig het