Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe ons by Jehovah se liefderyke goedhartigheid baat vind

Hoe ons by Jehovah se liefderyke goedhartigheid baat vind

Hoe ons by Jehovah se liefderyke goedhartigheid baat vind

“Wie is wys? Hy sal . . . op Jehovah se dade van liefderyke goedhartigheid let.”—PSALM 107:43.

1. Wanneer is die uitdrukking “liefderyke goedhartigheid” vir die eerste keer in die Bybel gebruik, en watter vrae oor hierdie eienskap sal ons bespreek?

 ONGEVEER 4 000 jaar gelede het Abraham se broerskind, Lot, van Jehovah gesê: “U [maak] u liefderyke goedhartigheid groot” (Genesis 19:19). Dit is die eerste keer dat die uitdrukking “liefderyke goedhartigheid” in die Bybel verskyn. Jakob, Naomi, Dawid en ander knegte van God het ook van hierdie eienskap van Jehovah gepraat (Genesis 32:10; Rut 1:8; 2 Samuel 2:6). Trouens, die uitdrukkings “liefderyke goedhartigheid” en “liefderyke goedhartighede” kom nagenoeg 250 keer in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif voor. Maar wat is Jehovah se liefderyke goedhartigheid? Aan wie is dit in die verlede bewys? En hoe vind ons vandag daarby baat?

2. Waarom is die Hebreeuse woord wat met “liefderyke goedhartigheid” vertaal word, so moeilik om te omskryf, en wat is ’n gepaste alternatiewe vertaling daarvoor?

2 In die Skrif is “liefderyke goedhartigheid” ’n vertaling van ’n Hebreeuse term wat so ryk aan betekenis is dat die meeste tale nie ’n woord daarvoor het wat heeltemal die gevoel daarvan oordra nie. Vertalings soos “liefde”, “barmhartigheid” en “getrouheid” gee dus nie die volle betekenis van die woord weer nie. Maar die omvattender vertaling “liefderyke goedhartigheid” is “nie ver van die volle betekenis van die woord nie”, sê die Theological Wordbook of the Old Testament. Die New World Translation of the Holy Scriptures—With References gee gepas in sy voetnote die uitdrukking “lojale liefde” aan as ’n alternatiewe vertaling van die Hebreeuse term wat met “liefderyke goedhartigheid” vertaal word.—Eksodus 15:13; Psalm 5:7.

Dit verskil van liefde en lojaliteit

3. Hoe verskil liefderyke goedhartigheid van liefde?

3 Liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, is nou verwant aan die eienskappe liefde en lojaliteit. Tog verskil dit in belangrike opsigte daarvan. Kyk byvoorbeeld hoe liefderyke goedhartigheid van liefde verskil. ’n Mens kan dinge en begrippe liefhê. Die Bybel praat van dié wat “wyn en olie liefhet” en wat “wysheid liefhet” (Spreuke 21:17; 29:3). Maar liefderyke goedhartigheid het te doen met mense, nie met begrippe of lewelose dinge nie. Byvoorbeeld, mense is betrokke wanneer Eksodus 20:6 sê dat Jehovah “liefderyke goedhartigheid bewys teenoor die duisendste geslag”.

4. Hoe verskil liefderyke goedhartigheid van lojaliteit?

4 Die Hebreeuse woord wat met “liefderyke goedhartigheid” vertaal word, is ook omvattender as die woord “lojaliteit”. In party tale word “lojaliteit” dikwels gebruik om die gesindheid te beskryf wat ’n ondergeskikte teenoor ’n meerdere moet hê. Maar soos een navorser dit stel, verwys liefderyke goedhartigheid, uit ’n Bybelse standpunt, “meer dikwels na presies die teenoorgestelde aspek van die verhouding: die magtige is lojaal teenoor die swakke of behoeftige of ondergeskikte”. Daarom kon koning Dawid Jehovah smeek: “Laat tog u aangesig oor u kneg skyn. Red my in u liefderyke goedhartigheid” (Psalm 31:16). Jehovah, die magtige, word gevra om liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, aan die behoeftige, Dawid, te bewys. Aangesien die behoeftige geen gesag oor die magtige het nie, word die liefderyke goedhartigheid wat in so ’n geval bewys word, uit vrye wil betoon, nie onder dwang nie.

