Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die paradoks van Tertullianus

Die paradoks van Tertullianus

Die paradoks van Tertullianus

‘IS DAAR enige ooreenkoms tussen die Christen en die filosoof? tussen een wat die waarheid verdraai en een wat dit regstel en leer? Watter eenstemmigheid is daar tussen die Akademie en die Kerk?’ Sulke uitdagende vrae is deur Tertullianus, ’n skrywer uit die tweede en derde eeu G.J., geopper. Hy het bekend geword as “een van die grootste bronne van die geskiedenis van die Kerk en van die leerstellings wat in sy tyd geleer is”. Feitlik geen aspek van die godsdienslewe het ongemerk by hom verbygegaan nie.

Tertullianus was waarskynlik veral bekend vir sy paradoksale, of skynbaar teenstrydige, stellings, soos: “God is dan veral groot, wanneer Hy klein is.” “[Die dood van God se Seun] moet juis geglo word, omdat dit absurd is.” “[Jesus] is begrawe en het weer opgestaan; die feit is seker, want dit is onmoontlik.”

Die paradoks van Tertullianus strek verder as sy stellings. Hoewel hy wou hê dat sy geskrifte die waarheid moes verdedig en die integriteit van die kerk en die leerstellings daarvan moes ondersteun, het hy in werklikheid ware leringe verderf. Sy vernaamste bydrae tot die Christendom was ’n teorie waarop latere skrywers die Drie-eenheidsleer gegrond het. Om te verstaan hoe dit gebeur het, kan ons eers kortliks na Tertullianus self kyk.

“Onmoontlik vir hom om vervelig te wees”

Daar is baie min bekend oor die lewe van Tertullianus. Die meeste geleerdes is dit eens dat hy omstreeks 160 G.J. in Kartago, Noord-Afrika, gebore is. Hy was klaarblyklik ’n geleerde man en baie goed bekend met die vernaamste filosofiese denkrigtings van sy dag. Wat hom blykbaar tot die Christelike godsdiens aangetrek het, was die gewilligheid van verklaarde Christene om vir hulle geloof te sterf. Hy het aangaande Christenmartelaarskap gevra: “Want wie wat daaroor nadink, sal nie gemotiveer wees om uit te vind wat daaragter sit nie? wie, nadat hy uitgevind het, neem nie ons leringe aan nie?”

Ná Tertullianus se bekering tot die sogenaamde Christelike godsdiens, het hy ’n vernuftige skrywer geword met ’n aanleg vir pittige en gevatte stellings. “[Hy] het oor ’n vermoë beskik wat seldsaam onder teoloë was”, sê die boek The Fathers of the Church. “Dit is onmoontlik vir hom om vervelig te wees.” ’n Geleerde het gesê: “Tertullianus [het] ’n gawe vir woorde eerder as sinne [gehad], en dit is baie makliker om sy kwinkslae te verstaan as om sy argumente te volg. Dit is miskien waarom hy so dikwels aangehaal word en so selde uitvoerig aangehaal word.”

Hy verdedig die Christelike godsdiens

Tertullianus se beroemdste werk is Apologie, en dit word as een van die kragtigste literêre verdedigings van die sogenaamde Christelike godsdiens beskou. Dit is gedurende ’n tyd geskryf toe Christene dikwels die slagoffers van bygelowige skares was. Tertullianus het hierdie Christene verdedig en beswaar gemaak teen die onredelike behandeling wat hulle moes verduur. Hy het gesê: “[Teenstanders] dink dat die Christene die oorsaak is van elke openbare ramp en elke ongeluk wat die mense tref. . . . As die Nyl nie styg tot in die landerye nie, as die weer nie wil verander nie, as daar ’n aardbewing, ’n hongersnood, ’n plaag is—dadelik word die uitroep gehoor: ‘Gooi die Christene vir die leeus!’”

Hoewel Christene dikwels van ontrouheid teenoor die Staat beskuldig is, het Tertullianus probeer wys dat hulle eintlik die betroubaarste burgers in die ryk was. Nadat hy verwys het na verskeie pogings om die regering omver te werp, het hy sy teenstanders herinner dat daardie samesweerders uit die geledere van die heidene gekom het, nie die Christene nie. Tertullianus het daarop gewys dat dit in werklikheid die Staat is wat die verlies ly wanneer Christene tereggestel word.

Ander werke van Tertullianus het oor die Christelike leefwyse gehandel. In sy geskrif Oor die vertonings het Tertullianus byvoorbeeld daarteen gemaan om na sekere vermaaklikheidsplekke, heidense spele en toneelopvoerings te gaan. Daar was blykbaar nuwe bekeerlinge wat geen teenstrydigheid daarin gesien het om vir Bybelonderrig bymekaar te kom en daarna die heidense spele by te woon nie. Tertullianus het hulle tot denke probeer aanspoor en geskryf: “Hoe afgryslik is dit tog om van God se kerk af na die duiwel s’n te gaan—van die hemel so rein na die hok van die swyn.” Hy het gesê: “Wat jy deur jou dade verwerp, moet jy nie deur jou woorde verwelkom nie.”