5. (a) Watter kenmerke van God se liefderyke goedhartigheid kom in sy Woord na vore? (b) Na watter blyke van Jehovah se liefderyke goedhartigheid gaan ons kyk?

5 “Wie is wys?” het die psalmis gevra. “Hy sal . . . op Jehovah se dade van liefderyke goedhartigheid let” (Psalm 107:43). Jehovah se liefderyke goedhartigheid kan tot verlossing en behoud van die lewe lei (Psalm 6:4; 119:88, 159). Dit is ’n beskerming en ’n faktor wat verligting van probleme meebring (Psalm 31:16, 21; 40:11; 143:12). Weens hierdie eienskap is vergifnis van sonde moontlik (Psalm 25:7). As ons sekere Bybelverhale ondersoek, asook na ander Bybeltekste kyk, sal ons sien dat Jehovah se liefderyke goedhartigheid (1) deur spesifieke dade geopenbaar word en (2) aan sy getroue knegte bewys word.

Verlossing—’n blyk van liefderyke goedhartigheid

6, 7. (a) Hoe het Jehovah sy liefderyke goedhartigheid in Lot se geval groot gemaak? (b) Wanneer het Lot melding gemaak van Jehovah se liefderyke goedhartigheid?

6 Die beste manier om die omvang van Jehovah se liefderyke goedhartigheid te bepaal, is moontlik deur die skriftuurlike verslae te ondersoek waarin hierdie eienskap na vore kom. In Genesis 14:1-16 vind ons dat Lot, die broerskind van Abraham, deur vyandelike magte weggevoer is. Maar Abraham het Lot gered. Lot se lewe was weer in gevaar toe Jehovah besluit het om die goddelose stad Sodom te vernietig waar Lot en sy gesin gewoon het.—Genesis 18:20-22; 19:12, 13.

7 Net voor die vernietiging van Sodom het Jehovah se engele Lot en sy gesin uit die stad uitgelei. Toe het Lot gesê: “U kneg het guns in u oë gevind sodat u u liefderyke goedhartigheid groot maak, wat u aan my bewys het om my siel in die lewe te hou” (Genesis 19:16, 19). Met hierdie woorde het Lot erken dat Jehovah uitsonderlike liefderyke goedhartigheid getoon het deur hom te red. In hierdie geval het God se liefderyke goedhartigheid die vorm van verlossing en behoud van lewe aangeneem.—2 Petrus 2:7.

Jehovah se liefderyke goedhartigheid en sy leiding

8, 9. (a) Watter opdrag het Abraham se kneg ontvang? (b) Waarom het die kneg vir God se liefderyke goedhartigheid gebid, en wat het gebeur terwyl hy gebid het?

8 In Genesis hoofstuk 24 lees ons van nog ’n geval waar God sy liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, bewys het. Volgens die verslag het Abraham sy kneg opdrag gegee om na die land van Abraham se familielede te reis om ’n vrou vir sy seun Isak te vind (Verse 2-4). Dit was ’n moeilike taak, maar die kneg is daarvan verseker dat Jehovah se engel hom sou lei (Vers 7). Uiteindelik het die dienaar by ’n put buite “die stad van Nahor” (Haran of ’n nabygeleë plek) aangekom, net toe die vroue begin kom het om water te skep (Verse 10, 11). Toe hy die vroue sien nader kom, het hy geweet dat die kritieke oomblik van sy sending aangebreek het. Maar hoe sou hy ooit die regte vrou kon uitkies?