Hy verderf die waarheid terwyl hy dit verdedig

Tertullianus het sy werkstuk met die titel Teen Praxeas ingelei deur te sê: “Die duiwel het op verskeie maniere met die waarheid gewedywer en dit teëgestaan. Soms was sy oogmerk om die waarheid te vernietig deur dit te verdedig.” Dit is nie duidelik wie die man genaamd Praxeas in hierdie werkstuk was nie, maar Tertullianus het sy leringe aangaande God en Christus betwis. Hy het Praxeas as ’n werktuig van Satan beskou wat die Christelike godsdiens heimlik probeer verderf het.

’n Belangrike vraagstuk onder verklaarde Christene in daardie tyd was die verhouding tussen God en Christus. Vir party van hulle, veral dié met ’n Griekse agtergrond, was dit moeilik om geloof in een God te versoen met die rol van Jesus as Verlosser en Loskoper. Praxeas het hulle dilemma probeer oplos deur te leer dat Jesus net ’n ander verskyningsvorm van die Vader is en dat daar geen verskil tussen die Vader en die Seun is nie. Hierdie teorie, wat modalisme genoem word, voer aan dat God hom geopenbaar het “as die Vader in die Skepping en in die gee van die Wet, as die Seun in Jesus Christus en as die Heilige Gees ná Christus se hemelvaart”.

Tertullianus het gewys dat die Skrif ’n duidelike onderskeid tref tussen die Vader en die Seun. Nadat hy 1 Korintiërs 15:27, 28 aangehaal het, het hy geredeneer: “Hy wat (alles) onderwerp het, en Hy aan wie dit onderwerp is—moet noodwendig twee verskillende Wesens wees.” Tertullianus het die aandag op Jesus se eie woorde gevestig: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Hy het gedeeltes uit die Hebreeuse Geskrifte gebruik, soos Psalm 8:5, en gewys hoe die Bybel die “ondergeskiktheid” van die Seun beskryf. “Die Vader verskil dus van die Seun, want Hy is groter as die Seun”, was die slotsom waartoe Tertullianus gekom het. “Aangesien Hy wat verwek, een is, en Hy wat verwek word, ’n ander is; is ook Hy wat stuur, een, en Hy wat gestuur word, ’n ander; en Hy weer wat maak, is een, en Hy deur wie die voorwerp gemaak word, is ’n ander.”

Tertullianus het die Seun as ondergeskik aan die Vader beskou. Maar in sy poging om modalisme teë te werk, het hy “verder [ge]gaan as die dinge wat geskrywe staan” (1 Korintiërs 4:6). Tertullianus het verkeerdelik probeer om die godheid van Jesus deur middel van ’n ander teorie te bewys en die formule “een wese in drie persone” uitgedink. Deur hierdie opvatting te gebruik, het hy probeer wys dat God, sy Seun en die heilige gees drie aparte persone is wat in een Goddelike wese bestaan. Sodoende het Tertullianus die eerste persoon geword wat die Latynse vorm van die woord “drie-eenheid” op die Vader, die Seun en die heilige gees toegepas het.

Pasop vir wêreldse filosofie

Wat het Tertullianus in staat gestel om die teorie van “een wese in drie persone” saam te stel? Die antwoord lê in nóg ’n paradoks omtrent die man—sy beskouing van filosofie. Tertullianus het filosofie “‘die leerstellings’ van mense en ‘van demone’” genoem. Hy het die gebruik om Christelike waarhede deur filosofie te ondersteun, openlik gekritiseer. “Doen weg met alle pogings om ’n vertroebelde Christelike godsdiens te skep met ’n Stoïsynse, Platoniese en redekundige samestelling”, het hy gesê. Tog het Tertullianus self vryelik gebruik gemaak van sekulêre filosofie wanneer dit met sy eie idees ooreengestem het.—Kolossense 2:8.

’n Naslaanwerk sê: “Trinitariese teologie het die hulp van Hellenistiese opvattings en kategorieë nodig gehad om te ontwikkel en geformuleer te word.” En die boek The Theology of Tertullian sê: “[Dit was] ’n vreemde vermenging van regskundige en filosofiese idees en terme wat Tertullianus in staat gestel het om die drie-eenheidsleer uiteen te sit in ’n vorm wat, ondanks die beperkings en tekortkominge daarvan, die raamwerk voorsien het vir die latere voorlegging van die leerstelling by die Konsilie van Nicea.” Tertullianus se formule—drie persone in een goddelike wese—het derhalwe ’n vername rol gespeel om ’n godsdiensdwaling deur die hele Christendom te laat versprei.

Tertullianus het ander daarvan beskuldig dat hulle die waarheid vernietig terwyl hulle dit probeer verdedig. Maar dit is ironies dat hy in dieselfde strik getrap het deur Goddelik geïnspireerde Bybelwaarheid en mensefilosofie te vermeng. Laat ons derhalwe die skriftuurlike waarskuwing ter harte neem om nie “aandag [te] skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” nie.—1 Timoteus 4:1.

[Prent op bladsy 29, 30]

Tertullianus het filosofie gekritiseer, maar het dit gebruik om sy eie idees te bevorder

[Erkenning]

Bladsye 29 en 30: © Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris

[Prent op bladsy 31]

Ware Christene vermy dit om Bybelwaarheid met mensefilosofie te vermeng