9 Abraham se kneg het besef dat hy God se hulp nodig het, en hy het gebid: “Jehovah, die God van my heer Abraham, laat dit asseblief vandag voor my gebeur en bewys liefderyke goedhartigheid aan my heer Abraham” (Vers 12). Hoe sou Jehovah sy liefderyke goedhartigheid bewys? Die kneg het om ’n spesifieke teken gevra waardeur hy die jong vrou kon identifiseer wat deur God uitgekies is (Verse 13, 14). Een vrou het presies gedoen wat hy Jehovah gevra het. Dit was asof sy sy gebed gehoor het! (Verse 15-20). Die kneg was verstom en het “haar met verwondering aangestaar”. Maar sekere belangrike feite moes nog vasgestel word. Was hierdie mooi vrou een van Abraham se familielede? En was sy nog ongetroud? Die kneg het dus “stilgebly . . . sodat hy kon weet of Jehovah sy reis suksesvol gemaak het of nie”.—Verse 16, 21.

10. Waarom het Abraham se kneg tot die slotsom gekom dat Jehovah liefderyke goedhartigheid aan sy heer bewys het?

10 Kort daarna het die jong vrou haar geïdentifiseer as “die dogter van Betuel, die seun van Milka, wat sy vir [Abraham se broer] Nahor gebaar het” (Genesis 11:26; 24:24). Op daardie oomblik het die kneg besef dat Jehovah sy gebed verhoor het. Oorstelp het hy neergebuig en gesê: “Mag Jehovah geloof word, die God van my heer Abraham, wat sy liefderyke goedhartigheid en sy trou teenoor my heer nie nagelaat het nie. Op my pad het Jehovah my na die huis van die broers van my heer gelei” (Vers 27). Deur leiding te voorsien, het God liefderyke goedhartigheid aan die kneg se heer, Abraham, bewys.

God se liefderyke goedhartigheid bring verligting en beskerming

11, 12. (a) Tydens watter beproewinge het Josef Jehovah se liefderyke goedhartigheid ondervind? (b) Hoe is God se liefderyke goedhartigheid in Josef se geval bewys?

11 Kom ons kyk nou na Genesis hoofstuk 39. Dit handel oor Abraham se agterkleinseun, Josef, wat as ’n slaaf in Egipte verkoop is. Nogtans ‘was Jehovah met Josef’ (Verse 1, 2). Trouens, selfs Josef se Egiptiese heer, Potifar, het tot die gevolgtrekking gekom dat Jehovah met Josef is (Vers 3). Maar Josef het voor ’n baie ernstige toets te staan gekom. Hy is valslik daarvan beskuldig dat hy Potifar se vrou seksueel aangerand het, en hy is in die tronk gegooi (Verse 7-20). “In die kerker” het hulle “met boeie . . . sy voete geknel, in ysters het sy siel gekom”.—Genesis 40:15; Psalm 105:18.

12 Wat het gedurende daardie uiters beproewende ondervinding gebeur? “Jehovah was . . . voortdurend met Josef en het steeds liefderyke goedhartigheid teenoor hom bewys” (Vers 21a). ’n Spesifieke daad van liefderyke goedhartigheid het ’n reeks gebeure aan die gang gesit wat later gelei het tot verligting van die ontberinge wat Josef deurgemaak het. Jehovah het “gegee dat [Josef] guns in die oë van die hoofbeampte van die gevangenis vind” (Vers 21b). Gevolglik het die beampte Josef ’n verantwoordelike posisie gegee (Vers 22). Hierna het Josef die man ontmoet wat hom uiteindelik by Farao, die heerser van Egipte, aanbeveel het (Genesis 40:1-4, 9-15; 41:9-14). Op sy beurt het die koning Josef verhef tot die posisie van onderheerser in Egipte, wat daartoe gelei het dat hy ’n lewensreddende werk in die land Egipte verrig het toe dit deur hongersnood geteister is (Genesis 41:37-55). Josef se lyding het begin toe hy 17 jaar oud was en het meer as 12 jaar geduur! (Genesis 37:2, 4; 41:46). Maar deur al daardie jare van benoudheid en beproewinge heen het Jehovah God sy liefderyke goedhartigheid teenoor Josef bewys deur hom teen algehele rampspoed te beskerm en deur hom vir ’n bevoorregte rol in God se voorneme te bewaar.

God se liefderyke goedhartigheid faal nooit nie

13. (a) Watter blyke van Jehovah se liefderyke goedhartigheid word in Psalm 136 gevind? (b) Wat is liefderyke goedhartigheid in werklikheid?

13 Jehovah het herhaaldelik sy liefderyke goedhartigheid teenoor die Israeliete as ’n volk bewys. Psalm 136 toon dat hy, weens sy liefderyke goedhartigheid, aan hulle verlossing (Verse 10-15), leiding (Vers 16) en beskerming (Verse 17-20) gegee het. God het ook sy liefderyke goedhartigheid teenoor individue bewys. Iemand wat liefderyke goedhartigheid teenoor sy medemens bewys, doen dit deur vrywillige dade wat bedoel is om in ’n noodsaaklike behoefte te voorsien. ’n Bybelnaslaanwerk sê aangaande liefderyke goedhartigheid: “Dit is ’n daad wat lewe bewaar of bevorder. Dit is ingryping ten behoewe van iemand wat teëspoed of benoudheid ervaar.” Een geleerde beskryf dit as “liefde wat in dade omgesit word”.

14, 15. Waarom kan ons daarvan seker wees dat Lot ’n goedgekeurde kneg van God was?

14 Die Genesisverslae wat ons ondersoek het, toon dat Jehovah nooit nalaat om liefderyke goedhartigheid te bewys aan diegene wat hom liefhet nie. Lot, Abraham en Josef het onder verskillende omstandighede gelewe en spesifieke beproewinge deurgemaak. Hulle was onvolmaakte mense, maar goedgekeurde knegte van Jehovah, en hulle het Goddelike hulp nodig gehad. Ons kan vertroosting put uit die wete dat ons liefdevolle hemelse Vader liefderyke goedhartigheid teenoor sulke mense bewys het.

15 Lot het sekere onwyse besluite gemaak wat tot probleme gelei het (Genesis 13:12, 13; 14:11, 12). Maar hy het ook prysenswaardige eienskappe aan die dag gelê. Toe twee van God se engele in Sodom aangekom het, het Lot hulle gasvry ontvang (Genesis 19:1-3). In geloof het hy sy skoonseuns oor die naderende vernietiging van Sodom gewaarsku (Genesis 19:14). God se beskouing van Lot word in 2 Petrus 2:7-9 gevind, waar ons lees: ‘Jehovah het die regverdige Lot verlos, wat baie ontsteld was oor die wettrotserende mense se oorgawe aan losbandige gedrag—want dié regverdige man het deur wat hy gesien en gehoor het terwyl hy onder hulle gewoon het, van dag tot dag sy regverdige siel gepynig weens hulle wettelose dade—Jehovah weet hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos.’ Ja, Lot was ’n regverdige man, en die bewoording hier gee te kenne dat hy ’n man van godvrugtige toegewydheid was. Soos hy, ontvang ons God se liefderyke goedhartigheid as ons “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” beoefen.—2 Petrus 3:11, 12.

16. Watter positiewe dinge sê die Bybel oor Abraham en Josef?

16 Die verslag in Genesis hoofstuk 24 laat geen twyfel oor Abraham se intieme verhouding met Jehovah nie. Die eerste vers sê: “Jehovah het Abraham in alles geseën.” Abraham se kneg het Jehovah “die God van my heer Abraham” genoem (Verse 12, 27). En die dissipel Jakobus sê dat Abraham “regverdig verklaar” en “‘Jehovah se vriend’ genoem” is (Jakobus 2:21-23). Dieselfde is ook waar van Josef. Die hegte verhouding tussen Jehovah en Josef word regdeur Genesis hoofstuk 39 beklemtoon (Verse 2, 3, 21, 23). Verder het die dissipel Stefanus aangaande Josef gesê: “God was met hom.”—Handelinge 7:9.

17. Wat kan ons leer uit die voorbeelde van Lot, Abraham en Josef?

17 Die persone wat ons nou net bespreek het, aan wie God liefderyke goedhartigheid bewys het, was mense wat ’n goeie verhouding met Jehovah God gehad en God se voorneme in sekere opsigte uitgevoer het. Hulle het voor struikelblokke te staan gekom wat hulle nie in hulle eie krag kon oorkom het nie. Lot se lewe, Abraham se geslagslyn en Josef se rol was op die spel. Net Jehovah kon in die behoeftes van hierdie godvresende manne voorsien, en hy het dit gedoen deur met dade van liefderyke goedhartigheid in te gryp. As ons Jehovah God se liefderyke goedhartigheid vir ewig wil geniet, moet ons ook ’n hegte persoonlike verhouding met hom hê en aanhou om sy wil te doen.—Esra 7:28; Psalm 18:50.

God se knegte word geseën

18. Wat toon verskillende Bybeltekste oor Jehovah se liefderyke goedhartigheid?

18 Jehovah se liefderyke goedhartigheid “het die aarde gevul”, en hoe waardeer ons tog hierdie eienskap van God! (Psalm 119:64). Ons gee heelhartig gehoor aan die psalmis se refrein: “Laat mense Jehovah dank vir sy liefderyke goedhartigheid en vir sy wonderlike werke teenoor die mensekinders” (Psalm 107:8, 15, 21, 31). Ons is verheug dat Jehovah sy liefderyke goedhartigheid teenoor sy goedgekeurde knegte—as individue of as ’n groep—bewys. In gebed het die profeet Daniël Jehovah aangespreek as “die ware God, die Grote en die Vreesinboesemende, wat die verbond en die liefderyke goedhartigheid hou teenoor dié wat hom liefhet en teenoor dié wat sy gebooie onderhou” (Daniël 9:4). Koning Dawid het gebid: “Laat u liefderyke goedhartigheid voortduur vir dié wat u ken” (Psalm 36:10). Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah sy liefderyke goedhartigheid teenoor sy knegte bewys!—1 Konings 8:23; 1 Kronieke 17:13.

19. Watter vrae sal ons in die volgende artikel bespreek?

19 Ons is waarlik geseënd as Jehovah se volk! Benewens die feit dat ons baat vind by God se liefde wat aan mense oor die algemeen betoon word, ontvang ons besondere seëninge danksy ons hemelse Vader se liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde (Johannes 3:16). Veral in moeilike tye vind ons baat by hierdie kosbare eienskap van Jehovah (Psalm 36:7). Maar hoe kan ons die liefderyke goedhartigheid van Jehovah God navolg? Betoon ons persoonlik hierdie merkwaardige eienskap? Hierdie en verwante vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

Onthou jy?

• Wat is ’n alternatiewe vertaling van “liefderyke goedhartigheid” in die Skrif?

• Hoe verskil liefderyke goedhartigheid van liefde en lojaliteit?

• Op watter maniere het Jehovah liefderyke goedhartigheid teenoor Lot, Abraham en Josef bewys?

• Watter versekering kry ons uit Jehovah se blyke van liefderyke goedhartigheid in die verlede?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Weet jy hoe God liefderyke goedhartigheid teenoor Lot bewys het?

[Prente op bladsy 15]

In sy liefderyke goedhartigheid het Jehovah Abraham se kneg gelei

[Prente op bladsy 16]

Jehovah het liefderyke goedhartigheid bewys deur Josef te beskerm